NARRESKIP

NARRESKIP

gedigte – Johan Myburg (Protea Boekhuis, 2022)

Ek was vroeër die jaar by ’n boekbespreking tussen Johan Myburg en Thys Human oor Myburg se nuutste digbundel – Narreskip. Ek het aan die man se lippe gehang soos hy gedigte uit sy bundel voorgelees het. Tot op hierdie punt in die reeks gesprekke, het ek die drang om elke boek wat bespreek word summier te koop, beteuel, maar met Narreskip was alle selfbeheersing by die deur uit. Wat die saak nie juis aangehelp het nie, is die voorblad – Hel, die derde paneel van Jheronimus Bosch se drieluik, Die tuin van aardse luste. As die inhoud van die bundel gemiddeld blyk te wees, kan ons die voorblad raam, dan het ons ten minste ’n klein Bosch’ie teen ons muur.

Tot en met Narreskip het ek nog nooit ’n digbundel van voor tot agter deurgelees nie (is dit iets waaroor ’n mens liefs swyg?). Ek het digbundels gelees soos sommige mense die Bybel lees – ’n versie vir vandag. Maar Narreskip… Narreskip is boeiend. Narreskip laat jou lees en weer lees. Gaan maar, toets my. Haal daai twee-honderd-en-veertig randjies uit, jy sal nie spyt wees nie. Hieronder volg ’n voorsmakie van hoekom: die gedig Wildtuin, geïnspireer deur dieselfde drieluik van Bosch wat ook op die voorblad verskyn, maar dié keer die linkerpaneel wat die tuin van Eden uitbeeld.

Wildtuin

Berg-om kom die Prado met ’n woonwa agterna
die landskap in, deur ’n vallei verby murasies,
kwashaalblou in klip. Swerms voëls sit
geel en grys en wit, styg op in murmurasies,
swiep ’n streep, word stippels teen die lug.
Kenner van dié streek – die voëls, formasies rots
met grotte waar vlermuise onsigbaar hou, plant,
insek en dier – is Bossie van Aken, gids, en trots
nou agter die stuur. Hy hou stil, wys verby wild
met weglêhorings na ’n leeu wat ’n bok verslind,
inbyt waar die hart en sappige ingewande skuil,
bloedloos in ’n groen weiland, ’n somerse tint
van malagiet. Hy gee die verkyker aan, beduie:
“Daar doer, ’n jong drakie wat ’n dampie blaas
in die rigting van ’n varkgesin, ’n ystervark digby,
penorent, en ’n ent verder ’n impasto haas.”
Op pad na die watergat kom ons safari af
op ’n bruinbeer wat ’n boom in blom liefkoos,
’n flapoor hond, twee pote te min en sweerlik
doof, en triomfantlik dan ’n giraf presies soos
dié een van Ciriaco van Ancona, enigmaties bleek,
deels luiperd deels kameel. Maar in sy visier
het Bossie reeds die volgende toneel: die grootste
van die Vyf, van die kant gesien, boonop hier
met ’n apie as passasier. By die poel glimmend
in helder asuriet suip ’n eenhoring, spierwit, hoe
dan anders, saam met ’n trop bekolde bokke;
en in ’n holte by die spuitfontein oehoe
’n grootoog uil. Vandaar stoot ons voor skemer
deur na Paradys-kamp, bekend vir sy spa,
cuisine, en in die tuin die eksotiese D. Draco
met ’n ranker wat heel jaar lank trosse bessies dra.
Dis meteen waar egpaar Adam, glo pas getroud,
hul wittebrood begin. Vroegaand sit ons op die dek
met alles wat óm ons kwaak en krys, lig ’n glas
op voorspoed en die voortbestaan van dié plek,
en sien uit die hoek van die oog, hoe iets kats,
sekelgestert, reptiel in die bek, wegsluip,
hoor ons hoe hibriede visgevlerk driegekop
tonggesplyt grillig uit die plonspoel kruip.

Anna Gouws

Leave a Reply

Your email address will not be published.