Federalisme: Die toekoms is ’n ander land

FEDERALISME: DIE TOEKOMS IS ‘N ANDER LAND

deur Ernst van Zyl

“The past is a foreign country: they do things differently there,” het die Britse skrywer L.P. Hartley reeds in 1953 geskryf, terwyl Allister Sparks op sy beurt sy 1994 boek oor Suid-Afrika die titel gegee het: Tomorrow is Another Country. Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, sluit by hierdie gedagte aan, deur gereeld in sy skryfwerk na die ongelyke verdeling en verspreiding van die toekoms in die hedendaagse Suid-Afrika te verwys. Ek het gedurende my relatief kort lewe, reeds die voorreg gehad om die toekoms te besigtig en ek kan maar net die mening van voormelde wyshere bevestig: Die verlede en die toekoms is ‘n wildvreemde land: hulle doen dinge baie anders daar as waaraan ons vandag gewoond is. Die konteks van ons aardse bestaan is ‘n lewendige storielyn, wat daagliks ontwikkel tot iets anders as wat dit was na iets verskillend van wat dit is.

Om te leef in ’n land, provinsie, dorp of buurt waar die toekoms nog nie geland het nie, vertoon ‘n paar unieke kernkenmerke. Een van hierdie eienskappe is dat jou sekuriteit, elektrisiteit- en water-sekerheid buite jou persoonlike en selfs jou gemeenskap se beheer is. Hierdie lewensnoodsaalike vereistes vir oorlewing en funksionering, word nog beheer en gereguleer deur die staat, wie se beheersentra honderde, of selfs duisende, kilometers weg is. Pretoria is eienaardig genoeg in beheer van polisiëring in Kaapstad. Boere in Namakwaland moet hoor hoe President Ramaphosa op ‘n openbare platform in New York verkondig dat daar geen moorde op boere in Suid-Afrika plaasvind nie. Die Wes-Kaap word opgesaal met beurtkrag wat grootliks te danke is aan die korrupsie en wanbestuur van ’n politieke party vir wie die meeste van die provinsie se inwoners nie eens gestem het nie. Die stand van sake in Suid-Afrika is maar gek daar waar die toekoms nog nie gebeur het nie.

Om die toekoms na ons streke, dorpe, woonbuurte en huishoudings te bring, gaan Afrikaners nuutskeppend oor probleemoplossing moet begin dink. ’n Radikale kopskuif weg van gevestigde, gemaksugtige staatsgesentreerde denke, na bevrydende denke van ‘n sinvolle lewe anderkant staatsafhanklikheid, het noodsaaklik geword. Ludwig Wittgenstein gee die volgende gepaste raad: “’n Mens sal gevange gehou word in ‘n kamer met ‘n oopgesluite deur wat na binne oopmaak; solank hy nie daaraan dink om die deur te trek eerder as te stoot nie.” Die sleutel om ‘n lewensvatbare toekoms vir Afrikaners in Afrika te ontsluit, lê ongetwyfeld in doelgerigte, groter staatsbestandheid, eerder as in staatsafhanklikheid. Ons moet weer ‘n slag ons moue oprol en aktief begin beplan en werk om meer gemeenskapsverantwoordelikhede self aan te neem, eerder as om dit een vir een gedweë op te gee en verder aan ‘n mislukkende staat uit te kontrakteer.

In die vorige eeu het Afrikaners besonder vaardig geword in staatsbou, helaas uiteindelik ten koste van gesonde gemeenskapsbehoud. Mag en beheer is geleidelik en in toenemende mate gedelegeer aan en gevolglik gekonsentreer in die hande van ’n al magtiger staatsmasjienerie, namate al hoe meer verantwoordelikhede, wat voorheen effektief deur gemeenskappe self bestuur was, aan die regering oorgelaat is. Gerieflikheid was op die ou end die duiwel se gunsteling oorkussing waarmee gemeenskappe in die versoeking gelei is om hul onafhanklikheid te ondermyn en hulself aan die staat te onderwerp.

Federalisme as konsep is nie noodwendig meer ingewikkeld om te begryp as byvoorbeeld demokrasie nie. Die groot verskil is dat die begrip demokrasie reeds oor tyd goed in ons woordeskat en verwysingsraamwerk gevestig is, terwyl federalisme nog effe vreemd op die oor en tong val. Federalisme is eenvoudig gestel ’n multi-vlak regeringstelsel met gedelegeerde magte. Oor die algemeen behels dit ‘n oorkoepelende nasionale regering, wat verantwoordelik is vir die breër bestuur van groot grondgebiede soos die land, terwyl onderafdelings daarvan sake van plaaslike belang in kleiner geografiese gebiede soos provinsies, streke, stede, dorpe en selfs woonbuurte beheer en bestuur.

Die vader van federalisme, die 17de-eeuse denker Johannes Althusius, was ’n voorstaander van die beginsel van subsidiariteit. Hierdie beginsel vereis dat daar in ‘n sosiale orde, eerstens gesag toegestaan moet word aan die laagste moontlike sosiale eenheid of assosiasie. Slegs wanneer daardie eenheid nie realisties hierdie bestuursverantwoordelikheid kan hanteer nie, kan dit gedelegeer word aan ’n hoër sosiale assosiasie. Dit beteken byvoorbeeld dat indien ’n dorp daartoe in staat is om sy eie elektrisiteit op te wek, dit nie geforseer behoort te word om afhanklik te wees van ’n nasionale kragvoorsiener soos Eskom nie. As ’n gesin, wat die kleinste moontlike sosiale assosiasie volgens Althusius is, byvoorbeeld nie in staat is om hul eie veiligheid te verseker nie, kan daardie verantwoordelikheid aan ’n groter assosiasie soos ‘n buurtwag, gedelegeer word.

Aleksandr Solzhenitsyn het ons soos volg gewaarsku: “Daar is slegs een keuse waarvoor elke geslag te staan kom en dit is of ons die taak van die eeu gaan aanpak.” Die taak van ons geslag Afrikaners se eeu, is om oplossings te ontwikkel en uit te voer wat sal verseker dat ons en ons nageslagte vry, veilig en voorspoedig aan die suidpunt van Afrika ons kultuur, geloof en waardes kan uitleef. Ons moet nederig genoeg wees om te erken dat ons voorouers reg was oor vele sake, maar tog ook eerlik genoeg wees om hul foute te identifiseer en daaruit te leer. Paul Kruger het hierdie gesonde verhouding met die verlede voorgeskryf toe hy aanbeveel het, “Neem uit die verlede alles wat goed en edel is, en bou daarop die toekoms.”

Die donker donderweerwolke van groeiende chaos en vernietiging pak weer saam op die horison. Elke een van die talle groot uitdagings waarvoor ons volk in ons ryke geskiedenis te staan gekom het, is klokslag oorwin deur vernuwende, vars denke en heldhaftige, dapper dade gegrond op beproefde waardes en geanker in ‘n onwrikbare geloof. Die Solidariteit Beweging het reeds vir ons ’n padkaart na meer federalisme met groter selfbestuur op die tafel geplaas. Soos met ons voorvaders gaan goeie en slegte goed ook oor ons pad kom. Wat weereens bepalend gaan wees, is hoe ons daarvoor beplan en hoe ons daarop gaan reageer. Ons word nou weer deur net een keuse in die gesig gestaar: Gaan ons geslag Afrikaners die handdoek ingooi en die wit vlag hys of gaan ons die taak van ons eeu aanpak?  

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *