Gedagtes ten gunste van moederskap
Wendel Berry
Die seisoen van moederskap het weer aangebreek en ons gedagtes word in beslag geneem deur die verwagtende en die ongeborene. Wanneer geboorte op hande is, veral by ‘n ooi of ‘n merrie, maak ons ‘n draai by die skuur net voor ons gaan slaap, ten minste een keer in die middel van die nag en lank voor dagbreek in die oggend. Ons lag daaroor dat hier omtrent nooit iets in die middel van die nag gebore word nie, maar iemand moet nietemin opstaan en uitgaan. Met moederskap redeneer jy nie oor waarskynlikhede nie.
Ek stel die wekker, maar word altyd wakker nog voor hy afgaan. ‘n Deel van jou gedagtes is in die tyd by die skuur en dit kan nie tot rus kom nie. Vir ‘n kort rukkie nadat ek wakker geword het, lê ek en wonder waar ek die wil en energie vandaan gaan kry om myself weer uit die bed te sleep. Daarvoor sorg die angstigheid: dalk het daardie ooi in kraam gegaan en het sy moeilikheid. Maar dit is nie net angstigheid nie. Dit is ook nuuskierigheid, en die gretigheid vir nuwe lewe wat met moederskap gepaard gaan. Ek wil sien waartoe die natuur en teling en sorg en verloop van tyd gelei het. As ek die skuurdeur oopmaak en ‘n flou geblêr uit die donker hoor kom, sal ek bly wees om wakker te wees. My vreugde daarin keer altyd terug met ‘n krag wat my verras.
Hierdie is ‘n slegte tyd vir moederskap – ‘n soort biologiese sleur, sê sommige, wat vroue opgebruik terwyl hulle beter dinge kon doen. Thoreau was dalk die eerste om aan te voer dat mense nie aan plaasdiere moet behoort nie, maar die gedagte het intussen die gevestigde leerstelling van baie boere geword – en daar is byvoegings gemaak wat daarop neerkom dat mense ook nie aan kinders, of aan mekaar moet behoort nie. Maar ons almal moet aan iets behoort, al is dit net aan die gedagte dat ons aan niks moet behoort nie. Ons moet almal deur iets opgebruik word. En al sal ek nooit ‘n moeder wees nie, verheug dit my om deur moederskap en waartoe dit lei, opgebruik te word, net soos ek – meeste van die tyd – bly is om aan my vrou, my kinders en ‘n hele klompie beeste, skape en perde te behoort. Watter beter manier is daar om opgebruik te word? Hoe anders kan mens ‘n boer wees?
Daar is ‘n goeie saak uit te maak teen vroulike diere wat hulp nodig het om geboorte te gee; ek weet wat dit behels en het al baie daaroor gedink. En tog – as die beproewing nie te pynlik is of te lank duur nie, en as dit slaag – eindig ek altyd erkentlik teenoor die wat hulp benodig. Dan moet ek deelneem, moet ek weereens deur die hele proses gaan, en kom ek klokslag daar weg met die gevoel dat ek iets geleer het, met verwondering en behae.
My vrou en seun en ek vind die vers in ‘n ver hoek van die weikamp. In desnoods twee ure se kraam het sy nog net een klein hoef uitgestoot. Ons weet hoe dit met haar was. Sy het telkens weer gaan lê en teen haar las gebeur, en opgestaan en gedraai en aan die grond gaan ruik. Sy is ‘n vers, hoe weet sy dat daar veronderstel is om iets te wees?
Dit verg nogal moeite van die drie van ons om haar in die skuur te kry. Haar instink is om alleen te wees en sy doen al wat sy kan om daaraan gehoor te gee. Maar uiteindelik kry ons die deur agter haar toe en kry haar in ‘n stal. Sy is nie wild nie; en toe sy eers ingehok is, is dit nie eers nodig om haar vas te bind nie. Ek was my regterhand en voorarm in ‘n emmer yskoue water met seep. Sy is nou stil. En so is ons mense ook – besorgd, en opgewonde, want as hier ‘n kans op mislukking is, is hier ook ‘n kans op sukses.
Ek maak ‘n baaltou in ‘n lus om die ontblote hoef vas, en knoop dit kort aan ‘n stok wat my seun dan vashou. Ek druk my hand sagkens in die geboortekanaal totdat ek die tweede hoef kry, en bietjie verder ‘n snoet. Ek plaas nog ‘n lus om die tweede hoef, en bind die tou se ander punt aan nog ‘n stok om aan vas te hou. En dan trek ons. Die vers staan en trek vir ‘n paar sekondes teen ons, maar gee dan bes en gaan lê. Ons anker onsself so goed ons kan vir ons taak, en trek wanneer sy druk. Uiteindelik kom die kop uit, en dan, makliker, die res.
Ons maak die kalf se snoet oop, help hom om asem te haal, en dan, omdat die vers nog nie opgestaan het nie, lê ons hom op die hooi voor haar neer. En dan begin wat vir my die wonder van dit alles is. Sy het nog nooit gekalf nie. As sy al ooit ‘n ander koei gesien kalf het, het sy min aandag daaraan gegee. Sy het, soos ons mense sou sê, geen opleiding en geen ervaring nie. En tog herken sy die kalf as haar eie en weet wat om vir hom te doen. Party verse weet nie, maar die meeste weet – en hierdie een weet. Nog voor sy opstaan, begin lek sy hom om die snoet en gesig met luidrugtige en heftige hale van haar tong. En deurentyd uiter sy ‘n soort kreun, bedoel om hom gemaklik te maak, aan te moedig en gerus te stel – altans, dit is hoe ek dit verstaan.
Hoe weet sy soveel? Hoe het dit alles só gekom? Instink. Evolusie. Ek ken daardie woorde. Ek verstaan die logika van die oorlewing van die sterkste: goeie moederinstinkte het oorleef omdat slegte moeders hulle kalwers verloor: die goeie eienskappe triomfeer, die slegtes gaan onder. Maar hoe kom dit dat sommige in die eerste plek geskik is? Wat het in die eerste koei of ooi of merrie – of dan in die eerste menslike moeder – se bewussyn daardie ingewikkelde, versigtige, hartstogtelike verwelkoming van die nuutgeborene voorberei? Ek weet nie. Ek dink nie enigiemand weet nie. Ek wantrou enige sterfling wat voorgee om te weet. Ons noem hierdie diere dom, en sover ons weet is hulle naastenby dom, en daar is sekerlik geleenthede waarby diegene van ons wat saam met hulle lewe oorgenoeg bewys van hulle domheid kan vind. En tog is hulle belyn met ‘n intelligensie wat beter uitgewerk en meer verfynd is as enigiets wat in ‘n verloskundige handboek aangetref kan word. Wat moet mens daarvan maak? Hier is ‘n dom gedierte wat in mis en strooi lê en haar kalf skoonlek, en soos altyd voel ek geëerd om ‘n verband met haar te hê.
Die vers het nou opgestaan, en die kalf probeer ook staan, waggelend op sy agterpote en knieë, net om omgestamp te word deur ‘n uitgelate haal van sy moeder se tong. Teen die tyd is ons al te ver by hierdie storie ingetrek om dit voor die einde te laat vaar, maar ons het ook ons daaglikse take om te verrig, dus help ek bietjie om dinge te versnel.
Ek help die kalf op sy voete en beweeg hom na die vers se sy. Ek is nie veronderstel om daar te wees nie, maar die kalf is, sodat sy my hulp aanvaar, of ten minste toelaat. Onder sulke omstandighede lyk dit soms vir my asof die diere besef dat daar hulp nodig is, en dat hulle dit met een of ander vorm van begrip aanvaar. Die gedagte roer my, maar ek is nooit seker daarvan nie, in elk geval nie sekerder as van wat haar lae kreune as die kalf uiteindelik begin suip, beteken nie. Vir my klink dit of sy hom prys en aanmoedig – maar hoe sal ek weet?
Altyd as ek daardie klein klapgeluidjies hoor wanneer die kalf die tepel beetkry en die eerste melk wegsluk, voel ek die lus om te lag onder my ribbes druk. Ek weet ook nie wat dit beteken nie. Maar een ding is seker, dit gaan om meer as die gespaarde geldwaarde van die kalf en die verdere beskikbaarheid van vleis. Ons al drie voel dit. Ons kyk vir mekaar en grinnik van verligting en tevredenheid. Die lewe is weer op sy voete en ons kan jubel.