REISJOERNAAL – OP WEG NA VRYHEID
Februarie 2023
Ons lê, letterlik én figuurlik, lang afstande af op weg na vryheid. Dit is meestal ‘n denkweg, maar die reis het gelukkig ook konkrete, al sy dit nie finale, bestemmings. Carel Boshoff doen in hierdie rubriek periodiek verslag van gebeure en geleenthede wat die Vryheidstigting se reisgenote mag interesseer.
‘n Christelik/tradisionele troue in Mahikeng
Dit is aan vriendskap met die bruid te danke dat ek en Anje ‘n uitnodiging na wat as ‘n Royal Traditional Wedding beskryf is, ontvang het. Ons het nie vir ‘n oomblik oorweeg om nié te gaan nie. Anje het die ambisieuse onderneming geloods om vir haar ‘n Voortrekkerrok te maak en ek kon gelukkig ‘n tradisionele kispak, wat my pa tydens die Groot Trek 150 herdenkings in 1988 gedra het, gebruik. Voorspelbaar genoeg was ons die enigste gaste van Westerse herkoms wat tradisioneel geklee was. Nie dat daar veel van ons was nie – drie pare dink ek, en ‘n gesin van Lesotho wat moeilik was om te plaas, maar wat tradisionele Sothodrag gedra het. Die kulturele diversiteit van die geleentheid het op ‘n heel ander vlak gelê; eintlik op drie ander vlakke wat elkeen iets betekenisvol meer sê oor die samelewing waarvan Afrikaners ook deel is.
Die eerste het met die multikulturele aard van die Suid-Afrikaanse samelewing te doen. (Ek wou daarna as ons veelvolkigheid verwys, maar dit gaan hier veral om kultuur, dus span ek tog maar die polities misbruikte woord met sy gewone betekenis hier in.) Wat ons opgeval het, was die mate waartoe die multikulturaliteit waarop die organiseerders hulle beroem het, niks met die nagebootsde swart-wit kwotas waaraan ons al so gewoond geraak het, te doen gehad het nie. Inteendeel, die wit element was naastenby ignoreerbaar, maar die swart diversiteit was iets om te aanskou. Dit het onder andere in die verskeidenheid van tradisionele dragpatrone uitdrukking gevind, maar veral saamgehang met die feit dat dit ‘n gemengde huwelik, Tswana bruid en ‘n Xhosa bruidegom, was.
Die risiko’s van so ‘n huwelik is gedurende die lang wagtyd voor die feestelikheid begin het, aan meer as een tafel bespreek. Een persoon binne hoorafstand het ronduit vertel hoe haar eie soortgelyke huwelik kragteloos geword het omdat haar skoonma haar nie kon aanvaar nie. Ou, ou konflikte en spannings tussen die volke waartoe hulle behoort, het kennelik daartoe bygedra. Daarom dat hierdie egpaar soveel moeite gedoen het om beide kulture se tradisionele rituele getrou te volg, al het dit ‘n ekstra uur of twee wagtyd vir ‘n hele motorstoet uit die Oos-Kaap meegebring. Die reistyd tussen die twee familietuistes moes naastenby twaalf uur per pad gewees het, ander vorme van vervoer is nie geredelik beskikbaar nie. Dit verklaar natuurlik hoekom sulke huwelike selfs nou nie té algemeen is nie.
‘n Laaste waarneming met betrekking tot die manier waarop swart kulturele diversiteit hanteer is, het met taal te doene. Hoewel beide families en ander gaste vir ‘n groot deel uit professionele lui bestaan het, was dit opmerklik dat die ouer persone wat die woord gevoer het, ‘n redelike begrip van mekaar se tale gehad het. Hulle het, sover ons dit kon volg, meestal van hulle moedertale gebruik gemaak, plek-plek mekaar se tale gebruik en soms op die seremoniemeester se vertaling/verduideliking staatgemaak. Die jongeres daarenteen, het hulle met gemak en by voorkeur van Engels bedien en soms daarna verwys dat dit as lingua franca nuttig is. En ons, wat groot waarde aan taalgetrouheid heg, was ook dankbaar wanneer ons presies kon volg wat gesê word.
Die punt is dat gemoderniseerde blankes in Suid-Afrika, wat die meeste Afrikaners insluit, selde besef hoe omvangryk die kulturele diversiteit van swart Suid-Afrika is.
Die tweede terrein waarop die Suid-Afrikaanse verskeidenheid aan die orde gekom het, het met die verhouding tussen Christelike en tradisionele gebruike verband gehou. Ek weet dat die bruid uit ‘n konserwatiewe Christelike familie kom, en dat sy haar ingespan het om ook haar tradisionele wortels te gaan opsoek, iets wat vir Westerse Christene meer in teorie as in praktyk aanneemlik is. Wanneer daar dan van “God and our collective ancestors” gepraat word, sal dit nie deur die fyn sif van ons leerstellings kom nie. Maar die Christendom het gevestig geraak onder mense wat nie ons gereformeerde toestemming vra vir die maniere waarop hulle dit beoefen nie; so was dit in die geskiedenis en so is dit nog steeds.
Hier is die punt dat ons gewilde formule van wedersydse erkenning en respek, die teenoorgestelde is van “aanvaar mekaar, want ons is eintlik almal eners”, en dat dit hoë eise kan stel. Om die waarheid te sê, dit plaas die gedagte van tuistelike gemeenskappe in ‘n nuwe lig.
Die derde en mees voelbare terrein waarop die kulturele verskeidenheid van ons samelewing tasbaar is, was onuitdruklik nou al aan die orde. Dit is naamlik die spanningslyn tussen modern en tradisioneel, wat nie dieselfde as die spanningslyne Christelik/tradisioneel of Engels/moedertaal is nie, hoewel dit tot ‘n groot mate saamval. Veral sover dit die nuwe elite aangaan (dit is miskien die beste opsomming van ‘n groot deel van die gastelys – en hulle motors getuig daarvan, ons s’n was by verre die oudste) beweeg hulle met groot gemak tussen die moderne, stedelike omgewing met sy kleredrag en maniere waarin hulle oorwegend werk en lewe, en die tradisionele landelike omgewing wat kennelik op ‘n dieper vlak betekenis aan hulle lewens gee.
Dit mag op die oog af as ‘n teenstrydigheid voorkom en vir die streng Christelike familie mag die herontdekking van diep en voor-Christelike tradisies seker spanningsvol wees, maar dit is tegelyk ook duidelik dat ‘n tradisielose omhelsing van moderniteit geen goeie vooruitsig inhou nie. Hierdie groot omwenteling vereis ‘n teenbeweging om die ewewig te behou waarsonder ‘n totale ontworteling intree, iets wat immers tot oormaat in Suid-Afrika gebeur. Daarom kan ‘n Afrikaner, wie se voormense maar binne die laaste drie geslagte gemoderniseer het, nie koud staan teenoor die wyses waarop ander Suid-Afrikaners die oorgang maak nie.
Die punt ten opsigte van die spanning tussen moderniteit en tradisie in Suid-Afrika, maar eintlik ten aansien van die hele front waarop die Suid-Afrikaanse bevolkingsverskeidenheid tot uitdrukking kom, is dat daar ‘n grondige herverbeelding van wat Suid-Afrika is en kan wees, benodig word. Indien ‘n sentralistiese bestuursmodel suksesvol op die samelewing afgedwing word, kan dit ‘n skrootwerf van ontwortelde kulture en mense sonder samehang wees. Indien ons daarenteen daarin kan slaag om vir die kulturele verskeidenheid staatkundige en ekonomiese uitlewingsruimte te skep, kan hier ‘n gemeeenskap van gemeenskappe floreer.
Maar daarvoor moet die sentralistiese drome van voorskriftelike beheer deur drome van selfstandige gemeenskappe wat mekaar erken en respekteer, verplaas word. En dit kan gebeur.