ARBEID VAN ANDERKANT DIE GRENS
deur Wynand Boshoff
Die erfsonde van Afrikaners is die valse vertroue dat mense jou werk kan doen, sonder politieke gevolge. Met ander woorde, jy regeer en neem besluite; en hulle doen die harde werk.
Dit het al met Jan van Riebeeck en die besluit om slawe uit Afrika en Asië in te voer, begin. Daar was sterk meningsverskil: Moet armes gewerf word om handearbeid aan die Kaap te kom verrig soos wat die Engelse in daardie tyd met Amerika gemaak het, of is slawe die antwoord?
Die gevolgtrekking was slawe, want dit sou die bestaande samelewing minder ontwrig. Met ander woorde, arm Europeërs sou by die gemeenskap ingelyf moes word, maar slawe kon eenkant neergesit word.
Soos wat ons voorouers die binneland ingetrek het, is graag binne bereik van gevestigde Khoi – en later swart gemeenskappe gevestig. Van die mense kon dan op plase werk, maar hulle tuiste was steeds die gemeenskap van afkoms. Albei reëlings moes soms afgedwing word. Soms wou mense nie kom werk nie; en soms wou hulle nie teruggaan nie.
Paswette moes hierdie broodjie aan twee kante gebotter hou. Die pas is deur ‘n werkgewer geteken. Daarsonder kon ‘n swart persoon nie wettig in “blanke” gebied wees nie. Een van die redes vir die Groot Trek was die sogenaamde Swarte Ommegang. Dit het swart mense groter bewegingsvryheid gegee – sosiale gevolge van die heersende arbeidsbeleid.
Vyftig jaar later sou die regering van die ZAR dieselfde doen, nie net met swart mense nie, maar ook met sogenaamde Uitlanders. Die Boere het nie die kennis of kapitaal gehad om die goudvelde te ontwikkel nie en was van ondernemers en geskoolde werksmense uit die buiteland afhanklik. Die belastings was welkom… maar burgerregte? Nee wat.
Beperkings op Uitlanders se burgerregte was ‘n belangrike voorwendsel waaronder die Britse ryk die goudvelde as geheel kon verower.
Die eerste “Nuwe” Suid-Afrika, die Unie van 1910, was eintlik ‘n klein Britse ryk binne die groot Britse ryk. Die grondlegger daarvan, lord Alfred Milner, was duidelik daaroor: Suid-Afrika was ‘n blanke land. “Swart Suid-Afrika” was die drie Hoë Kommissarisgebiede, vandag se Botswana, Lesotho en Eswatini.
Dat dit nie ‘n lewensvatbare reëling was nie, het darem gou duidelik geword. Daarom is “reservate” vir swart mense in 1913 geskep en sedert 1936 uitgebrei. Dit was dele wat nooit van swart gemeenskappe verower is nie en waar tradisionele ekonomiese aktiwiteite nog die norm was.
Die gerief van hierdie reservate was dat werkers gewerf kon word, sonder om verantwoordelikheid vir die res van hulle bestaan te neem. Hulle word groot in die reservate, kom werk dan in die “blanke” ekonomie en keer daarna terug. “Naturelle kommissarisse” was amptenare wat moes verseker dat genoeg – maar nie te veel nie – swart arbeid beskikbaar was.
Versnelde nywerheidsontwikkeling tydens die Tweede Wêreldoorlog het hierdie vloei van mense ontwrig. Genoeg swart arbeid vir die ekonomie was skielik te veel vir die stedelike infrastruktuur. Boonop het hulle al meer op regte aangedring. Dit was tyd vir ‘n nuwe plan.
Apartheid was daardie plan. Eers het dit bloot die skeiding wat tevore die norm was beter beskryf, sodat dit in wetgewing vasgevat kon word. Dit het egter duidelik geword dat politieke druk besig was om op te bou. Met ander woorde, arbeid hét politieke gevolge gehad.
Die volgende stap was wesenlik, maar weens die gevestigde wanopvatting het dit misluk: Afsonderlike ontwikkeling. Die reservate sou state word. Dit sou aktief ontwikkel word om swart mense se politieke– en ekonomiese strewes te huisves. Nou kon swart arbeid sonder wroegings gebruik word – “hulle het mos regte in hulle eie tuislande”.
‘n Omvattende selfmisleiding het gevolg: Swart arbeid was onmisbaar in die ekonomie, maar gehuisves in woongebiede wat sorgvuldig beplan is om naby aan werksplekke, maar uit die blanke oog te wees. Verder was daar geen politieke sweepslag te vrees nie, want hulle het volle politieke regte… elders.
Hierdie kaartehuis het in 1994 in duie gestort. Ons kon in daardie tyd ‘n beter president en beter onderhandelaars gehad het, maar kom ons wees eerlik: Hulle het min gehad om mee te werk.
Vandag heers dieselfde naïewe vertroue. Burgers van Zimbabwe, Lesotho, Mosambiek en watter ander land ook al, kan met gerustheid in diens geneem word. Hulle is mos buitelanders en kan nie op burgerregte aanspraak maak nie.
Kom ons vat ‘n paar wetmatighede saam: ‘n Volk wat vry wil wees, moet politieke mag hê – anders neem ander mense die besluite wat jou raak. As jy politieke mag wil hê, moet jy iewers in die meerderheid wees – anders poog jy om minderheidsregering in stand te hou. En as jy die meerderheid wil wees, moet jy vergeet van “arbeid-sonder-gevolge”.
Dit is nie rassisties nie; inteendeel. Dit is rassisties om te dink mense van ander rasse sal onbepaald met ‘n ondergeskikte posisie tevrede wees; dit is rassisties om te dink hulle sal net dankbaar wees om werk te kry, sonder om politieke eise te stel. Hoekom sou iemand dit doen? Dit sal net gebeur as hulle wesenlik minderwaardig is.
Orania se arbeidsbeleid is nie rassisties nie. Dit is bloot die voorwaarde vir vryheid.