Die taal van ons tuiste.

Die taal van ons tuiste.

‘n Pleidooi vir die noodsaak van ’n Vierde Afrikaanse Taalbeweging in die opbou van die stad, Orania, gelewer op 8 Augustus 2022 by die opening van OKeR se jaarlikse Taalweek op Orania

# 4 VAT

Sal die kinders in die stad aanbly? Afrikaans het ’n stad nodig, maar kan Afrikaans ’n stad bou?  Wat het ’n taal, enige taal, met die stad te doen – die stad in sy breedste filosofiese en religieuse sin bedoel? Kan ’n taal ’n stad bou – en belangriker nog vir ons êrens in Afrika, kan ’n taal ’n stad ook afbreek of doodgebore laat word?

Ek pleit vanaand vir die doelbewuste aanbreek en aanpak van die Vierde Afrikaanse Taalbeweging. Maar wat wil ek nou eintlik daarmee sê?  Laat ons begin met twee stellings: ons kan dit sê en tweedens ons moet dit sê – veral nou, híér só sê. 

Ons kan só sê

Ons kan praat oor ons stad as tuiste[1].  Uys Krige[2] het gesê: Daar is niks in die hemel of op die aarde of onder die see wat nie in Afrikaans uitgedruk kan word nie. Dit is op die veld gebore en is so eie aan ons land as die lang geel gras eie is aan die grootste deel van Suid-Afrika. Wat my hier tref is woorde soos “die veld”  en “die see.”  Dit geboortesertifikaat van Afrikaans meld onmisbaar die veld, en tog sê Krige ook “die see” saam met hemel en aarde, en dìt is ’n Bybelse uitdrukking in veldwoorde. Ek kom later terug op hierdie punt van die reikwydte van Afrikaans.

Uys Krige kon dit só sê omdat daar ’n Eerste Taal Beweging was waar Pannevis kon skryf in die eerste uitgawe van Die Afrikaanse Patriot, op Saterdag 15 Jauarie 1876: Dit het baiang moeite gekos om so vêr te kom; dit kan ek julle verseker, want die meeste Afrikaanders is nes steeks pêrde, hulle wil mos nie glo dat ons een ei’e taal het nie … Ons wil nou met ons “Patriot” an die wereld wys, dat ons wel de’entlik een taal het waarin ons kan sê net wat ons wil.”

Is dit nou regtig nodig?

Ek het ’n ordentlike taal geërf en ek wil vanaand iets sê – oor my stad, my wordende stad en die taal van my stad. En soos met die vorige taalbeweging se begin sal hierdie pleidooi sekerlik ook dalk met groot rollende oë begroet word en aanvanklik met ’n knippie sout gevat word. Elke taalbeweging het maar iets Don Quixotte-agtigs in sy geboorte-uur. Daar is iets kunsmatig en kuns-matigs aan elke taalbeweging.  Mens hoor al amper die geharde boumanne en -vroue vra: ‘Wat het die gedreun van die sementmenger en die volgende woonbuurt se beplanning nou juis te make met hierdie ‘hogere kûnste’, sal ons tog nie eers klaar moet bou en dan dáárna mooi beelde maak en mooi woorde tooi oor ons swetende prestasie onder die vergrootglas van die ewige Karooson nie? Maar taal bly ’n broos saak, ook as jy beton gooi in die fondasie voor.

Met die Tweede Taalbeweging, wat oor wetlike erkenning en gelyke behandeling gegaan het, het Van Wyk Louw onder andere gesê dat moedertaal juis ’n broodsaak[3] is, veral in die onderwys. Laat ons ook die les onthou wat ons in die Tweede Taalbeweging geleer het.  Laat ons nie nou in die slaggat trap om te sê: die stadbou is net ’n sement-saak nie. Stene sal ons met sement aan mekaar laat klou, dis wat koue stene doen, maar as ons nie nuut leer praat oor ons stad nie, sal ons kinders die stad nie hou nie – nie in hulle hart nie en nie met hulle eie hande nie, want ons het hulle in die Derde Taalbeweging té gewoond[4] daaraan gemaak om die volk se siel te stroop tot niks meer nie as ‘n bosveldvuurtjie in die sterreveld.

Taal en stadbou

Dit bring my by die kern van my pleidooi, naamlik dat die Derde Taalbeweging die stadbouprojek in sy kernbedoeling nie kan dien nie. Die huidige Afrikaans soos ons dit tans sing en sê kan nie ’n stad bou nie. Daar loop ’n fyn lyn tussen bedreig en bedrieg – al is dit onopsetlik. Sou ek dan die dood van die Derde Taal Beweging soek, wat tans nog so springlewendig en mobiliserend in ons gemeenskap is? Nee, al het ek weer onlangs Gerrit Dekker gelees wat wel gepraat het van die dood van die Eerste Taalbeweging, sonder dat dit die einde van Afirkaans beteken het. Ek pleit vir ’n rigtingverandering van die huidige taalbeweging, ’n nuwe doel.

Geloofsdroom

Hierdie stad is ‘n geloofsdroom. Dit vereis dat ons nuwe woorde inspan, dit kort ‘n ander rangskikking van die taal op my tong as dit wat die Derde Taalbeweging tans gebruik, want die Derde Taalbeweging is ingestel op ontspanning, op uitspan – die groot onwerklike virtuele ontsnapping uit die harde werklikhede van die werklose stede en dorpe se toegestopte slaggate.

As eenling pleit ek vir die afskeid uiteindelik van die Derde Taalbeweging, as dit dan nog nie ’n volwaardige begrafnis mag wees nie. Taalbewegings het kenmerkende[5] fases en ontwikkelingsgange, en wat hier plaasvind is maar nog stap een, die bewusmakingsfase van die noodsaak van die Vierde Afrikaanse Taalbeweging.

Laat ons net vinnig saamvat. Die Eerste Taalbeweging het gehandel oor bestaan en standarisering, die Tweede Taalbeweging oor wetlike erkenning, die Derde Taalbeweging oor normalisering en Afrika aanvaarding. Die Vierde Taalbeweging behoort te handel oor die liefde vir die stad. Jaap Steyn het in 1980 ’n boek[6] geskryf getiteld “Tuiste in eie taal. Die behoud en bestaan van Afrikaans”; ek wil dit bietjie omdraai en vra: “Kan en mag ons praat van ’n taal in eie tuiste?” Dìt uitbeitel met die vierde Byteltjie?

Die waarde van die Derde Taalbeweging

Akademici en literêre teoretici is nog nie eens[7] of daar so iets is soos ’n Derde Taalbeweing nie, terwyl ek al ’n saak probeer stel vir die noodsaak van die Vierde Taal Beweging. Dit vereis ’n kort uitleg, sonder ’n selfbehepte oorverduideliking. Die Derde Taalbeweging soek normalisering en aanvaarding in Afrika. Vir ’n rukkie was dit die kenmerkende klank van die Voëlvry Toer se impak, maar langsamerhand het die Alternatiewe Afrikaanse Taalbeweging, soos wat dit genoem word, spoed verloor, ’n windstilte het toegesak wat eers weer dawerend verbreek is met Bok van Blerk se De La Rey. Daarna was dinge nie meer dieselfde nie – en tog was dit.

Die landelike karakter en die anti-stedelike ingesteldheid van die verstedelikte Afrikaner het nostalgies die plaas opgesoek en virtuele kulturele kuberkantons gekry. Van die oorspronklike alternatiewe Afrikaanse versugting het bykans niks oorgebly nie, behalwe ’n soort Suid-Afrikaanse Afrikaanse kreoolse klank van die Vrye Weekblad van Max du Preez. Maar die volk se kinders luister lankal nie meer na Max se taal nie. As ons nou ons siel soek moet ons Bolsveldvuur toe of die sterre tel onder die Karoo se koepel. Hierdie bydrae wat die Derde Taalbeweging gelewer het in die herwinning van die Afrikaner se taaltrots en selfrespek is van onskatbare waarde. Die feit dat die Afrikaner weer begin praat en sing het na 1994 se orde-omkering en kulturele omwenteling moet geëer word.

Hierdie punt het baie aspekte, maar ek lig net enkele gedagtes uit rondom die waarskuwing dat die Derde Taalbeweging nie ’n stad kan bou nie, nie ’n eie stad nie. Dit kan hoogstens oorleef in ’n vreemde en vervreemde, onteiende stad van ’n ander man se ‘African city’. Ons wil nie diep dink in ons kuns nie, ons wil dinge draaglik maak. Ons wil vir mekaar sê en sing wie ons is, Lekker op my trekker en Ek kyk graag so diep in jou oë, maar ons weet dis nie meer ons huis nie.

Kom tuis in jou stad

Die Vierde Taalbeweging moet ons laat tuiskom in die stad, ons stad. Ons Boerestad wat ons self gebou het met klipkou en beur en bid. Waar is ons tuiste en – en so belangrik soos die hemel en die aarde en die see se verband met mekaar – waar is die taal van ons tuiste? Hoe klink dit op my hart se punt?

Kan ons ons stad liefhê? Weet ons dit in ons siel, of weet ons dit nie? Het ons dit nie gehoor nie, het niemand dit aan ons gesê nie, nie eers geneurie nie? Is ons verbeelding dan so verban dat ons nie ’n stad kan verbeel nie? ’n Stad wat ons taal praat, wat in die veld gebore is, wat jeugdige bronstigheid ken en ontgroei het, tot volle volwasse verbeelding, wat wil sê en sien, wat begeer en verkry. Wat hoor ek sê die Derde draadlose radio-omroeper vir my in my kar so tussendeur die verlangende plaasliedere: “Hulle staak en brand in Sefako Makgatho, motoriste word aangeraai om die roete liefs te vermy.” Vermy, vir my?  Ek is siek en sat daarvan om die Suid-Afrikanisme te probeer vermy. Ek wil nie meer vermy nie, ek wil verkry, ek wil vat (# VAT) wat belowe is, aanraak, beleef wat my verbeelding in geloof droom, droom oor my stad as my tuiste. En die taal van my stad sal vir my die verbeelding ontsluit. Hoe sal ons weet hoe moet ’n stad lyk? Want ons siel haat die stad, en dit sê en sing ons oor en oor – ook voor die kleinkinders.

Twee onderskeidings

Ons moet hier twee sake ingedagte hou wat deurgaans in ons literêre geskiedenis met wisselspel tog in balans wou wees: die volk[8] as digter en die volksdigter as profeet. As die balans versteur is, soos nou in die Derde Taalbeweging, is dit ’n gevaarlike sinkgat.

Die volk as digter

  • Volk as digter, dit is waar die smaak en lus van die volk eensydig die bo-toon voer. Maar – en dit is ‘n lewensbelangrike “maar” – die Derde Taalbeweging was net ’n halfweghuis, ’n asemskep, ’n rusplek by die plaasdam. Daar durf ons nie bly staan nie, ons moet verder voortbeur en bly droom. Kulturele selfrespek is die lewensasem van ‘n volk, maar – as dit eg en ernstig is – kan dit nooit nié verder wil groei nie. Kulturele selfrespek herwin ruimtes en roep ook om plekmatige selfstandigheid. Dit kan nie anders nie, anders was die kulturele selfrespek oneg en met ’n slaaf se gees vol selfbedrog oor vryheid.

Die Derde Taalbeweging maak die huidige Afrikaner vasgevang èn selfafgeslote. Die Afrikaner het nog nie agtergekom dat die Derde Taalbeweging ons krygsgevange hou nie. Die reënboognasie het mos elf, ja twaalf tale as jy handgebare inreken. Die Derde Taalbeweging soek steeds aanvaarding binne die breë Suid-Afrikanisme van die RSA as nasiestaat. Maar dit lewer ’n skisofrene kultuurhandeling op, dat ruimte en plek uit balans is. Dit laat my soms die aaklikge werklikheid ontvlug, van die pallisades, met die rotweiler en die alarm se laserliggies en die alewige stryd om oorlewing, om myself te beskerm om te kan gaan werk, net om in my huis gehok te wees. En dan ontspan ek kultureel, maar dis eintlik ’n ontsnapspoging met my naweeklyfie, dis nie om dowe neute dat so baie liedjies oor drif en drink handel nie. Elke kultuur het maar sy drinkerslied, maar by ons is dit proporsioneel uit verband. En die rede is ontvlugting, ontsnapping van die werklikheid. Die Derde Taalbeweging is ingestel op nostalgie, en is eintlik virtueel gemeenskaplike oorlewing en ontvlugting.

Die digter as volksprofeet

  • Maar die digter as profeet laat die volk na heuning verlang wat hulle nog nooit op die verhemelte geproe het nie. Kan mens dit – heuning – aan iemand beskryf wat nog nooit self heuning geproe het nie? Ja, dit kan – genadiglik, as die gees begeer, en jou gees kan so begeer as die Gees van Heiligheid[9] jou leer en lei.

Daar is tans baie volksvermakers, maar het ons al gedink wat ons aan hulle gawes doen, dit eintlik ontken, as ons van hulle eis om nie te profeteer nie. Maar hoe kan hulle sê, en sing as hulle nie sien nie? Volksvermakers voed die honger, maar dit mag nie al wees nie. Kunstenaars moet ook profete wees. Ek verwys hier na die wonderlike dinge wat D.J. Opperman en N.P. Van Wyk Louw en ’n Totius hieroor gesê het. Totius lewer in 1911 ’n lesing[10] by die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.  Dit word die eerste wetenskaplike nadenke in Afrikaans oor literêre teorie. Daar het hy al gewys op die belang van die volksdigters as profete. Susan van Deventer het in 1983 in haar proefskrif hierop gewys. Die gemeenskap moet die kunstenaar se gawe erken en ook die rol wat die openbaring daarin speel. Om te sien is dus meer as om oë te hê, dit is om in geloofsaanskouing die Onsienlike[11] te sien. Of soos Totius dit stel in sy verhaling[12] van Josef: “Laat ons tog droom die droom van ons deur God beglansde bestemming.”

N.P. van Wyk Louw en Opperman het in hulle eie idioom hierdie gedagte van die digter as profeet verwoord binne ’n aristokratiese ideaal. Opperman vertolk dit as volg, dat die digter ook inderdaad siener is, “nie slegs van die uiterlike werklikheid nie, maar … deur die werklikheid heen na die gedagtes van God.” (Opperman, 1947:24). Totius beleef hierdie profesie[13] as plig en voorreg: “Die kuns is volgens hierdie siening van Totius slegs genade wat goedgunstiglik vir ’n kort ruk … gegee word.” (Van Deventer, 1983:83). Die werklikheid is ’n verbonde geheel. Opperman se siening oor die verbond[14] is hier baie verhelderend oor hoe ’n kunstenaar ’n rol speel ook in ’n stukkende werklikheid van ’n vernielde en soms verwoeste gemeenskap.

Taal is dus veel meer as blote kommunikasiemiddel. Taal is openbaring.

Taal is openbaring

Hoe sê ons wat ons doen, hoe sê ons wie ons dien?  Taal moet weer erken word as openbaring, en nie net as blote mede-menslike kommunikasie nie. Noodgedwonge moet ek sê wat ek sien, as ek regtig glo wat ek hoor. Ek het gesoek na ’n beeld, na gerygte woorde, na ’n liedjie of ’n film of romam, wat dit só sê – en ek kon niks vind nie. Ek het vanaand niks om aan te haal nie. Dis ons armoede. Ek het wyd onder baie veldklippe gekyk, en in diep spelonke en myne gegaan, mooi en waardevolle skatte gekry, maar nog nie één wat oor die stad – in my taal – sê en laat sien wat die Skrif laat sien en sê oor die stad nie.

Die stad as vrou – as mooi vrou, vroom en getrou. Háár ken ons nie so nie – nie in Afrikaans nie. Ons ken nog net Mooi Nooi van Soetmelksvlei. Die stad is vir ons in die Derde Taalbeweging die slegvrou van die straat in Bobbejaansberg wat jou siel vervuil en steel. Die stad laat ons bloei en huil en hunker met ’n honger na die plaas.

By-voor-beeld

Gun my om te wys hoe sien en sê kan klink oor die stad as trouvrou. Ek waag dit om digwoorde aan mekaar te bind en tot oor en gehoor te bring. Nadat ek eenkeer ’n preek oor Jesaja 6:1 gemaak het, het ek die volgende gedig geskryf. Dit wil met heilige bybedoeling die lokkende lus van die liefde wees om anderkant die plaas, anderkant die woestyn self, die vrou as stad, en die stad as vrou te begeer.

Soetmelksvlei

Die seunskind is nie danig dood
hy leef in elke fluit en wissel voort
hy is die roepman as die bloutrein kom
wat niemand sal verpas, sý vlagsein
sorg op die perron, waar sy hart se magasyn
as kondukteur, elke kind se kaartjie knip
in die kompartement, betyds en stip,
die stasie noem: ‘Pas Soetmelksvlei verby’.

Laat my toe om te verduidelik. ‘As die bloutrein kom, dit kan dui op die bekende luukse trein wat nou die Shosholoza Meyl is. Dit spreek van ’n verbygaande natuurtoneel, verby die plaasstasie, Soetmelksvlei. Kultureel kan mens bietjie dieper delf. ‘Bloutrein’ is Kaaps vir pers spirits wat deur ’n witbrood gegooi word en gedrink word – die gesifte drank as ’n pynverdower.  As die Bloutrein kom, en jy bedwelmd is, dan kan jy die geleentheid mis om op Soetmelksvleistasie af te klim. Maar – en dit is die profetiese deel: Bloutrein kan ook ’n Bybelse betekenis hê.

Die roeping van Jesaja begin met die woorde: In die sterfjaar van koning Ussía het ek die Here sien sit op ‘n hoë en verhewe troon, terwyl sy some die tempel gevul het.” Jesaja 6:1.

As die bloutrein kom…

Die woord “some” beteken trein, hemelse gevolg, dit wat agter God aan kom. “Bloutrein” – dis hemelse blou, koninklike blou en sy gevolg[15]. Dit slaan op die hemelse en aardse rangskikking van alles wat God in sy heerlikheid volg. Dit sluit ‘n volk se volgende fase ook in, die mooi ontplooiing van wat God vir ons begeer. Dit gee Christus ons, dit verlig die Gees van heiligheid in ons, dit profeteer Hy, dit laat Hy ver-Woord en bewoord – ook in die kuns, die hoëre kuns om van God te praat en te sing by die meng van nat beton, wat hard gaan word en vas sal staan. In kuns wat jou laat ken en begeer wat jy in jou gees sien, om te vat en te verkry wat belowe word, en om jou te verbly en te beleef wat God se heerlikheid alles inhou, vir alle mense, ook vir my en ook jou en ook vir die taal as gans die volk.

Ons het ‘n Vierde Taalbeweging broodnodig. Ons moet ‘n stad met die taal bou. ‘n Taal vir my tuiste. Afrikaans het ‘n stad nodig. Maar die stad het ook Afrikaans nog.  Afrikaans kán ‘n stad bou. Want ons kan dit sê, ons moet dit sê. As…. as ons in geloof begeer wat die Gees ons laat sien – ‘n stad as vrou – getrou aan God, die Woord, verlig met die Vader se gesig. Laat ons sê wat ons sien. Laat ons dit sing en dans. Laat ons dit verbeel(d) en begeer. Ek trek hierheen, ek ontsnap en ek kom tuis – met die taal van my tuiste. En ek is bly, want as die Bloutrein kom is die taal van my tuiste, Soetmelksvlei verby. Ek dank u.


Wikus Buys.
Orania Taalweek
8 Augustus 2022

 

 

Bibliografie

Bester, M. 1989.  Die Afrikaanse kindertydskrif as kultuurhistoriese inligtingsbron. South African Journal Cult. Art History, 3(1):19-30.

Boshoff, C. 2014. N.P. van Wyk Louw en die nuwe Afrikaner. FAK. Pretoria.

Botha, E. & Roodt, P.H. 2006. Die Tagtigers en die Tydskrif vir Letterkunde – was daar ’n Tagtigerbeweging? Tydskrif vir Letterkunde, 43(1):57-67.

Brits, E. & Pienaar, D. 2002. Die representasie van die vrou in die verse van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging. Stilet: Tydskrif van die Afrikaanse Letterkundevereniging, 14(2):217-240.

Cloete, T.T. 1961. Die wêreld is ons woning nie.

Cloete, T.T. 1978. Totius se organiese beskouing. Langenhovengedenklesing. Universiteit van Port Elizabeth.

Dekker, G. 1964. Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Nasou. Kaapstad.

Die Afrikaanse Patriot 1876. 1974. Die Genootskap van Regte Afrikaners. Faksimilee. Human & Rousseau. Kaapstad.

Du Toit, D.F. 1880.  Geskiedenis van die Afrikaanse Taalbeweging, ver vrind en vyand uit publieke en private bronne. Bewerk deur ’n lid van die Genootskap van Regte Afrinaers (O’er gedruk uit die Patriot). Paarl.

Du Toit, J.D. 1911. De zestiende-eeuwse profetie en haar betekenis voor onze tijd. Rede gehouden bij de aanvaarding van het hoogleeraarsambt in de theologie aan de theologiese school te Potchefstroon op Zaterdag 15 April. Koomans. Potchefstroom.

Du Plessis, L.T. 1983. ‘n Kritiese beskouing van die identifikasie van die Afrikaanse taalbewegings en hulle funksies. Ongepubliseerde M.A. verhandeling, UOVS.

Du Plessis, L.T. 1983. Vrae rondom die tradisionele benadering van die Afrikaanse Taalbewegings.  Koers. 48(4):221-233.

Du Plessis, L.T. 1986. Afrikaans in Beweging. Patmos. Bloemfontein.

Du Toit, S. 1950. Die magsdaad van 1875 en die toekoms. Koers, 18(1):1-13.

Geldenhuuys, D.J.C. 1985. Afrikaans in perspek (Sestig jaar na amptelike erkenning). Tydslrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie, 4(2):42-43.

Grundlingh, A.C. 1931. Die sosiale element in die Afrikaanse prosa van die Tweede Taalbeweging. Universiteit van Kaapstad.

Hagen, L. 2012. Kulturele identiteit: Die “Alternatiewe Afrikaanse Beweging” van die tagtiger jare. University of Johannesburg.

Hiliomee, H. 2014. Die troebel toekoms van Afrikaners en Afrikaans. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 54(4):571-595.

Jaarboek. 1911. Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst. Pretoria.

Kannemeyer, J.C. 1974. Die Afrikaanse bewegings. Human & Rousseau. Kaapstad.

Kriel, M. 1998. Taal en identiteitskrisis, en die alternatiewe Afrikaanse musiekbeweging. South African Journal of Linguistics, 16(1):16-26.

Langenhoven, C.O. 1932. My aandeel aan die taalstryd. In: Versamelde Werke, deel 12. Nasioanle Pers. Kaapstad.

Meiring, A.G.S. 1939. Die Afrikaanse Taalbeweging: opgestel volgens die leerplan vir matriek. Nasionale Pers Beperk. Bloemfontein.

Meyer, G.J. 1953. Die betekenis van Die Huisgenoot as maandblad, 1916-1923, in die tweede Afrikaanse Taalbeweging.

Nienaber, P.J. 1947. Die Vrystaatse Taalbeweging, 1900 tot ongeveer 1920. Afrikaanse Pers Boekhandel. Johannesbeurg.

Nienaber, P.j. & Nienaber, G.S. 1949. Die Geskiedenis van die Afrikaanse Letterkunde. J.L. van Schaik. Pretoria.

Ochowicz, A. 2002. Die prosa van die Tweede Afrikaanse Beweging uit 1922 en die latere versies uit 1927 en 1939. Uitgawe van het Instituut voor Germanistiek van de Universiteit Debrecen.

Opperman, D.J. 1947. Die digter Totius. Standpunte, 2(2):22ev.

Opperman, D.J.  1953. Digters van Dertig. Nasionale Boekhandel. Kaapstad.

Pienaar, E.C. 1920. Taal en poësie van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging. Nasionale Pers.

Pienaar, E.C. 1922. Digters uit Suid-Afrika: bloemlesing uit die poësie van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging. JH de Bussy.

Pieterse, H.J. 2012. “Alternatiewe Afrikaans”: ’n Historiese oorsig en tipologie. South Africn Journal of Linguistics, 13(26):133-162.

Pretorius, C.E. 1977. Totius: 21 Februarie 1877 – 21 Februarie 1977. Tydskrif vir Letterkunde, 15(4):1ev.

Rothman, M.E. (M.E.R.). 1972. My beskeie deel. Tafelberg. Kaapstad.

Scholtz, J. Du P. 1980. Wording en ontwikkeling van Afrikaans. Tafelberg. Kaapstad.

Schoeman, K. 1986. Die wêreld van die digter. Human & Rousseau. Kaapstad.

Spies, L. God, die magtige magneet: die religieuse motief in die poësie van D.J. Opperman.  D.J. Opperman gedenklesing, 23 September 2011.

Spies, L. 2017. D.J. Opperman se verbond met die skeppende God: ’n Interpretasie van Heilige beeste en Negester oor Ninevé. LitNet Akademies, 14(2):439-459.

Steyn, J.C. 1980. Tuiste in eie taal: Die behoud en bestaan van Afrikaans. Tafelberg.

Steyn, J.C. 1986. ‘n Paar aantekeninge oor Taalbewegings. South African Journal of Linguistics. 4(4):146-168.

Steyn, J.C. 2016. N.P. van Wyk Louw se opvattings oor taalbewegings en die behoud van Afrikaans. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 56(2-1):335-354.

Totius. 1977.  Totius versamelde werke. Tafelberg. Kaapstad.

T’Sjoen, Y. 2007. Achter de trommels: het Afrikaner nationalisme als bouwsteen voor de ideologische discours van de Vlaamse Beweging (ca. 1875-1921). ALV-congres 11-13 September 2006, Universiteit van Stellenbosch. Werkwinkel, 2(1):51-74.

T’Sjoen, Y. 2016. Hoe lyk jou Afrikaans? LitNet (Universiteit Seminaar).

Van Coller, H.P. 1998. Perspektief & Profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis.  J.L. van Schaik. Pretoria.

Van Coller, H.P. 2006. Die representasie van plaas, dorp en stad in die Afrikaanse prosa. Stilet, Tydskrif van die Afrikaanse Letterkundevereniging, 18(1):90-21.

Van Der Bank, D.A. 1994.  Afrikaner-identiteit in die Oranjerivierkolonie. Navorsinge van die Nasionale Museum / Researches of the National Museum, 10(7):325-329.

Van der Neut, E.J. 2011. De taal is gansch het volk / Building a nation from words. Nationale bewegingen in Vlaanderen en Zuid-Afrika. BS Thesis.

Van Deventer, S. 1983. Totius se siening van die Calvinistiese digter as siener. Koers, 48(2):79-92.

Van Niekerk, L. 1916. Die eerste afrikaanse taalbeweging en zijn letterkundige voortbrengselen. Proefskirf. Universiteit van Amsterdam. Swets & Zeitlinger. Heerengracht. Amsterdam.

Van Rensburg, C. 2017. “Nà honderd jaar: Die Afrikaans van die eerste taalkommissie. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 57(2-1, Junie).

Van Rensburg, F.I.J. 1977. Kanttekening by ’n literêre teorie. (In: Scholtz, M. (red). Die lewende Totius. Tafelberg. Kaapstad).

Van Rensburg, M.C.J. 1981. Twee temas uit Tuiste in eie Taal. Taalfasette, 27(2):46-54.

Verster, W.M. 1900. Die Christelike motivering van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging, 7 September 1872-14 Augustus 1875. Universiteit van Stellenbosch.

Verster, P. 2020. ’n Ondersoek na Christelike digkuns in Afrikaans na aanleiding van die bleomlesing Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte (2017). LitNet Akademies, 17(2):300-319.

Villiers, A.J.D. 1934. Die Hollandse Taalbeweging in Suid-Afrika. P.HD. Stelenbosch Universiteit.

Viljoen, W.J. 1891. De taalbeweging in de Kaapkolonie.

Zietsman, P.H. 1992. Die taal is gans die volk. Unisa. Pretoria.


[1] Ek sluit hier berekend aan by mense soos Danie Goosen oor ‘plek anderkant die onbehae’ en Carl iv se onlangse boek ‘Tuiskoms’.

[2] http://www.litnet.co.za/uys-krige-1910-1987.

[3] Vgl. Scholtz, (2006:470).

[4] Met die klem op die Aristoteliaanse idee van habitus.

[5] Vgl. Du Plessis, 1983;

[6] Steyn, 1980.

[7] Vgl. Botha & Roodt (2006).

[8] Vgl. Nienaber, (1947).

[9] “Paulus, ‘n dienskneg van Jesus Christus, ‘n geroepe apostel, afgesonder tot die evangelie van God – wat Hy tevore beloof het deur sy profete in die heilige Skrifte, aangaande sy Seun wat gebore is na die vlees uit die geslag van Dawid en na die Gees van heiligheid met krag verklaar is as die Seun van God deur die opstanding uit die dode, Jesus Christus, onse Here, …” Rom. 1:1-4.

[10] Jaarboek, 1911:53-59.

[11] “Deur die geloof het Moses, toe hy grootgeword het, geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word, omdat hy verkies het om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om ‘n tyd lank die genot van die sonde te hê, en die smaad van Christus groter rykdom geag het as die skatte van Egipte, want hy het uitgesien na die beloning. Deur die geloof het hy Egipte verlaat sonder om die toorn van die koning te vrees, want hy het volgehou soos een wat die Onsienlike sien.” Hebreërs 11:24-27.

[12] Cloete, (1978:6).

[13] “Samevattend kom Totius se siening van die digter hierop neer dat die digter met die Ou-Testamentiese siener vergelyk word: dat die digter met die oog van die verstand meer sien as wat gewone mense sien: dat verborge waarhede sodoende aan hom geopenbaar word. Aangesien die eerste mens die sienersgawe deur die sondeval verloor het, is hierdie insig nou slegs deur die genade van God moontlik en is dit ook net van korte duur. Die digter moet die aardse dinge om hom eers deeglik verken (wêreldaanskouer wees), en enige gegewe kan as stof gebruik word. Sy eise aan die digstof bepaal dat alle lewensdinge rondom die digter draer van dieper waarhede is: lewe en beweging kenmerke van poësie is en dat die dieper insig wat die aardse dinge aan die digter vertoon, aan ander oorgedra moet word. Eise van die digkuns bepaal dat die beeld of simbool die skakel tussen die digter en die skepping is of, anders gestel: die openbaarmaking van die dieper waarhede wat in die stoflike gevind word, geskied deur die instrument van die taal: die oordra van wat die digter in die aardse vind, is ‘n taak wat slegs met groot moeite volbring kan word. Die oor kom die digter ook te hulp in die ontdekkingsproses, en die uiteindelike produk of kunswerk moet draer wees van die Goddelikheid waaruit dit ontstaan het.” Van Deventer, (1983:80).

[14] “Die harmonieuse verhouding tussen God, mens en dier van die eerste skeppingsverhaal is vir goed versteur, maar soos wat God in Genesis betrokke bly by die mens, is Hy binne Opperman se siening van die verbond betrokke by alle geskapenes wat hulle paradyslike onskuld verloor het en kan Hy ook meeleef … Die digter sluit hom aan by die Christelike tradisie.” Spies, (2011:7). “Binne die werklikheid waaraan Opperman gestalte gee in die gedigte  … is hy as ‘dertiende dissipel’ ‘n geroepene van die Ou-Testamentiese skeppende God van die verbond en andersyds deelhebber aan God se selfvolmakingsworsteling in al die bestaansordes. Hierdie twee kante sluit naatloos binne Opperman se komplekse religie in sy eerste twee bundels.” Spies, (2017:440).

[15] KJV “and His train filled the temple.”

Leave a Reply

Your email address will not be published.