GELD VERSUS GOEDERE II
Wendell Berry skryf in een van twee bundels opstelle wat in 2010 verskyn het, What Matters? oor ekonomiese vraagstukke en sy “agrariese” benadering daartoe. Wat volg, is ‘n vertaling deur Carel Boshoff van die opstel Money versus Goods soos dit verskyn het in Berry, W. 2019. Essays 1993-2017. The Library of America. p425ev.
[Tweede aflewering]
Dit wat ons behaag het om ons ekonomie te noem, neem nie kennis van en erken skynbaar nie eers sy voortdurende absolute afhanklikheid van die natuurlike wêreld nie, van die grondekonomieë nie, en van die werk van landbouers, veeboere en bosbouers – wat alles, gegewe die aanwending van beskikbare kennis en voorsorg, selfhernuwend sou wees. Terselfdertyd het hierdie ekonomie, met ‘n merkwaardige gebrek aan versiendheid of selfs die vermoë om te sien wat teenswoordig voor die hand lê, sigself volledig afhanklik gemaak van hulpbronne wat óf van nature uitputlik is, óf uitputlik gemaak is deur ons verkwisting en ons weiering om te spaar en te hergebruik: fossielbrandstowwe, metale en ander gemynde materiale. Aan die hand van maatstawwe wat onsinnig is, het dit lankal “te duur” geword om heeltemaal goeie en bruikbare materiale van ou gebou, wat ons platslaan of opblaas, te herwin en as opvulling aan te ry, terwyl ons selfs stene en klippe waardeloos en onherwinbaar maak. As gevolg van bedrieglike goedkoop materiale en energie het ons ‘n “borrel” van huise wat te groot is om doeltreffend of goedkoop te verhit, of selfs net te betaal.
Om ons landbougrond vir die produksie van “biobrandstof” te gebruik, soos party mense nou maak, laat dadelik die vraag ontstaan of dit ooit reg kan wees om voedselproduksie met die produksie van brandstof te vervang. As hierdie brandstof, soos die meeste van ons voedsel tans, verbou word sonder die nabye betrokkenheid en liefdevolle sorg wat die grond benodig, dan word die grond ook ‘n uitputlike hulpbron. Biobrandstof mag ‘n produk van die grond en van ons wêreldveranderende tegnologie wees, maar dit is net soveel ‘n produk van ons onkunde en ons morele traak-my-nie-agtigheid.
As kommoditeite is fossielbrandstowwe uit-en-uit in ‘n klas van hulle eie. Anders as ander minerale wat (in ‘n verstandige ekonomie) hergebruik kan word, en anders as hidro-elektriese krag wat water gebruik en vrylaat om weer gebruik te word, kan fossielbrandstowwe net nuttig wees deur vernietig te word. Hulle is bruikbaar en daarom waardevol net op die oomblik wat hulle besig is om te brand.
Om vir hulle kort oomblik van bruikbaarheid beskikbaar te wees, moet hierdie brandstowwe uitgegrawe of onder die grond uitgepomp word. Hulle onttrekking het omtrent altyd die plekke en die menslike gemeenskappe waarvandaan hulle geneem is, beskadig – dikwels onherstelbaar. Vir die steenkool wat die vure voed waarvan ons lewe, word hele landskappe vernietig, word woude en hulle grond en skepsels tot niet gemaak, word riviere bedek, word waterafvoerstelsels gedegradeer en besoedel, word giftige afval agtergelaat, word gemeenskappe ondermyn en met giftige afval of die afloop van ontblote stroomgebiede oorspoel, word die mense uitgebuit en in gevaar gestel, hulle huise beskadig, hulle drinkwater vergiftig en hulle klagtes en nood geïgnoreer. Wanneer die fossielbrandstowwe, wat teen sulke koste vir mense en die natuur ontgin word, verbrand word, besoedel dit die hele wêreld se atmosfeer met gevolge wat skrikwekkend, skandalig en voortdurend is.
In ‘n bewustelike verantwoordelike ekonomie sou sulke misbruik ondenkbaar wees. Dit sou eenvoudig nie kon gebeur nie. Om ‘n andersins permanente hulpbron ter wille van tydelike voordeel te skaad of te vernietig sou onmiddellik aan die hand van elke praktiese maatstaf as dwaas beskou word, en aan die hand van omvattende menslike welstand as kranksinnig. Om aan menslike wense meer waarde te heg as aan al die natuurlike en menslike hulpbronne wat aan menslike nood moet voorsien, soos hierdie falende ekonomie gedoen het, is om die risiko’s te loop en teenstrydighede te ontken wat veroorsaak het dat dit vir mislukking bestem was en is. As ons nou “grenslose groei” nastreef, plaas ons al enger grense op die toekoms. As ons besteding eerste plaas, plaas ons solvensie laaste. As ons wense eerste plaas, plaas ons noodsaak laaste. As ons verbruik eerste plaas, plaas ons gesondheid laaste. As ons geld eerste plaas, plaas ons voedsel laaste. As ons om een of ander skynrede soos “ekonomiese groei” of “ekonomiese herstel” mense en hulle gemak eerste plaas, voor die natuur en die grondgebaseerde ekonomieë, dan sal die natuur vroeër of later die mense laaste plaas.
Maar die fossielbrandstowwe, wat vernietiging ter wille van produksie meebring, en dan weer vernietiging as gevolg van produksie, is nie die enigste tipiese produkte van ons anti-ekonomie nie. Ook tipies is produkte wat teen hoë koste goedere vervang wat voorheen goedkoop of gratis was. Die gees van bemarking en verkope het byvoorbeeld gebottelde kraanwater opgelewer waarvoor ons meer betaal as vir brandstof, danksy ons heeltemaal rasionele vrees dat ons ongebottelde kraanwater besoedel is. Die stelsel van nywerheid, finansiering en “bemarking” trek rente op sy eie boosaardigheid en op die onkunde en goedgelowigheid van wat veronderstel is om ‘n opgevoede publiek te wees. Burgers en lede van gemeenskappe word onder die invloed van bemarkers en verkopers stommerikke. En so het ons ‘n beweerde ekonomie wat nie net vuur-afhanklik en verbruik-afhanklik is nie, maar ook stommerik-afhanklik.
Vir nog ‘n voorbeeld, dink aan die geld deurweekte vermaaklikheidsbedryf. Die menslike spesie, wat skynbaar die naam Homo sapiens ontgroei het, is na bewering iets soos 200 000 jaar oud. Buiten vir die laaste sowat vyf en sewentig jaar van hulle lewe sover, en buiten vir hulle dekadente heersersklasse, het die meeste mense hulleself vermaak deur stories te onthou en te vertel, te sing, te dans en speletjies te speel, en selfs deur die werk waarmee hulle lewensnoodsaaklikhede en mooi goed, wat meestal dieselfde was, moes voorsien. Al hierdie vermaak was gratis en verniet, ‘n soort oorvloed van die menslike aard, plaaslike kultuur en daaglikse lewe. Selfs die skoonheid van goeie werk en goedgemaakte dinge was waarde wat sonder vergoeding toegevoeg is. Die vermaaklikheidbedryf het op hierdie groot vryheid verbeter deur teen hoë koste, in geld, maar ook in gesondheid en geestesgesondheid, ‘n enorm oorbetaalde korps van vermaaklikheidskunstenaars en atlete voorsien, wat vir ons stories vertel of opvoer, sing, dans en sport beoefen of speletjies aan ons verkoop terwyl ons hulle, dikwels degraderende, produksies verbruik. Wat hier verkeerd is, is ten diepste dalk net die betekenislose en duur oorbodigheid daarvan. As jy kan lees en meer verbeelding as ‘n deurknop het, watter behoefte kan jy aan die “movie version” van ‘n roman hê?
[Word vervolg]