Boekbespreking: Culture Counts [4/7]

Boekbespreking: Culture Counts

Boekbespreking: 29 Augustus 2022. (Aflewering 4 van 7)

Roger Scruton (2007/2021): Culture Counts, Faith and Feeling in a World Besieged. London: Encounter Books

Drie hoofstukke van Roger Scruton (1944–2020) se Culture Counts is nou al behandel. Die eerste beantwoord die vraag “Wat is kultuur?” met een woord: Oordeel. Die tweede lê die verband tussen ledigheid, geloofsuitdrukking en kultuur met die uitdruklike veronderstelling dat kultuur die produk van ongedwonge aktiwiteit is. Die derde ondersoek die verband tussen kennis en gevoel en beskou kultuur as opgegaarde emosionele kennis, “kennis van die hart”, waarvan die kern simpatie is en wat oorgedra en uitgebou kan word. Wat nou aan die orde kom, is die rol van kritiek en die oordeel oor watter kultuurprodukte behou en oorgedra moet word.

Die rol van kritiek

Selfs al is dit waar dat kultuur ‘n erfenis van emosionele kennis en ‘n rekord van menslike waardigheid nalaat, sê Scruton, help dié blote feit geen leermeester nog om te weet watter kunswerke of letterkunde of kultuurhandelinge aan leerlinge voorgehou moet word en hoe hulle geleer moet word om dit te geniet nie. Dit stel mens voor die vraag na die aard en bestaan van estetiese waardes.

In die eerste hoofstuk is al aangetoon hoedat ‘n belangrike waardeoordeel in die spontane lag – of die ergerlike nie-lag-nie – waarmee iemand op ‘n grap reageer, opgesluit lê. ‘n Grap is ‘n kultuuruitdrukking waarin ons as sodanig belangstel, wat mense om sigself byeenbring en wat nie net self intrinsieke waarde het nie, maar ook die intrinsieke waardes van die gemeenskap waarbinne dit gemaak word, aan die orde stel.

Maar bring die gedagte van intrinsieke waardes ons nie voor ‘n geslote deur te staan nie? Beteken dit nie dat elkeen sy of haar eie smaak het en dat niemand anders iets daaroor te sê kan hê nie? Wat is dan die waarde daarvan? Scruton voer aan dat die blote vraag “Wat is die waarde van … ?” mens al in ‘n instrumentele verhouding tot die ding waarvan jy dit vra, plaas. Wat is die waarde van kuns? Wat is die waarde van vriendskap?

Elke antwoord wat dit wil verduidelik, gaan uit van die veronderstelling dat kuns of vriendskap ‘n middel tot ‘n doel is – iets wat enige regdenkende mens teen die bors stuit. Die punt is nie dat kuns en vriendskap nie op tallose maniere nuttig kan wees nie, maar dat as dit om die nut sou gaan, daar nie meer van ware kuns of vriendskap sprake kan wees nie. As ek die mens met wie ek ‘n vriendskap aanknoop nie as ‘n doel in sigself benader nie, nie sy of haar intrinsieke waarde respekteer nie, het die voorwaarde vir ware vriendskap met al die voordele wat dit sou kon meebring, weggeval.

Nou ontstaan die vraag: hoe oordeel ons oor watter dinge in die lewe sulke intrinsieke waarde het, en hoe word mens tot sulke oordele opgevoed? Twee sake kom onafwendbaar weer aan die hand van die lag-vir-‘n-grap ter sprake. Die een is oefening, wat teregwysing en aanmoediging insluit, en die ander is gemeenskap, wat die mense om jou, die rolmodelle en gesagdraers en slagoffers van byvoorbeeld onsmaaklike verwysings, insluit.

Om saam te lag, is om saam te oordeel. Soos Scruton sê: “Wanneer ek en jy saam lag, openbaar ons aan mekaar dat ons die wêreld in dieselfde lig beskou, dat ons sy tekortkominge verstaan en dat ons dit draaglik vind. … ‘n beskawing wat nie vir homself kan lag nie, is gevaarlik omdat dit nie oor die belangrikste manier om mense met hulle foute tot grepe te laat kom, beskik nie.”

Dit is nie moeilik om dieselfde saak vir kuns, letterkunde en musiek uit te maak nie. Hoe nuttig dit ookal mag wees, ons geniet dit en waardeer dit vir die intrinsieke waarde daarvan en ons deins terug van enigiets wat dié waarde aantas. Neem byvoorbeeld iets wat as obseen beskou moet word – hoewel sulke kritiek deesdae in sekere kunskringe afgelag word – wat Scruton beskryf as die plasing van die menslike liggaam voor die menslike persoon op ‘n wyse dat dit die siel in die skadu stel. Seks en geweld is die twee terreine waarop dit meestal gebeur.

Nog ‘n voorbeeld, hoewel oënskynlik onskadeliker, is sentimentaliteit – daardie vals emosie wat meer gesteld is op die reaksie wat dit van ander ontlok as op die egte gevoel wat dit behoort te onderlê. (Scruton haal Oscar Wilde aan wat van Dickens se beskrywing van Little Nell se dood gesê het: “one must have a heart of stone not to laugh at reading the death of Little Nell.”) Die punt is dat hierdie ondeugde, en nog heelwat ander, raakgesien en vermy moet kan word en dat die egte en deurleefde aanbieding van ons menslike werklikheid na waarde geskat moet word – iets wat ook by wyse van oefening binne die verband van ‘n gemeenskap bereik word.

Die meelewing wat ‘n goeie kunswerk (sê maar ‘n gedig) oproep, rus ons vir die lewe toe. Aristoteles se beeld van morele opvoeding is dat deug deur nabootsing gekweek word omdat nabootsing gewoontes vestig en gewoontes mettertyd beweegredes word. Maar dan moet die gevoel wat die kunswerk oproep, navolgenswaardig wees, moet dit ‘n goeie kunswerk wees, en daarvoor moet ons in staat wees om oor die goedheid al dan nie van die kunswerk te oordeel. Kritiek se doel is dan om te oordeel óf en watter kunswerke ons estetiese aandag regverdig en op watter aanbiedinge ons die rug behoort te keer. Dit maak die groot gesprek uit wat in die kern van onder andere ons letterkundige kultuur staan.

As die vraag na die wát van kultuur dan aan die hand van kritiek beantwoord word, bly die vraag na hóé en met watter hulpmiddels kultuur aan ‘n volgende geslag oorgedra moet word, nog staan. Selfs as ons aanvaar dat die eerste oogmerk nie die jeug se belang is nie, maar in die kultuur se belang, bly die uitdaging by die aanstelling van die toekomstige beskermers, volgens Scruton, dat daar “veels te veel kultuur is en, by gebrek aan oefening, veels te min plek in die verstande wat beskikbaar en in staat is om dit te ontvang.”

Leave a Reply

Your email address will not be published.