Verbeelding in plek
– Wendell Berry –
Wendell Berry skryf in een van sy later opstelbundels, Imagination in Place, wat in 2010 verskyn het, oor die verband tussen sy lewe as boer, sy werk as skrywer en die plek waar hy sy lewe lank gewoon het. Die opstel met dieselfde titel word vervolgens in vier aflewerings aangebied en dit sluit mooi aan by tema’s soos moedertaal en letterkunde. Wat volg, is ‘n vertaling deur Carel Boshoff van die opstel Imagination in Place soos dit verskyn het in Berry, W. 2019. Essays 1993-2017. The Library of America.q~A
Danksy die sameloop van toeval en keuse het dit so gekom dat ek byna my hele lewe deurgebring het op ‘n plek waarvan ek nie kan onthou dat ek dit ooit nie geken het nie. Die meeste van my voorsate vir die laaste tweehonderd jaar kon dieselfde sê. Ek is die kind van mense wat die plek intiem geken het, en ek het dit intiem leer ken terwyl ek groot geword het. Vir ‘n lang tyd was ek van die intimiteit nie baie bewus nie, ek het definitief nie groot geword met die gedagte dat dit ‘n “onderwerp” is nie en ek het nog nooit op dié manier daaraan gedink nie. Ek het nie hier gewoon, of met my bure en familie saamgewerk, of na die storivertellers en onthouers geluister met die doel om ‘n skrywer te wees nie. Die plek is ‘n voorbeeld vir my werk, in besonder vir my fiksie, maar verskil onmiskenbaar daarvan, soos ek sal probeer aantoon.
Danksy dieselfde sameloop van toeval en keuse, hoewel nie onverwags nie, het ek as ‘n boer hier gewoon. Buiten vir een grootoupa was al die familie wat ek geken het boere en ek het onder die hand van veral my pa, maar ook van ander, opgegroei om te leer boer, om die verskil tussen goeie en slegte boerdery raak te sien, om grond as van die hoogste waarde te beskou en om diegene wat goed geboer het, te bewonder en te respekteer. Ek het nooit gehoor dat daar na ‘n boer verwys word as “net ‘n boer” of na ‘n boervrou as “net ‘n huisvrou” nie. Vir my pa en vir sy pa in besonder, was kennis van die grond en van boerdery van die hoogste waarde. Hulle het die verskil tussen en ‘n goeie en ‘n slegte boer as net so krities beskou as die verskil tussen ‘n goeie en ‘n slegte politikus.
In 1964, na etlike jare van rondswerwery, het my vrou Tanya en ek met ons twee kinders teruggekom Kentucky toe en ‘n eiendom gekoop wat bekendstaan as Lanes Landing, op die Kentuckyrivier, omtrent ‘n myl van die huis waar my ma gebore is en opgegroei het, en omtrent vyf myl van my pa se tuiste. Die volgende somer het ons die huis opgeknap en ingetrek. En hier is ons sedertdien. Ek en Tanya altans, want ons kinders boer nou hier naby.
Voordat ons hierheen getrek het, het ek die plek vir 31 jaar geken, en ons woon nou al vir 39 jaar hier. Ons het ons kinders hier groot gemaak. Van hierdie plek het ons die meeste van ons kos, baie van ons brandstof en altyd, ten spyte van die moeilikhede en frustrasies van die boerelewe, volgehoue vreugde ontvang. Amper alles wat ek geskrywe het, het ek ook hier geskryf. As iemand my vra hoe dit alles inmekaar pas, dan moet ek sê: “Ongemaklik.” Desnieteenstaande was dit die plek van my werk en van my lewe.
Hierdie opstel word onmiddelik belemmer deur die uitdaging om my werk van my lewe te skei, en om die plek weer daarvan te skei. Die plek wat in van my werk vervat is, is dieselfde plek waarin ek as ‘n boer en ‘n skrywer vervat is.
In die loop van my lewe en my werk as ‘n boer het ek twee klein dorpies en sowat ‘n dosyn plase van naby leer ken. Dit beteken dat ek hulle een of ander tyd so goed leer ken het, dat ek my oë kan sluit en hulle kan sien soos hulle was, net soos ek hulle kan sien soos hulle nou is. Die intiemste “wêreld” van my lewe is dus maar klein. Die intiemste “wêreld” van my fiksie is selfs nog kleiner: ‘n dorp van sowat ‘n honderd mense, “Port William,” en ‘n paar plase in die buurt. Tussen die twee wêrelde, die een wat ervaar is en die een wat verbeel is, is daar sekerlik ‘n verband. Maar die verband is versteek genoeg soos dit is, en kan maklik deur oorvereenvoudiging dieper versteek word. Nog ‘n uitdaging van hierdie opstel is inderdaad die versoeking om te oorvereenvoudig.
Soos baie skrywers moet weet, is dit vir mens se familie en bure maklik om jou fiktiewe karakters met werklike mense te identifiseer. Maar baie skrywers moet ook weet dat sulke identifisering soms verstommend verkeerd kan wees, en altyd minstens ‘n bietjie verkeerd is. Die onafwendbaarheid van die soort foute is verklaarbaar, en dit is belangrik.
Van my eie fiksie het soms vir myself bykans heeltemaal na die vrug van verbeelding gelyk. Ander het weer so naby as moontlik aan werklike ervaring gelê. Die skryfwerk is soms uit ‘n uitgerekte poging om met ‘n werklike ervaring tot grepe te kom, gebore. Maar mens moet nie deur die aanspraak op “realisme” mislei word nie. Daar is inderdaad ‘n soort skryfwerk wat die verantwoordelikheid het om die waarheid oor werklike ervaring te vertel, wat meebring dat dit verplig is om die perke van wat werklik of bewysbaar bekend is, te respekteer. Maar fiktiewe werke kom van ‘n impuls om die perke van ervaring en bewysbare kennis te bowe te gaan met die oog daarop om iets te maak wat ‘n geheel is. Geen mensewerk kan heel wees deur alles in te sluit nie, maar dit kan op ‘n ander manier heel word: deur die formele perke daarvan te aanvaar en dan al die vrae wat binne daardie perke geopper kan word, te beantwoord. Enige redelike, geletterde leser kan Homeros verstaan sonder die voordeel wat argeologie mens bied, of Shakespeare sonder om hom tot sy literêre bronne te wend.
Dit lyk vir my of my poging om deur skryfwerk met ‘n werklike ervaring tot grepe te kom, elke keer ‘n poging is om my die ervaring te verbeel, om dit helder en heel in my geestesoog te sien. Mens kan seker verwag dat dit bereik kan word deur nougeset te beskryf wat jy uit watse rekords ookal weet, of uit jou eie herinnering. Maar dit is verkeerd, glo ek. Wat mens werklik of bewysbaar van ‘n werklike ervaring weet, is nooit die geheel nie; dit kan ook nie binne die perke van geheue of feitelike rekords tot ‘n geheel gemaak word nie. Verbeelding “voltooi die prentjie” deur die werklike herinnerings en bewese feite te bowe te gaan. Om die rede het ek dikwels met ‘n werklike ervaring begin, maar uiteindelik iets voortgebring wat ek as fiksie moes beskryf. In die poging om ‘n hele storie te vertel, om dit heel en duidelik te sien, moes ek my meer verbeel as wat ek geweet het. “Dit maak nie sin om ‘n oulike storie te vertel as jy regtig ‘n goeie een kan vertel nie,” het my ma se pa eenkeer vir my gesê. In die woorde het hy aan beide menslike beperking én menslike krag erkenning gegee, asook aan die aansienlike vermaak wat hy uit beide geput het.