Boekbespreking: Culture Counts [3/7]

Boekbespreking: Culture Counts

Aflewering 3 van 7

Roger Scruton (2007/2021): Culture Counts, Faith and Feeling in a World Besieged. London: Encounter Books

Van die twee hoofstukke van Roger Scruton (1944–2020) se Culture Counts wat ons nou al behandel het, antwoord die eerste hoofstuk die vraag Wat is kultuur? met een woord: Oordeel. Die tweede hoofstuk lê die verband tussen ledigheid, geloofsuitdrukking en kultuur met die uitdruklike veronderstelling dat kultuur die produk van ongedwonge aktiwiteit is; dat dit byvoorbeeld met spel verband hou, of met die sewende dag waarop God die mens beveel het om van die sleur wat ons lewenseise meebring, te rus. In hierdie hoofstuk behandel hy die verband tussen kennis en gevoel.

Kennis en gevoel

Dit is ‘n diepgewortelde bygeloof van ons tyd dat onderwys oor die leerder gaan, dat die kind in die middelpunt daarvan staan en dat dit prikkelend en toepaslik moet wees. Met die stelling laat Scruton mens weer regop sit, want gaan dit nie in onderwys presies oor die kind wat geboei moet word terwyl hy/sy vir die lewe toegerus word nie? Nie in die eerste plek nie, voer Scruton aan, want in die eerste plek en in die groot verband van dinge is dit kennis wat in die sentrum staan en is elke toegewyde leermeester in die eerste plek op soek na talentvolle kandidate om die kennisskat van ons beskawing vir nog ‘n geslag in beskerming te neem.

Kennis is immers niks werd as niemand dit weet nie, boeke wat niemand gelees het nie, is niks nuttiger as die groot boek van die natuur as mens nie weet hoe om dit te ontsluit nie. Daarenteen is daar baie voorbeelde van oënskynlik ontoepaslike kennis wat die draers daarvan toegerus het om nuwe insigte te verwerf, of dinge te doen wat op die oog af onmoontlik sou lyk. “Die ontoepaslike studie van Grieks, Latyn en antieke geskiedenis het ‘n klein getal Britse graduandi in staat gestel om ‘n Ryk te regeer wat om die hele wêreld gestrek het,” voer hy byvoorbeeld aan.

Om dit beter te verstaan, gaan Scruton op twee soorte kennis in, om te weet dat en om te weet hoe. As ons op ‘n fisika handboek tik en sê: “Marie wéét wat hier aangaan!” dan bedoel ons sy weet wat die wette van fisika behels en wat om daarmee te maak. En as ek nie weet nie, kan ek altyd vir Marie vra – dis een rede om spesifieke kennis oor te dra aan diegene wat ‘n talent daarvoor het. Maar ons kan ook by die arena instap waar Marie besig is om met haar perd dresseeroefeninge te doen, en sê: “Kyk daar, sy weet darem wat sy doen!” Dan verwys ons na ‘n vaardigheid wat, as jy dit getrou genoeg sou nadoen, jou ook in staat kan stel om behoorlik perd te ry.

Beide teoretiese én praktiese kennis is dus belangrik en elkeen het sy plek, maar om te weet dat en te weet hoe help ons nog nie om onder sekere omstandighede te weet wat nie. Dit klink bietjie snaaks, maar mens kan weet watter fisiese kragte meebring dat ‘n fiets in beweging nie omval nie sonder om te kan fietsry, en jy kan fietsry sonder om die fisika daarvan te verstaan – die dat en die hoe – maar dit help jou nog nie om te weet wat jy nou moet doen as jy van jou eggenoot se begrafnis af by die huis terugkom en op die rusbank neersak nie. Dít is ‘n ander en eiesoortige vraag waarvoor nóg teoretiese, nóg praktiese kennis jou toerus; dit is die vraag hoe om te voel.

Daarmee betree ons die terrein van die deugde, van ‘n sin vir hoe om te voel en wat om te doen in die loop van die lewe. Dit is nie ‘n eenvoudige vraag van kennis of van vaardigheid nie, hoewel dit ‘n kombinasie van kennis en vaardigheid behels. Dit gaan oor die toegang tot ‘n reserwe van voorbeelde en nadenke, van oordele en optrede wat in kultuur vervat is. Sedert die klassieke denke van byvoorbeeld Aristoteles word dit as ideaal gestel om nie net te weet wat om te doen en hoe om te voel nie, maar om geluk en vervulling te vind in die beoefening van die deugde in die regte verband met mekaar, van verstandigheid, dapperheid, matigheid en regverdigheid.

Maar hoe leer mens wat hiervoor nodig is? Hoe word mens in die deugde geskool? Deur verhale en voorbeelde en uitbeeldings en omgang met ander, veral met diegene wat oor die wysheid beskik wat net ervaring kan bied. Verbeeldingryke opvoeding, dus; morele opvoeding wat nie op leerstellinge nie, maar op die betekenis van rituele, spreuke en verhale gebou word – dinge wat nie ooglopend nuttig of toepaslik is nie, maar wat die toets van die tyd deurstaan het en mense toerus vir wat hulle nie kan voorsien nie. Geloof en godsdiens rus mens daarvoor toe, maar ook kultuur en “estetiese opvoeding” soos daar in die vorige hoofstukke na verwys is.

Om saam te vat, kan ons aansluit by die siening van kultuur as ‘n bron van opgegaarde emosionele kennis waardeur ons die betekenis van die lewe leer verstaan as ‘n doel in sigself. Dit veronderstel “kennis van die hart” waarvan die kern simpatie is en dit kan oorgedra en uitgebou word. En waar godsdiens onder druk kom, kan kultuur dit nie vervang nie, maar moet te meer help verseker dat die wysheid van ons erfenis behoue bly.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *