Wendell Berry skryf in een van sy later opstelbundels, Imagination in Place, wat in 2010 verskyn het, oor die verband tussen sy lewe as boer, sy werk as skrywer en die plek waar hy sy lewe lank gewoon het. Die opstel met dieselfde titel word vervolgens in vier aflewerings aangebied en dit sluit mooi aan by tema’s soos moedertaal en letterkunde. Wat volg, is ‘n vertaling deur Carel Boshoff van die opstel Imagination in Place soos dit verskyn het in Berry, W. 2019. Essays 1993-2017. The Library of America. pp463-474.
(3/4)
*
In 1974 het ek in The Southern Review ‘n opstel met die titel “The Regional Motive” gepubliseer, ‘n opstel wat afgestam het van, of minstens ‘n nefie was, veronderstel ek, van die opstelle in I’ll Take My Stand. In my opstel het ek gesê: “die ontrekking van die mees begaafdes onder die “Southern Agrarians” na … Noordelike kolleges en universiteite het hulle denke ongeldig gemaak en hulle poging tot die vlak van ‘n akademiese oefening afgeskaal.” Hoeveel waarheid daar ookal in die stelling was – en daar wás enigsins – was dit ook ‘n stuk wysneusigheid.
In antwoord daarop het ek ‘n brief van Allen Tate ontvang. Ek het geweet Tate kon veglustig wees, en daarom was ek (en is ek nog steeds) geraak deur die welwillendheid van sy brief. Hy het eenvoudig aan my uitgewys dat ek nie geweet het watter redes hom en sy vriende genoodsaak het om na die Noorde te verskuif nie. Gevolglik het ek, toe ek die opstel laat herdruk het, ‘n voetnota bygevoeg waarin ek verskoning aangebied het vir my oningewydheid en onkunde, maar bygevoeg het – as ek reg onthou met Tate se instemming – dat ek toepaslik kan “waarsku dat hulle vertrek nie beskou moet word as bewys van die ongeldigheid van hulle [agrariese] beginsels, of as regverdiging van afwesige streekslojaliteit (agrarianisme sonder landbou) nie.”
Terugskouend dui die hakies om die laaste frase nou vir my daarop dat ek ‘n punt probeer maak het wat ek nie heeltemaal verstaan het nie. Die frase, wat lyk of dit twee en dertig jaar gelede ‘n nagedagte was, lyk nou vir my na wat die grootste fout van I’ll Take My Stand was: dat die agrarianisme van die meeste van die opstelle, soos die streekslojaliteit van die meeste daarvan, abstrak is, te suiwer intellektueel. Die boek is nie onprakties nie – ek glo nie dat een van sy beginsels strydig met die praktyk is nie – maar dit is te dikwels verwyderd van praktiese kwessies. Die eintlike doel (want dit is die betuigde doel) van agrarianisme is nie een of ander weergawe van kultuur nie, maar goeie landbou – hoewel ‘n kultuur wat voldoende omvattend is in daardie doel opgesluit kan lê. Teen 1970 het ek die gebreke en gevare van streekslojaliteit-in-afwesigheid, in besonder van Suidelike streekslojaliteit-in-afwesigheid begin insien. Om jou met “die Suide” te vereenselwig asof dit alles een en dieselfde plek is, help jou net so min om te skryf as om te boer. As ‘n streeksboek ignoreer I’ll Take My Stand meestal die uitdaging en dissipline van plaaslikheid. As ‘n agrariese boek ignoreer dit ook meestal die uitdaging en dissipline van boerdery, maar dit is ‘n ingewikkelder vraagstuk en dit het my langer geneem om daarmee tot grepe te kom.
Van die twaalf skrywers lyk dit of net Andrew Lytle en John Donald Wade regstreeks met werklike kennis van werklike boerdery op ‘n werklike plek skryf. En ‘n aanhaling uit Andrew Lytle se opstel “The Hind Tit” wys in die rigting wat ek nou met hierdie opstel moet inslaan. Hy het begin om oor ‘n boer te skryf wat oor sowat 80 hektaar grond beskik, maar hy doen dit met die nodige voorbehoud:
Hierdie voorbeeld word natuurlik gebruik welwetend dat die probleme op enige tagtig hektaar nooit dieselfde is nie: die vrugbaarheid van die grond, die aard daarvan, die omgewing, die afstand van markte, die klimaat, water, en ‘n duisend sulke dinge maak die lewe op elke plaas merkbaar verskillend.
Daarmee rig hy die grondliggende uitdaging tot nie net alle vorme van industriële grondgebruik nie, maar tot alle ander abstrakte benaderings tot grondgebruik, agrarianisme inkluis.
Die dringendste en grootste besorgdheid van landbou, waar ookal dit ernstig geneem word, is die onderskeibare individualiteit van elke plaas, van elke stuk veld op elke plaas, van elke boeregesin en van elke geskape ding op elke plaas. Boerdery word ‘n hoë kuns wanneer boere in hulle werk die onderskeibare individualiteit van hulle plek en van die gemeenskap van geskape dinge wat daar woon, ken en respekteer. Dit het niks te make met die reeks persoonlike verskonings wat ons “individualisme” noem nie, maar is verwant aan die heilige liefde van die Evangelie en die politieke beleefdheid van die Verklaring van Onafhanklikheid en die Handves van Regte. Sulke praktiese respek is die ware dissipline van boerdery en die boer moet dit deur die geploeter en foute, teleurstellings en frustrasies, sowel as die bevrediging en vreugde van elke werklike jaar op elke werklike plaas, gestand doen.
En so het dit saak gemaak, ongetwyfeld vir my verhale saak gemaak, dat ek op hierdie plek gewoon het, beide as boer en as skrywer. Ek wil nie hier voorgee om tot ‘n oordeel oor die skryfwerk wat ek gedoen het te kom, of ‘n kritiek daarop te ontwikkel nie. Ek wil maar net iets sê oor die druk en die omstandighede wat op my skryfwerk uitgeoefen is deur my lewe as ‘n boer hier. Ek wil nie probeer om te sê wat ek gedoen het nie, ek wil eerder op boerdery as ‘n invloed ingaan.
Deur op so ‘n marginale plek as hierdie te gevestig het, en deur dit op my te geneem het om van die marginale boerdery wat ek daarop beoefen het, te lewe, was ek plotseling enige maklike toegang tot abstraksies van streekslojaliteit, politiek, ekonomie en die akademiese lewe noodwendig kwyt. Om die werklike werk op ‘n werklike plaas te verrig, moet mens die clichés van “The South” en “My Old Kentucky Home” agterlaat en grond toe kom.
Mens kan as ‘n agrariër begin, soos party van ons gelukkig genoeg was om te gedoen het, maar vir ‘n boer is agrarianisme nie genoeg nie. Suidelike agrarianisme is nie genoeg nie, ook nie Kentucky agrarianisme of Henry County agrarianisme nie. Nie een van hulle kan plaaslike genoeg of spesifiek genoeg wees nie. Om as ‘n boer te lewe, moet mens in die plaaslike waterskeiding en die plaaslike ekosisteem tuiskom en beter of slegter daarmee handel. Mens moet die ligging en grondsoorte van jou plaas regstreeks en gevoelig tegemoetgaan en beter of slegter daarmee omgaan.
As mens graag goed wil boer, en meestal wil agrariërs dit bo alles doen, dan moet mens jou aan die oneindige poging om jou sienings en jou maniere te verander om by jou plaas aan te pas, oorgee. Dit is ‘n harde leerskool wat mens se hele lewe lank duur, maar nooit klaar kom nie, en waarby mens sekerlik foute sal maak. Maar mens hoef dit nie alleen of met jou eie beperkte insig te doen nie. Hulp is beskikbaar, soos mens sou hoop.
In my boerdery het ek baie regstreeks op my familie en bure, wat my baie gehelp en baie geleer het, staatgemaak. En my denke oor boerdery is op ‘n paar wonderlike boeke gebou: Farmers for Fourty Centuries deur F.H. King, An Agricultural Testament en The Soil and Health deur Sir Albert Howard, Tree Crops deur J. Russel Smith, en A Sand County Almanac deur Aldo Leopold. Hierdie skrywers bring die menslike ekonomie van aangesig tot aangesig met die ekologie, die plaaslike landskap en die plaas self. Hulle leer ons om oor die ekologiese probleme en verpligtings van landbou te dink en hulle doen dit deur in die natuur die onontwykbare standaard, en in natuurlike prosesse die noodsaaklike patroon vir enige menslike gebruik van die grond terug te vind. Hulle denke het tot dusver die beste wetenskaplike resultate in die “Natural Systems Agriculture” van die Land Institute in Salina, Kansas, gelewer. Natuurlike Stelsels Landbou keer terug na die klassieke idee van kuns as nabootsing van die natuur. Maar waar Hamlet kuns gesien het as die ophou van ‘n spieël na die natuur, om dit as ‘t ware in die spieël te meet, het hierdie landboukundige denkers die teenhanger daarvan ontwikkel, naamlik om die natuur te benader as spieël en maatstaf vir die kuns.
Bo en behalwe boeke wat spesifiek oor landbou en ekologie handel, het ek, as ‘n boer, die skrywers wat vroeër vermeld is deurgaans as literêre invloede beleef. En ek het vir baie jare op die skrywes van en gesprekke met my vriende Gene Logsdon, Maurice Telleen, Wes Jackson en David Kline staatgemaak. Ek is ook onmeetlik baie gehelp deur die voorbeelde van die Amish se landboupraktyke, van tradisionele boerdery in Toskanië soos ek dit meer as veertig jaar gelede gesien het, van die antieke landbou in die Peruviaanse Andes en die woestyne van die Amerikaanse Suidweste, van die ewe antieke pastorale landskappe van Devonshire, en van die beste boerderypraktyke hier by die huis soos ek dit in die 1940’s en 50’s geken het, voordat industrialisering die ou patrone opgebreek het.
(word vervolg)