My droom en die Louwhuis in Sutherland

My droom en die Louwhuis in Sutherland

– Uit ‘n NGK nuusbrief –

Die glas is deurskynend in my hand
tienduisend myl lê Sitterland
‘n silwer herberg in die sneeu
die Here weet hoe beef die hand

(NP van Wyk Louw in Amsterdam, rondom 1954)

Dit was ‘n lang droom om eendag die Louwhuis & Museum in Sutherland te besoek. Ons kom toe vir ‘n naweek hierheen om die droom te verwesenlik. Hier aangekom is daar ‘n nota aan die deur. Die huis is gesluit. Van Wyk Louw se Raka het die huis gevandaliseer. Daar begin my soektog om die huis se sleutels in die hande te kry. Sonder sukses moes ek terugkeer Kaap toe. (Maar nie heeltemal nie! Daardie naweek stap ons verby ‘n mooi, maar verwaarloosde kliphuis in die hoofstraat, en maak ons onbepland ‘n aanbod op die ou Khoi-Khoi Gastehuis. ‘n Baken in die hoofstraat oorkant die historiese kerk- en kerksaal. Die groot kliphuis se nuwe naam is nou Jakkalsdou, uit ‘n gedig van NP van Wyk Louw se Klipwerk wat soos Roggeveld se klipstapels staan. Die kleiner een daarnaas is Vaalvalk, die titel van een van WEG Louw se gedigte.

Tannie Rykie Louw, die afgetrede bestuurder van die Louwhuis, staan my by en laat weet die sleutels is opgespoor. Ek gaan sluit die hek en deure oop… Daardie aand skryf ek in my dagboek:

19.02.21

Louwhuis Museum

Ek en my kamera het vanoggend alleen ‘n heiligheid betree. Ek het sleutels van die Louwhuis na maande se moeite gekry en moes ek eers deur stof en jare se verwaarlosing waad. Die binneluike het ek begin oopmaak om lig in te laat. Voor my lê die lewens van die Louws in gebreekte vase, verflenterde dokukmente en geskrifte, verwaarloosde meubels, en rommel in stof op die plankvloere. ‘n Groot gat is deur die solderplafon gebreek, waar die vandale  ingekom het, wat lig op stugge portrette, plastiek skoolstoele en ‘n ou fiets laat val. Ook op boeke wat rondlê en verkrummel. In ‘n hoek staan ou bokse vol dokumente. Vergeel en verdun deur tyd.

Ek vlug na buite om tot verhaal te kom en kyk hoe my drie tuinwerkers die werf skoffel en hark waar nou net rolbos en duwweltjies groei. In die lente is daar glo tulpe ook… Onder die groot armoedige tamariskbome by die graf van WEG Louw en Rosa Nepgen kom ek tot verhaal. Ek gesels met Saulus wie se ouma Kaaitjie Majiet was, vroedvrou en oppasser van die Louwkinders. Baas van die werf en huis. Almal moes aan háár rapporteer. Alleenlik sy het aan Vader Molkte Louw gerapporteer.

Ek vra Saulus uit oor sy ma en ouma. Hy weet niks, net dat hulle vir die Louws gewerk het en dat hulle van ook Louw is. Hulle is geheimsinnig, sê hy. ” Want ek dink my  oupa was’n koelie. Hy het sikke lang hare gedra.”

Terug in die huis begin ek sonder plan met my kamera te dokumenteer. Gedigte. Programme. Boeke. Stoele. ‘n Ou traporrel. Soms net n leë muur. Lewens. Verhale. Kamer tot kamer. Tot ‘n weemoed oor my kom oor die val van trots, eie waan, dit wat ons verloor het. Dit wat híér verloor is.

En tog, elke keer wanneer ek ‘n binneluik oopmaak of ‘n gordyn wegskuif val daar lig deur soos in ou Hollandse meesterskilderye op nóg ‘n boek, gedig of begrafnisbrief. Daar lê tesisse op ‘n stapel. Heel bo Gerrit Olivier s’n oor my geliefste bundel, Tristia. Ek blaas die stof af en lees hier en daar. Hy sluit die gedigte in die bundel oop. Op ’n vloer lê ’n Jean Welz skets van NPvWyk Louw, wat ek so goed uit hulle huis in Linden onthou. Maar nou asof dit weggegooi is. Dat die digter vergete is. ‘n Palimps.

Ek bevind my in die sfeer van die belangrikste digters en intellektuele in Afrikaans.

Ek weet hierdie huis moet weer oopgesluit word. Hier gaan weer lig skyn. Eergister het ek saam met buurman Eddie Marais, met sy kop vol kennis oor Sutherland en die Louw-familie, Kaatjie Majiet se kamer gaan oopsluit waar 5 ton Louw-dokumente op hope lê met jare se stof bedek. Ek steier.

My kop draai!

Maar hoe gemaak?  Ek is ‘n inkommer en is bang om op tone te trap. Ek begin my saak stel dat ek as skrywer, passievolle liefhebber van poësie en deel van DEKAT se senior-redaksie nie sonder rede ongevraagd hier op Sutherland aangekom het nie. Ek sien my lewe ook vol sinkronisasies en leef ek altyd in ‘n staat van serendipity. Dit is so beskik dat my lewe binne ‘n naweek so ingrypend verander het. Dat hier Divine Intervention is. Dat ‘n mantel op my skouers geval het om die Louwhuis te red en tot lewe te roep.

Ek het begin briewe skryf aan die Louw-familie. Die nuus het vinnig begin loop en kon ons die naweek van 21 Mei ‘n werkswinkel met belangstellendes hier in Jakkalsdou hou. Die opkoms was goed. Hier was onder andere WEG Louw se seun Paul en kleinseun Wilhelm. Prof Matilda Burden, van Kultuur-historiese faam, digter Daniel Hugo en prof Yves Tjoen van die Universiteit van Gent was hier om maar ‘n paar name te noem. Die vorige naweek was Japie Gouws, die voormalige besturende direkteur van die ATKV-groep, hier wat ‘n familielid is van Sir Henry Olivier vir wie daar ook ‘n kamer in die huis ingerig is.

Daar is ‘n tussentydse raad verkies wat hulle vir die volgende maand onder andere gaan toespits op die entiteit waaronder die Sutherland Museumraad moet funksioneer en wat die voordeligste vir monetêre skenkers gaan wees. Die vorige raad, wat almal bedank het, se notules en finansiële verslae moet deurgewerk word. Japie Gouws, ‘n geoktrooieerde rekenmeester, is al besig om voorleggings op te stel. Intussen sal die tussentydse raad ook begin met ‘n lys van prioriteite. Een daarvan sal wees om die R27 000 agterstallig skulde aan die munisipaliteit en Eskom te probeer laat afskryf. (Met die skrywe hiervan is 50% van die munisipale skulde al afgeskryf, maar ons het versoek om die totale bedrag af te skryf.); die windpomp moet reggemaak word sodat daar weer water in die dam en leivoor kan kom. Uit baie oorde het daar aanbiedinge van hulp gekom en het ek agtergekom dat die mense van Sutherland wil saamwerk en handevat.

Die Louwhuis en Museum moet weer die trots van die dorp word. My droom is dat ons ‘n skenker kan kry om die naburige eiendom, ‘n dubbel-semi Victoriaanse pragstuk vol van oom Eddie Marais se eie versamelings, as ‘n anneks aan te koop waar die volledige geskiedenis van die dorp en al sy mense kan tuisgaan. En dat die werf weer sal word soos wat NP van Wyk Louw in sy vers Beeld van ‘n jeug: Duif en perd beskryf:

Ons agterplaas die flikker van die son
en bo die staldeur pronk my rooi-bont duif;

Waar agter in die donker die swart hings
ruk aan sy ring, sy pote stamp en snuif.

Die helderte is oor my boek en in
my oë, die gruis is warm aan my skeen;
my duiwetrop lê wit en bruin en blou
soos lappies warm wasgoed om my heen.

Indien u betrokke wil raak of enigiets wil bydra, kontak my gerus by 083 388 8209 of by fluisterbos@gmail.com

Gerard Scholtz

(Tussentydse voorsitter)

1 thought on “My droom en die Louwhuis in Sutherland

  1. Jy en jou mede”stigters” is met GROOT werk besig! Kan nie wag om Sutherland en Jakkalsdou in die nuwe jaar te besoek nie. Doet so voort!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *