Verbeelding in plek. [2/4]
– Wendell Berry –
Wat volg is die tweede aflewering (van vier) van Wendell Berry se opstel Imagination in Place, wat in een van sy later opstelbundels met dieselfde titel verskyn. Dit handel oor die verband tussen sy lewe as boer, sy werk as skrywer en die plek waar hy sy lewe lank gewoon het. Die vertaling is deur Carel Boshoff van die teks soos dit in Berry, W. 2019. Essays 1993-2017. The Library of America. pp463-474 verskyn het, gedoen.
2/4
Ek glo ek kan met stelligheid sê dat my fiksie ten dele in die werklike ervaring van ‘n werklike plek ontstaan het: sy topografie, weer, plante en diere; sy taal, stemme en stories. Die fiksie wat ek hier geskryf het, veronderstel ek, moet op ‘n manier hier hoort en moet anders wees as enige fiksie wat ek op enige ander plek sou geskryf het. Dis is vir my lekker om so te dink, maar die kwessie van invloed is kompleks en duister en die invloed van hierdie plek alleen kan nie my fiksie of enige ander werk wat ek hier geskryf het, verklaar nie.
Beide my skryfwerk en my betrokkenheid by hierdie plek is in elke opsig deur my leeswerk beïnvloed. My werk sou nie gewees het wat dit is as die invloed van hierdie plek op ‘n manier daarvan afgetrek sou word nie. Eweseer sou dit nie gewees het wat dit is, as dit hogenaamd sou bestaan het, sonder my letterkundige raadgewers, voorbeelde, leermeesters en gidse nie. Lyste is gevaarlik, maar as ‘n plekmatige skrywer het ek staatgemaak op die voorbeelde van Andrew Marvell by Appleton House, Jane Austen in Hampshire, Thomas Hardy in Dorset, Mark Twain in Hannibal, Thoreau in Concord, Sarah Orne Jewett aan die kus van Maine, Yeates in die Weste van Ierland, Frost in New England, William Carlos Williams in Rutherford, William Faulkner en Eudora Welty in Mississippi, Walace Stegner in die Amerikaanse Weste, en in Kentucky James Still, Harlan Hubbard en Harry Caudill – om maar sommige van die ontslapenes, en geen tydgenote nie, te noem. Dan het ek ook die Bybel, Homeros, Dante, Shakespeare, Herbert, Milton en Blake redelik deurlopend in gedagte gehou. Ek het ook heelwat troos en aanmoediging van Paul Cézanne se toewyding aan sy tuislandskappe in Provence, en van Samuel Palmer se werk aan Shoreham geneem. Ek het dikwels die man van Psalm 128 onthou, wat sekerlik die opbrengs van sy hande sal eet, en Virgilius (en Ronsard) se Siciliaan van Georgics IV. Oor die laaste sowat twintig jaar het ek ‘n groot skuld opgebou teenoor skrywers oor godsdienstige en kulturele tradisie, hoofsaaklik Ananda Coomaraswamy, Titus Burckhardt, Kathleen Raine en Philip Sherrard – om maar weer net die oorledenes te noem. Noudat ek hierdie name gelys het, is ek net meer as tevore daarvan bewus hoe onvolledig enige so ‘n lys noodwendig moet wees, en hoe noodwendig verwarrend die kwessie van invloed moet wees.
Ek sal die lys laat staan soos dit is, nie as voldoende verklaring nie, maar as ‘n aanduiding van hoe moeilik dit is om die oorspronge van ‘n kunswerk deur my (of, aanvaar ek, deur enigiemand anders) aan te wys. Dan moet ek verder tot die moeilikheid bydra deur te sê dat ek nie glo dat ek bewus is van al die bronne van my werk nie. Ek hou nie van geleerde diskoerse oor “die onbewuste” nie; dit lyk of dit altyd daarop neerkom dat die oorslim mense in staat is om op een of ander manier te weet wat hulle nie weet nie; ek wil eintlik net erken dat baie van wat ek geskryf het, my verras het. Wat ek weet, bied nie ‘n volledige of voldoende verlkaring vir wat ek my verbeel het nie. Dit lyk asof dit gegewe is. My ervaring het my geleer om in inspirasie te glo, iets waaroor ek glo dat niemand met veel gesag kan praat nie.
My fiksie het nietemin tot stand gekom teen die agtergrond van plaaslike geografie en plaaslike kultuur, van die persoonlike kultuur van lees, luister en kyk, asook teen die agtergrond van wat onbekend is en van die skeppende krag van wat ons inspirasie noem. Maar daar is nog ‘n ander agtergrond, die van landbou, waarmee ek in meer besonderhede sal moet handel.
Ek is, soos ek gesê het, deur boere grootgemaak en bewustelik in ‘n raamwerk van veronderstellings en waardes ingelei wat slegs as agraries beskryf kan word. Maar ek het dié woord nooit in druk gesien of uitgespreek gehoor voordat ek ‘n tweedejaarstudent aan die Universiteit van Kentucky was nie. Op daardie stadium was ek in ‘n skryfklas waarvan die aanbieder, Robert D Jacobs, ons gevra het om ‘n argument te skryf. Ek het, na wat ek onthou, ‘n dialoog tussen twee boere geskryf oor die vernietiging van grond vir die bou van ‘n snelweg of ‘n lughawe. Die kern van my argument was dat die grond meer werd was as enigiets waarvoor dit vernietig kon word. Dr Jacobs het nie veel van my argument gedink nie, maar het my ‘n waardevolle diens bewys deur dit as “agraries” te eien en my op die spoor van ‘n groep skrywers, die Southern Agrarians, te plaas, wat ‘n boek met die titel I’ll Take My Stand geskryf het. Ek het die boek gekoop en drie jaar later, in1956, minstens ‘n deel daarvan gelees. Dit is ‘n waardevolle boek, in sekere opsigte ‘n wonderwerk, en ek het sedertdien meermale daarna teruggekeer. My skuld daarteenoor het vermeerder.
Ek moes gedurende my laaste jare aan die universiteit baie geïnteresseerd geraak het in die Southern Agrarians, want ek en my vriend en medestudent, Mac Coffman (Edward M Coffman, die geskiedkundige) het opgery na Kenyon College toe om met John Crow Ransom oor die onderwerp te gaan gesels. Maar dit is moeilik om nou sê in hoeverre ek deur die Southern Agrarians en hulle boek beïnvloed is. (Ransom het hom teen daardie tyd van I’ll Take My Stand losgemaak, hoewel sy elegante inleiding, “A Statement of Principles,” nog steeds die beste opsomming van agrariese beginsels teenoor die beginsels van industrialisme is.) Ek dink ook nie dat ek aan die Universiteit van Kentucky veel raakgeloop het wat my aangebore agrariese inslag bevestig het nie. Dit lyk nou vir my asof my agrariese opvoeding en my diepste lojaliteite deur my formele opleiding in die skadu gestel is. Slegs nadat ek in 1964 na Kentucky teruggekeer het, het ek begin om wat ek tuis as opgroeiende kind geleer is, weer op te eis. Toe ek eers weer tuis was, het die oogmerk en die punt van daardie opvoeding vir my helderder as ooit tevore geword, en het ek doelbewus en gretig ‘n agrariër geword. Boonop, deurdat ek as ‘n boer hier gevestig het, het ek geweet dat ek nie net ‘n letterkundige agrariër was nie, maar ook ‘n praktiese een.