Laaste wagposte of eerste linies: Gedagtes oor Partium en klein-nasie-wees

LAASTE WAGPOSTE OF EERSTE LINIES: GEDAGTES OOR PARTIUM EN KLEIN-NASIE-WEES

deur Paul Maritz

Wanneer mens praat of skryf oor klein volke wat ‘n plan maak vir hul oorlewing, is dit altyd nuttig om êrens te loer na die werk van die Tsjeggiese skrywer Milan Kundera, wat opmerk dat “toe Nietzsche die Duitse karakter woedend vermink het, toe Stendhal aangekondig het dat hy Italië as heimat verkies, het geen Duitser of Fransman werklik aanstoot geneem nie. As ‘n Griek of ‘n Tsjeg sou durf om dieselfde te sê, sou sy familie hom vervloek as ‘n verfoeilike verraaier.” Dieselfde Kundera beskryf die klein nasie elders as “een waarvan die ganse bestaan enige oomblik bevraagteken kan word; ‘n klein nasie kan verdwyn, en hy weet dit.”

Kundera se denke oor nasies en volke is natuurlik deur sy eie grootword gebeitel en geskaaf. As Tsjeg is mens van nature omring deur groot volke, met die Rus aan die een kant, die Duitser aan die ander, die Pool en Hongaar bo en onder jou – ja die Tsjeg verstaan van jou man staan en jou grens beskerm. Sentraal Europa, min of meer die streek tussen Duitsland en Rusland, is histories die verhoog van baie hartseer en bloedvergieting gewees. Net in die afgelope vyftien dekades is meeste van hierdie lande eers regeer deur ‘n ver af keiser wat nie hul taal gepraat het nie, gevolg deur wêreldoorloë,  met kommunisme kort op dié se hakke. Die uiteindelike val van die Sowjet-Unie het in heelparty van hierdie sentraal Europese lande tot burgeroorlog gelei – ‘n algemene verskynsel as ‘n sintetiese staat inmekaar tuimel. Hierdie swetterjoel katastrofes het oor jare heen tot nuwe grense gelei, en mense se nasionaliteit het dikwels oornag verander, al het alles anders dieselfde gebly. Een so ‘n voorbeeld, ‘n voorbeeld wat met die gedagte van minderheid en oorlewing heelwat te doen het, is die streek Partium, wat vandag deel van Roemenië is. Na afloop van die eerste Wêreldoorlog is Partium, wat histories ‘n Hongaars-sprekende gebied was, deel van Roemenië gemaak, maar na meer as ‘n eeu is daar vandag steeds Hongaarse dorpe waar Hongare verwoed aan hul taal en kultuur vasklou.

Al is daar steeds groot ongelukkigheid onder heelwat Hongare oor die verlies van Partium en ander streke na afloop van die 1920 verdrag van Trianon, was Partium lank voor dit al ‘n grensgebeid vir die Hongaarse taal. Hier het Roemeens, Duits, en Slawiese tale al voor Trianon algemeen voorgekom. Selfs meer treffend as die komplekse en hartseer geskiedenis van hierdie streek, is die imposante hoeveelheid prominente Hongare wat uit hierdie streek kom.  Onder die leiers staan die van Mathias Corvenius en Gabor Bethlen uit, en taalkundig word die name van die taalhervormer Ferenc Kazinczy en die digter Endre Ady bo aan dié indrukwekkende lys geplaas. ‘n Vraag wat hoe langer hoe meer by die reisiger wat hom in Partium bevind na vore kom, is of daar enige korrelasie tussen Partium se geografie en sy lang lys taalstryders en militêre helde is? Is daar ‘n rede waarom hierdie landstrekie, wat maklik met die strook tussen Viljoenskroon en Bothaville verwar kan word, soveel helde opgelewer het? En as daar is, is dit ‘n universele verskynsel? Kan dit nie dalk ‘n stukkie van ons eie geskiedenis ‘n bietjie belig nie?  

Is dit nie so dat dit predikante “op die buitewyke” was wat die eerste Afrikaanse taalbeweging in die Paarl begin het nie? Is dit nie so dat die Voortrekkers, voordat hulle voortrekkers was, ook Grensboere was nie? Die buitenste wagpos, of die voorste linie, afhangend van watter kant af jy sou kyk…

Maar hierdie verskynsel is nie net histories nie. Dit is vandag nog so dat Hongare in Partium kreatief en nuutskeppend moet dink om hul taal en kultuur te behou, ‘n taal wat in Boedapest gewaarborg is. Ook hierdie verskynsel is vir die Afrikaanssprekende nie vreemd nie. Kan hulle wat in Pretoria-Oos of in Durbanville grootgeword het, omring deur ‘n groterwordende hoeveelheid Afrikaanse skole, kerke, en welvaart, dieselfde angs oor Afrikaans se toekoms verstaan as hulle wat in Roodepoort, Mpumalanga, of in die Waterberge grootgeword het, waar skole en universiteite amper oornag verengels het? Sekerlik nie.

Daar is iets dinamies aan die angswekkende besef dat jou taal en jou kultuur nie die volgende eeu gaan sien as jy nie jou sokkies optrek, en jou moue oprol nie nie, maar hierdie energie is nie vir hulle beskore wat in die mandjies van kulturele welvaart woon nie. Dit sou moeilik wees om vir ‘n kind in die heuwels van Boedapest te oortuig om te stry vir Hongaars, dit gaan dan so goed met die taal. Die kind in Kolozsvár in Partium weet dat hy Hongaars is, en dat hy Hongaars moet wees as hy wil hê dat sy kinders nog Hongaars sal wees. So is dit dikwels vir die Afrikaanse taal ook. Heelwat kan nie verstaan waarom die taal en kultuur beskerm moet word nie, daar is dan vyf Afrikaanse laerskole binne 25 minute se ry. Wie kort dan nou al hierdie slim planne van kantonne, kampusse, en selfbeskikking?…

Kundera was reg dat ‘n klein nasie kan verdwyn en dit ook weet, maar wat Kundera nie genoem het nie is dat nie almal in die klein nasie dit ewe goed kan verstaan nie. Die grensbewoner verstaan dikwels baie beter, want by haar en hom is dit nie net verstaan nie, dit is voel, dit is sien, dit is hoor. Die grensbewoner verstaan wat dit beteken om op te daag vir die stryd, nie omdat hy meer gedissiplineerd is nie, maar omdat hy in die middel van die stryd gebore is.    

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *