Hebreeuse digkuns in die Ou Testament

Hebreeuse digkuns in die Ou Testament

Die Hebreeuse poësie wat in die Ou-Testamentiese Psalmboek, die profeteboeke en boeke soos Job, Prediker en Klaagliedere neerslag gevind het, word nie altyd waardeer vir die literêre kwaliteit daarvan nie. Die boek Job is byvoorbeeld, met uitsondering van die proloog (Job 1:1-2:13), die epiloog (Job 42:7-17) en enkele verse in hoofstuk 32 (vers 1-6a), ‘n uitgebreide, kunstige digwerk vol beeldryke taal in die vorm van ‘n soort dogmadiskussie. Hierdie poëtiese literatuurskat lê in vele opsigte onontgin, omdat die digterlike aspekte daarvan nie ten volle tot hulle reg kom in ‘n vertaling nie. ‘n Woord-vir-woord vertaling klink dikwels stompaf in Afrikaans, en ‘n vryer vertaling word ‘n Afrikaanse produk wat maklik afwyk van die teks se betekenis. Die bedoeling van hierdie artikel is om aandag te gee aan die wesenskenmerke van Hebreeuse poësie in Bybelse gedigte, en enkele opmerkings te maak oor vertaalprobleme.

Twee belangrike kenmerke van Hebreeuse poësie is ritme en parallelisme. Eerstens wat parallelisme betref: Dit is ‘n stylfiguur waarin herhaling belangrik is, en dit is die belangrikste stylfiguur in Hebreeuse poësie. Verskillende vorme van parallelisme kan in Hebreeus onderskei word. Die mees algemene vorm is sinonieme parallelisme waar inhoud herhaal word met minder of meer variasie. Een of meer elemente van die eerste been van die parallelle sinne of sinsnedes kan in die tweede been herhaal word. Psalm 114 bied goeie voorbeelde daarvan. Vers 3 lui in die 2020-vertaling:

        Die see het dit gesien en gevlug;
        die Jordaan het teruggedeins.

In albei gevalle is daar sprake van water wat terugwyk. Die onderwerp verander wel, maar in beide gevalle is dit watermassas. Soos dikwels is die eerste been van die parallele konstruksie meer uitgebreid deur toevoeging van die woorde “het dit gesien”. Dieselfde gebeur in die daaropvolgende twee parallelismes:

        Wat gaan met jou aan, see, dat jy vlug,
        Jordaan, dat jy terugdeins,
        berge, dat julle soos ramme bokspring
        en julle, heuwels, soos lammers?

Hierdie vier reëls is ook ‘n voorbeeld van wat genoem word sintetiese parallelisme – die saambind van twee (meestal afsonderlike) eenhede tot ‘n nuwe eenheid. Die onderwerpe verskuif van watermassas na berge en heuwels, en die handeling wat hulle uitvoer, verskil ook van dié van die watermassas. Dit vorm dan twee pare sinoniem parallele versreëls wat saam weer ‘n sintetiese parallelisme uitmaak. Dieselfde konstruksie kom voor in vers 7 en 8 van Psalm 114 – twee sinonieme parallelle eenhede wat saam ‘n sintetiese parallelisme vorm, in hierdie geval in een deurlopende sin:

        Sidder, aarde, voor die Heer,
        voor die God van Jakob,
        wat die rots verander het in ‘n waterryke vleiland,
        die vuursteen in ‘n waterfontein.

Dieselfde patroon kom trouens reeds voor in vers 1 en 2. In ‘n vertaling is die tweede been van die eerste parallelisme langer as die ander reëls, maar in Hebreeus is die sinsnede “weg van die volk met ‘n vreemde taal” (2020-vertaling) of “uit ‘n volk met ‘n vreemde taal” (1953-vertaling) net twee woorde (mē‘am lō‘ēz):

        Toe Israel uit Egipte weggetrek het,
        die huis van Jakob weg van die volk met ‘n vreemde taal,
        het Juda God se heiligdom geword,
        Israel sy magsgebied.

‘n Derde vorm van hierdie stylfiguur in die Hebreeuse digkuns is antitetiese parallelisme. Dit kom voor waar die tweede versreël ‘n teenstelling is. Die eenvoudigste voorbeeld daarvan word aangetref in Prediker 3:2 tot 8. Die teenstellings is in hierdie geval op ‘n besondere wyse gegroepeer. Die positiewe word telkens eerste gestel in vers 2, dan volg die negatiewe weer eerste in vers 3. Daarna word die volgorde omgeruil. In vers 4 is die negatiewe eerste, en in vers 5 is die positiewe eerste. (Terloops, “klippe” is ‘n eufemisme vir manlike saad. “Om klippe weg te gooi” verwys dan na saadstorting. Dit sluit goed aan by “’n tyd om te omhels”.) Vers 6 begin weer met die positiewe, en vers 7 met die negatiewe. In vers 8 word die afwisseling binne een vers herhaal met die positiewe wat eerste gestel word, en die negatiewe wat daarna eerste gestel word.

Sintetiese parallelisme vervaag soms in dié sin dat daar net ‘n enkele aspek in ‘n volgende versreël herhaal word nie. Uit die aard van die saak is daar nie vaste reëls waarvolgens parallelismes gevorm word nie. Digterlike vryheid bepaal die aard en omvang daarvan.

Ritme is ‘n wesenskenmerk van Hebreeuse poësie. Elke versreël bestaan uit ‘n sekere aantal beklemtoonde lettergrepe, of heffings, soos dit ook genoem word. Elke volledige versreël is weer saamgestel uit twee of drie versvoete. Die woorde van Psalm 23:1 en 2 is oorbekend. In die 2020-vertaling lui dit:

        “Die Here is my herder, ek ly nie gebrek nie.
        In groen weivelde laat Hy my rus;
        na water waar daar rusplek is, lei Hy my.”

Die volgende is ‘n transkripsie van die Hebreeus wat die ritmiese inkleding goed illustreer (die beklemtoonde vokaal word telkens met vetdruk aangedui):

        yahwêh rō‘īlō ’êgsār
        bin’ōt dêsjê’ yarbītsēni
        ‘al-mē menugōt yenahălēni

Die ritme van die Hebreeuse versreëls is dus 2+2, 3+3.

Die ritme van versreëls kan ‘n sekere atmosfeer skep. Die oorheersende ritme in die Psalms is 3+3, maar vir klaagsange is dit gewoonlik 3+2. In die boek Klaagliedere is dit trouens die mees voorkomende ritme. Klaagliedere 2:11 is ritmies soos volg ingeklee:

        kālū baddema‘ōt ‘ēnay    (3)
        gômarmerū mē‘ay           (+2)
        našpak lā’ārêts kebēdī     (3)
        ‘al-šêbêr bat-ammī          (+2)
        bē‘athēk ‘ōlêl weyōnēk    (3)
        birgobōt qiryā                  (+2)

In idiomatiese Afrikaans vertaal lui dit (2020-vertaling):

          “My oë is verblind deur trane;
          my ingewande gloei.
          My hart is stukkend
          oor die ineenstorting van die dogter van my volk,
          want kinders en babas
          kwyn weg op die dorpspleine.”

Die vers is dus opgebou uit drie sintetiese parallelismes met die klaagritme 3+2. Persoonsuitgange wat in Hebreeus aan die einde staan van die woord wat dit nader bepaal, skep soms endrym (bv ‘ēnay, mē‘ay) en ook binnerym (bv bē‘athēk, weyōnēk), maar doelbewuste rym is nie ‘n kenmerk van Hebreeuse poësie nie. Uit die vertaling van Klaaglieder 2:11 is dit ook duidelik dat poëtiese inhoud digter saamgevat kan word in Hebreeus as wat dit in ‘n Afrikaanse vertaling moontlik is. Die woorde “My hart is stukkend oor die ineenstorting van die dogter van my volk”, in die 1953-vertaling redelik letterlik vertaal met “my lewer is op die grond uitgeskud vanweë die verbreking van die dogter van my volk”, is in Hebreeus slegs vyf beklemtoonde eenhede wat uit sewe woorde bestaan. Die laaste vier woorde van die tweede parallelisme is, vanweë ‘n Hebreeuse taalkenmerk, gekombineer tot twee klemtooneenhede (‘al-šêbêr bat-ammī).

Klaagliedere 2:11 bied interessante vergelykingsmateriaal oor die verskillende vertaalteorieë wat aan die drie Afrikaanse vertalings van 1953, 1983 en 2020 ten grondslag lê. Die 1953-vertaling is ‘n redelike woord-vir-woord weergawe van die Hebreeuse teks, wat in die vertaling as prosa gedruk is:

    “My oë teer weg in trane, my ingewande is in beroering, my lewer is op
    die grond uitgeskud vanweë die verbreking van die dogter van my volk,
    omdat kind en suigling op die pleine van die stad versmag.”

Omdat die Hebreeuse idioom “my lewer is op die grond uitgeskud” tot misverstand kan lei in so ‘n woord-vir-woord vertaling, het die 2020-vertaling dit in meer idiomatiese Afrikaans probeer weergee. In Hebreeus is die ingewande, of die organe in die ingewande, soos die niere en die lewer, die setel van die emosies. In Afrikaans is die hart weer die setel van die emosies. Daarom is die Afrikaanse idioom “my hart is stukkend” gekies om te voldoen aan die vertaalopdrag, naamlik dat so na as moontlik aan die bronteks gehou moet word, maar dat idiome wat kan lei tot misverstand, in idiomatiese Afrikaans weergegee moet word, telkens voorsien van ‘n begeleidende voetnoot wat die Hebreeus woord-vir-woord vertaal. Die 1983-vertaling, wat dinamiese ekwivalensie as vertrekpunt geneem het, lui in Klaagliedere 2:11:

    “My oë is gedaan van die huil,
    dit brand in my,
    my moed is gebreek,
    want my volk is plat geslaan;
    kinders en babatjies sak inmekaar
    in die strate van die stad.”

Uit ‘n vergelyking van die drie vertalings van Klaagliedere 2:11 met die Hebreeuse teks kan ‘n paar kritiese opmerkings gemaak word. In die 1953-vertaling is die versreëls (soos reeds gesê) en trouens die hele gedig gedruk as ‘n prosateks in afsonderlike genommerde verse. Daarmee gaan te veel op literêre vlak verlore, want die gedig word as prosa gelees, meermale as los eenhede volgens die versindeling in die vertaling. Daarby laat die woord-vir-woord vertaling van die Hebreeuse idioom “my lewer is op die grond uitgeskud”, verskeie moontlikhede vir misverstand oop. Wat die 1983-vertaling betref, lê die woorde “my moed is gebreek, want my volk is plat geslaan” (sic! ipv ‘platgeslaan’) in die semantiese veld van moedeloosheid, terwyl die Hebreeuse teks sterk emosies van droefheid skets. Daarby wyk die woorde “sak inmekaar” te ver af van die bronteks. Die woorde “in die strate van die stad” is ook tiperend vir ‘n vertaling wat by die leefwêreld van die Afrikaanse leser aangepas is. Die Hebreeuse woord wat met “strate” vertaal is, verwys na oop ruimtes of kleinerige pleine waar die stadsmense byeengekom het, en waar die kinders kon speel. Daar is ‘n ander woord in Hebreeus vir strate. Die 2020-vertaling sou weer beter gedoen het deur die versreël “my ingewande gloei” ook deel van die voetnoot in die volgende reël te maak waar aangedui word dat die ingewande beskou is as setel van die emosies, en dat die Hebreeus verwys na die belewing van intense emosies.

Met hierdie paar kritiese opmerkings word geïllustreer hoe moeilik dit werklik is om versreëls in die brontaal, Hebreeus, in Afrikaans ten volle tot hulle reg te laat kom as poësie, en tegelyk ook die betekenis van die bronteks ten volle te behou.


APB Breytenbach 

Leave a Reply

Your email address will not be published.