Op pad na 2024 en verder: Die boodskap van die VF Plus

OP PAD NA 2024 EN VERDER: DIE BOODSKAP VAN DIE VF PLUS

deur Wynand Boshoff

  1. Die blywende teenstrydigheid in Afrikaners se bestaan: Vryheid en oorheersing
    Solank Afrikaners as ’n volk bestaan, word ons dit tussen twee oormagte vasgedruk: Die kulturele oormag van die Anglo-Amerikaanse wêreld; en die getalsoormag van Afrika. Met elke deurslaggewende historiese oomblik het ons reaksie op die een, ons kwesbaarheid teenoor die ander vergroot.

    1.1 Die negentiende eeu: Afrikaners versprei dieper in Afrika
    In die 1830’s het ’n spontane verspreiding momentum gekry as ’n aktiewe proses om weg van Britse gesag te versprei. Waar ons ook al gevestig het, was dit as ’n heersende minderheid met ’n ekonomie op swart arbeid gebou. In ons weerstand teen Britse kolonialisme het onsself ’n koloniale mag geword.
    1899 tot 1902 het die twee magte die eerste keer saamgespan en byna ons voortbestaan beëindig. Tydens die Tweede Vryheidsoorlog het die Britse mag toenemend swart mense militêr aangewend – eers net as verkenners, maar later ook as soldate. Groter politieke mag is hulle beloof.

    1.2 Eerste helfte van die twintigste eeu: Suid-Afrika is ’n “blanke land”
    Na die oorlog het Brittanje ’n omkeer gemaak. Suid-Afrika is as “blanke” land bestempel en hulle bondgenote daarin sou die Boere wees. ’n Ingewikkelde stelsel is geskep, waarvan die wese was politieke uitsluiting van swart mense en ekonomiese insluiting – soos nodig.
    Die dele van die land wat nooit verower is nie, is as swart grond (reservate as effens verwarrende vertaling van “reserves”) beskou. Daar sou swart mense hulle met tradisionele boerdery onderhou, terwyl genoeg (maar nét genoeg) arbeid na die moderne ekonomie in die “blanke” stede gevoer word.
    Dat hierdie “blanke land” deel van die Britse ryk sou wees, is deur Brittanje as vanselfsprekend aanvaar en deur minstens helfte van Afrikaners aktief bestry. Die plaaslike geskiedenis van die twee wêreldoorloë getuig daarvan.

    1.3 Tweede helfte van die twintigste eeu: Suid-Afrika is “baie lande”
    Die regering van 1948 het ’n interessante erkenning gemaak, wat dikwels misgekyk word. Suid-Afrika het ongeveer die kulturele verskeidenheid van Wes-Europa en is dus eintlik “baie lande”. Die probleem: Elke swart volk was iewers die meerderheid – hulle land – maar Afrikaners (of blankes) nie.
    Afrikaners en Engelse het saam in die “blanke” stede gewoon, waar die “tydelike” swart werkers eenkant in “lokasies” (weereens ’n onelegante vertaling) gehuisves is – nogal permanent en al meer van hulle, soos die ekonomie gegroei het.
    Die tradisionele swart gebiede is aktief ontwikkel, polities en ekonomies. Maar alles daarbuite is as “blanke land” verklaar en beskou. Dorpe soos Pietersburg, Newcastle, Rustenburg en King Williamstown is as “blanke dorpe” beskou, al het die werklikheid die teendeel uitgeskreeu.
    Om die illusie, die drogbeeld, van ’n blanke land te behou, is maatreëls getref wat sosiale – en fisiese skeiding moes handhaaf. Die ekonomie is ineengevleg, terwyl die politieke strewe van swart mense in blanke land gewelddadig onderdruk is.
    Heeltemal verstaanbaar het net ons gedink dit kan werk.

    1.4 1986 tot 1994: Hoe skik ons hierdie teenstrydigheid?
    1.4.1 Die wat nie wou skik nie
    ’n Groot groep Afrikaners het hulle nooit by die moontlikheid van magsverlies berus nie. Hulle het
    hulleself gewillig verklaar om aan te hou veg en aan geen onderhandelinge deel te neem nie. Uiteindelik het hulle hulleself maar net uit die geskiedenis geskryf.

    1.4.2 ’n Nuwe Suid-Afrika wat baie soos die oue lyk
    In 1986 het die regering amptelik verklaar dat Suid-Afrika tóg een land is. Tog was hulle nie lus om die mag oor die een land prys te gee nie. Swart aandrang op politieke regte het tot ’n noodtoestand gelei, wat eintlik maar ’n beperkte vorm van burgeroorlog was. Teen 1990 is besluit om te onderhandel.
    Onder Afrikaners was die groot vraag: Wat is in ons belang?
    Vir ’n groot deel was die antwoord ’n nuwe Suid-Afrika waarvan die regering anders lyk, maar wat
    andersins soos die oue lyk en werk. Dit is inderdaad wat die NP-onderhandelaars gedink het hulle
    reggekry het. Eiendomsreg (veral van landbougrond), sowel as private myne en banke sou dit verseker.

    ’n “Blink plan” van groot Afrikaner-sakelui was om die nuwe swart elite in die welvaart wat oor effens
    meer as ’n eeu verwerf is, te laat deel – dan sou hulle minder tot nasionalisering geneig wees. Hierdie slenter is as ’n reg aangegryp en in SEB-wette vervat. Dit het aansienlik tot die huidige Distopia bygedra.

    1.4.3 Behoud van vryheid deur te breek met die koloniale verlede
    Een model wat op die tafel gesit is, dikwels as “opofferende selfbeskikking” beskryf. Die vertrekpunt was dat Afrikaners (blankes) ons oorheersing van Suid-Afrika nog lank kon voortsit. Sanksies het ernstige skade gedoen en die noodtoestand was nie lekker nie, maar die regering was ver van omverwerping.
    Tog was dit nie nodig om te kies tot ’n toenemend gewelddadige stryd om ’n minderheidsregering in stand te hou; of ’n toekoms uitgelewer aan die genade van ’n swart regering nie. ’n Eie grondgebied, met ’n eie ekonomie, gebou op eie arbeid is as derde moontlikheid aangebied.
    Rofweg die huidige Noord-Kaap met sy lae bevolking maar volop moontlikhede, is as lewensvatbare
    streek daarvoor voorgestel. Meer as helfte van alle Afrikaners sou na verwagting steeds in die res van Suid-Afrika woon en kon selfs tot transformasie bydra, want hulle voortbestaan sou verseker wees.
    Die ANC en buitelandse raadgewers het hierin ’n uitkoms gesien, maar onder Afrikaners was dit nie
    gewild nie.
  2. Ontstaan en rol van die Vryheidsfront
    2.1 1994: Bewys steun vir selfbeskikking
    Toe dit duidelik word dat ’n skikking met of sonder vryheidsliewende Afrikaners bereik sou word, wou sekere Afrikanerleiers red wat te redde was; en die ANC wou ’n moontlike bloedbad voorkom. Daarom is ’n akkoord tussen die regering, die ANC en die Volksfront voor die verkiesing bereik.
    Die akkoord het nie “’n volkstaat belowe” soos baie mense tans voorhou nie. Dit het bloot die deur op ’n skrefie oopgelaat om na die verkiesing oor selfbeskikking te onderhandel. Deel van die vereiste was dat steun daarvoor bewys moes word; en daarvoor sou die Vryheidsfront aan die verkiesing deelneem.
    Met meer as vierhonderdduisend stemme op die nasionale stembrief en meer as seshonderdduisend op al die provinsiale stembriewe saam, was dit ’n sukses. Voortaan sou Afrikaners meer werklikheidsgetrou oor die toekoms dink, is geglo.

    2.2 1994- 1996 Bou selfbeskikking in die grondwet in
    2.2.1 Artikel 235 en ’n Volkstaatraad: Sukses!
    Die land is direk na 1994 volgens ’n Oorgangsgrondwet geregeer. Die nuwe parlement sou die “finale” grondwet skryf en, soos baie gehoop het, alles wat op daardie tydstip ooreengekom is, onveranderd die toekoms indra.
    Die Vryheidsfront het aktief aan die proses deelgeneem en daarin geslaag om artikel 235 by die
    grondwet ingesluit te kry. Dit gee die regering nie die opdrag om selfbeskikking te verwesenlik nie, maar gee diegene wat dit ondersteun, die reg om dit te doen.
    Intussen is ’n Volkstaatraad in die lewe geroep en deur die staat betaal om die praktiese uitvoering
    hiervan te ondersoek. ’n Deurslaggewende vraag was: Waar?

    2.2.2 Bou ’n nuwe land vir vryheid – in die weste
    Dele van die Noord-Kaap, soos bo genoem, was die een moontlikheid. Dit is aangebied as die enigste deel waar Afrikaners tot ’n meerderheid van die bevolking kon groei. Die voorstel word verfyn tot ’n strook van die Oranjerivier tot die Weskus, maar met uitsluiting van groot bestaande vestigings.
    Hierdie voorstel is selfs deur die destydse minister van staatkundige ontwikkeling, mnr. Valli Moosa, as ’n “legitimate pursuit” beskryf – maar die bal was in ons eie baan. Die regering sou dit nie skep of
    befonds nie. Ons kon, as ons kon en wou. Tot op hede is Orania die enigste uitvloeisel daarvan.

    2.2.3 Die Afrikanerland is waar Afrikaners woon – in die ooste
    Die meeste Afrikaners het op daardie stadium (soos grootliks vandag nog die geval is) in die PWV-gebied (vandag Gauteng), die bosveld en die hoëveld van die Oos- en Wes-Transvaal (vandag Mpumalanga en Noordwes) en die Vrystaat gewoon. Daarom was dit vir sommige die logiese Afrikanerland.
    Die feit dat soveel meer nie-Afrikaners dieselfde gebiede bewoon het, is deur hierdie mense nie as ’n
    struikelblok gesien nie. ’n Grens kon tussen swart – en oorheersend Engelssprekende gedeeltes aan die een kant; en die Afrikanergedeeltes getrek word. Mense kon oor en weer beweeg om te werk.
    Die Volkstaatraad kon nie tussen die twee gedagtes ooreenkom nie en het in ’n verbasende aanval van naïwiteit besluit dat die regering moes kies. Hulle antwoord kan opgesom word met: “As julle nie kan kies nie, hoekom moet ons? Ons wil dit in elk geval nie hê nie.”

    2.3 1999: Verkoop die plan aan ons kiesers
    Die Vryheidsfront het na ’n lang debat besluit dat die eerste moontlikheid die beste is. Die party sou vir totstandkoming van ’n volkstaat in die weste werk, terwyl die belange van Afrikaners in die res van die RSA steeds beskerm sou word.
    Daarom het die VF die 1999-verkiesing benader as “die span met ’n plan”. Drie sake het egter teen die “plan” gewerk: Interne verdeeldheid omdat almal nie met hulle hele hart aan die plan geglo het nie; die merkwaardige sukses van die ANC-regering; en die Demokratiese Party se sukses as opposisieparty.
    In ’n ramp vir die VF en die ideaal van selfbeskikking, het die party se steun tot honderd en
    twintigduisend geval. Dit was te veel om totaal buite rekening te laat, maar te min om iets beslissend
    reg te kry.

    2.4 1999 tot tans: Heropbou van die Vryheidsfront
    Toe die VF tot verhaal gekom het na die groot val, is tandeknersend aanvaar dat Afrikaners meer omgee vir alledaagse probleme as vir vryheid. Dit was moeilik om mense te oortuig dat meeste van die alledaagse probleme juis aan die gebrek aan vryheid te wyte is.
    Die wesenlike teenstrydigheid in Afrikaners se strewes het weer na vore gekom: As volk lê ons behoud daarin om onsself te verwesenlik, los van die Suid-Afrikaanse staat waar ons vyf persent van die bevolking, verspreid oor die lengte en breedte van die land is.
    Maar as individue lê ons behoud daarin om infrastruktuur, skole en ander gemeenskapsinstellings te
    beskerm waar hulle is. Dit wil sê, in die behoud en beskerming van dieselfde staat waarin ons geleidelik verdrink.
    Tussen die twee kan daar nie ’n keuse gedoen word nie. Laat jy na om mense in hulle alledaagse
    behoeftes te ontmoet, stem hulle vir iemand anders en jy word irrelevant. Fokus jy net daarop, is al jou aksies blote sterwensbegeleiding; jou volk gaan steeds dood, maar dit voel nie so erg nie.
    Vir die VF (sedert 2001 die VF Plus) was die groot deurbraak die munisipale verkiesing van 2016. Vir die eerste keer het die VF Plus raadslede in al die groter munisipaliteite, sowel as ’n klomp kleineres, verkies gekry. Hierdie raadslede kon na riool, water, paaie en kragdrade omsien – die alledaagse probleme.
    Soos ons dit sien, verg ons vir selfbehoud. Soos ander ons sien, veg ons vir voortgesette bevoorregting.
    Terwyl ons dus deur koalisies en positiewe deelname ons gemeenskappe oraloor beskerm, is dit in
    werklikheid ’n geveg om stadiger terugwaarts te beweeg. Tog moet ons ook voorwaarts gaan.
  3. Op pad na 2024 en verder: Die boodskap van die VF Plus
    3.1 Staatsverval in die RSA
    Die Suid-Afrikaanse staat is vinnig besig om te verval. Voorbeelde daarvan is staatsondernemings soos Eskom en Transnet wat eenvoudig nie meer hulle werk kan doen nie. Die staat het ook lankal nie meer die alleenreg op die gebruik van wettige geweld nie. Daarom is dit makliker om vryheid te verduidelik.
    Aan die ander kant moet ons nie die staatsverval oordryf nie. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en die Padagentskap (SANRAL) is funksionele staatsorgane wat sorg dat ’n verbasend veerkragtige ekonomie aan die gang bly. Die meeste staatsdepartemente presteer swak, maar funksioneer nog.

    3.2 Afrikaners se reaksie
    Afrikaners reageer op twee maniere: Die een is om toenemend selfstandig te raak. Namate dit moeiliker word om werk te kry, word al meer van ons ondernemers. Dienste wat verval, dwing ons om dit self te lewer. Ons is al meer “staatsbestand”. Dit is positief!
    Die gevaar is dat óns die ouens word wat die heersende orde in standhou – ons wat eintlik daaronder moet uitkom. Ons word die “ware beskermers van die grondwet”; die grondwet wat veronderstel was om ons te beskerm. Daarteen moet ons waak. So: Wat moet ons doen?

    3.3 Skep ’n tuiste – ’n Veilige hawe
    Afrikaners moet leer om soos Jode oor Israel te dink. Vir Jode was Sionisme ’n “oulike” idee, maar net vir sentimenteles. Totdat Hitler hulle oortuig het dat sake regtig verkeerd kan loop en dat hulle ’n land moet hê. Party het getrek, veral die wat totaal verarm is of vir hulle lewens moes vlug.
    Party wat glad nie nodig gehad het om Israel toe te trek nie, het dit uit idealisme gedoen. Maar meer
    van hulle het aangehou geld maak in ander volke se lande en het in die ekonomie van Israel belê. Die twee het inpas gebly: ’n Uiters innoverende ekonomie van binne, ondersteun deur beleggings van buite.
    Die Noord-Kaap bied steeds die ruimte waarbinne Afrikaners ’n meerderheid kan word en ’n florerende staat kan opbou. Maar dit hang, nou meer as ooit, van onsself af. In so ’n strewe moet ons kyk na Orania; die moontlikheid van nuwe nedersettings; en bestaande gemeenskappe.
    Bestaande gemeenskappe moet nie in ’n toestroming van Afrikaners ’n bedreiging vir hulleself sien nie.
    Bruin mense in Hopetown, Calvinia of Springbok moet nie bang wees dat hulle werk in gedrang gaan kom of dat groepsgebiede weer op hulle afgedwing gaan word nie. Dit is ’n resep vir blywende konflik.
    Orania se sterk punt is dat geen gemeenskap verplaas is vir Afrikaners om daar te vestig nie. Hopetown se ekonomie is sterker as gevolg van Orania, nie swakker nie. In Orania se ekonomie is Afrikanerarbeid ’n ononderhandelbare voorwaarde. Dit is nie die geval in Hopetown nie.
    ’n Meerderheid kan op verskillende maniere gevorm word. As Orania aanhou om teen vyftien persent per jaar te groei soos tans, sal dit in 2051 (sestig jaar na stigting) ’n bevolking van bykans 200 000 hê. Dit sal ’n meerderheid in die drie westelike distriksmunisipaliteite van die provinsie wees.
    Nog ’n manier is kleiner nedersettings, los van bestaande dorpe, maar verspreid oor die gebied.
    Landbounedersettings in Israel (kibbutzim en moshavim) het heelwat bygedra om die samestelling van die bevolking te beïnvloed. Hierdie gemeenskappe is steeds ’n dryfkrag agter ekonomiese vernuwing.
    Dit mag selfs gebeur dat ons die regering se Distriksontwikkelingsmodel tot ons eie voordeel aanwend.
    Dit is makliker om ’n meerderheid in die Bo-Karoo (Pixley ka Seme) of Namakwa te bereik, as oor ’n hele provinsie. Distrikte kan ook oor provinsiale grense heen kragte saamvoeg.
    Die groot bron vir hierdie ontwikkeling kan ons hernubare energiebronne en water wees. Dit is bronne wat sonder twyfel aangewend gaan word, die vraag is net: Deur wie?

    3.4 Maak ons woonplekke bewoonbaar
    Daar waar ons mense tans woon, is hulle woonplekke. Dit moet bewoonbaar bly, want daarsonder
    verval die ekonomiese basis om ons veilige hawe te ontwikkel. Dit moet teen regeringsbeleid beskerm word en deur koalisies regeer word. Ons eie gemeenskapslewe moet beskerm en uitgebou word.
  4. Slotsom
    Hierdie verkiesing, soos die toekoms, moet benader word met GROEN ENERGIE. Nie net hernubareenergie nie, maar ook die groen energie van die Vryheidsfront Plus, die jeugdige lewenskrag van groei.
    Dit is nie wat ons moet sê nie, dit is wat ons moet wees! Dit is wat ons vandag moet beplan!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *