Wat van plekke, rolle en ampte? Want die reg gaan oor meer as individuele regte
Wat van plekke, rolle en ampte? Want die reg gaan oor meer as individuele regte is ‘n artikel van prof Koos Malan wat in die Maart 2022-uitgawe van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Tydskrif vir Geesteswetenskappe verskyn het. [Skakel]
Prof Malan, wat bekend is vir sy skeptisisme jeens grondwetlike reëlings wat nie met die werklikheid strook nie, maar voorskrifte daaraan wil oplê, ondersoek hier ‘n altenatief vir die eendimensionele beroep op individuele menseregte wat tans wêreldwyd die botoon voer. Hierdie beeld van regte waaroor mens van geboorte tot dood beskik, soos die reg op lewe, vryheid van beweging en uitdrukking, en gelykheid voor die reg, is ‘n historiese konstruk wat teruggevoer kan word na die Franse Rewolusie (1789), maar wat eers na die Tweede Wêreldoorlog globaal posgevat het.
In sy artikel bespreek prof Malan eers die intrinsieke waarde van die individu en daarna dié van individuele regte. Hy redeneer egter dat denkbeelde soos plek, rol, amp, hoedanigheid, verantwoordelikheid en roeping in aanmerking geneem moet word as verwysings waarsonder nóg individualiteit, nóg die reg goed verstaan kan word. Dit hang saam met die vraag of mense se fisiese, emosionele, sosiale en geestelike welstand as een samehangende sisteem gesien kan word. Histories hang die opkoms en oorbeklemtoning van individuele regte saam met die opkoms van die moderne staat en vind mens die wortels daarvan terug in die godsdiensoorloë van die sestiende en sewentiende eeue.
Deur by die ouer bronne van die Christelik-Westerse tradisie aan te knoop, kan ‘n beter ewewig gevind word as wat tans aan die orde is. Met die oog daarop neem hy die ses konsepte kortliks in behandeling, naamlik dié van plek, rol, hoedanigheid, verantwoordelikheid, amp en roeping. Wanneer hierdie denkbeelde verstaan en gebruik word, kom mense nie bloot as vryswewende aanspraakmakers op botsende regte teenoor mekaar te staan nie, maar as individuele persone wat binne ‘n veelheid van verbande optree en handel, byvoorbeeld in hulle beroepslewe, familieverbande en in sosiale omgang.
Lees gerus prof Malan se volledige artikel by: http://tgwsak.co.za/wp-content/uploads/2022/03/TGW-62-1-MAART-2022.pdf