GELOFTEKERK VAN GISTER TOT VANDAG
deur Jan van Zyl
“Want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van die oorwinning aan Hom te gee.” Hierdie laaste sinsnede van die Gelofte spreek ten diepste van die oortuiging en bedoeling waarmee die Voortrekkers die stryd teen die Zoeloes aangepak het. Hierdie oortuiging is in wese dan ook ’n samevatting van die drie sake waartoe die Voortrekkers hulself verbind het. Met twee daarvan, naamlik dat die dag elke jaar as ‘n dankdag, soos ’n Sabbat herdenk word, en dat ons ook aan ons kinders daarvan moet vertel sodat hulle daarin met ons deel, het Afrikaners elke jaar en ten regte deurlopend mee te make.
Die derde saak waartoe die Voortrekkers hulself verbind het, was dat ’n huis tot sy eer opgerig sou word. Eenvoudig beskou het die Voortrekkers ná afloop van die Slag van Bloedrivier in Pietermaritzburg die kerk wat ons nou as die Geloftekerk ken, opgerig en daardeur die Gelofte in hierdie opsig nagekom. Die Orania Bewaringstigting het die afgelope jaar ’n baie interessante gesprek gefasiliteer waar hierdie saak weer ondersoek is, en die deelname en insig van Oraniërs hierby betrokke was verrykend. Die bou van die Geloftekerk binne die historiese konteks dui vir ons op ’n besondere verbintenis en opoffering onder ons voorsate en die prioriteit wat hulle aan hierdie geloofsaak gegee het. Die verbintenis om ’n kerk vir God op te rig moet in ’n sekere opsig ook nie as eenvoudig afgehandel beskou word nie.
Dit is in die besonder kosbaar om weer na die geskiedenis en omstandighede waaronder die Geloftekerk gebou is, te kyk om juis onsself daardeur opnuut daaraan te herinner dat afgesien van watter interpretasie latere geslagte ook al aan die Gelofte heg, die werklike en duidelike kern daarvan vir die Voortrekkers daarin lê dat die Drie-Enige God se naam in die roem en die eer van die oorwinning verheerlik moet word. Hierdie kernwaarheid waar rondom die Gelofte draai vind ons ten eerste baie duidelik in die bewoording van die Gelofte self, maar dit word sterk aangevul deur die Voortrekkers se lewenswyse en lewensbeskouing, ook in ’n saak soos die bou van die Geloftekerk.
Vir die Voortrekkers was die Gelofte ‘n gewigtige saak, nie alleen vanweë die feit dat dit sentraal gestaan het tot hul lewensbeskouing nie, maar maar omdat dit na vore getree het as ‘n uitvloeisel van hul Gereformeerde geloof wat die middelpunt was van hul menswees na vore getree het. Die bou van die Geloftekerk was derhalwe ook ‘n voorbeeld van hulle Gereformeerde geloof, soos wat dit met die latere vestiging van Afrikaners oor die noorde van die land gebeur het, waar dorpe gereeld rondom ‘n gemeente ontstaan het, en die oprig van ‘n kerkgebou as een van die eerste prioriteite deur so ‘n gemeenskap en die oprig van ‘n kerkgebou, deur so ‘n gemeenskap as een van die eerste prioriteite beskou is.
Ten tyde van die Groot Trek kon die Voortrekkers nie met sukses ‘n predikant beroep nie, maar eerwaarde Erasmus Smit wat vroeër as sendeling aan die Londense Sendinggenootskap verbonde was het probeer om as herder en leraar op te tree. Hy verwys reeds in 1837 na sy gemeentevorming as die “Gereformeerde Kerk Reizende door Z.O. Afrika” en word dieselfde jaar deur Piet Retief as die eerste leraar van die reisende gemeente van die “Gereformeerde Kerk naar Port Natal” bevestig. Eerwaarde Smit het hierna homself op sy werk as leraar en herder toegespits en in die uitdagende jaar van 1838 baie gedoen om die Trekkers in Natal van geestelike leiding te voorsien. Dit was dan ook aan die einde van 1838, ná ‘n jaar van swaarkry en opoffering, wat die Slag van Bloedrivier sukses vir die Trekkers beteken het en daar met die permanente vestiging in hul nuwe staat voortgegaan kon word.
Die eerste dorp wat gevestig is, uit erkenning vir die Trekkerleiers Retief en Maritz, was die dorp Pietermaritzburg. Die trekgeselskap waarvan eerwaarde Smit deel gevorm het, het aan die einde van Januarie 1839 daar opgedaag, en hy het met gemeentewerk voortgegaan. Om met die oprigting van ‘n kerkgebou te begin was vir die gemeente ‘n besondere uitdaging, gegewe die talle weduwees en die armoede onder die Voortrekkers wat ‘n swaar las vir die gemeente veroorsaak het. Geld en materiaal moes ingesamel word terwyl ‘n tydelike kerk gebou word. Pietermaritzburg het uit ‘n versameling hartbeeshuisies en waens bestaan waarin gesinne gewoon het. Dit was ook in een van hierdie huisies, ‘n eenvoudige rietgeboutjie, waar eerwaarde Smit plek ingeruim het vir eredienste, en waar die Voortrekkers voorlopig moes byeenkom.
Alhoewel die Voortrekkers met hul beperkte vermoëns sover as moontlik vir die bou van ‘n kerk bygedra het, het die Volksraad reeds in Mei 1839 in ‘n skrywe aan gemeentes in die Kaap om hulp gevra. Dit was duidelik dat hulp van buite nodig sou wees. Die Geloftekerk se hoeksteen was reeds in 1839 op erf no. 34 in Langmarkstraat gelê maar vanweë die skaarste aan fondse en boumateriaal het die bouproses baie stadig verloop. Te danke aan ‘n lening vanaf die Volksraad kon die werk afgehandel word en is die kerkgebou in 1841 ingewy. Dit is interessant om op te merk dat kerkgangers hul eie stoele na eredienste moes saambring totdat die gemeente banke kon bekostig.
Vir die Voortrekkers was dit baie belangrik om ‘n volwaardige predikant aan te stel, en die eerste predikant wat hul in 1841 suksesvol kon beroep, was die Engelstalige Daniel Lindley wat toelating in die Presbiteriaanse Kerk gekry en daarna as sendeling gewerk het. Ds. Lindley se gemeente het gestrek van Port Natal (Durban), oor die Drakensberg tot by Winburg en Potchefstroom. Hy het oor die hele gebied gereis en kinders gedoop, lidmate belydenis van geloof laat aflê en huwelike bevestig. Hy wou egter graag na die sendingveld terugkeer en het in 1846 die gemeente verlaat. Eers in 1852 het die gemeente hul eerste Afrikaanse predikant in die persoon van dr. H Faure ontvang. Kort ná sy aankoms, en gegewe die feit dat die Geloftekerk te klein was vir die groeiende gemeente was het die gemeente begin om ‘n nuwe kerk reg langs die Geloftekerk te bou. Die Geloftekerk was van meet af veronderstel om net tydelik vir die gemeente ‘n tuiste te bied, en die nuwe kerkgebou is in 1861 ingewy.
In ons gedagtes word die Geloftekerk voorgestel soos dit in Pierneef se bekende skildery daar uitsien. Die kerkie het egter nie in die begin so gelyk nie en was baie meer eenvoudig en sonder die gewels wat eers heelwat later bygevoeg is. Vandat die gemeente die kerkie nie meer gebruik het nie, is die gebou as skool gebruik en later deur die gemeente verkoop. Die gebou het vervolgens gedien as smidswinkel, wamakery, koeldrankfabriek, apteek en teekamer. In die proses het dit erg bouvallig geraak. Dit was te danke aan adv. EG Jansen se pogings om fondse in te samel dat die gebou teruggekoop en in 1912, nadat die gebou gerestoureer is aan die “volk van Suid-Afrika” oorhandig kon word. Besitreg is aan die Unieregering oorgedra en daarna het dit die rol van ‘n museum vervul met verskeie kosbare museumstukke daarin.
Die werklikheid van demografie het sy noodlottige gevolge ook vir die Afrikaner-gemeenskap van Pietermaritzburg laat geld en Afrikaners se getalle het in die eens trotse Voortrekkerhoofstad afgeneem tot minder as 5% van die bevolking. Waar die Geloftekerk, te danke aan staatsbesit, in veilige hande was vir die grootste deel van die vorige eeu, het staatsbesit nou sy ondergang beteken. Die museumstukke daarvan is deur die Erfenisstigting verwyder, maar die gebou self gaan met rasse skrede agteruit, met ongure advertensies wat teen die muur aan die straatkant vasgegom word, terwyl die gebou self kraak en nie die nodige instandhouding ontvang nie. Dit help ook nie dat die kerkie in die middestad van Pietermaritzburg reg langs die sentrale taxi-staanplek is nie.
Die Voortrekkers se verbintenis tot die bou van ‘n kerk staan nie in isolasie tot die restant van die Gelofte nie, en die verwesenliking van hul oortuiging was dat alles in die lewe, ook die oorwinning by Bloedrivier, ter verheerliking van God se naam moet wees. In ons gesprek saam met die Orania Bewaringstigting het hierdie waarheid duidelik uitgestaan, en die rol en funksie van die Geloftekerk is ook so benader. Die Voortrekkers se voorbeeld van die regte prioriteit in die ontwikkeling van hul dorpe en ook staat behoort as aansporing te dien vir die wyse waarop die ontwikkeling en uitbou van Orania aangepak word.
Heelwat Oraniërs was dit ook eens dat die Voortrekkers se verbintenis tot die bou van ’n kerk vir God nie bloot beperk was tot die bou van die Geloftekerk nie. Soos die Voortrekkers in Natal aangehou het om kerk te bou en daaropvolgend in Transvaal en die Vrystaat gemeentes te stig, bly ons vandag nie slegs sovêr dit die Gelofte aangaan verbind tot die herdenking op 16 Desember elke jaar en die oorvertel van ons geskiedenis nie, maar inderdaad ook tot kerkbou oral waar ons vestig.
Ten aansien van die nou vervalle kerkie in Pietermaritzburg getuig dit tragies van die demografiese werklikhede wat ons volk daar ingehaal het, terwyl dit ook iets sê van die toestand van ons volk. Tog is dit verblydend om waar te neem dat daar wel nuwe energie is om die Geloftekerk, as historiese baken op die reis van ons volk, opnuut sy historiese plek in ons volk te gee, en die waardigheid daarvan in ere te herstel. Hierdie erkenning sal noodwendig op sodanige plek moet geskied waar die volk volhoubaar sy skatte kan koester; en hierin lê vir Orania ’n geleentheid om aan te gryp.
Met die skryf hiervan is gesteun op die werk van Jan C Greyling wat op www.eensgesind.com/kerk-van-die-gelofte/ beskikbaar is en wat handel oor die geskiedenis van die kerkgebou.