Politieke toekomsplan vir Afrikaners binne Kaapland en groter Orania
Deur Wynand Boshoff
Inleiding: Die begin of die einde?
Dalk is die Derde Afrikaner tans besig om vorm aan te neem – of dalk is die huidige oplewing in die Afrikaanse kultuurlewe die swanesang van iets wat eens groot was. Watter een dit sal wees, kan grootliks afhang van wat die politieke toekomsplan is en of dit gaan werk.
In vandag se tyd moet mens vergeet van enige soort minderheidsoorheersing. Die plan moet óf wees oor hoe om die meerderheid te word, óf oor hoe om sonder politieke mag lewenskragtig te bly. Dalk is dit bietjie van al twee.
Politieke mag in ’n paar maklike stappe: Kan dit?
In ’n denkeksperiment is dit maklik om politieke mag te kry:
Jy identifiseer ’n gebied (as dit reeds afgebaken is soveel beter) waar jy die meeste kan wees en dan woon en stem jy daar (as jy reeds daar woon nóg beter). As die gebied reeds afgebaken is en jy is reeds die meerderheid, moet jy nog net self kies om politieke mag uit te oefen en erkenning daarvoor te kry.
Suksesvolle en onsuksesvolle pogings
Die Verenigde Koninkryk kon uit die Europese Unie tree. Daar is ’n duidelik afgebakende gebied en die meerderheid het daarvoor gestem – toe kry ons Brexit. Jammer nou vir die Skotte wat ook in die afgebakende gebied woon en daarteen was, hulle moet maar inval.
Van Skotland gepraat: Die vroeëre referendum oor Skotse onafhanklikheid kon nie ’n meerderheid kry nie. Die land is dus afgebaken en vol Skotte, maar te min van hulle wou dit hê, daarom is deurslaggewende mag nog in Londen, al het Skotland wel sekere magte verwerf.
Katalonië wou van Spanje onafhanklik raak. Hulle het die land; en hulle het die referendum gewen, maar toe sê Spanje “nee” en sit die leiers in die tronk. Die politieke mag is dus steeds in Madrid, want as Spanje dit nie erken nie, wil niemand anders nie. Katalonië het darem sekere magte van hulle eie.
Transkei kon vry gewees het, maar op die end wou hulle nie. Die gebied is daar, die bevolking is daar, maar toe hulle kon kies, wou hulle liewer deel van Suid-Afrika wees. Dit bied kans op mag oor ’n groter gebied.
Wat van Afrikaners?
Afrikaners se eerste probleem is ’n gebied. Oral waar Afrikaners woon, woon daar meer ander mense. Vir die eerste 340 jaar van sy geskiedenis het Afrikaners hulle vryheid nagestreef sonder om te tel wie rondom hulle woon. Dít is wat in 1994 geëindig het.
Nog ’n probleem is Afrikaners se eie keuse. Sedert die referendum van 1983 was daar nog geen aanduiding dat die meerderheid Afrikaners soewereine politieke mag wil hê nie. As die keuse tussen vryheid of politieke mag aan die een kant; en welvaart aan die ander kant is, wen welvaart elke keer.
Om polities magteloos, of onvry, te wees, is net op die lange duur baie duur. Daaraan dink mens maklik te laat.
Die Noord-Kaap en Orania
Die Noord-Kaapprovinsie is in 1994 afgebaken, as ’n moontlikheid wat Afrikaners kon aangryp. As hulle (ons) ernstig was oor vryheid, kon ons seker die halfmiljoen mense monster wat nodig was om ’n meerderheid uit te maak? Wel, ons het nie.
Op 27 April 1994 was daar sowat 300 Afrikaners in Orania wat ’n meerderheidsgebied beset het – van so bietjie minder as 500 hektaar. Gedagtes van ’n grondwetlike skikking wat ’n groter gebied en groter getalle sou betrek, het bloot gedagtes gebly.
Afrikaners se politieke mag het in 2000 die eerste keer weer ’n tree vorentoe gegee, toe Orania munisipale selfstandigheid verwerf het. Orania was belangriker as ’n goeie plan – dit was ’n beginpunt. Of kom ons stel dit anders: Dit was die beginpunt waarsonder ’n plan waardeloos is.
Met ’n lyn agter jou van meer as 30 jaar, kan mens ’n geloofwaardige lyn vorentoe trek. Bevolkingsgroei was lank ongeveer 10 persent per jaar, maar die laaste paar jaar het dit tot 15 persent per jaar gestyg.
As Orania se huidige 2300 inwoners teen 10 persent groei, woon daar in 2052 sowat 50 000 mense. As 15 persent gehandhaaf word, trek ons in 2052 net onder 200 000. Vanselfsprekend sal dit nie op die huidige grondgebied gehuisves kan word nie en Orania sal meer ’n streek as ’n dorp wees.
Dat 200 000 Afrikaners rondom die huidige Orania ’n politieke mag sal wees om mee rekening te hou, is duidelik; 50 000 ook. Die vraag is hoe daardie mag, veral terwyl dit geleidelik opbou, aangewend kan word – soms om ander verwikkelinge te versterk, soms om dit te verswak.
Die Suid-Afrikaanse breuklyn en CapExit
Baron Claus von der Ropp het in die sewentigerjare gesê daar loop ’n breuklyn van Port Elizabeth in die suidooste, na Vryburg in die noordweste. Suidwes van die lyn, het hy gesê, is eenvoudig ’n totaal ander wêreld as noordoos daarvan. Die presiese ligging het verander, maar die beginsel nie.
Baie mense sien die breuklyn tans op ’n ander plek, naamlik die grens van die Wes-Kaapprovinsie. Daarom is daar ’n lewende beweging vir ’n “CapExit”. As mens na herhaalde verkiesingsuitslae kyk, lyk dit of die Wes-Kaap die gebied en die bevolking het. Dalk sal erkenning die moeilikste wees.
Dit sal egter verkeerd wees om te dink ’n onafhanklike Wes-Kaap sal ’n Afrikanerland wees – Afrikaners sal, soos Xhosas, ’n belangrike minderheid binne die staat wees.
Kaapse onafhanklikheid behoort die drie westelike distriksmunisipaliteite van die Noord-Kaap ook in te sluit – Namakwa, Benede-Oranje en Bo-Karoo, in name wat ons maklik verstaan. Selfs dele van die Oos-Kaap hoort kultureel hier tuis.
So ’n Kaapland moet ’n federale staat wees, waarvan huidige distriksmunisipaliteite die tweede vlak van regering kan wees. Mag moet egter sy oorsprong in die plaaslike gemeenskap hê.
In elke “provinsie” van Kaapland sal bruin mense wat hulle identiteit op baie maniere sien, Xhosas, Afrikaners en plek-plek ook Tswanas woon. Terwyl elke identiteit iewers sal oorheers, behoort wedersydse erkenning en voldoende ruimte vir elkeen politieke en ekonomiese stabiliteit te bied.
Orania en CapExit
Orania val binne die Bo-Karoo, of Pixley ka Seme distriksmunisipaliteit. Verder lê Orania se grond volgens die afbakening wat staatsdepartemente gebruik, grotendeels in Thembelihle en Renosterberg. In Pixley ka Seme woon sowat 185 000 mense en in Thembelihle en Renosterberg saam 26 000.
Wanneer Orania 10 000 inwoners bereik, sal die owerheid waarskynlik gretig raak om dié gemeenskap in ’n formele plaaslike owerheid van sy eie tereg te laat kom. Dat een of albei van Thembelihle en Renosterberg deur Orania oorheers kan word, beteken dat spesiale voorwaardes selfs beding kan word.
Wanneer Orania 50 000 inwoners verbysteek, sal dit een van die sterkste rolspelers in Pixley ka Seme word. Saam met Orania se getalle sal sy ekonomiese krag en politieke invloed toeneem.
As hierdie groei plaasvind onder ’n Suid-Afrikaanse regering soos ons dit tans ken, kan dit met teenstand te doene kry. As dit onder ’n vrye Kaapland plaasvind, kan die sentrale regering ’n bondgenoot, of minstens ’n neutrale deelnemer wees. Dit kan sake aansienlik vergemaklik.
’n Streek waarin Orania die grootste rolspeler is, kan tot ’n staat ontwikkel – of nie, afhangende van omstandighede. Dit kan tot by die see strek – of nie, afhangende van die verhouding met die bure.
Samevatting
’n Toekomsplan is iets anders as handleiding getiteld “Van onderhorigheid tot vryheid in 10 maklike stappe”. Dit beteken dat jy strategiese rigting inslaan en bepaalde doelwitte, in diens van jou uiteindelike doel, nastreef.
Die politieke plan vir Afrikaners moet drie elemente bevat:
- Onafhanklikheid vir ’n Kaapland wat die grootste deel van die huidige Noord-Kaapprovinsie insluit;
- Konsentrasie van getalle in en om Orania met ’n wyer fokus op Pixley ka Seme – en Namakwa distriksmunisipaliteite; en
- ’n Lewende wisselwerking tussen Afrikanergemeenskappe weerskante van die “breuklyn” met skole en ander kulturele strukture wat mekaar versterk.
Dit is ’n plan waaraan elke bestaande kultuurorganisasie, burgerlike beweging en politieke party kan deelneem, sonder om van huidige werksaamhede afstand te doen.
Dalk is die Derde Afrikaner tans besig om vorm aan te neem. Hierdie politieke toekomsplan kan dit laat werk.
Wynand Boshoff Junie 2022