Afrikaanse Literatuur

Afrikaanse Literatuur

Die Afrikaanse letterkunde is vandag ’n huis met meer wonings as ooit tevore. Kinder- en jeugliteratuur, misdaadfiksie, en romanses is van die genres wat floreer. Skrywers wat in hierdie genres doenig is, soos Jaco Jacobs, Fanie Viljoen en Deon Meyer geniet wisselende mates van gewildheid in ander tale, en dis iets waaroor alle Afrikaanse boekliefhebbers trots en dankbaar kan wees.

Wat die Afrikaanse poësie betref, word daar ook skynbaar vandag meer poësie as ooit gepubliseer. Kwantiteit is natuurlik nie noodwendig ’n aanduider van kwaliteit nie, maar dat die Afrikaanse poësie heelwat geesdriftige beoefenaars en liefhebbers het, val nie te betwyfel nie.

Maar wat van literêre fiksie? Onder die Sestigers is Etienne le Roux, Chris Barnard, Elsa Joubert, Dolf van Niekerk, John Miles en natuurlik Karel Schoeman se werk alles uitstaande. Ook onder die sogenaamde Tagtigers staan name van skrywers soos Koos Prinsloo, Marlene van Niekerk, Etienne van Heerden en Ingrid Winterbach uit.

Maar hoe staan sake vandag in die Afrikaanse literêre fiksie uit die pen van ander skrywers as die van bogenoemde name, wat bloot my persoonlike voorkeure weerspieël, en wat sekerlik aangevul kan word?

Hier gaan ek bloot ’n paar subjektiewe opmerkings maak. Ek lees literêre fiksie vir my plesier, en ek kan geensins aanspraak maak daarop dat ek op hoogte is van alles wat in die genre in Afrikaans gepubliseer word nie. Hier skryf ek bloot as ’n leser wat probeer sin maak van die vraag waarom ek tien of twintig jaar gelede met geesdrif Afrikaanse literêre fiksie gelees het, en vandag min vind wat my geesdriftig stem.

Op my rak staan Anton Roodt se Weerlose meganika (2020), Lize Albertyn-du Toit se Die kinders van Spookwerwe (2019), en Lodewyk G. du Plessis se Die Dao van Daan van der Walt (2018) nog en wag. As ek verder terugdink aan Afrikaanse literêre fiksie van, sê die laaste tien tot twintig jaar wat my bybly, is dit beperk tot die boeke wat John Miles, Francois Smith en Kleinboer in hierdie tyd publiseer het.

Amper al hulle romans werk op die een of ander manier met die vraag wat van Afrikanermans ná 1994 geword het, waarom ons vervreemd voel, en hoe ons dit verwerk en weer in een of ander groter geheel tuiskom. En dis juis daardie groter geheel wat hulle werk vir my uitlig.

Maar verder as dit kom ek nie. Dis nie asof ek nie by ander lesers rondvra, of kyk na die eerste paragrawe en die agterflapteks van nuwe boeke wat die lig sien, of nie die resensieblaaie dophou nie. Ek doen al hierdie dinge nog al die jare toegewyd.

En tog. As ek mooi nadink oor wat dit is wat my telkens geesdrif vir ander nuwe Afrikaanse literêre fiksie laat verloor, is dit eintlik maar twee dinge. Eerstens is my indruk – reg of verkeerd – dat soveel van wat nou gepubliseer word, te make het met een of ander private reis, ’n enkelreis van ’n aard, maar wat nooit eintlik aan ’n groter geheel verbind word nie. Of daardie groter geheel nou ’n tradisie, ’n gemeenskap, ’n plek of een of ander vorm van transendensie is.

Tweedens het dit skynbaar die vernaamste maatstaf geword om hierdie of daardie boek uit te sonder omdat dit een of ander tema verken of “oopskryf” wat nog nie voorheen in Afrikaans gedoen is nie. Ek sukkel om te verstaan waarom hierdie maatstaf as sodanig iets oor die literêre gehalte van ’n roman of ’n kortverhaalbundel sê.

As ’n mens byvoorbeeld dink oor Karel Schoeman se Stemme-trilogie, n Ander land (1984) en Verkenning (1996), is dit eweneens waar dat Schoeman in hierdie romans eksplisiet en bewustelik skryf oor vergete of tot nog toe onvertelde figure, verhale, stukke geskiedenis. Hy kon (en het ook) dit net sowel deur middel van geskiedenisboeke gedoen het, as die idee was om ’n groter bewussyn oor hierdie dinge te kweek.

Die roman as genre bied wel aan die romansier instrumente om hierdie sake meer poëties en verbeeldingryk aan te bied as wat die geval met geskiedenisboeke is, maar dit is nog nie wat hierdie romans van Schoeman so groot maak nie. Nee, wat hulle groot maak, is dat Schoeman deels danksy sy literêre vaardigheid, maar ook danksy die wyse waarop hy hierdie dinge aan universele temas verbind, die leser se aandag boei.

Temas en stukke geskiedenis kom en gaan, word onthou, word vergeet, word weer onthou. Maar universele kwessies soos sterflikheid, verlies, herinnering, persoonlike integrasie binne ’n groter geheel, is menslik gesproke so goed as tydloos. As ons vandag Cervantes se Don Quixote uit die vroeë sewentiende eeu lees, of Proust se Op soek na die verlore tyd uit die vroeë twintigste eeu, kon hulle net sowel gister verskyn het, juis omdat ook hierdie romans die universele kwessies so manjifiek hanteer.

Kan dit wees dat minder en minder Afrikaanse romansiers nog hierdie versugting en hierdie vermoë het?

* Prof. Rossouw doseer filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat en is ook die skrywer van twee romans, ’n Rooi Z4 en ’n Renaissance-kasteel (2007) en Verwoerdburg (2013). Sy nuwe roman, Sluitstuk, verskyn in 2023.

Leave a Reply

Your email address will not be published.