Vryheid en die kunste
OKeR Voorsittersverslag: 30 Junie 2022
Deur Carel Boshoff
Die kunste is nou eenmaal ‘n terrein waarop spontaniteit georganiseer moet word. So vrysinnig as wat elke kunstenaar is en soveel as wat hulle geen bevel of voorskrif wil aanvaar nie, soveel kom hulle werk nie in ‘n lugleegte tot stand nie. Sonder ‘n gehoor wat hulle werk kan sien of hoor, sou dit ook nie die moeite werd wees om kunswerke te skep nie. Daarom dat daar instellings soos OKeR moet wees wat hierdie “wankel ewewig” (soos die groot Afrikaanse digter dit noem) in beskerming neem. Dat OKeR dus gedurende 2021 uit iets van ‘n organisatoriese sluimer ontwaak het, is nie net vir Orania se kunstenaars en kunspubliek belangrik nie, maar ook vir Orania se hele gemeenskap.
Mens kan aanvoer dat Orania bietjie hoog gevlieg het toe hy in die jare wat provinsiale kunsterade (TRUK, KRUIK, SUKOVS en NARUK) in Suid-Afrika sien ondergaan het, sy beskeie poging ‘n “kunsteraad” noem. Dit was simbolies en dit was ambisieus – maar Orania was nog altyd ambisieus in sy strewe, al was hy beskeie in sy vermoë, en dit is ‘n houding wat kunstenaars beter as die meeste ander mense begryp. Kostelik dat daar ook met die oprigting van OKeR kunstenaars van alle soorte was (skilders, musikante, digters) wat sonder versuim te kenne gegee het dat hulle nie met OKeR sal saamwerk nie. Nou dít laat enige kunsorganiseerder sommer tuis voel!
Die punt is dat die kunste by uitstek die draer van vryheid is – vryheid van uitdrukking en keuse, maar meer nog, vryheid tot voortreflikheid. Die beeld kan maar herhaal word, van die leerling-klavierspeler wat onvermoeid toonlere oefen en dalk nie baioe vry voel terwyl sy dit moet doen nie, maar uiteindelik juis danksy die dissipline en toewyding wat dit geverg het, in staat is om ‘n vrye en voortreflike vertolking van ‘n klaviersonata of konsert te kan lewer. Die outjie wat by die venster uit ontsnap het pleks van te oefen, het die vryheid van uitdrukking (in hierdie voller sin van die woord) verbeur.
Maar dit is nie al wat daar oor vryheid en die kunste gesê kan word nie; nog twee punte moet vermeld word. Die eerste is ‘n gedagte van die Duitse digter en filosoof, Friedrich Shiller (1759-1805), wat gesê het “met die goeie en die bruikbare is mens bloot ernstig, maar met die skone is mens in spel.” Kan dit wees dat speel belangriker as werk is? In ten minste een opsig wel, naamlik dat mens se werk altyd op ‘n doel buite die werk self afgestem is, ‘n doel wat bereik moet word, al is dit soms net om nie meer te moet werk nie. Spel daarenteen is ‘n doel in sigself, iets wat mens doen om geen ander rede as dat jy dit wil doen nie, iets waarvan die beloning in sigself opgesljuit lê. En so is dit met die skone, met die kunste; daarom is dit ‘n uitdrukking van vryheid.
Dit gaan egter verder: die tweede gedagte is dat die kunstenaar – beeldend of vertolkend – ook sy of haar gehoor in die spel betrek, mense uitlok om as ‘t ware met kinderlike onskuld die verbeeldingswêreld wat geopen word, te betree en daar onvoorsiene moontlikhede aan te tref. Soms laat dit mens aan blote fantasie dink, en tog stem dit die gemoed in op moontlikhede waaroor geoordeel moet word: Is dit goed of nie? Wenslik of nie? Mooi of nie? Navolgenswaardig of nie? En wie oefen om te oordeel, oefen om te lewe; oordeel is die bron van kultuur, sê Roger Scruton, die groot konserwatiewe Engelse filosoof.
Laat daar dus geen twyfel wees nie: ons kunstenaars het ‘n roeping en ‘n uitdaging en ‘n plig om ons verbeelding te prikkel en ons oordeel te slyp, want sonder verbeelding en oordeel sou Orania nie vandag ‘n wegwyser vir ons mense se tuiskoms kon wees nie en sonder verbeelding en oordeel kan Orania nog altyd stagneer in plaas van te floreer. Kunstenaars se volksdiens is dus nie daarin geleë om politieke leiers se doelwitte namens hulle na te jaag nie, maar om die verbeeldingsruimtes ook vir daardie doelwitte te skep en die oordeelsvermoë te vestig sodat ons seker kan wees dat dit goeie doelwitte is.