Verbeelding in plek [4/4]

Vertaal deur Carel Boshoff

Wendell Berry skryf in een van sy later opstelbundels, Imagination in Place, wat in 2010 verskyn het, oor die verband tussen sy lewe as boer, sy werk as skrywer en die plek waar hy sy lewe lank gewoon het. Die opstel met dieselfde titel word vervolgens in vier aflewerings aangebied en dit sluit mooi aan by tema’s soos moedertaal en letterkunde. Wat volg, is ‘n vertaling deur Carel Boshoff van die opstel Imagination in Place soos dit verskyn het in Berry, W. 2019. Essays 1993-2017. The Library of America. pp463-474.

VERBEELDING IN PLEK

Wat ek as ‘n boer geleer het, het ek ook as ‘n skrywer geleer, en omgekeerd. Ek het as ‘n skrywer geboer en as ‘n boer geskrywe. Ter wille van helderheid wens ek dat dit meer onderskeibaar of analiseerbaar of veralgemeenbaar kon wees as wat dit is. Ek praat egter van ‘n ervaring wat weerstand bied teen enige vorm van vereenvoudiging. Dit is ‘n ervaring van wat ek voortaan veringewikkelding sal noem. Wanneer ek tot my verstomming soms as toegewyd aan “eenvoud” beskryf word (aangesien ek kwansuis die lewe van ‘n “eenvoudige boer” verkies), kan ek nie anders nie as om te antwoord dat ek die eenvoudige lewe opgegee het toe ek New York Stad in 1964 verlaat het om hierheen te kom. In New York het ek die lewe van ‘n passiewe verbruiker gelei, wat by wyse van aankope aan omtrent al my behoeftes voorsien het, terwyl ek hier deur my arbeid (en plesier) self aan baie van my behoeftes voorsien en boonop ook verantwoordelik is om die plek te versorg.

            My punt is dat as mens van enige abstrakte orde, of dit dié van die verbruikersekonomie, of Ransom se “Statement of Principles”, of van ‘n brosjure van die Voorligtingsdiens is, na die daaglikse lewe en werk van mens se eie plaas oorgaan, mens van betreklike eenvoud oorgaan na ‘n kompleksiteit wat net deur ‘n ramp vereenvoudig kan word en wat in die finale instansie onverstaanbaar is. Dit is die ingewikkeldheid van die lewe op ‘n plek wat sonder kompromie is wat hy is, wat tegelyk die lewe van die wêreld is, van die hele Skepping. Mens kom nie net voor die weer en die wildheid van die wêreld te staan nie, maar ook voor die beperkings van jou eie kennis, intelligensie, persoonlikheid en liggaamskrag. Om dit te doen is natuurlik om ‘n plek as ‘n invloed te aanvaar.

            My verdere punt is dat om dit te doen as mens ‘n skrywer is, is om die plek en die verbouing daarvan as ‘n letterkundige invloed te aanvaar. Dit beteken dat mens die plek nie net as omstandigheid aanvaar nie, maar as deel van die vormende omgewing van mens se denke en verbeelding. Ek sal nie waag om daarop aanspraak te maak dat ek weet hoe dit “werk” nie, maar ek twyfel hoegenaamd nie dat dit waar is nie. En ek sal graag bespiegel oor wat die uitkoms daarvan kan wees.

            Om mee te begin: die werk van ‘n boer, of van die soort boer wat ek was, behels ‘n sin vir die spesifieke. Soos boere self nooit moeg word om te herhaal nie, jy kan nie leer boer deur ‘n boek te lees nie. Jy kan nie ‘n grensdraad span of ‘n land ploeg of ‘n boom afkap of ‘n vul inbreek deur bloot algemene beginsels toe te pas nie. Jy kan nie met dinge handel bloot op grond van kategorieë nie; daar word voortdurend van jou verwag om die onderskeibare individualiteit van ‘n dier of ‘n boom, of die uniekheid van ‘n plek of ‘n situasie in aanmerking te neem, en om dit te doen moet jy uit die versamelde ervaring oor ‘n lang tyd, van jou eie en ander mense s’n, put. Boonop is jy altyd onder druk om aan iemand te verduidelik (dikwels aan jouself) presies wat gedoen moet word. Dit alles roep ‘n presies verbesonderende [teenoor veralgemenende] taal op. Dit is die regte soort taal vir ‘n skrywer, ‘n taal wat so te sê van die grond af opwaarts ontwikkel. Dit is die regte soort taal vir enigiemand, maar baie van ons openbare taal skyn afwaarts vanaf ‘n doel te ontwikkel. Die doel is meestal om te mislei, met die besonderhede gekies of uitgedink vir die doel; of die besonderhede hang los en onopgemerk af van die ontwrigte intellektualiteit van die universiteite. Dit staan teenoor eerlikheid, soos ook teenoor besondersheid.

            Die vermoë om presies te praat, is ten nouste verbonde aan die vermoë om presies te weet. In enige praktiese werk soos boerdery word die prys vir ‘n fout soms dadelik betaal, en dit hou waardevolle lesse vir ‘n skrywer in. ‘n Boer wat ook ‘n skrywer is, sal ten minste die plaasgereedskap en gedoentes by die regte name noem, sal reg wees oor die besonderhede van die werk, en behoort dieselfde erkenning aan ander sake ook te gee.

            ‘n Skrywer wat ook ‘n boer is, sal daarbenewens ook geneig wees om regte plattelandse mense te ken, en dit is ‘n wesenlike voordeel. Sommige fiksie wat mens lees, in besonder Suidelike fiksie, laat mens die indruk nie ontsnap nie dat die skrywers geen spesifieke plattelandse mense ken nie en in die algemeen vir hulle bang is. Hulle vul die leë spasie nie met iemand wat hulle hulle kon voorstel nie, maar met die retories saamgeflansde stereotipe van die gomtor of die agtervelder of die rooinek, die totale teenoorgestelde van die jong vrou met ses arms in die skets van die ontslape (“Alas”) Emmeline Grangerford, en is dalk haar seun. Hy slof die heelal in met sy pistool in een hand, sy penis in ‘n ander, sy Bybel in nog een, sy bottel in nog een, sy oupa se kavallerieswaard in nog een, sy stuk pruimtabak in nog een. Hy doen skade. As jy plaasprodukte of steenkool of hout van ‘n landelike streek wil steel, sal jy dit baie minder steurend vind om dit te doen as jy glo dat die mense daar te onnosel en gewelddadig is om die dinge wat jy van hulle wil steel, te verdien. En so dien die verskaffers van landelike stereotipes ‘n roofekonomie. Twee van die Suidelike Agrariërs, moet ek byvoeg, het die soort ding met kennis teengegaan. Ek dink aan John Donald Wade se opstel “The Life and Death of Cousin Lucius” in I’ll Take My Stand, en A Wake for the Living deur Andrew Lytle.

            As jy verstaan dat wat jy as ‘n boer doen onontwykbaar gemeet sal word aan die uitwerking daarvan op die plek, en op die plek se buurt van mense en ander skepsels, dan sal jy, as jy ook ‘n skrywer is, ook moet wonder wat die uitwerking van jou skryfwerk op die plek gaan wees. Dit is kennelik vir enigiemand moeilik om te weet, en jy leef dalk self nie lank genoeg om uit te vind nie, maar in jou gedagtes gaan jy die gesondheid van die plek as onontbeerlike maatstawwe vir wat jy skryf, gebruik, en gevolglik die universiteit en die “literêre wêreld” as toereikende agtergronde vir letterkunde laat ontbind. Dit gaan jou werk ook van die maatstaf van realisme wegtrek. “Hoe dinge regtig is”, is een van jou oorwegings, maar beslis nie die enigste nie. Jy het begin om te vra hoe dinge gaan wees, hoe jy wil hê dat dinge moet wees, hoe dinge behoort te wees. Jy wil weet wat die betekenis van dinge in hierdie wêreld, beide tydelik en ewig, is. “Realisme”, soos Kathleen Raine gesê het, “kan nie wys wat ons is nie, maar slegs ons mislukking om dit te word wat die gewone man en die gewone vrou onvoldoende, maar onverpoosd strewe om te wees.” As jy, met ander woorde, ‘n heel storie oor heel mense wil skryf – lewende siele, nie “hoër orde diere” nie – moet jy uitreik na ‘n werklikheid wat vir gewone waarneming of persepsie ontoeganklik is, maar wat daarby verbeelding vereis, want verbeelding weet meer as wat die oog kan sien, en wat inspirasie vereis waarvoor jy net kan hoop en bid. Jy sal vind, dink ek, dat dié poging selfs ‘n soort voorspraak behels. Om vir iets voorspraak te maak, soos baie mense sal bevestig, is gevaarlik vir kuns en jy moet daarvoor versigtig wees, maar as jy die plek se welstand as maatstaf aanvaar, dink ek dat die voorspraak in jou werk teenwoordig gaan wees. Oor omtrent alles wat ek geskrywe het, hang die vraag na hoe ‘n menslike ekonomie met eerbied, en daarom met gepaste respek en welwillendheid teenoor alles wat betrokke is, bestuur kan word. Dít, sou dit ooit gebeur, sal die volwassewording van die Amerikaanse kultuur wees.

Ek het probeer (lomp, kan ek sien) om die werklike en verbeelde plekke te omskryf waar ek my staan gemaak het en my werk gedoen het. Ek het die verbeelde dorp Port William, sy buurt en sy gemeenskap, daargestel in ‘n poging om die werklike plek waar ek gewoon het, te respekteer. Deur middel van die verbeelde plek het ek oor die laaste vyftig jaar my eie landskap en buurt leer sien as ‘n unieke plek in die wêreld, uit Gods hand ontvang, beset deur ‘n inherente heiligheid wat die spot dryf met enige menslike waardasie wat daarop geplaas kan word. As enigiets wat ek op hierdie plek geskryf het, die misbruik daarvan denkbaar kan maak, of gebruik kan word om enigeen te verskoon wat die grond as “kapitaal” beoordeel, of sy mense as “arbeid” of as “hulpbronne”, dan moes my skryfwerk eerder ongeskrewe gebly het. Na die hel dan met enige “letterkundige” waarde wat enigeen dan daarin kan vind.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *