Suid-Afrikaanse plekname bevat spore van menslike nedersettingspatrone
Deur Burgert Senekal
Inleiding
Die hedendaagse menslike bevolking van Suid-Afrika is die gevolg van golwe van menslike vestiging oor baie eeue. Voor die aankoms van Europese immigrante—Nederlandse setlaars sedert 1652, Franse Hugenote sedert 1688, Britse setlaars sedert 1820, asook talle ander van Italianers tot Indiërs—het Afrikane suid gemigreer en die plaaslike Boesmans verplaas. Tydens die Koue-oorlog het Europeërs wat in voormalige kolonies soos Kenia en Rhodesië gewoon het na Suid-Afrika verhuis namate politieke onrus deur Afrika versprei het. Meer onlangs het die ineenstorting van Zimbabwe se ekonomie baie Zimbabwiërs gelok wat na ‘n nuwe tuiste gesoek het.
Hierdie setlaars het gereeld saamgegroepeer. Die Franse Hugenote het hulle byvoorbeeld naby die huidige Franschhoek gevestig, terwyl die Britse setlaars van 1820 hulle naby Bathurst gevestig het. Plekname in byvoorbeeld die Kgalagadi-oorgrenspark getuig van hierdie groepe: Auchterlonie, Craig Lockhart, Monro, Dalkeith en Strathmore vereer Skotse setlaars. Glencoe en Dundee in KwaZulu-Natal, albei vernoem na Skotse dorpe, is ook voorbeelde.
Soortgelyk aan hoe etniese invloede in persone se name gesien kan word, kan etniese invloede ook in plekname gevind word. Renfrew (1989) gebruik byvoorbeeld plekname (saam met ander bewyse) om te kyk na hoe bevolkings, soos die Keltiese volke, oor Europa versprei het. Renfrew huldig die siening dat plekname oorblyfsels bevat van die tale wat die inwoners van antieke nedersettings gebruik het, wat uitbrei op die werk van vroeëre argeoloë. Daarbenewens het ander navorsing getoon dat plekname gebruik kan word om historiese etniese groepverspreidings af te lei.
Raper, Möller en Du Plessis (2014) het inligting oor Suider-Afrikaanse plekname ingesamel, insluitend hul linguistiese wortels, betekenisse en geografiese liggings. Die huidige artikel, gebasseer op ‘n vorige ondersoek (Senekal 2019), bespreek die geografiese verspreiding van Suid-Afrikaanse plekname op grond van hul linguistiese oorsprong deur die digitale weergawe van hierdie woordeboek, waarna verwys word as die Suider-Afrikaanse Pleknamedatabasis (SAPND), te gebruik. Die taaloorsprong van plekname in Suid-Afrika word na geografiese streke gekarteer en volgens taalgroepe geklassifiseer (bv. Engels en Italiaans is Indo-Europese tale). Daar word gedemonstreer dat bekende historiese nedersettingspatrone weerspieël word in die geografiese verspreiding van plekname in Suid-Afrika.
Metodes
Tale word gekategoriseer volgens hul verhoudings met ander tale, wat tipies as ‘n boomstruktuur voorgestel word. Byvoorbeeld, die Westerse tak van die Germaanse tale sluit Moderne Hoogduits, Engels, Nederlands en Afrikaans in. Daar moet egter op gelet word dat hierdie verhouding semanties en sintakties is en nie geografie in ag neem nie. As tale volgens geografiese streek georganiseer word, sal Afrikaans ‘n Afrikataal wees omdat dit sy wortels in daardie kontinent het.
Tale kan ook op ‘n hoër vlak gegroepeer word, byvoorbeeld Afrikaans en Engels is Indo-Europese tale. Met behulp van die Internasionale Organisasie vir Standaardisering (ISO), wat ISO-639 gebruik om ‘n kode aan ‘n taal toe te ken en die gestandaardiseerde naam van ‘n taal insluit, en met behulp verskeie lyste, het ek tale volgens ISO-639-kodes met taalgroeperings verbind. Hierdie metode is in detail in Senekal (2019) bespreek.
Resultate
Die top 10 tale van oorsprong vir plekname in Suid-Afrika word in Tabel 1 saam met die verspreiding van die tale aangetoon. Die mees algemene taal van oorsprong in plekname in Suid-Afrika is Afrikaans, gevolg deur Engels en Xhosa. Neem kennis van die kategorie “Onbekend,” wat dui op plekname waarvan die oorsprong onseker is en in Tabel 2 se groepklassifikasies ‘n nulwaarde word.
Tabel 1 Die taalverspreiding van Suid-Afrikaanse plekname (top 10)
Taal van oorsprong | #plekname | % van plekname |
Afrikaans | 1421 | 18,77% |
Onbekend | 1092 | 14,42% |
Engels | 978 | 12,92% |
Xhosa | 867 | 11,45% |
Zulu | 754 | 9,96% |
Khoekhoe | 528 | 6,97% |
Noord-Sotho | 291 | 3,84% |
Tsonga | 261 | 3,45% |
Tswana | 223 | 2,95% |
Nederlands | 220 | 2,91% |
Wanneer tale op ‘n hoër vlak as in Tabel 1 saamgegroepeer word, is die meerderheid plekname in Suid-Afrika van Indo-Europese oorsprong, gevolg deur name uit die Niger-Kongo-, die Khoe-Kwadi- en die Tuu-tale. Dit is opmerklik dat alle plekname in Suid-Afrika van een van hierdie ses taalfamilies afgelei is, met slegs een pleknaam wat van Japans kom. Alhoewel Suid-Afrika bekend is as die “Reënboognasie”, kan slegs vyf groot bevolkings geïdentifiseer word deur die plekname wat hulle agtergelaat het: Indo-Europees, Niger-Kongo, Khoe-Kwadi, Tuu en Afro-Asiaties.
Tabel 2 Die taalgroepverspreiding van Suid-Afrikaanse plekname
Taalgroep | #plekname | % van plekname |
Indo-Europees | 2880 | 38,04% |
Niger–Congo | 2847 | 37,60% |
geen | 1207 | 15,94% |
Khoe-Kwadi | 530 | 7,00% |
Tuu | 60 | 0,79% |
Afro-Asiaties | 46 | 0,61% |
Japans | 1 | 0,01% |
Ek het verder die taal van oorsprong van plekname op kaarte aangebring wat hul verspreiding volgens provinsie illustreer deur die huidige Suid-Afrikaanse streeksgrense te gebruik. Die geografiese verspreiding van tale per provinsie word in Figuur 1 uitgebeeld. Slegs die toptale word vertoon, soos in Tabel 1 aangedui, en die top ses provinsies word regs vir elke taal vertoon. Die verspreiding van die taal word op die kaarte aan die linkerkant gewys, met donkerder skakerings wat ‘n groter persentasie plekname in daardie taal aandui.
Figuur 1 Die geografiese verspreiding van tale volgens provinsie
Figuur 1 toon dat Afrikaanse plekname meestal in die Wes-, Noord- en Oos-Kaap gekonsentreer is, wat die vroegste Europese nedersettings was en steeds beduidende bevolkings Afrikaanssprekendes bevat. Neem ook kennis dat die hele land groot konsentrasies Afrikaanse plekname gebruik.
Die Oos-Kaap, waar Britse immigrante sedert 1820 nedersettings gevestig het, en KwaZulu-Natal, wat die Britte in 1843 verower en beheer het totdat dit in 1910 by die Unie van Suid-Afrika ingelyf is, het die hoogste konsentrasie Engelse plekname. Let daarop dat Gauteng die derde hoogste voorkoms van plekname in Engels het omdat dit dien as Suid-Afrika se finansiële sentrum en ‘n groot sakebestemming vir Engelssprekendes is.
KwaZulu-Natal het die hoogste konsentrasie Zoeloe-plekname, wat verantwoordelik is vir 81 persent van alle Zoeloe-plekname. Dit is ook interessant dat Zoeloe-plekname in die provinsies aan die westekant van die land gevind kan word, maar hoe verder ’n mens van KwaZulu-Natal af wegbeweeg, hoe minder plekname het ‘n Zoeloe-oorsprong.
Die Oos-Kaap, die Xhosas se tradisionele tuiste, is die streek waar die meeste Xhosa-plekname aangetref word (91 persent). Soortgelyk aan Zoeloe-plekname se verspreiding is daar ook ‘n paar Xhosa-plekname in nabygeleë provinsies, maar die getal neem af hoe verder mens van die Oos-Kaap af wegbeweeg.
Dieselfde tendens word gevind met ander tale. Die meerderheid Khoekhoe-plekname word in die Noord-Kaap aangetref, wat 41% van alle Khoekhoe-plekname uitmaak. Die Oos-Kaap, waar daar gereeld interaksie met die Xhosa was, is die tuiste van die naasgrootste konsentrasie Khoekhoe-plekname (die meeste saamgestelde plekname bestaan uit ‘n Xhosa- en Khoekhoe-komponent).
Soortgelyk aan Zulu en Xhosa, volg Noord-Sotho ‘n patroon waarvolgens 73% van plekname in Limpopo, die tradisionele tuisland van die Pedi, gekonsentreer is. Alhoewel sommige Noord-Sotho-plekname ook in naburige provinsies gevind kan word, neem die getal Noord-Sotho-plekname af hoe verder ‘n mens van Limpopo af wegbeweeg. Dit is ook interessant dat KwaZulu-Natal geen Noord-Sotho-name gelys het nie.
Die verspreiding van Tsonga-plekname is die minste wydverspreid van die tale wat hier ondersoek is, en hulle is gekonsentreer in die historiese Tsonga-tuislande van Limpopo en Mpumalanga.
Plekname in Tswana word meestal in Noordwes aangetref, en soos met die ander Niger-Kongo-tale in Suid-Afrika, verminder die persentasie plekname in Tswana vinnig hoe verder ‘n mens van Noordwes af wegbeweeg.
Die meerderheid plekname wat van Indo-Europese afkoms is, kan in die Wes-, Oos- en Noord-Kaap gevind word, met Gauteng en KwaZulu-Natal wat volg. Figuur 2 beklemtoon wat Figuur 1 aangetoon het.
Figuur 2. Die geografiese verspreiding van taalgroepe volgens provinsie
In teenstelling met die Indo-Europese taalverspreiding, is plekname van Niger-Kongo-herkoms algemeen in die land se oostelike kant, veral in die Xhosa-, Zoeloe- en Noord-Sotho-streke (onderskeidelik Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Limpopo). Die Noord- en Wes-Kaap het die laagste aantal plekname met ‘n Niger-Kongo oorsprong.
Elke provinsie bevat plekname met Khoe-Kwadi-wortels, alhoewel dit belangrik is om daarop te let dat die Noord-Kaap 42% van hierdie plekname bevat, en oor die algemeen is hierdie plekname meer volop in die westelike deel van die land.
Plekname van Afro-Asiatiese herkoms is in die Westelike helfte van die land gekonsentreer, soortgelyk aan hoe Indo-Europese plekname versprei is. Aangesien die grootste deel van hierdie plekname as Hebreeus en nie as Arabies geklassifiseer is nie, kan ‘n mens hul verspreiding met die Christendom eerder as die slawehandel in verband bring. Omdat die meerderheid Europeërs wat in Suid-Afrika gevestig het, Christene was en plekke Bybelse name gegee het, weerspieël die Afro-Asiatiese verspreiding die Indo-Europese verspreiding.
Dit is interessant om Figuur 2 met huidige bevolkingskaarte te vergelyk. Figuur 2 se verspreiding is baie soortgelyk aan die taalverspreidingskaart wat deur Ethnologue (https://www.ethnologue.com/map/LSZASZ__) verskaf word, wat gebaseer is op die mees onlangse nasionale sensus (2011) en hier as Figuur 3 ingesluit word. Indo-Europese tale is in pienk en Niger-Kongo (genoem Bantoe op die kaart) tale is in groen.
Figuur 3. Taalverspreidings in huidige Suid-Afrika, kaart vanaf Ethnologue (https://www.ethnologue.com/map/LSZASZ__)
Slot
Gebaseer op die Suider-Afrikaanse pleknamedatabasis (SAPND) en ‘n vorige studie (Senekal 2019), het hierdie artikel gekyk na die geografiese verspreiding van Suid-Afrikaanse plekname. Daar is gedemonstreer hoe die linguistiese oorsprong van plekname bekende bevolkingsvestigingspatrone weerspieël deur tale volgens taalgroepe te klassifiseer. Een van die duidelikste gevolgtrekkings is dat plekname met Indo-Europese wortels oorwegend in die Weste van Suid-Afrika geleë is, terwyl plekname met Niger-Kongo taalwortels oorwegend in die Ooste gekonsentreer is. Daarbenewens, terwyl Niger-Kongo-tale meer geografies gefokus is, word plekname van Indo-Europese oorsprong, soos Afrikaans, Engels en Nederlands, meer algemeen in Suid-Afrika gebruik.
Verwysings
Raper, P., Möller, L., & Plessis, L. D. 2014. Dictionary of Southern African Place Names. Johannesburg: Jonathan Ball.
Renfrew, C. 1989. Archaeology and language: The puzzle of Indo-European origins. London: Penguin.
Senekal, B.A. 2019. Linguistic traces of human settlement patterns in South African place names, Nomina Africana, 33(2):73:86.