Boekbespreking: Culture Counts [2/7]

Roger Scruton: Culture Counts

Boekbespreking: 30 Junie 2022. (Aflewering 2 van 7)

Roger Scruton (2007/2021): Culture Counts, Faith and Feeling in a World Besieged. London: Encounter Books

In ons bespreking van Roger Scruton (1944–2020) se Culture Counts het ons verlede keer kortliks na sy behandeling van die vraag Wat is kultuur? gekyk. Sy antwoord was, in kort, dat dit ‘n kwessie van oordeel is en dat dit ‘n strewe na hoër en beter dinge behels en na insigte wat suiwer rede en wetenskap ons nie bied nie. In die tweede hoofstuk ontgin hy die verband tussen ledigheid, geloofsuitdrukking en kultuur.

Ledigheid, geloofsuitdrukking en kultuur (Leisure, Cult en Culture)

 Om kultuur die produk van ledigheid te noem, is natuurlik bietjie van ‘n skoktaktiek. Veral in Afrikaans is ledigheid nie juis ‘n woord wat goeie gedagtes oproep nie. “Ledigheid is die duiwel se oorkussing” was die eerste wat by my opgekom het – alles behalwe die gedagte dat kultuur uit ledigheid kan ontstaan. En tog is dit presies wat Scruton aanvoer. Bygesê dat ledigheid en die Engelse leisure ook nie in elke opsig dieselfde beteken nie, maar die gedagte van ongedwonge handeling, van tyd wat nie aan die bestaanseise van elke dag bestee hoef te word nie, is tog daarin teenwoordig.

Dit is goed moontlik dat mens vanuit die sewentiende eeuse geskiedenis van die Nederlandse republiek tot ‘n ietwat ander insig sou kom as wat Scruton uit die Engelse geskiedenis verwerf, maar dit bly die moeite werd om sy breë lyn te volg. Dit is dat mens ‘n mate van ‘n materiële vryheid moet geniet om jou met die hoë kultuur te kan besig hou. Daarom ondersoek hy die verband tussen ledigheid en kultuur, maar ook tussen ledigheid en godsdiens.

Die antieke Grieke het ledigheid ernstig geneem, voer Scruton aan. Hulle woord daarvoor lê aan die basis van ons woord “skool” – waar mens veronderstel is om in vryheid te kan leer en dink. Om die waarheid te sê, vir Aristoteles was die enigste rede om te werk … om te kan ophou werk, om jou aan die nadenke oor dinge te kan wy, aan iets wat in sigself bevredigend is en nie in diens van iets anders hoef te staan om die moeite werd te wees nie. Vandag speel ontspanning, sport en spel nogal ‘n soortgelyke rol, mens vind rus daarin – al sy dit dikwels uitputtend! – en doen dit nie met die oog op iets anders as bloot die vreugde wat in die bedrywigheid self opgesluit lê nie.

Die Duitse digter Friedrich Schiller (1759-1805) het gesê “met die goeie en die bruikbare is mens bloot ernstig, maar met die skone is mens in spel.” Daarmee verbind hy spel en estetiese waardering. Dit kan vergelyk word met kinderlike wat speel sonder nut of doel, en tog leer kinders deur spel. So leer ons deur estetiese ervaring, deur ons gevoelens in verbeeldingsruimtes te oefen, deur ons beeld van die mensdom te verruim, deur bewus te word van die intrinsieke waardes wat in die wêreld opgesluit lê, in sigself betekenisvol en onafhanklik van ons eiebelang.

Die “estetiese opvoeding” waarna Schiller verwys en wat ons gedagtes opnuut vir die durende betekenis van ons lewens op aarde open, is soos Aritoteles se beeld van ledigheid nie een van passiwiteit nie. Dit is ‘n aktiewe ledigheid of rus waarin die wêreld ontsluit word – maar dit is ook moontlik om so deur dinge en gebeure afgelei te word, dat dit in passiwiteit oorgaan. Nie dat die verskil altyd so ooglopend is nie: die kunsliefhebber staan voor ‘n skildery raak betrokke deur te vertolk wat sy sien, die televisiekyker se aandag moet elke solank weer getrek word sodat hy nie tussen kanale begin spring omdat hy op niks kan fokus nie.

Scruton sê daarvan: “As populêre vermaak blote afleiding is, dan kan ons in alle billikheid aanvoer dat ledigheid, in die sin wat Aritoteles in gedagte gehad het, van die aardbol van populêre vermaak af verdwyn het, dat die uiteindelike bevryding van die werkers van hulle werk tot die verlies van die een ding waarvoor hulle in werklikheid gewerk het, gelei het.”

Gelukkig is daar darem ‘n voorbeeld van die teendeel: die skouspel van sport! Die toeskouer wat homself in die wedstryd verloor, wat die moontlikhede, strategieë en foute van sy span as sy eie ervaar, beleef iets van daardie onselfbewuste plesier wat die wêreld kan bied. Om die waarheid te sê, die oorgawe waarmee dit ontvang word, kan mens aan die oorsprong van die Engelse woord “Holiday” laat dink.

Dit bring mens by ‘n ander verband as die een tussen ledigheid en kultuur, naamlik die een tussen ledigheid en kultus of geloofsuitdrukking. Mens hoef net aan die Joods-Christelike skeppingsverhaal te dink, die sewende dag waarop God gerus het omdat sy skepping goed was. Hy het dit ook vir die mens as rusdag – ‘n ledige dag sover dit die daaglikse sleur aangaan en in die sin van deelname aan die godsdiens en geloofsbetuiging, maar nie ‘n passiewe dag van afgeleide aandag nie.

Selfs in die laat-moderne era, voer Scruton aan, waar die godsdiens in die Weste nie meer die houvas op mense se lewens het wat dit voorheen gehad het nie, is dit duidelik waar die kuns en kultuur se wortels lê. Hy voer aan: “Op hierdie manier, namate godsdiens sy greep op die kollektiewe verbeelding verloor het, lyk dit of kultuur toenemend belangrik geword het omdat dit die betroubaarste kanaal is waardeur verhewe etiese idees toegang tot skeptiese mense se bewussyn kan kry.”

Leave a Reply

Your email address will not be published.