‘n Kwartiertjie by Petrus

n Kwartiertjie by Petrus

‘n Dialoog in ligte luim deur NP van Wyk Louw, wat in Die Huisgenoot van 17 April 1953 verskyn het en later in die opstelbundel Weegskaal (1982) opgeneem is. Die moontlike toespelings op bekende karakters – en op die skrywer self – laat ons aan die verbeelding oor …

‘n Goeie stil ou Oom wat ek geken het – iemand wat al dood is en vir wie ek baie lief was – het so graag ‘n gesprek afsgesluit met een of ander verhaaltjie van “Petrus by die hemelpoort.” Nou agterna lyk dit vir my asof hy die nadink van ‘n hele lewe in hierdie storietjie probeer uitdruk het.

Spot was dit nie – hy self was ouderling en swygsaam vroom. Maar daar was iets in sy geaardheid wat gekeer het dat hy ooit ‘n medemens regstreeks beoordeel. Dus, wanneer daar iemand in sy teenwoordigheid bespreek is, en hy self uiteindelik ‘n mening moet laat hoor, het hy so dikwels begin met: “Ek onthou nog oorlede Pa het vertel hoe daar op ‘n dag ‘n wetsagent by Petrus aangekom het …” (Ander kere was dit “‘n skaapkoper”, “‘n gierigaard”, “‘n oujongkêrel”, “‘n togryer”, “‘n dammaker”, “‘n man met ‘n boormasjien”, “‘n ryk boer”, “‘n parlementslid” … telkens ‘n karakter uit die hele wêreldjie van die distrik.)

So ryk was ou Oom Mias aan Petrus-verhale, dat ek al begin voel het dat hy hulle self moet uitdink. So’t dit gekom dat ek op ‘n dag – juis die dag toe die baas van die boormasjien by Petrus deurgeloop het – vra: “Maar Oom, in die dae van Oom se pa was hier by ons mos nog nie boormasjiene nie?” Hy’t my met ‘n glimlag in sy oë ‘n oomblik aangekyk – hy het gesien dat ek sy geheim agtergekom het; toe sê hy: “Jong, moet jy nog spot met ‘n oumens se onthou?”

Ek het begryp. Dit was vir hom ‘n soort boerekuns, hierdie verhaaltjies; iets soos die snywerk aan ‘n haak- of kuierkierie: jy kry dit van jou vader, maar jy doen dit later self, en effens op jou eie manier.

‘n Geleerde sou waarskynlik sê: Die verhale van die mens oor Petrus, was Oom Mias se manier om mense en hul doening sub quadam aeternitatis specie te laat sien: te bekyk teen die agtergrond van die ewigheid. Sy geloof sou hom nie toegelaat het om die oordeel oor ‘n mens voor die Hoogste Gerig self te bring nie – dit was ‘n verborgenheid. Maar Petrus was vir hom maar ook ‘n mens, al hou hy nou die “dik boek”. En Oom Mias het die menslikheid van Petrus nog benadruk – “selfs hierdie oordeel nog gerelativeer”, sou ons geleerde sê – deur meer as een maal die verhaaltjie te laat volg van die ou sondaar – “net soos ons almal is” –wat met ‘n hoenderhaan onder sy jas by die “poort” aangekom het, en dit telkens ‘n bietjie laat “kroek” het as Petrus te kwaai uitvra.

Vir ou Oom Mias sou ek hierdie stukkie wou geskrywe het as hy nog in die lewe was. Hy sou dit goed verstaan het – al sou hy my met die regte teks gekapittel het waar ek by die “poort” nog van geld laat praat. En ek sou geantwoord het: “Dis darem nog vóór die poort, Oom.”

TONEEL:  Voor die “Poort”. Swaar weer rond-en-om. Net buitekant is Petrus se kantoor. Hy sit by die loket, baie besig: tel op en trek af. Daar kom gedurig opgeskote engeltjies rapporte bring. Agter hom is sy hokkie vol grootboeke in rye, alfabeties. ‘n MAN kom bokant uit die wolke te voorskyn.

PETRUS:  (kyk op) Ja, meneer?

MAN:  (vol selfvertroue) Hoe lyk dit, Oubaas, kan ek maar binnestap?

PETRUS:  Wat is u naam, meneer?

MAN:  Gewoneman, meneer Gewoneman.

PETRUS:  En die voornaam?

MAN:  Petrus. Petrus Gewoneman. Nie onbekend nie, glo ek.

PETRUS:  (vir sy assistent) Gee uit die rak bietjie die boek met die G’s … die G-ee’s … hier. (Hy merk dat die engeltjie soek.) Toe dan Engelmannetjie … daar tussen Ghandi en Gomtrommel … Nee! Ná Gaipe! Die G-ee’s, sê ek. (Hy kry die boek. Blaai en soek.) Meneer sê Petrus Gewoneman … ?

MAN:  (‘n bietjie bedees al) Ja, Heilige …

PETRUS:  Wat was jou werk, dáár?

MAN:  (weer met meer selfvertroue) Ek was digter, Heilige!

PETRUS:  (ingedagte; hy blaai nog rond) Hoe sê meneer?

MAN:  (harder) Ek was digter!

PETRUS:  (soos tevore) Digter as wat?

MAN:  Ekskuus. Ek het gedigte geskrywe, Heilige.

PETRUS:  Jy bedoel … versies … resitasies?

MAN:  (bedees) Ja, Heilige.

PETRUS:  (blaai heen en weer, soek) Ja, ja, ja … Petrus Gewoneman … Abraham … Bernardus … Caius … Damianus … Ethelbert … Het meneer nog ‘n naam miskien?

MAN:  Ja. Petrus Johannes Gewoneman.

PETRUS:  A. Dis beter. (Blaai.) Petrus Abraham … Petrus Casparus … Ja! Petrus Johannes Gewoneman.

Ekskuus. Weet jy, daar is so baie van julle.

En jy sê: Petrus Johannes Gewoneman, resitasieskrywer … ? (Hy skryf stadig by: “of digter”.) Goed. En wat het jy eintlik gedoen?

MAN:  (verbaas) Ek het mos gesê: gedigte geskrywe … (aarselend) … resitasies … Kuns, Heilige.

PETRUS:  O. Wag, dis eintlik Lukas se departement, die skrywery. Hy was mos een van julle, geleerdes. Hy tel die telefoon op.) Lukas? ja … dis die Poort wat hier praat. Ken julle daar ene Petrus Johannes Gewoneman? (Luister.) Gewoneman, sê ek! … ja … Petrus … soos my eie naam … ja … en Johannes … Nee! Nie Johachim nie! Johannes … Jo en Han en Nes. Ja, met die berghaan, onthou jy? … Reg … Nou, die outjie hier sê hy het vir julle departement resitasies geskrywe. (Luister.) Ag so? Was dit goed? Wat! … “heeltemaal goed”? … Pragtig. Nou, hoeveel kry hy dan van julle? Mooi! Dit lyk my dit sal gaan. Goed, tot siens dan. (Sit die telefoon neer; vir Gewoneman opgeruimd.) Baie mooi. Raai, vir jou versies reken hulle by Lukas tien sjielings krediet! Hulle sê: “sommer heeletmaal goed!”

MAN:  (Verontwaardig) Tien sjielings! Vir ‘n lewe se arbeid!

PETRUS:  Wat sê meneer?

MAN:  Ek sê: is dit my loon vir ‘n lewensarbeid?

PETRUS:  (effens hulpeloos) Maar meneer moet ook nou ‘n bitjie redelik wees! Wat kan Lukas hiér daarmee aanvang? … Dis eintlik ‘n soort … troosprys wat hy uitdeel.

MAN:  Maar tien sjielings!

PETRUS:  (goedig) Jy kan nog van geluk praat. Party kry net sikspens vir resitasies … vir die ywer en harde werk. En van party word glad afgetrek!

MAN:  (effens getroos) Ek ken julle pryse nie. (Skielik agterdogtig.) Wat het Celliers gekry?

PETRUS:  (streng) Ons bespreek nie hier ander mense se rekenings nie, meneer!

En wat het jy verder gedoen?

MAN:  (aarselend) Nou ja, geskrywe …

PETRUS:  Wat geskrywe?

MAN:  … ja … oor versies.

PETRUS:  (verbaas) Oor versies! Ek moet jou waarsku: daarvoor trek ons weer die helfte af, meneer! Vyf sjielings. Dit laat dan vyf sjielings oor. En verder, wat?

MAN:  (dink na) … ek het lesings gehou …

PETRUS:  Vir jou brood? Daarvoor gee ons agt sjielings – dit val onder “klein beproewings, dapper gedra”. Dit kom dan op dertien te staan

Maar: het jy gehou van lesings gee?

MAN:  Ja.

PETRUS:  Daarvoor weer vyf af. Dit val onder “daaglikse sondes”. Dus agt bly oor. En waaroor het jy lesings gegee?

MAN:  (skamerig) … oor versies …

PETRUS:  Aai tog, aai tog! Drie sjielings na die maan. Dit is vir “verstoktheid in verband met resitasies” … “Gedigte”, verstaan? …

En vir wie se voordeel het jy hierdie werk gedoen?

MAN:  Netr vir my volk!

PETRUS:  ‘n Sjieling af. Dit is vir “kleiner vorms van selfbedrog”. Wag, kom ons reken nou. Daar bly dan vier sjielings oor.

(Vertroulik) Weet jy: verlede geslag het daar een van julle, ene Niklaas Piet Gewoneman hier probeer inkom met dié praatjie oor alles vir die volk doen. En wil jy glo wat hy daarvoor wou laat bereken? Tien sjielings! Bid jou aan. Wanneer dit regtig iets goeds vir die volk is, dan reken ons hoogstens ‘n halfkroon daarvoor. En sikspens vir die goeie wil. Terloops … ken jy hom? Is julle dalk familie?

MAN:  (versekerd) Nee, Heilige.

PETRUS:  Nou … ek sê jou maar net: hy wou hier binnekom. En nou … behalwe al dié van die versies … het jy niks anders  – aan die goeierige kant – gedoen nie?

MAN:  (dink swaar) Dit wil my nie nou so mooi byval nie.

PETRUS:  (blaai) Hier in my boek het ek niks besonders oor jou nie … ‘n beriggie … ‘n rapportjie … nee, dit lyk my nie …

Toe maar, kom ons hoor van hóm. Dalk kom dit nog reg. (Vir assistent.) Hoe staan dit met sy skuld?

ASSISTENT: (tel nog ‘n slag op) Drie sjielings en twee pennies.

PETRUS: Mooi! Hy het vier hier! Gelukkig maar dat die versies jou so besig gehou het dat jy nie meer as drie en twee se skuld gemaak het nie! Saldo dus: tien oulap kontant. (Opgeruimd.) Dis byna die prys van ‘n plekkie hier by die deur, meneer. Al kos dié ‘n sjieling, jy kan maar gaan sit!

MAN: (opgewonde) By die deur? Hier agter! En jy wat net ‘n visser was! Die geleerdes sê jy kon nie eers skrywe nie!

PETRUS: (rustig) Ek het gnoeg geleer vir my werk.

MAN: (woedend) Die hoenderhaan! Die hoenderhaan!

PETRUS: Vadertjie, engele, maar sit hom dan ‘n slag op sy plek neer! (Die MAN word in ‘n warreling van wolkies en vlerkveertjies binnegedruk.)

PETRUS:  (vee sy voorkop af) Soe, dis altyd so ‘n gedoente met die spul wat boeke skrywe. En hulle krap altyd aan ‘n mens se karakter. Maar aai, dat ek weer so ‘n woord moes gebruik! (Hy haal ‘n sikspens uit sy sak en gooi dit in die stafbussie in.) Nou ja, ek was vroeër ongeduldiger. En Malgus se oor het my baie meer gekos.

Leave a Reply

Your email address will not be published.