Nuwe woorde – nuwe akkoorde
Die derde Afrikaner se vierde taalbeweging in die vyfde epog
’n Idee moet genoeg woorde hê om dit deur te dra. Ou woorde en nuwe woorde. Die derde Afrikaner moet sy nuwe normaal leer ken. Leer om sy verbeelding te verwoord. Daarvoor het hy ’n Vierde Taalbeweging nodig. Slegs met ’n nuwe taalbeweging sal die Afrikaner sy vyfde epog bereik. Maar wat behels die nuwe normaal presies? Eers ’n vinnige verduideliking oor gebruik van die beskrywings ‘derde, vierde en vyfde’ in die artikel se subtitel “die derde Afrikaner se vierde taalbeweging in die vyfde epog”.
1ste Afrikaner
Die eerste Afrikaners was die koring- en wynboere in die VOC-tydperk. Uit hulle kom die vryboere, die trekboere en die voorsate van die Voortrekkers. Die eerste Afrikaner beskryf die geboorte se wordingsuur.
2de Afrikaner
Die tweede Afrikaner is dié wat republikeinse vryheid soek en kry in twee republieke, maar dit weer deur geweld verloor teen die Britse ryk, die “British Empire”. Hulle word teen wil en dank in die stede geboender. Die tweede Afrikaner word gekenmerk deur die geweldige, en soms gewelddadige, omwenteling wat verstedeliking en industrialisasie meegebring het.
3de Afrikaner
Die derde[1] Afrikaner is ons, wat met die gevolge van hierdie verlies stoei in die stede, vol van goud en stof. Want, so dink ons, so sing ons, in die stad is jy stof en keer altyd weer terug na die stof. Die derde Afrikaner soek sy siel op die platteland terwyl hy in die stad permanent vertoef. Die derde Afrikaner word gekenmerk deur ’n groot identiteitskrisis en bestaanskrisis na-apartheid en ’n diep soeke na aanvaarding en normaliteit ook binne ‘n gedekoloniseerde omgewing.
Epog
’n Epog is ’n tydperk wat bepaalde merkers het. Die Afrikaner het al vier[2] groot sulke kenmerkende tydperke beleef. Die eerste een was die Groot Trek. Die tweede die Tweede Vryheidsoorlog. Die derde die stryd om amptelike erkenning van Afrikaans in die plek van Nederlands. Die vierde een is nog die naaste aan ons en die seerste, die letsels van die apartheidstelsel. Dit wat ons onthou en dit wat ons wil vergeet. Die vyfde epog – gemeenskap selfstandigheid – is die groot uitdaging waarvoor ons as derde Afrikaners te staan kom.
Die geskiedenis van die Afrikaner epogge word ook gekenmerk deur o.a. sy taalbewegings. Alhoewel die verskillende epogge nie saamval met die verskillende taalbewegings nie, kan dit ook nie heeltemal daarvan ontkoppel word nie. Daar was sover drie taalbewegings. En die noodsaak van ’n vierde taalbeweging word hier bepleit.
Self-ontdekking van die eerste taalbeweging
Die eerste taalbeweging was ’n geslaagde innerlike self-ontdekking en self-erkenning van die Afrikaner. Hierdie beweging speel af êrens tussen 1860 tot 1905 met die Genootskap van Regte Afrikaners wat vir die mense sê: Laat ons skryf soos ons praat.
Self respek van die tweede taalbeweging
Die tweede taalbeweging handel oor self-respek. Veral deur die Akademie vir Wetenskap en Kuns word daar ’n taalstryd gevoer vir die offisiële erkenning van Afrikaans, die spilpunt is artikel 137 van die Unie grondwet. In die kerk en met die Afrikaanse Bybelvertaling in 1933, in die onderwys en veral in die regering van daardie tyd se sogenaamde ‘Blou Boeke’ word Afrikaans verhef tot amptelike taal. Die Afrikaner herwin sy selfrespek met die tweede taalbeweging.
Self-normaal van die derde taalbeweging
Die derde taalbeweging gaan oor die soeke na normaliteit. Die leuse was ‘laat ons normaal wees in Suid-Afrika’. Die derde taalbeweging – en hieroor is daar nog nie eenstemmigheid[3] nie – handel oor aanvaarding in Afrika deur Afrika. Regter Johan Froneman[4] het dit ’n paar jaar gelede by name genoem in ’n minderheidsuitspraak in die appèl saak teen Afriforum se saak oor Kovsies se taalbeleid.
Om self normaal te wees en as normaal aanvaar te word – dit het die derde Afrikaner egter nog nie bereik nie. Die derde taalbeweging se presiese tydperk is newelagtig. Dis ontvang kort na Van Wyk Louw se Die Pluimsaad waai ver en die Sestigers, en is gebore in die Sewentigs en êrens tussen die ligte luisterliedjies van Koos Du Plessis se Kinders van die Wind, Carike Keuzenkamp se Dis ’n land van kleure en klank en Anton Goosen se eie musiekfabriek, speel die derde taalbeweging kunstig af. Dit is getoë met Johannes Kerkorrel se Halala Afrika en dit kulmineer in die fenomeen van Bok van Blerk se De la Rey, De la Rey.
Kinders van die windstilte
En toe kom daar ’n windstilte. Die kinders van die windstilte begin verlang na wat beter was in die verlede. Toe die Afrika-normalisering blywend uitbly en wegbly, verskyn daar ’n minlike nostalgie: die Afrikaner soek sy siel in die vreemde stad en vind dit heel normaal om in die Bosveld vuur te staar met die bloedbroers bymekaar. Al hoewel die derde Afrikaner as gemeenskap baie van sy balans herwin het, sukkel die post-apartheid Afrikaner steeds om tot verhaal te kom. Die derde taalbeweging was ongelukkig saam met die vierde epog nie geslaagd nie. Om normaal te leef in Afrika – en om aanvaarbaar te wees vir Afrika – is nie bereik nie.
Self-normaal in Afrika
Die normaliteit waarna die derde Afrikaner smag het uitgebly. Die normale selfaanvaarding in Afrika bly ontwykend. Trouens die verwarring tussen normaal en abnormaal het ’n wesenskenmerk geword van die derde taalbeweging. Die normale aanvaarding deur Afrika wat uitbly begin gevaarlike rooi ligte laat flikker. Daarom as ons vra: ‘wat beteken die nuwe normaal vir die derde Afrikaner’ kan ons dit nie doen sonder om óók te vra: wat was abnormaal aan die vorige tydperk nie?
Wat beteken dit om normaal te wees in Afrika?
- As ons skryf soos ons praat, soos ons in die eerste taalbeweging geleer het
- as ons ons selfrespek herwin het deur amptelike erkenning, soos ons in die tweede taalbeweging geleer het, hoe gaan ons normaal wees in Afrika, nadat die derde taalbeweging normaal en abnormaal omgeruil het?
Die derde Afrikaner se derde taalbeweging was nie geslaagd nie. Ons moet nugter hieroor wees. Die post-apartheid Afrikaner ervaar nie die normaliteit waarna hy soek nie. Inteendeel, sy vervreemding word akuut. Nou is die vraag: gaan ons dieselfde foute herhaal, en dieselfde onbevredigende resultate hersirkuleer? Dieselfde ou abnormale woorde weer herrangskik en ons verbeel ons word vry? Die derde Afrikaner wil tuis wees in Afrika, ons wil erken en aanvaar word, ons wil normaal, gewoon leef in Afrika omdat ons weet dat ons uit dié grond is, al sê ’n Blade Nzimande ons praat nie ’n inheemse taal nie. Ons is grond, maar ons is nie stof nie, en ons wil nie tot stof terugkeer nie. Ons wil in Afrika leef, ons wil nie deur Afrika vergaan nie.
Ons weet ons is van hier, van Afrika – maar waarom voel ons dan so vreemd? Waarom staar ons die wreedheid van verjaging in die oë? Ons weet ons is van daar, van Europa – maar waarom voel ons so vreemd daar as ons tongtaal opdroog anderkant die see in een emigrantegeslag se tyd? Ons weet dat ons nie net uit die aarde is nie, maar ook van die hemel, maar waarom voel ons gespanne skuldig om in Afrikaans te preek en te aanbid, asof ’n Afrikaanse erediens teen die naasteliefde is? Dit terwyl die eerste ding wat God die Heilige Gees regmaak met sy uitstorting juis tale is volgens Handelinge 2: “En hoe hoor ons hulle in ons die taal oor die groot dade van God praat?”.
Kan ons normaal oor die groot dade van God praat? Sy reddingswerk en sy skeppingswerk – ook in Afrika in Afrikaans. Hoe sal ons uitvind wat dit beteken om normaal te leef in Afrika?
Ek bepleit ’n vierde taalbeweging tot ’n vyfde epog naamlik normale gemeenskap selfstandigheid. Om dapper die konsekwensies van hierdie normaliteit te aanvaar. Die Vierde Taalbeweging moet die brug bou na ons nuwe toekoms, as ons as gemeenskap vry en selfstandig wil wees.
Afsluiting – Insluiting – Oopsluiting.
Die brug het drie dele. Afsluiting. Insluiting. Oopsluiting.
Die eerste tree van die brug is ’n afsluitingsfase. Ons moet nie net die mislukking en skande van apartheid verreken nie. Ons moet ook die dapper selfondersoek doen met die vraag: watter skade het apartheid in ons koppe aangerig? Watter ‘wit’-taal het apartheid ons leer praat, het ons nie dalk abnormaliteit begin sien juis as normaal nie? Ons moet tot ’n afsluiting kom van ons eie abnormaliteit.
’n Paar voorbeelde waar die abnormale as normaal beskou word:
- Die laaste drie nommers van my Suid-Afrikaanse ID-boek is hoogs abnormaal. Gekodeer het dit van my ’n blanke gemaak. So baie van ons mense maak nog die denkfout om te dink en te praat asof ‘blank/witmens’ en Afrikaner sinoniem is. Dit is nie. Blank is abnormaal om jouself mee aan te dui. Trouens dis ’n geforseerde identiteit bo-op jou afgedruk deur die Engelse ‘empire’. Blank is nie ’n taal nie. Blank het nie ’n taalbeweging nie. Blank sal my nooit normaal laat voel nie. ‘Afrikaanse witmense’ het abnormale Suid-Afrikaanse ID’s. Dis dalk tyd vir ’n nuwe kulturele ID. Dis dalk die nuwe normaal. Nuwe denke oor kulturele burgerskap, ook gedokumenteerd.
- Dis abnormaal dat ons nie lui is nie, en tog nie al ons werk self doen nie. Die res van die wêreld dink dis heel normaal om hulle eie plekke, hulle strate en huise en kantore en badkamers skoon te maak. Dis abnormaal dat Afrikaanse studente sonder ’n eie inkomste ‘bediendes’ kan bekostig om vir hulle skoon te maak. Ons probleem in Afrika is nie ons wit vel nie, dis ons idee van handlanger hande.
- Dis abnormaal om grense wat nie gemeenskapgrense is nie, as denkgrens vir jou verbeelding in te stel. Die derde Afrikaner lei aan kulturele vertigo, ’n kulturele duiseligheid, ’n lighoofdigheid. Dis abnormaal om grense wat Engelse soldate met Lee-Metford gewere getrek het, jou eie grense te maak. Suid-Afrika is ’n geografiese term, maar is dit regtig nog ‘ons land’? Dis abnormaal – en met al die nodige kulturele empatie – om saam met Steve-hulle te sing: “die land behoort aan jou”. Dis abnormaal om dit so te dink en te sing, te verlang en te wens. Dit verhoog die kulturele depressie en kweek ’n geslag kinders wat werklikheidvreemd leef. Dit is ’n gevaarlike wanbalans tussen ruimte en plek. Ons dink die hele RSA-ruimte waarin ons betrek is, is ons plek.
Verwoord verbeelding
Hoe kan ons ons verbeelding so ver bring om gemeenskap selfstandigheid te bewoord en te ver-Woord. Daarvoor moet ons weet wat God se ver-Beelding vir ons ook as gemeenskap inhou. Hy het sy idee oor ons ge-Beeld-send. Hy het sy Beeld, sy Seun gestuur. Jesus Christus is die Beeld van die onsigbare God. God wys ons wat Hy sê. God verwoord sy ver-Beelding. Die aanvaarding daarvan maak ons normaal. Want ons meet normaal nie aan onsself nie, nie aan ander of die wêreld nie, maar aan wat God dink oor my en jou en alle mense.
Verbeel jou wat God jou belowe – ook as gemeenskap wat self wil staan, voor God en mekaar en ander. Verbeeld jou God se Beeld in jou, en sê dít en sing dít. Dít sal die windstilte verbreek en die windpomp weer laat draai. Die vierde taalbeweging kan die droogte breek. Dit kan die water wees wat die vyfde epog se boom hoog sal laat groei. ‘n Vry, selfstandige, stedelike gemeenskap – normaal in Afrika.
Insluiting
Na die afsluiting, moet ons weer nuut plek maak vir mekaar. Ons moet mekaar insluit by ’n nuwe afspraak. Afgespreekte woorde oor waarheen ons gaan en waarheen ons mag gaan. Hoe ons mag wees en hoekom. Ons moet akkoord gaan. Saam staan, saam stem oor dieselfde bindende idee oor gemeenskap. Ons moet saam ’n nuwe kulturele Afrikanerakkoord skep waarbinne jy normaal kan wees. Onttrek aan die Freedom Charter, en bind aan ’n eie gemeenskaplike gemeenskapakkoord. Hierdie deel van die normalisering is krities belangrik en dit verg nuwe woorde. Nuwe woorde wat die toekoms ontsluit.
Oopsluit
Die derde Afrikaner kan vir die vierde keer Afrikaans praat, lewendig normaal. Bind jouself en jou mense aan die beloftes van God. Beweeg en bou ’n selfstandige gemeenskap. Beweeg met jou taal wat jou verbeelding wys, bou op die beloftes. Die eienaarskap van die vierde taalbeweging opneem behoort deur die jong leierskap opgeneem te word. ’n Vryheidsin en -idee kort ook nuwe woorde. Ou abnormale woorde sal die ding nie meer doen nie. Ons kan nie net bly hunker na ’n tyd met die mooi ou woorde toe ons ook eens helde was nie. Bokkie by die plaasdam se wal onder die ou Karoonag se sterre. Ons kan nie post-apartheid deurbreek en wegwerk net met nostalgie nie. Die derde taalbeweging hou ons gevange en vas in die nostalgie van die ver-plaas-de verlede.
Ons hét in die veld leer praat. Dis wie ons is. Ons hét op die plaas onder sterre kom bly. Dis waar ons siel tuis is. Ons is in die stad gesmyt. En ons wil met hart en siel daaruit – al weet ons voor ons heilige siel dit kan nooit meer nie. Ons sal nooit nie meer in die stede bly nie. En dis ons krisis – dis hier waar ons nuwe woorde kort.
Ons vryheidsideaal van gemeenskap selfstandigheid kan logies nie sonder dorpe en stede nie. Ankerdorpe en dalk ’n stad waar die demografie Afrikaans praat en Afrikaans stem. Maar ons woorde is tans te min, dis tans te dun, dis te nostalgies om dié hoë en heilige ideaal te dra. Om vry te wees om in God te glo, om vry te wees om in Afrikaans te bid, om vry te wees dat jong tonge die werklikheid ver-taal tot God se groot verhaal met enkelinge en met groepe en gemeenskappe, om so met die mensdom my mensheid te deel – dit is om die belofte te wil beleef.
Moenie wag dat die wolke terugkom na die reën nie. Praat nou. Maak jou siel oop. Sê wie jy in Christus is en kan wees, en Goddank – deur sy Heilige Gees wat inwoon – mag en moet wees. Praat, kom in beweging met jou vierde taal. Die Afrikaner se Christelike republikeinse vryheidsideaal het ’n nuwe Vierde Taalbeweging nodig. Bedink dit, beplan dit, doen dit, dit is Die Beiteltjie wat juis nou nuwe grondwoorde moet oopbreek, wat onder die Suiderkruis ’n melkweg tot in die hemel deur laat streep. Dit is nie ’n kunstige luukse nie, dit is in genade jou hemelse geboortereg. Verbeeld jou gesamentlike reg, die belofte as gemeenskap.
Soek en skep nuwe woorde. Bewoord jou verbeelding. Stel weer woordelyste op as jy vakmanne en IT spesialiste oplei. Sorg dat Afrikaans ’n hoë orde akademiese taal bly en as sulks gedy. Sorg dat jy in Afrikaans bly regspreek en jou regspraak. Lei jou kinders met ’n werkbare gemeenskaplike eksodus uit die onafwendbare openbare Engelse skoolonderwys. Beskerm jouself burgerlik ook deur jou kulturele identiteit te ken en te heilig. Die taaltaak van die Vierde Taalbeweging is steeds ‘n broodsaak.
Doen dit alles. Maar meer nog. Leer weer begeer. Sê wat jy deur die vensters van jou siel alles kan sien, want taal is nie net kommunikasie nie, maar openbaring. Sê wat jy in geloof sien. Verbeel jou ’n toekoms, omdat jy glo, omdat jy vertrou en bou daar bo-op. In Afrika. Vir Afrika. As Afrika.
Leer om te begeer: Jou eie gemeenskap se selfstandigheid, in dorp en stad. Verbeel jou, en begeer wat jou ook belowe is. Leef nuut in Afrika vanuit God se bindende beloftes wat geslagte en tonge aan mekaar ryg soos pêrels in ’n string.
Skep nuwe woorde in jou kop en sit dit op jou tong en skryf dit met jou hand. Verfilm dit en kurrikuleer dit. Dit sal jou nuwe oorde wys, nuwe blyplekke aantoon. Dit sal die wolkige waas, die wanbalans tussen ruimte en plek op laat klaar.
Nuwe akkoorde
Die nuwe woorde sál ook nuwe akkoorde meebring. Nuwe akkoorde met twee betekenisse.
Nuwe sangstrofes, nuwe verwoording van die werklikheid van saamwees in Afrika. Word – in Godsnaam – tog lief vir jou verbeelde stad. En bou so ’n stad, so ’n samelewing. Afrikaans het ’n stad nodig. ’n Nuwe stad, ’n nuwe samelewing.
En ’n samelewing in gemeenskap is ook ’n akkoord. Dit is om saam te stem, om in te stem met waarheid en reg en goed. Burger jouself selfstandig in jou gemeenskap in. Skep ’n gesamentlike akkoord, ’n nuwe ooreenkoms, los en vry van die Freedom Charter se angels, vry van ’94 se eiland ballingskap, ’n nuwe kulturele akkoord anderkant die Suid-Afrikanistiese sosiale kontrak in al sy mutasies, anderkant die woestyn van opgedroogde ou woorde van die Derde Taalbeweging se poging om ten alle koste abnormaal, dodelik omhels te wees: die doodsdruk van die luislang se listige liefde.
Wees tog vir ’n slag net normaal in Afrika. Praat normaal Afrikaans. Aanvaar dat jy mag lewe, en nie gedoem is om maar net in Afrika te oorlewe nie. Gee die alewige boetedoening van skuldgevoel af. Christus het betaal. Dit geld ook vir kulture en heiliging van kulture.
’n Idee, ook ’n heilige idee, die Christelik federatief-idee van vry wees in Afrika, het woorde nodig om dit te dra. Nuwe woorde, met nuwe akkoorde, sal ons bring ook na nuwe oorde. Sê ’n vierde keer wat jy glo. Leef in Afrika normaal. Doen dit deur te begeer en te verbeel wat jou beloof is.
Dr. Wikus Buys
Begrond Instituut
Bibliografie
Boshoff, C. 2014. N.P. van Wyk Louw en die derde Afrikaner. Pretoria. FAK.
Buys, F. 2015. Durf ons dit waag om ‘n vyfde waagstuk te waag? BST, (1):1-9.
Carstens, W. 2018. Gaan ons uiteindelik ‘n/die Derde Afrikaanse Taalbeweging beleef? LitNet, Seminare en essays.
Degenaar, J.J. 2008. Multikulturalisme: Hoe kan die menslike wêreld sy verskille uitleef? (In: Van der Merwe, W.L. & Duvenage, P. (reds). Die tweede refleksie: ‘n keur uit die denke van Johan Degenaar. Stellenbosch. Stellenbosch University Press.
De Klerk, P. Die oorsprong van die Afrikaanse republikeinse tradisie: ‘n historiografiese verkenning. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 45(2):218-231.
De Villiers, A.J.D. 1936. Die Hollandse Taalbeweging in Suid-Afrika. Stellenbosch Universiteit, http://scholar.sun.ac.za
Du Toit, S.J. 1880. Geskiedenis van die Afrikaanse Taalbeweging ver vrind en vyand – uit publieke en private bronne bewerk deur ‘n lid van die Genootskap van Regte Afrikaners, Stefanus Jacobus du Toit. Paarl.
Du Toit, S.J. 1909. Geskidenis fan di Afrikaanse Taalbeweging, 2e druk. Paarl Drukpers Maarschappij.
Froneman, J. 2018. Karikatuur van die Afrikaner. Rapport 7 Januarie 2018.
Giliomee, H. 2003. The Afrikaners: Biography of a People. London. Hurst & Company.
Goosen, D. 2015. Oor gemeenskap en plek: Anderkant die onbehae. Pretoria. FAK.
Le Roux, J.H., Coetzee, P.W. & Marias, A.H. (reds) 1987. Generaal J.B.M. Hertzog: sy strewe en stryd, vol. 1. Perskor. Johannesburg.
Meyer, G.J. 1953. Die betekenis van die Huisgenoot as maandblad, 1916-1923, in die Tweede Afrikaanse Taalbeweging. M.A. Universiteit van Kaapstad.
Nienaber, G.S. & Nienaber, P.J. 1941. Die geskiedenis van die Afrikaanse Beweging. J.L. Van Schaik Bpk. Pretoria.
Patterson, S. 2004. The last trek: a study of the Boer people and the Afrikaner nation. Vol. 20. Psychology Press.
Raath, A.W.G. & De Freitas, S.A. 2001. Theologico-political federalism: the office of magistry and the legacy of Heinrich Bullingrer (1504-1575). Westminster Theological Journal, 63:285-304.
Spies, F.J. du T., Krüger, D.W. & Oberholster, J.J. (reds) 1977. Die Hertzogtoesprake, Deel 1. Perskor. Johanneburg.
Steyn, J.C. 2014. Ons ‘gaan ‘n taal maak’: Afrikaans sedert die Patriot-jare. Kraal. Pretoria.
Steyn, J.C. 2016. N.P. van Wyk Louw se opvattings oor taalbewegings en die behoud van Afrikaans. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 56(2-1):335-354.
Steyn, J.C. 2018. Politieke strategieë van aktiviste vir die amptelike erkenning van Afrikaans. Literator, 39(2):1-10.
Van Niekerk, L. 1916. De eerste Afrikaansche taalbeweging en zijne letterkundige voortbrengselen. Swets & Zeitlinger. Amsterdam.
Van Jaarsveld, F.A. 1985. Verstedeliking in Suid-Afrika. Pretoria. Universiteit van Pretoria.
Van Wyk Louw, N.P. 1938. Die ewige trek. (In: Louw, T. 1986. N.P. Van Wyk Louw, Versamelde Prosa I. Kaapstad. Tafelberg.
[1] Vgl. Boshoff (2014), Giliomee (2003), Van Jaarsveld (1985).
[2] Van Wyk Louw identifiseer drie tydperke in die Afrikaer se leeftyd: “Buiten die tyd waarin ons self lewe, het ons drie sulke groot keerpunte in ons geskiedenis gehad: Die Groot Trek, die Tweede Vryheidsoorlog en teen die begin van die 20ste eeu, die keuse om Afrikaans in die plek van Nederlands as skryf en kultuurtaal te aanvaar.” Van Wyk Louw, (1938). Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging vul die lys met twee aan: “Hierna is ’n vierde en onsuksesvolle waagstuk aangepak, naamlik die poging om die rasseprobleem op te los deur Apartheid en Afsonderlike Ontwikkeling.” Buys, (2015:3). “… ’n Vyfde waagstuk: Afrikaner selfstandigheid.” Buys, (2015:4).
[3] Carstens spreek in 2018 die versugting uit dat die Derde Taalbeweging nog moet aanbreek.
[4] “Die toekoms van Afrikaans lê in die hande van ’n jonger geslag wat Afrikaans praat. Of daar ooit ’n Derde Taalbeweging sal wees, hierdie keer vir ’n inklusiewe Afrikaans ontdaan van rasse- en ander vooroordele, sal slegs die tyd leer.” Minderheidsuitspraak in die saak waarin Afriforum verlof tot appèl geweier is in ’n poging om die Universiteit van die Vrystaat se Engels-enkelmedium taalbeleid te betwis. ’n Deel van die uitspraak is in Afrikaans gelewer. Regter Edwin Cameron en Cynthia Pretorius het die meerderheidsuitspraak gesteun. Rapport 7 Januarie 2018.