Roger Scruton (2007/2021): Culture Counts, Faith and Feeling in a World Besieged. London: Encounter Books
In die laaste van sewe hoofstukke in Roger Scruton (1944–2020) se Culture Counts deel hy die tekens van hoop wat hy, ten spyte van al die kragte wat teen die Westerse kultuur opgestel is, tog waarneem.
In hoofstuk 1 het hy aangevoer dat kultuur op oordeel gebou is en dat ons die vermoë om oordeel te fel, moet koester. In hoofstuk 2 sê hy dat die oorspronge van kultuur in ontspanning en in godsdiens lê, en dat iets daarvan ook in ‘n sekulêre era teruggevind kan word. Hoofstuk 3 handel oor die wyse waarop kultuur mens toerus om met die regte gevoelens op die wêreld te reageer en hoofstuk 4 oor die noodsaak om by wyse van kultuurkritiek dié gevoelens en kultuur te verfyn. Hoofstukke 5 en 6 se onderwerpe is kultuuronderrig en kultuuroorloë, twee sake waarvan hy ‘n ietwat bleek prentjie geskets het, maar hy stel dit in hoofstuk 7 in ‘n meer hoopgewende perspektief.
Tekens van hoop
Kultuur is ten diepste iets wat in mense se bewussyn bestaan en wat tot niet gaan as niemand meer lewend daarin deel nie. In museums en argiewe word kultuur, só beskou, eerder begrawe as bewaar, want note op papier of verf op ‘n doek het geen betekenis meer as niemand dit as Mozart se musiek of Rembrandt se skildery herken en waardeer nie. Dit, sê Scruton, is die risiko wat die Westerse kultuurerfenis tans loop: om bewaar te word, maar nie na waarde geskat te word nie. Maar ten spyte van hierdie gevaar, wys hy ook op hoopgewende tekens van nuwe belangstelling in ons kultuur.
Die Joods-Christelike erfenis waaraan die Weste sy sin vir betekenis grootliks te danke het, is sekerlik deur sekulariserende kragte ondermyn, maar iemand soos Pous Johannes Paulus II het ‘n besondere bydrae gelewer om die tradisie weer te laat herleef. Terwyl hy daarby talle ander, minder bekende voorbeelde noem (René Girird, Jan Patočka, Alexander Solzhenitsyn, ens.), is dit interessant dat die herlewing tipies nie aan universiteite plaasgevind het nie – nie in die ou Oosblok of in Amerika nie, maar in private ruimtes en burgerlike instellings. Ook daarvan noem hy talle voorbeelde.
Op die terrein van musiek en tonaliteit, wat vir Scruton ‘n spesiale belangstelling is, is hy van mening dat daar nie net weer ‘n lewendige vraag na ernstige werke is nie, maar ook dat komponiste die taal van tonale musiek herontdek om mee met hulle gehore kontak te maak. Dit ten spyte van ‘n musikale agterdog jeens tonaliteit, wat vergelyk kan word met Marx se agterdog jeens privaatbesit, Sartre se agterdog jeens die burgerlike gesin en abstrakte skilders se agterdog jeens figuratiewe kuns. Wat hulle almal in gemeen het, is ‘n rebellie teen die enigste manier waarop daar in elke geval sin van dinge gemaak kan word – ‘n rebellie wat nie finaal geslaag het nie. Inteendeel, hy noem talle voorbeelde van die teenoorgestelde, van musiek wat tegelyk ernstig én mooi is, en waarvoor ligte musiek eerder as verskillende variasies pop, gehore voorberei.
Betreffende visuele kuns is dit vir Scruton so duidelik dat daar ‘n lewendige verhouding is tussen kunstenaars wat mooi goed maak en ‘n publiek wat dit waardeer en aankoop, teenoor die vervreemdende tendense wat gesubsidieerde kunsskole en museums kenmerk, dat hy eerder argitektuur in behandeling neem. Op hierdie terrein, wat so dikwels deur die bestedingsbesluite van owerhede en sosiale elites bepaal word, het die moderne beweging ‘n breuk met tradisionele beelde van skoonheid en harmonie bewerkstellig. Die vernuwing van woonbuurte in die vorm van steriele toringblokke aanneem, het, soos hy dit stel, “die stad as tuiste vernietig, die gees van die inwoners geblus en inwoners in die algemeen in die brave new world van vervreemding losgelaat.” Daarteenoor vermeld hy onder andere Quinlan Terry van Richmond Riverside-faam, en die huidige koning Charles se Poundbury-inisiatief saam met Leon Krier wat daarby betrokke was. Hulle het naamlik getoon dat skoonheid en tradisie ook in die bou van dorpe en stede herwin en behou kan word.
Uit ‘n siniese oogpunt kan mens seker nou aanvoer, sê Scruton, dat dit alles goed en wel is vir die elite wat aan die hoër ordes van die kultuur deelneem, maar dat gewone mense min daarby baat. So ‘n verdeling is egter, in ‘n lewende kultuur, nie werklikheidsgetrou nie. Dit het deur die hele argument geblyk dat, soos hy dit stel, “kultuur ‘n swaard is wat ter verdediging van die “gewone man” gebruik word deur ons beskermengel, wat Kennis is.” As mens twyfel of ‘n lewende kultuur iets werd is, voer Scruton aan, kyk na die gevolge van beskawings waarin die kultuur dood is en wat sigself nie met selfvernuwing besig hou nie. Islam is tans so ‘n kultuur, al was dit vroeër anders. Die Weste daarenteen is, ten spyte van al die kritiek daarop, nog nie dood nie. Inteendeel, dit skenk nog sy vrugte aan almal wat daarin wil deel en elkeen wat die kennis wat daarin opgesluit is, wil verwerf, vind nie net self daarby baat nie, maar red daardeur hulle gemeenskap.
Skoonheid is iets met intrinsieke waarde. Die waarde daarvan word nie deur ‘n mark toegeken, of selfs op ‘n mark vasgestel nie. Dit funksioneer onafhanklik van die mark en gee betekenis aan die dinge wat onder andere op die mark gebeur. Die morele waarde van kuns lê volgens Scruton nie in die feit dat dit jou goed maak nie – dit kan dalk glad nie so-iets doen nie, dit lê in die feit dat dit die idee van morele waarde as sodanig in stand hou deur te toon dat dit hoegenaamd bestaan. As dit waar is, kan die nihilisme van ons eietydse universiteite en die nihilisme van die markplein maar kom, dit word weerstaan. En selfs al slaag ons nie daarin om kultuur weer in die middelpunt van die openbare orde, waar dit hoort, te herstel nie, dan is dit steeds die moeite werd om met oorgawe daarvoor te veg.