Boekbespreking: Culture Counts [6/7]

vertaal deur Carel Boshoff

Roger Scruton (2007/2021): Culture Counts, Faith and Feeling in a World Besieged. London: Encounter Books

In die sesde van sewe hoofstukke in Roger Scruton (1944–2020) se Culture Counts behandel hy die kultuurstryd wat tans veral aan Universiteite en in die media woed. Die Westerse kultuur wat, na sy uiteensetting, waardevol genoeg is om oordrag van een geslag na die volgende te regverdig, verdien ook om teen die aanslae vanuit vyandige geledere verdedig te word. Gewone mense wat skielik daarmee gekonfronteer word, weet nie wat om van sulke kultuurvyandige standpunte te maak nie of dink dat die onwerklike denkbeelde oor byvoorbeeld geslagsidentiteit hulle nie aangaan nie. Intussen grawe teenstaanders van Christelik-Westerse waardes hulle al dieper in en vind konserwatiewe Westerlinge dat hulle in werklikheid beleër is. In hierdie hoofstuk bied Scruton ‘n blik op die aanslag, maar ook op die verweer wat daarteen opgewerp kan word.

KULTUUROORLOë

In opvoedkundige kringe identifiseer Scruton drie tradisievyandige denkrigtings wat nie van buite nie, maar van binne die instellings wie se taak dit is om ons kultuur oor te dra, aangebied word. Die eerste is multi-kulturaliste wat aanvoer dat die aanbieding van Westerse kultuur asof dit die enigste of beste in die wêreld is, nie net aanstoot gee nie, maar ook tot mislukking gedoem is omdat dit nie meer geglo word nie. Die tweede is feministe wat ‘n wrewel koester teen ‘n tradisie wat in sy vorming nie net vroue misken het nie, maar hulle steeds die woordeskat en denkbeelde ontsê om mee teen die patriargie in verset te kom.

Die derde is ‘n algemene kultuur van verloëning wat sedert die Tweede Wêreldoorlog ‘n reuse literatuur opgelewer het, van Michel Foucault se ontmaskering van die magsbelange agter elke waarheidsaanspraak, tot Richard Rorty se waarheidsontkennende pragmatisme tot Barthes se strukturalistiese ontluistering van die klassieke tot die dekontruksie-virus wat deur Derrida versprei is. Hierdie kultuur van ontkenning kan sigself as ‘n teorie aanbied, soos in die Kritiese Teorie van Horkheimer, Adorno en Habermas, maar die doel van die teorie is nie om kennis te verwerf nie, maar om die houer waarin ongewensde kennis geberg word, te vernietig.

Ironies genoeg dat wat as ‘n aanval op veral Amerikaanse massa-kultuur begin het, omswaai in ‘n aanslag op Westerse hoogkultuur. Theodor Adorno, een van die toonaangewende figure van die Frankfurter Schule, was ‘n opgeleide musikus wat die Amerikaanse lied, of dit van Gerswin of Berlin, Cole Porter of Jerome Kern gekom het, as werktuig van kapitalistiese uitbuiting aangewys het. Scruton, wat self ‘n musikus met ‘n sterk voorkeur vir die klassieke (Wagner in die besonder) was, ontken nie wat hy noem “die element van kitsch wat jou tone laat krul” in die Amerikaanse musiekkultuur nie, maar hy beskou dit in ‘n baie meer simpatieke lig. Wat hy daarin sien, is ‘n kulturele aanpassing by die eienskappe van die moderne wêreld, op ‘n wyse wat mense vir die eise wat verbygaande verbintenisse en tydelike smart stel, voorberei.

Sedert die Frankfurters hulle ballingskap in Amerika opgeneem het – en hulle gashere met minagting bejeën het – is die visier van kulturele kritiek egter op die elite-kultuur van die Amerikaanse (en ander) universiteite gerig. Dosente in die geesteswetenskappe word veral met hierdie kultuur van verloëning gekonfronteer en moet hulle oor vrae verantwoord soos of die Westerse kultuur nie eenvoudig voor sy ondergang te staan gekom het, met ander kultuurinhoude wat beter by ons era aangepas is nie. Is daar objektiewe maatstawwe aan die hand waarvan hierdie kultuur bo daardie verhef kan word? Moet mens nie maar aanvaar dat kultuur ook ‘n historiese en sterflike verskynsel is, en aanbeweeg nie?

Voor mens egter voor die ooglopende appél van hierdie argument swig, voer Scruton aan, moet mens in aanmerking neem dat die teenstaanders van die tradisionele leerplanne nie met plaasvervangende inhoude gereed sit nie. Inteendeel, daar is naastenby niks om die plek van die kulturele kanon wat die aktiviste so graag verwyder wil sien, in te neem nie. Waarom is hulle dit dan so vyandig gesind? Scruton voer aan dat die vyandigheid die gevolg is van wat kultuur ten diepste verteenwoordig, naamlik die herinnering aan ‘n vorm van sosiale lidmaatskap, wat dit verhef tot iets natuurlik, onveranderlik en rustig. Dit is dus ‘n norm wat nie sonder meer met rus gelaat kan word nie, veral nie in ‘n tyd wat deur godsdienstige verval gekenmerk word nie. Geloofsinhoude dien naamlik ook om ‘n band tussen die intellektuele elite, byvoorbeeld vandag se dosente en joernaliste, en die gewone bevolking in stand te hou. Waar hierdie band breek – en ons aanskou dit tans in die Weste – is die kultuur van ontkenning en verloëning te verwagte, hoewel die intellektuele elite hulle na verwagting eerder teen die populêre as die hoogkultuur sou opstel.

_______________________________________________________________

Tot sover die probleemstelling; in antwoord daarop, voer Scruton aan, moet ons onthou dat die Westerse kultuur, veral sedert die Verligting, in sy aard oop is vir redelike bevraagtekening. Vir die afgelope tweehonderd jaar het die rede in geval van twyfel as arbiter gedien en is die idee van objektiewe kennis in stand gehou, maar volgens die nuwe leerplanne behels ‘n beroep op rede niks anders as Westerse etnosentrisme nie. Daarmee wil die voorstaanders van verloëning die Verligting toe-eien en die Westerse kultuur die bronne ontsê wat hom in staat gestel het om wêreldbeelde anders as sy eie te bevestig.

Foucault het byvoorbeeld met sy vestiging van die idee van ‘n “diskoers”, waarin waarheidsaansprake van die konteks waarbinne hulle gemaak word, afhanklik is, ‘n nuttige instrument teen die Westerse tradisie geskep. Dit kom daarop neer dat nie die waarde-oordeel of uitspraak wat betwis word, as sodanig weerlê hoef te word nie, maar dat die magsbelange wat agter die diskoers waarvan die oordeel of uitspraak ‘n deel is, ontmasker word, waarna die waarheidsaanspraak daarvan so goed as tot niet gemaak is. Enkele titels van bydraes tot akademiese joernale, wat Scruton aanhaal, illustreer die punt: “Western phallocentrism and the discourse of gender”, “White supremacist discourse in the novels of Conrad”, “A discourse of exclusion: a queer perspective”, ens.

As mens egter ‘n oomblik by die vraag stilstaan of ‘n goeie samelewing en persoonlike vervulling makliker deur die heteroseksuele huwelik as deur willekeurige alternatiewe gewaarborg word, desnoods omdat die kulturele en politieke kapitaal van ‘n epog beter oorgedra word waar mense hulle kinders self tuis opvoed, dan is dit nie sonder meer duidelik of die ou moraliteit die gevolg of die oorsaak van die sosiale orde is nie. Niks in Foucault se ontleding kan mens na die een of die ander kant oortuig nie. Daarom het ons goeie rede om eenvoudig voet neer te sit teen hierdie soort aanslag waarvan dit duidelik is dat hulleself – Foucault of sy navolgers – mag eerder as waarheid op die oog het.

Nog ‘n denker wat ‘n uiters bruikbare woord vir die aanslag teen die Westerse kultuur geskep het, is Edward Said met sy Oriëntalisme. Daarmee word na die neerbuigende uitsprake en houdings jeens die Ooste, deur Westerlinge verwys. Scruton voer egter met heelwat voorbeelde aan dat Said sy argument op ‘n hoogs selektiewe gebruik van bronne gebaseer het en talle verwysings wat sy denkbeeld aan skerwe sou laat spat, buite rekening gelaat het. Om die waarheid te sê, sê Scruton, daar is voorbeelde van Oosterse kultuurbehoud danksy die optrede deur Westerlinge, net soos daar voorheen Westerse kultuurbehoud danksy die optrede van Oosterlinge was – iets waaraan die Weste sedert die Middeleeue ruim erkenning gegee het. Ook hierdie verdagmakery kan en moet, volgens Scruton, met selfvertroue teengespreek word.

Said se benadering vertoon boonop ‘n patroon wat mens ook by die akademiese feminisme terugvind en wat Scruton uitwys. Dit is naamlik om ander kulture en standpunte in hulle eie terme te beoordeel, maar om die tradisionele Weste sonder meer aan die hand van iets soos universele inklusiwiteit, waaraan per definisie nie voldoen kan word nie, af te wys. Dit kom daarop neer dat relativisme verabsoluteer word en in die hande van ‘n binnegroep geplaas word. Objektiwiteit word deur intersubjektiwiteit vervang en waarheid word gevolglik deur konsensus vasgestel, maar Rorty se pragmatiese konsensus sluit konserwatiewes volstrek uit. Netso is slegs feministe, gay aktiviste, radikale en gesagsondermyners welkom om die voordele van dekonstruksie te geniet, net soos mens ‘n opponent van “mag” moet wees om van Foucault se tegnieke van morele sabotasie gebruik te maak, en slegs multikulturaliste op Said se kritiek op die Verligting peil kan trek.

Scruton se onvermydelike gevolgtrekking is dat: “… subjektiwiteit, relatiwiteit en irrasionalisme voorgestaan word nie om alle standpunte te verwelkom nie, maar presies om die standpunte van mense wat aan die ou gesagsinstansies en aan objektiewe waarhede glo, uit te sluit.” En studente raak in die verwarring wat volg, toenemend geneig om ‘n sprong in die geloof na ‘n soort speelgrond-wêreld te maak waar almal ewe veel aanspraak het op hulle eie kultuur, lewenswyse en oortuigings en waar geen negatiewe oordele bestaan nie. Maar juis hierin lê die postmoderne teenstrydigheid: as alles aanvaar word, is dit lewensnoodsaaklik om die verbod te verbied – en daarmee word ‘n nuwe sensuur opgelê.

Elke kultuur wat die moeite werd is, is op onderskeide tussen reg en verkeerd, waar en vals, goeie en slegte smaak, kennis en onkunde, gebou. Dit is juis wat die geesteswetenskappe in die verlede wou oordra deur opvolgende geslagte aan ‘n literêre en kulturele kanon bloot te stel wat inherent interessant is, en waarvan ‘n onpartydige studie die vermoë om toepaslike oordele te fel, help vestig. In teenstelling daarmee word die leerplanne van byvoorbeeld “geslagstudies” alles behalwe onpartydig saamgestel; daar word ‘n ortodoksie aangebied waarvan jy nie toegelaat word om te verskil nie. Volgens Scruton word nie die vermoë om te oordeel daar gevestig nie, maar oordele word aangeleer.

Maar terug by die ironie van die postmoderne relativisme: terwyl voorgegee word dat alle kulture gelyk is en oordele tussen hulle absurd is, beroep die kultuur van verloëning hom onderliggend op die teenoorgestelde. Sy hele doel is om ons te oortuig dat die Westerse kultuur en die leerplanne met behulp waarvan dit oorgedra word, onredbaar rassisties, etnosentries, patriargaal, en in die geheel onaanvaarbaar is. Die ironie is dat, vals soos die beskuldigings is, daar van presies die universalisme wat hulle juis aan die Weste te danke het, gebruik gemaak word.

Juis daarom, voer Scruton aan, behoort die Westerse kultuur, nie as onbetwisbare ortodoksie nie, maar as maatstaf vir die strewe na goeie oordeel, in beskerming geneem word. Die Westerse kultuur is ons hoogste morele verwysingspunt en huisves die grootste reserwe van kennis van hoe om te voel in ‘n wêreld waar gevoel voortdurend die gevaar loop om koers te verloor. Daarom behoort ons nie van die kultuuroorloë wat rondom ons woed, terug te deins nie, maar met selfvertroue vir ons besondere erfenis in te tree en dit aan volgende geslagte oor te dra.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *