Die Jaap Steyn boekversameling: ‘n Voorlopige verkenning

Die Jaap Steyn boekversameling: ‘n Voorlopige verkenning

Deur Burgert Senekal

Inleiding

Prof Jaap Steyn is in September 2021 in die ouderdom van 84 jaar oorlede. Hy was bekend as skrywer, navorser en taalaktivis, en het deur sy leeftyd verskeie publikasies rondom die geskiedenis van Afrikaans en Afrikaans se posisie in die nuwe Suid-Afrika die lig laat sien. Hy was ook Orania goedgesind en het sy boekversameling aan Orania bemaak. Op 7 Maart 2022 is daarmee begin om sy boekversameling op te teken terwyl dit in bokse gepak word, met die oogmerk om die boekversameling voor einde 2022 na Orania te verskuif, waar dit as ‘n eenheid uitgestal sal word. Die werk word onder leiding van Carel Boshoff (IV) van die Vryheidstigting onderneem, word deur my bestuur en deur Tiaan de Lange uitgevoer.

Die huidige artikel verskaf ‘n oorsig oor die omvang en aard van die versameling. Die projek is egter nog nie afgehandel nie en die finale versameling sal ietwat groter wees as wat hier bespreek word.

Opsomming van die versameling

Tabel 1 verskaf ‘n opsomming van die versameling soos dit tans daaruitsien.

VeranderlikeWaarde
Getal boeke ingelees6 557
Getal bokse gepak107
Gemiddelde boeke per boks61,28
Volume verpak (m3)7,08
Gewig (kg) (@ 450g/boek)2 950,65
Boeke met ISBN-nommers46,91%
Getal skrywers3 568
Die skrywer met die meeste boekeHennie Aucamp (46 boeke)
Getal uitgewers1 188
Oudste publikasie ingelees1824
Jongste publikasie ingelees2022
Die mees algemene dekade van publikasie1970’s (29,18% van boeke)
Getal tale waarin boeke verskyn het5
Taal waarin die meeste boeke verskyn hetAfrikaans (47,23% van boeke)
Aanwinsdatum aangedui46,68%
TABEL 1

Die versameling

Prof Steyn se boekversameling was op rakke gepak in sy dubbelgarage, met baie rakke bestaande uit dubbele rye boeke. Daar is teen 16 Augustus 2022 reeds 6 557 boeke ingelees en verpak, wat deur 3 568 verskillende outeurs geskryf is en by 1 188 uitgewerye verskyn het. Die versameling is tans in 107 bokse gepak teen ‘n gemiddeld van 61 boeke per boks. Hierdie bokse het ‘n totale volume van 7,08m3, en indien die gemiddelde gewig van ‘n boek as 450g geneem word, weeg die versameling nagenoeg 2 951kg.

Deel van die uitdaging met die optekening van bibliografiese gegewens is dat slegs 46,91% van boeke ISBN-nommers het. Dit beteken dat geen outomatiese proses gebruik kon word om boeke se bibliografiese besonderhede in te vul nie; elke outeur, titel, publikasiedatum en uitgewery moes per hand ingevul word. Hierdie optekening is egter noodsaaklik, omdat dit die opspoor van boeke tydens die verskuiwingsproses bemiddel, en daar sal later ‘n aanlyn katalogus van die hele versameling beskikbaar gestel word.

Publikasiedatum

Boeke het oor ‘n tydperk van 198 jaar tussen 1824 en 2022 verskyn, met die meerderheid in die 1970’s (29,18% van boeke), gevolg deur die 1960’s (25,86% van boeke), die 1980’s (15,71% van boeke), die 1990’s (6,85% van boeke) en die 1950’s (6,5% van boeke). Dit wil met ander woorde voorkom asof hy die meeste boeke in die 1960’s en 1970’s aangekoop het, en hierdie vermoede word ondersteun deur die aanwinsdatum, wat later aangetoon word.

Tale

Boeke het in 5 tale verskyn, die meerderheid daarvan in Afrikaans (3 097 boeke of 47,23% van boeke), gevolg deur Nederlands (1 827 boeke of 27,86% van boeke), Engels (1 537 boeke of 23,44% van boeke), Duits (88 boeke of 1,34% van boeke) en Frans (8 boeke of 0,12% van boeke). Dit verras nie dat so ‘n groot kenner van Afrikaans se meerderheid boeke in Afrikaans sal wees nie, maar dit is interessant dat die tweede grootste taal in die versameling Nederlands is. Heelwat boeke oor wêreldgeskiedenis, byvoorbeeld oor die Romeine of die Tweede Wêreldoorlog, is byvoorbeeld in Nederlands, eerder as in Engels.

Aanwinsdatum

Voor in baie boeke in hierdie versameling is ‘n datum aangeteken, wat hier die aanwinsdatum genoem word omdat mense gewoonlik die datum waarop hulle ‘n boek bekom het of lees, voor in ‘n boek skryf. Die aanwinsdatum is vir 46,68% van boeke aangedui. Die gemiddelde tydsverskil tussen die publikasiedatum en aanwinsdatum van ‘n boek is by die 8 jaar, en die mees algemene tydperk is minder as een jaar (sowat 13% van boeke). Dit beteken dat Prof Steyn in die meeste gevalle (wanneer ‘n aanwinsdatum wel aangedui is) boeke aangeskaf het in die jaar waarin hulle verskyn het, of kort daarna. Die meeste boeke is aangewins in die 1970’s (bykans 49% van boeke), gevolg deur die 1960’s (bykans 25% van boeke), die 1980’s (bykans 14% van boeke), die 1950’s (bykans 5% van boeke) en die 1990’s (sowat 4% van boeke). Hierbo is aangedui dat hierdie ook die dekades is waarin die meeste boeke in hierdie versameling gepubliseer is, wat daarop dui dat hierdie twee dekades sy mees produktiewe dekades ten opsigte van die aanskaf van boeke was.

Outeurs en uitgewerye

Die outeur wat die meeste boeke in hierdie versameling geskryf het, is Hennie Aucamp (46 boeke), gevolg deur PJ Nienaber (36 boeke), André P Brink (34 boeke), Karel Schoeman (32 boeke) en L de Jong (31 boeke). Alhoewel hy hoofsaaklik as taalkundige bekendgestaan het, beklemtoon hierdie lys van outeurs dat hy ook ‘n groot belangstelling in die letterkunde gehad het en die meeste groot Afrikaanse skrywers is in hierdie versameling verteenwoordig.

Die grootste getal boeke het by Tafelberg verskyn (670 boeke), gevolg deur Human & Rousseau (296 boeke), Het Spectrum (242 boeke), Nasionale Pers (219 boeke) en Nasionale Boekhandel (201 boeke). Die uitgewerye betrokke by hierdie boekversameling beklemtoon wat hierbo rondom die taal van boeke gesê is: alhoewel Afrikaanse uitgewerye die meeste in hierdie boekversameling aangetref word, is ‘n Nederlandse uitgewery ook sterk verteenwoordig.

Die netwerk

Een manier om die diversiteit van hierdie versameling aan te dui, is deur dit as ‘n netwerk voor te stel, met ‘n skakel tussen outeurs en hul publikasies aangedui, en ‘n skakel tussen publikasies en uitgewerye aangedui. Indien die versameling só voorgestel word, bestaan die netwerk uit 11 313 nodusse en 13 114 skakels. In die netwerkgrafiek hieronder kan gesien word dat daar een groot komponent is waar skrywers, werke en uitgewerye almal verbind is (die sogenaamde reusekomponent), maar ook ‘n groot aantal klein komponente met unieke uitgewerye en skrywers wat nie met die reusekomponent verbind is nie. Hierdie faset van die netwerkstruktuur is ‘n aanduiding daarvan dat die versameling nie tot hoofstroom bronne beperk is nie: kleiner uitgewerye en minder bekende outeurs figureer ook in die versameling, byvoorbeeld Celestine Pretorius se Die geskiedenis van volkskuns in Suid-Afrika, wat by Vlaeberg verskyn het. Nietemin behoort 72% van nodusse tot die reusekomponent, en hierdie komponent bevat hoofsaaklik Afrikaanse skrywers wat rondom Afrikaanse uitgewerye verbind is.

Temas

Die tema of kategorie waartoe boeke behoort, is nog nie aangedui nie, maar in hierdie opsig kan daar reeds ‘n paar interessante voorbeelde uitgelig word. Een van die treffendste fasette van hierdie versameling is sy diversiteit: die versameling sluit ‘n groot hoeveelheid boeke oor die Taalkunde, Letterkunde, Geskiedenis, Sielkunde, Geskiedenis van die Christendom, Mitologie en Christelike moraliteit in. Bykans elke tydperk in die geskiedenis is gedek, met boeke oor die Germane, Romeine, Asteke, Middeleeue, Napoleon, die Anglo-Boereoorlog, die twee Wêreldoorloë, die Grensoorlog en ook hedendaagse Suid-Afrika. Die boeke bevat ook uiteenlopende perspektiewe:

  • Boeke met ‘n liberale uitkyk (byvoorbeeld Knowledge in the blood), maar ook boeke met ‘n konserwatiewe uitkyk (byvoorbeeld publikasies van die Volkswag);
  • Boeke oor die Christelike geloof, maar ook boeke oor die gelowe van die Germane, Kelte en Romeine;
  • Boeke oor geloof, maar ook boeke oor wetenskapsfilosofie.

Die indruk wat hierdie boekversameling skep, is van ‘n navorser met ‘n wye belangstellingsveld wat bereid was om meer oor verskillende perspektiewe te leer, maar wat terselfdertyd sterk geanker was in sy Europese herkoms en met ‘n besondere belangstelling in die Afrikaner. 

Slot

Navorsers soos Prof Jaap Steyn laat altyd iets blywends agter: ‘n leeftyd se publikasies. In sy geval laat hy ook ‘n leeftyd se bronne agter, en Orania is bevoorreg om laasgenoemde by hom te erf. Bowenal sal sy reputasie blywend wees, en soos die Oud-Noorse Hávamál die saak stel (Prof Steyn het heelwat boeke oor die Germane agtergelaat):

Deyr fé, deyja frændr, deyr sjálfr it sama; ek veit einn at aldri deyr: dómr of dauðan hvern.  Beeste sterf, familielede sterf, die self moet ook sterf; ek weet van een ding wat nooit sterf nie: die reputasie van elke afgestorwe man.  

Leave a Reply

Your email address will not be published.