Wendell Berry skryf in een van twee bundels opstelle wat in 2010 verskyn het, What Matters? oor ekonomiese vraagstukke en sy “agrariese” benadering daartoe. Wat volg, is ‘n vertaling deur Carel Boshoff van die opstel Money versus Goods soos dit verskyn het in Berry, W. 2019. Essays 1993-2017. The Library of America. p425ev.
[Eerste aflewering]
My siening van die ekonomie kom van die grond af. Dit is ‘n standpunt wat soms as “agraries” beskryf word. Dit beteken dat in die ordening van die ekonomie van ‘n huishouding, gemeenskap of land, ek die natuur eerste sou plaas, die ekonomieë van grondgebruik tweede, die vervaardigingsekonomie derde, en die verbruikersekonomie vierde. Die basis van so ‘n ekonomie sal breed wees en die opvolgende lae sal smaller word in ooreenstemming met hulle krimpende belangrikheid.
Die eerste wet van so ‘n ekonomie sal wees wat die landboukundige, Sir Albert Howard, die “wet van terugkeer” genoem het. Die wet vereis dat wat van die natuur geneem word, teruggegee moet word: Die vrugbaarheidsiklus moet in stand gehou word. In hierdie ekonomie sal die belangrikste waarde die vermoë van natuurlike en kulturele stelsels wees om hulleself te vernuwe. ‘n Betroubare ekonomie sal op hernubare hulpbronne gebou word: grond, water, ekologiese gesondheid. Hierdie hulpbronne sal, as hulle in menslike gebruik hernubaar moet bly, van kulturele hulpbronne, wat ook hernubaar gehou moet word, afhanklik wees: akkurate plaaslike geheue, waarheidsgetroue boekhouding, voortgesette onderhoud, nie-vermorsing, en ‘n demokratiese verspreiding van skaarsgeworde praktiese vermoëns en vaardighede. Die ekonomiese deugde sal dan wees: eerlikheid, hardwerkendheid, sorg, goeie werk, vrygewigheid, en (aangesien dit ‘n dienstige en menslike ekonomie is, en nie ‘n meganiese ekonomie nie) verbeelding, waarvandaan ons deernis het. Die eerste waarde en hierdie deugde is onontbeerlik vir wat ons “volhoubaarheid” begin noem het.
‘n Behoorlik geordende ekonomie, wat die natuur eerste plaas en verbruik laaste, sal by die onderhouds- of huishoudelike ekonomie begin en van daar na die ekonomie van markte oorgaan. Dit sal die wyse wees waarop mense vir hulleself en ander dié dinge voorsien wat nodig is om lewe in stand te hou: goedere wat uit die natuur en menslike arbeid voortkom. Dit sal ‘n onderskeid maak tussen behoeftes en begeertes, en dit sal ‘n duidelike voorrang aan behoeftes gee.
‘n Behoorlike ekonomie sal voorts sekere dinge as van onskatbare waarde beskou. Dit sal nie bloot dinge wees wat uiters skaars of baie duur is nie, maar sal na dinge van absolute waarde verwys, bo en verby enige prys wat deur enige mark op hulle geplaas kan word. Die dinge van absolute waarde sal wees vrugbare grond, skoon water en lug, ekologiese gesondheid, en die natuur se vermoë om haarself binne die ekonomiese landskap te hernu. Ons naaste kulturele voorbeeld van die toekenning van sulke absolute waarde, is Bybels soos in Psalm 24 (“Aan die Here behoort die aarde en die volheid daarvan, …”) en Levitikus 25:23 (“Die grond mag nie onherroeplik verkoop word nie …”). Maar daar is sulke voorbeelde in alle samelewings wat die grond of die wêreld as heilig beskou het – of om dit prakties te stel, as dat dit oor bo-menslike waarde beskik. Die gedagte van onskatbare waarde plaas duidelik sekere beperkings op die idee van grondeienaarskap. Eienaars sal uiteraard sekere gebruiklike voorregte geniet, soos dat die grond aan hulle insig en verantwoordelikheid toevertrou word. Maar daar sal van hulle verwag word om in diens van die grond te staan, ten behoewe van alles wat lewe.
Die huidige en tans falende ekonomie is net mooi die teenoorgestelde van die ekonomie wat ek sopas beskryf het. Oor ‘n lang tyd, en met behulp van ‘n klomp handige jakkalsdraaie, het ons ekonomie ‘n anti-ekonomie geword, ‘n geldstelsel sonder ‘n betroubare grondslag en sonder ekonomiese deugde.
Dit het die ekonomiese orde wat die natuur eerste plaas, omgekeer. Hierdie ekonomie is gebou op verbruik, wat uiteindelik nie die gewone verbruiker dien nie, maar ‘n klein klas van buitengewoon welvarende mense vir wie se verdere verryking die ekonomie (deur hulle) beskou word te bestaan. Vir die doel van hulle verdere verryking, beheer hierdie geldkonings en die groot korporasies wat hulle dien, die ekonomie deur politieke mag te koop. Die gekoopte regerings tree nie op in die belang van die geregeerdes of van hulle land nie; in plaas daarvan tree hulle as agente vir die korporasies op.
Dat hierdie ekonomie op verbruik gebaseer is, of was, blyk duidelik uit die oplossings wat nou vir die mislukking daarvan voorgestel word: stimuleer, bestee, skep werk. Wat gestimuleer moet word, is besteding. Die regering spuit in die falende ekonomie geld in wat bestee moet word, of geleen moet word om bestee te word. As mense geld het om te bestee en gretig is om dit te bestee, sal die aanvraag vir goedere verhoog, wat werk sal skep; die vervaardigingsektor sal die aanvraag met ‘n groter aanbod beantwoord, wat gekoop sal word en so die hoeveelheid geld in omloop sal verhoog; hoe groter die hoeveelheid geld in omloop, hoe meer sal die aanvraag toeneem, wat besteding sal verhoog, wat produksie sal verhoog – ensovoorts totdat die ou fantasie van grenslose ekonomiese groei “herwin” is.
Maar besteding is nie ‘n ekonomiese deug nie. Vrekkigheid is ook nie ‘n ekonomiese deug nie. Om te spaar is. Om nie te mors nie, is. Om besteding aan te moedig sonder enige gedagte aan wat gekoop word, mag pro-geld wees, maar dit is anti-ekonomies. Die geldwese, anders as die ekonomie, is altyd gereed en gretig om behoeftes en begeertes met mekaar te verwar. Uit ‘n finansiële oogpunt mag dit goed wees, selfs patrioties, om ‘n nuwe kar te koop, of jy een nodig het of nie. Uit ‘n ekonomiese oogpunt is dit egter verkeerd om enigiets te koop wat jy nie nodig het nie. Dit is ook onpatrioties: As jy lief is vir jou land, wil jy dit nie met beuselagtige behoeftes belas of bemors nie. Slegs uit die oogpunt van ‘n geldstelsel, ‘n anti-ekonomie, kan dit sin maak om te praat van “wat die ekonomie nodig het”. In ‘n ware ekonomie sal ons vra wat die land en die mense nodig het. Natuurlik het mense werk nodig. Maar hulle het werk nodig wat natuurlike en menslike gemeenskappe dien, nie willekeurige “geskepte” werk wat net die ekonomie dien nie.
Uit ‘n ekonomiese oogpunt is ‘n samelewing waarin elke skoolkind ‘n rekenaar “benodig”, en elke sestienjarige ‘n motorkar “benodig”, en elke agtienjarige kollege toe “moet gaan”, reeds in ‘n dwaal en goed op pad om platsak te wees.
In ‘n sogenaamde “ekonomie” wat van blinde besteding afhanklik is, beteken “werkskepping” dikwels die vermoë om nuwe “noodsaaklikhede” te skep. Tot onlangs was hierdie ekonomie in staat om werk te skep deur behoeftes te skep. Maar dit het baie verwarring en ‘n soort bedrog geverg, want dit gee geen voorrang aan die bevrediging van noodsaaklike behoeftes nie, en kan nie tussen behoeftes en begeertes onderskei nie. Ons ekonomie wat noodsaaklikhede met produkte of goedere wat bloot bemarkbaar is, verwar het, verklein die onontbeerlike diens van benodigde goedere te voorsien willens en wetens tot die “verkoop” of “bemarking” van produkte, waarvan sommige nog nooit deur enigiemand benodig is of sal word nie. Die publiek se goedgelowigheid word so ‘n ekonomiese hulpbron.
Die soort van goed wat verkoop word, maar nie benodig word nie, sluit nou selfs wettig bemarkte voedsel en medisyne in. Dit betrek die kuns (aan universiteite gedoseer en bestudeer) om oor produkte te lieg. ‘n Vriend van my onthou ‘n dosent wat gesê het dat advertering “die vervaardiging van ontevredenheid” is. En so het dit gekom dat ons in ‘n wêreld woon waarin elke soort pynstiller beter as elke ander soort is, waarin ons ‘n “diensekonomie” wat nie dien nie en ‘n “inligtingsekonomie” wat nie goed van sleg onderskei, of waar van vals nie.
Die vervaardigingsektor van ‘n finansiële stelsel wat nie wil of kan onderskei tussen behoeftes en begeertes nie, sal sonder meer in diens van begeertes, nie behoeftes nie, beland. Dit het met ons gebeur. As ons vervaardigers in een of ander noodtoestand skielik opgeroep sou word om ons van sekere noodsaaklikhede te voorsien – skoene, byvoorbeeld – gaan ons dit sleg tref. Die “uitkontraktering” van die vervaardiging van beuselagtighede is ten minste beuselagtig, maar die uitkontraktering van noodsaaklikhede is heeltemaal dwaas.
Sover dit grondekonomieë aangaan, blyk dit dat akademiese en politieke ekonome dit meestal ignoreer. Vir jare wat ek artikels oor die ekonomie lees, het ek verniet vir ‘n skrywer gewag om tuinbou, veeboerdery of bosbou in berekening te neem. Die kundige veronderstelling is blykbaar dat die produkte van die grond nie in die ekonomie ingesluit is alvorens dit nie teen die laagste moontlike koste van diegene wat die werklike werk van produksie verrig het, geneem is en die ekonomie as roumateriaal vir die voedsel, tekstiel, hout, en onlangs die brandstofbedrywe betree het nie. Die gevolg is onafwendbaar: Die industriële stelsel is ontkoppel van, en ongesteur deur, en neem geen verantwoordelikheid vir sy natuurlike en menslike bronne nie. Die verdere gevolg is dat hierdie bronne nie onderhou word nie, maar eenvoudig gebruik word totdat dit blyk netso uitputlik soos fossielbrandstof te wees.
En sovêr dit die natuur self aangaan, naastenby niemand – nie die “omgewingsaktivis” nie en nog minder die ekonoom – beskou die natuur as ‘n ekonomiese hulpbron nie. Die natuur, in besonder waar sy haarself die las opgelê het om mooi te wees, word verstaan as iets met ontspanningswaarde en dalk estetiese waarde wat tot ‘n sekere mate ekonomies is. Maar vir haar voorsiening aan ons behoeftes om te eet, te drink, asem te haal en geklee en beskut te word, gee ons industriële en finansiële stelsels haar geen erkenning, eer of sorg nie.
Verre daarvandaan om ‘n absolute waarde toe te ken aan daardie dinge wat ons absoluut benodig, plaas die finansiële stelsel ‘n prys, ‘n baie wisselende prys, op alles. Ons weet uit hoofde van baie ervaring dat elke ding met ‘n prys, vroeër of later verkoop sal word. En van die saamgestelde statistiek van bogrondverlies, grondverlies, ontbossing, oorgebruik van water, verskillende soorte besoedeling, ens., het ons rede om te vrees dat alles wat verkoop word, tot niet gemaak word. As alles ‘n prys het en die prys eindeloos wisselend gemaak word, sonder ‘n stabiele verhouding tot noodsaaklike of werklike goedere, dan word alles ontkoppel van die geskiedenis, kennis, respek en liefde – van enigiets hoegenaamd wat dit mag bewaar – en word dit by implikasie vatbaar vir vernietiging.
[Word vervolg]
1 thought on “Geld versus Goedere – Wendell Berry I”