Vryheid 2022: ‘n Strategiese inset

Vryheid 2022: ‘n Strategiese inset

Vryheid 2022: Verwagtings en beplanning vir Afrikaners in die komende jaar.

‘n Strategiese inset – 20 Januarie 2022

Inleiding

Ná meer as twee jaar se onvoorsiene ontwrigting as gevolg van ‘n globale virusinfeksie wat pandemiese afmetings aangeneem het, is die vraag nie meer wanneer sake na normaal gaan terugkeer nie, maar eerder wátter norme in die toekoms die toon gaan aangee. In die gewone gang van sake verwys normaliteit na dinge soos dit is of behoort te wees, met dien verstande dat die verskil tussen die is en die behoort te wees nie onoorbrugbaar groot is nie. Té groot spanning tussen die twee loop uit op ‘n soort herstel of herskikking en neem die vorm van byvoorbeeld ‘n oorlog, rewolusie of natuurramp aan, afhangend van die terrein waarop die spanning ontstaan het.

En wanneer die spanning só groot geword het, kan die heroorweging van die waardes en norme aan die hand waarvan dinge as normaal of abnormaal beskou word, nie uitbly nie. Byvoorbeeld: nuwe waardes ten opsigte van gelykheid of etnisiteit bring mee dat maatreëls wat maar dekades tevore as normaal beskou is, kort later deur dieselfde mense wat daaraan gewoond was, as ondenkbaar beleef word. Om die waarheid te sê, aan inhoud gemeet en oorsigtelik beskou, blyk die woord “normaal” maar ‘n vlugtige en veranderlike bestaan te hê.

Dat die frase “nuwe normaal” verskyn het baie gou nadat drastiese Covid-19-maatreëls ingestel is, is dus geen verrassing nie. Of dit met betrekking tot gesonheidpraktyke, globale mobiliteit, sosialisering of die verhouding tussen owerhede en hulle burgery gebruik is, die strekking is duidelik: die spanning tussen hoe dinge is en hoe dit behoort te wees, het te groot geword om aan die hand van heersende norme verlig te word – nuwe norme sal in die proses gevestig moet word. Intussen was en is niemand egter in staat om te voorsien presies hoe dié nuwe normaal daar gaan uitsien nie en het mens alle rede om te glo dat dit in verskillende wêrelddele met verskillende politieke kulture, welvaartsvlakke, ekonomiese en tegnologiese ontwikkeling, en wat meer, verskillend sal uitspeel. Hoewel die pandemie dus een vorm van globalisering, naamlik globale mobiliteit, aan bande gelê het, het dit ander globalistiese aspirasies, soos eenvormige virusbestryding, weer bevorder. Die werklikheid is egter dat op beide hierdie terreine en op nog ander, die globalisme as ideologiese verstekposisie van die laat-moderne wêreld, ook aan ‘n normaliteitskrisis onderwerp word.

In Suid-Afrika kan verwikkelings met betrekking tot normering en normaliteit egter hoegenaamd nie tot die Covid-kwessie, of selfs tot onderliggende sosiale misstande wat deur Covid-19 tot breekpunt gevoer is, beperk word nie. Neem byvoorbeeld armoede en werkloosheid: dit is inderdaad deur inperkingsmaatreëls verhewig en dit plaas die hele Suid-Afrikaanse samelewing onder steeds meer druk, maar dít verklaar nog niks van die vreemde aard en ingrypende gevolge van iets heel anders, naamlik staatskaping nie. Die punt is dat die Suid-Afrikaanse samelewing deur twee aparte golwe van ontwrigting getref is en dat hulle gesamentlike uitwerking op dieselfde onderliggende wantoestande, groter is as bloot die som van die twee kragte – iets soos die superponering van golwe waarvan mens in die wetenskapklas leer.

Enige strategiese beoordeling of beplanning moet dus met beide hierdie kragte én hulle uitwerking op mekaar, sowel as die krake in die liggaam waarop die kragte toegepas word, rekening hou.

Agtergrond: Suid-Afrika in 2021

Die afgelope jaar staan in die algemeen, maar in besonder vir Afrikaners, in die teken van teleurgestelde verwagtings. Hoewel die verwagtings wat vir die jaar gestel is selde besonder hoog was, het die werklikhede selfs dááraan nie voldoen nie en eerder in die teenoorgestelde rigting beweeg. Afrikaners is nie die enigste mense in Suid-Afrika wat verwag dat die staat veiligheid, orde, basiese dienste, privaatheid, beweegruimte en die geleentheid tot welvaartskepping vir sy burgers sal waarborg nie, maar hulle is besonderlik daarop gesteld.  Ons is sodanig daarop gesteld dat ons selfs buite-om die Suid-Afrikaanse staat begin organiseer het om dit te verseker waar die staat daarmee in gebreke bly. Die dilemma wat volg is dat die staat hom nie van ons afkeer en ons toelaat om ons eie gang te gaan nie, maar dat sy aspirasie om ook ons doen en late totaal te beheer, slegs deur sy operasionele onvermoë om dit te doen, belemmer word. Dit dra ook by tot die spanning tussen nie net wat is en wat behoort te wees nie, maar ook tot ‘n verdere spanning tussen verskillende sienings van wat behoort te wees.

Ontwrigtende Covid-maatreëls is gedurende 2021 mettertyd verslap, maar uit ekonomiese en praktiese oogpunt was dit deurgaans te min te laat. Mens het eintlik die indruk gekry dat selfs die verminderde impak van die Omicron-weergawe ‘n stille teleurstelling was vir boetepredikers wat by die identifisering daarvan gereed was om dit nog eens aan te bied as Moeder Natuur se woedendste en wraaksugtigste aanslag op ‘n ongehoorsame mensdom, wat na elke vlaag minder geneig was om hom by die voorskrifte en gesag van haar staatlike priesterdom neer te lê. Dat Covid-19 skynbaar besig is om die weg van alle virusse te gaan, naamlik om meer aansteeklik en minder dodelik te word, pas nie in almal se kraam nie. Uit ‘n soort interne evolusie is dit duidelik dat, watse lewensdrif daar ookal in ‘n raaiselagtige verskynsel soos ‘n virus kan skuil, dit nie sal baat by die vernietiging van sy draer nie, maar eerder by die groter verspreidingsmoontlikhede wat die draer se lewe en beweging, sowel as sy eie aanpasbaarheid, hom bied. Dit sluit ook by die beeld van intelligensie in die skepping, eerder as by blinde, materiële noodlot of ander animerende bygelowe aan.

Daarteenoor blyk die interne evolusie van daardie sosiale organisme wat ons die staat noem, te neig na aanhoudende, eenselwige groei wat mens enersyds aan ‘n kanker laat dink, en wat anderyds ‘n verklaring van sy sentraliseringstendens gee. Die teleurstelling van 2021 het hom dus op twee aparte, maar noodwendig verwante terreine afgespeel, naamlik die impak van die pandemie én die lewensvatbaarheid van die Suid-Afrikaanse staat. Die regering met sy gretigheid om totalitêre staatsbeheer te vestig, het in die pandemie ‘n geleentheid gesien, maar sy inherente onvermoë om dit te doeltreffend te ontgin, het net tot verdere teleurstellign en spanning gelei. Nie dat doeltreffende oorheersing ‘n vriendeliker ontvangs sou geniet nie, maar dit sou ander vorme van weerstand as die wetteloosheid wat ons aanskou het, uitgelok het. Wetteloosheid is hopelik nie die enigste alternatief vir die huidige sug na sentralisering en beheer nie, maar in Suid-Afrika gee dit die toon aan.

Feit is dat die vakuum van pres Ramaphosa se nuwe daglumier, wat toe nooit gebreek het nie, inderdaad deur rewolusionêre anargie gevul is en dat Suid-Afrika vir etlike weke verlede jaar in die greep daarvan vasgevang was. Dit gaan dus nie om ‘n teoretiese vraag na staatsgesag en openbare orde nie, maar om die heel praktiese behoud al dan nie van die staat as algemene, openbare instelling. Aangesien die rewolusionêre aanslag deur dekades van korrupsie en staatskaping voorafgegaan is, kan nóg die oorsake, nóg die gevolge daarvan tot die impak van onvoorsienbare natuurkragte herlei word. Die kragte wat hulself voelbaar gemaak het, is die kragte van menslike gierigheid en magshonger wat op ondeugdelike wyse en sonder beperking of tug voortgewoeker het.

Watse konstitusionele kontroles ookal veronderstel was om dit teen te hou, kon nie daarin slaag nie en die vraag het ontstaan of die Suid-Afrikaanse orde die verval hoegenaamd sou oorleef. In soverre die orde eerder deur gemeenskappe en die burgery as deur staatsorgane herstel is, het die animus wat die Suid-Afrikaanse staat besiel het, só sy intrek op ander plekke geneem – plekke wat nie primêr staatlik van aard is nie en op staatsbehoud afgestem is nie. Dat die mate van rus en vrede wat die Suid-Afrikaanse samelewing na afloop van die insurgensie herwin het, aan die mate van rus en vrede wat dit voorafgegaan het, herinner, versteek die feit dat dit in werklikheid ‘n nuwe orde met nuwe, al sy dit brose waarborge is. Só beskou is die antwoord dus dat die staat dit in werklikheid nie oorleef het nie.

Om die waarheid te sê, niks is so simbolies van 2021 nie as die afsterwe van twee funderende figure van die orde wat as ‘t ware saam met hulle ten onder gegaan het, naamlik oud president FW de Klerk en aartsbiskop Desmond Tutu. Om saam te vat, kan gesê word dat 2021 die einde ingelui het van Suid-Afrika soos ons dit vir sowat ‘n eeu lank geken het; die Suid-Afrikaanse staat is gebreek “and all the king’s horses and all the king’s men couldn’t put Humpty Dumpty together again!” Die feit dat die ANC tydens die munisipale verkiesings van 2021 minder as die helfte van die uitgebragte stemme kon trek, maar meer nog die beperkte impak wat dit gemaak het, getuig ook van die onderliggende staatsverval.

Dat daar dus nie van ‘n terugkeer na normaal in die sin van ‘n terugkeer na die verlede sprake kan wees nie, lei geen twyfel meer nie. Die vraag wat wel beantwoord moet word, is watter onderliggende waardes moet geld en watter norme aangelê moet word om aan die opvolgorde wat voortaan beslag moet kry, inhoud te gee. Dit is hoe die nuwe normaal sy vorm sal moet aanneem.

Verwagtings vir 2022

In soverre simboliese gebeure kan dien om ‘n aanduiding te gee van wat gedurende 2022 verwag moet word, is die jaar paslik met die afbrand van die historiese parlementsgebou in Kaapstad ingelei. Ongeag of dié ondenkbare gebeure aan die hand van uiterste nalatigheid, of uiterste sameswering, of enigiets tussen-in verklaar word, is die vooruitsig wat dit wek nie een wat vertroue skep nie. As aanduidings korrek is dat, in aansluiting by die fiskale afgrond waarna ons verlede jaar ook verwys het, ‘n instelling soos die SAPD se begroting boonop wesenlik besnoei gaan word, versterk dit net die ontredderde gevoel wat mens moet kry as jy nog jou heil van die Suid-Afrikaanse owerhede verwag.

Die mate waartoe besteding in staatsdepartemente reeds deur korrupsie ondermyn is, mag die verwagting skep dat sulke besnoeiings in talle staatsdepartemente minder verskil aan werklike dienslewering sal maak as wat mens sou verwag. Selfs as dit waar sou wees, bied dit egter geen troos aan ‘n ondermynde burgery nie, veral nie aan die deel van die burgery op wie se belastingbydrae die wanbesteding gebou is en wat nou dubbel moet betaal om verwagde staatsdienste privaat te bekom nie.

Nóú verwant hieraan is die patrimoniale netwerke wat by uitstek in die politieke en openbare sektore gevestig geraak het en wat selfs institusioneel beslag gekry het in instellings soos die ANC se nasionale en provinsiale Deployment Committees. Dit blyk dat die ANC hieroor so geregverdig voel soos – op sy tyd – die NP oor Apartheid, en dat die gevolglike faksiegevegte wat dreig om die party ten gronde te rig, maar op die koop toe aanvaar word. Die res van Suid-Afrika het ook al daaraan gewoond geraak om deurlopend, maar veral op die vooraand van leierskapsverkiesings binne die ANC, deur sy interne politiek gyselaar gehou te word. Dat 2022 so ‘n ANC-verkiesing gaan aanskou, is daarom belangrik om in gedagte te hou. Dit het die potensiaal om nie net die ANC of die regering nie, maar ook Suid-Afrika te destabiliseer.

Hierdie ontwrigtingspotensiaal word egter teëgehou deur die mate waartoe gemeenskappe en gebiede in Suid-Afrika hulle psigies en materiëel aan die al-beskikking van die sentrale owerheid onder ANC-beheer, onttrek het en na hulle eie lot omsien. Hierdie onttrekking aan die sentrum onder ANC-beheer, neem een van drie vorme aan. Die een word deur armoede gekenmerk en bestaan oorwegend uit landelike en tradisionele gemeenskappe wat, ten spyte van hulle betreklike gebrek, selfstandig genoeg is om aan hulle eie lewensbehoeftes te voorsien en oor die kulturele veerkragtigheid beskik om ‘n eie somboliese orde in stand te hou. By hulle weeg geestelike selfstandigheid nog swaarder as materiële skaarste, maar die verligting van dié nood deur maatskaplike toelae, hoe karig ookal, is besig om sulke selfstandigheid stelselmatig te ondermyn.

‘n Tweede voorbeeld van onttrekking aan die sentrum is die presiese teenoorgestelde, naamlik betreklik welvarende en gemoderniseerde groepe individue, soms gemeenskappe, wat hulle in enklawes terugtrek en self aan hulle belangrikste behoeftes voldoen. Die Suid-Afrikaanse ekonomie bied inderdaad nog genoeg ruimte vir surplusskepping om dit moontlik te maak en sekuriteitsoorde kom oral voor. Waar sulke enklawes inderdaad deur gemeenskapsbinding ondersteun word, is dit nie net die materiële selfstandigheid nie, maar beide materiële én geestelike selfstandigheid wat die onttrekking ondersteun en word dit nie so maklik ondermyn nie.

Die derde voorbeeld van onttrekking aan die ANC-gedomineerde sentrum, is in werkliheid nie ‘n onttrekking aan die sentrum nie, maar aan die uitgangspunt dat die ANC oor ‘n regmatige monopolie op die politieke sentrum van Suid-Afrika beskik. Vir diegene wat nog nooit deur die ANC op sleeptou geneem is nie, lyk dit dalk nie na ‘n groot deurbraak nie, maar as mens in ag neem dat ‘n groot meerderheid Suid-Afrikaners die gedagte van die ANC se morele en politieke uitnemendheid hulle eie gemaak het, is dit ‘n ander saak. Hulle het die ANC vir meer as twee dekades met onuitdaagbare politieke mag beloon en onlangs eers baie skoorvoetend daaraan onttrek, nie eers deur teen die ANC te stem nie, maar bloot deur nie aan onlangse verkiesings deel te neem nie.

Hierdie onttrekking kan, in soverre dit nie op ‘n stedelike, armoedige apatie uitloop nie, die bronne wees waaruit leiers en groepe wat eerder self die politieke sentrum wil beset, hulle ondersteuning put. Dit sal natuurlik beide populêre én elitêre steun monster, by name onder diegene wat nog altyd ‘n sterk sin vir die Suid-Afrikaanse nasionale projek gehad het, liberale blankes en Afrikaners inkluis. Afrikaners bevind hulself teen hierdie tyd hoofsaaklik in die tweede groep en hier en daar in die derde groep, hoewel laasgenoemde versigtig met hulle etniese identiteit omgaan as dit by die politiek kom, omdat tribalisme nog altyd ‘n risiko vir nasiebou inhou.

Die Vryheidstigting is gevolglik van oordeel dat Afrikaners “versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe” moet wees. Ons is, menslik gesproke, op onsself aangewese en ons moet ons nie op ander verlaat nie – selfs nie wanneer ons belange oënskynlik met hulle s’n oorvleuel nie. Daarenteen moet ons, wanneer ons belange en strategieë beslag gekry het, aan die hand van daardie selfde oorvleueling met ander se belange en strategieë, aansluiting en samewerking soek met die oog op die bereiking van wat ons ná die 2021-aanslag op die openbare orde, die “beste moontlike Suid-Afrika” genoem het, naamlik die een waarin ‘n gemeenskap van gemeenskappe tereg kom.

Dit is die agtergrond waarteen ons strategiese fokus vir 2022 aangebied word.

Strategiese fokus vir 2022

Die ironie van 2021 se teleurgestelde verwagtings is dus dat die terugkeer na normaliteit uit twee teenoorgestelde rigtings gefrustreer is. In soverre daar hoegenaamd na terug gekeer is, was dit te veel vir diegene wat van rampspoed hulle habitat probeer maak het, maar te min vir diegene wat steeds gehoop het dat om terug te keer na normaal, dieselfde sal wees as om terug te keer na die verlede. En dit geld vir beide die pandemie én die ondergang van die Suid-Afrikaanse staat, wat deur krisis op krisis die krake in die stelsel uitgewys het. Gevolglik is die Vryheidstigting van oordeel dat ons strategiese fokus op die omlyning en vestiging van óns nuwe normaal en op die waardes en norme wat dit onderlê, moet konsentreer.

Die belangrikste vereiste is om ‘n langer tydspan as gewoonlik in die oog te hê, want hoewel ‘n gemeenskap se waardes en norme nie onveranderlik is nie, wapper of val dit ook nie saam met die winde van politieke mode in ‘n andersins stabiele samelewing nie. Dit kan vergelyk word met die denkbeeld wat ‘n skoenlapper van die boomtak waarop hy gaan sit, kan vorm. Die skoenlapper lewe maar vir ‘n enkele dag en sit hoogstens vir ‘n oogwink op dieselfde tak. Selfs as hy kon dink, sou die boom wat honderd jaar gegroei het om te word wat hy is, hom nie aan ‘n lewende organisme laat dink het nie. Ons, daarenteen, moet nou op die boom eerder as op die skoenlapper fokus.

Aan die hand van so ‘n benadering moet die volgende terreine gedurende 2022 en daarna deeglike aandag geniet. Dit sou in elke geval onmoontlik wees om praktiese uitkomste voor te stel, anders as om toepaslike waardes en norme te formuleer en na implementeringsmoontlikhede te soek. Hoewel meer abstrak as in vorige – en dalk in volgende – jare, is hierdie besinning belangriker as die meer voor die handliggende prioriteite soos byvoorbeeld leierskap- of jeugontwikkeling, omdat dit die bronne moet ontwikkel waaruit daar vir toepaslike leierskap- en jeugontwikkeling geput moet word.

Die orde van klein eenhede, die orde van groot eenhede en subsidiariteit:

Die moderne en laat-moderne samelewingsorde het wêreldwyd in die teken van altyd groter omvang en skaal gestaan. Waar negentiende eeuse nasionalisme nog gedien het om groepe en stamme rondom taal en kultuurverwysings te versamel en in state saam te voeg, het hierdie staatsorde in die volgende eeu in steeds groter, veelvolkige state en streke oorgegaan wat al minder kulturele waardes en al meer materiële verbruik op die oog gehad het. Die praktiese hoogtepunt van ideologiese globalisme het die vorm van ‘n vrye vloei van geld, goedere, mense en uiteindelik siektes aangeneem en op die perke van menslike vermoë en tegnologie, sowel as natuurlike hulpbronne gestuit. Dit was die vrug van 500 jaar se koloniale voorbereiding wat in sy laaste fase deur ‘n sekulêre en universele individualisme besiel is.

Terwyl die pendulum in die rigting van die universalisme geswaai het, was dit reeds duidelik dat plaaslike gemeenskappe, kleiner tale en spesifieke kulture nie sonder meer verdwyn het of hulle bestaan sou prysgee nie. Sulke gemeenskappe het reeds op talle plekke in die wêreld en onder die globalistiese orde al vir hulleself ‘n bepaalde status verwerf en sal hulle belange steeds beter bevorder namate die globalisme oor sy hoogtepunt gevoer word. In Suid-Afrika waar ‘n histories sterk sentralistiese staat vinnig besig is om te verval, kan mens by uitstek aanvoer dat die orde van kleiner eenhede na vore tree. Dit beteken nie dat die groter eenheid of eenhede heeltemaal sal verdwyn nie, maar wel dat kleiner volke en minderheidsgroepe nuwe horisonne sal kan verken. Afrikaners is reeds besig om die voortou daarmee te neem, maar loop die gevaar om dit op te ‘n beperkte skaal te benader deur hierdie breër verband nie voldoende in aanmerking te neem nie.

Daarby kan ‘n pro-aktiewe strategie ten gusnte van kleiner staatkundige eenhede ook in verhouding tot die groter eenhede die toon aangee as die kleiner en groter eenhede nie polêr teen mekaar opgestel word nie, maar as in opbouende samehang met mekaar verstaan word. Die sleutel daartoe is in die begrip subsidiariteit opgesluit, ‘n benadering wat veronderstel dat bevoegdhede by verstek op laer eerder as hoër staatkundige vlak gesetel is en dat magte van plaaslike gemeenskappe af opgewentel word na die groter eenhede wanneer dit vir bepaalde doeleindes nodig mag wees. Hoewel dit verwant aan federale afwenteling van magte is, bied die beginsel van subsidiariteit ‘n sterker grondslag vir ‘n kultuur van gemeenskapselfstandigheid en beoefen gemeenskappe dit eenvoudig deur verantwoordelikheid vir hulle eie belange te begin neem, soos byvoorbeeld Orania dit reeds vir etlike dekades lank doen. Daar kan met goeie gevolg oor ‘n breër front hierop gefokus word.

Gemeenskapsinrigting, arbeid en ‘n post-koloniale Afrikanerbestaan

As die druk waaronder die globale orde vandag verkeer deels aan sy koloniale oorspronge gewyt moet word, dan geld dieselfde ook vir die Afrikanervolk. Dat ons hoegenaamd in Afrika sou ontstaan en oor ‘n Euro-Afrikaanse identiteit beskik, is die regstreekse gevolg van die Nederlandse en Britse koloniale teenwoordigheid aan die Kaap en die Kaapse binneland sedert die middel van die sewentiende eeu. Sonder om daarin op te gaan, het ons dan ook veel van ‘n koloniale erfenis ontvang waarmee ons oor eeue al probeer afreken. Dit begin reeds by die Vryburgers se gespanne verhouding met die Kaapse owerhede, die trekboere se grensbestaan, die Groot Trek en die vestiging van die Boere republieke, wat tot die dood teen Britse verwowering verdedig moes word – telkens ‘n teen-koloniale beweging met koloniale oorspronge.

Na die Tweede Wêreldoorlog betree die wêreld ‘n era van gelykheid, demokrasie en dekolonisering wat nuwe eise aan Afrikaners stel, waaraan ons eers op eie voorwaardes en patroon probeer voldoen het, maar wat ons uiteindelik voor die eis van ‘n onderhandelde politieke skikking vir die hele bevolking geplaas het. Maar daarmee is, volgens Afrikaners se kritici, hulle koloniale skuld nog nie gedelg nie en elke vorm van vergelykbare welvaart waarmee Afrikaners bo hulle landgenote uitstyg, word as bewys daarvan voorgehou. Nodeloos om te sê dat Afrikaners hulle nie sonder meer daarin berus nie, maar ook nie sonder enige self-insig in hierdie verband is nie. Tallose gesonde en opbouende verhoudings met gewone mede-Suid-Afrikaners getuig onder andere van ons aanvoeling vir die kompleksiteit van ons eie posisie.

Ou baas-klaas verhoudings het al dikwels vir gelyke verhoudings plek gemaak en dat die politieke beheer in groot Suid-Afrika in die meerderheid se hande is, word algemeen aanvaar. Die altyd groter eise om selfverloëning wat uit sommige oorde gestel word en wat skynbaar meer as marginale byval vind, hou egter die moontlikheid van heelwat spanning in. Onregverdig en nadelig soos dit dikwels toegepas word, dra transformasie in die werksplek en Regstellende Aksie by tot ‘n interne herskikking en aanpassing onder Afrikaners sover dit arbeid en werksverdeling aangaan. Hierdie herskikking, met nuwe eise vir ontwikkeling en aanwending van vaardighede, moet nie as noodlot en straf alleen beskou word nie, maar ook as geleentheid om ‘n meer gebalanseerde en selfstandige volkslewe te vestig.

‘n Gemeenskap soos Orania waar alle soorte van werk deur lede aan mekaar verskaf word, bied nie net ‘n heenkome vir die volle verskeidenheid van mense wat ‘n normale snit van enige bevolking uitmaak nie, maar bied ook aan Afrikaners die geleentheid om nie net polities nie, maar ook ekonomies en kultureel ‘n onweerspreekbare antwoord op hulle eie koloniale oorspronge te gee eerder as om daaraan onder te gaan. Alle Afrikaners oral waar hulle is, hoef nie op dieselfde manier hierop te antwoord nie, maar almal kan daarby baat om hierdie nuwe lewenspatroon, die diepgrypendste verandering sedert die eerste slawe in 1657 na die Kaap gebring is, na waarde te skat en voor oë te hou. As ‘n wesenlike getal Afrikaners nie die uitdaging van arbeidselfstandigheid hulle eie gaan maak nie, loop ons as volk ‘n wesenlike risiko om saam met ander oorblyfsels van ‘n vergane koloniale era in die asblik van die geskiedenis te beland. Om dit te vermy verdien deeglike strategiese aandag en oorweging.

Stad en staat

Waar Afrikaners van vorige geslagte hulle vryheid in die vorm van landeke republieke gevestig het en verstedeliking as noodlot moes aanvaar, het veranderde omstandighede en die eise van vryheid, veiligheid en voorspoed die noodsaak vir konsentrasiestrategieë onder ons aandag gebring. Onlangse navorsing het al bevestig dat daar spontane tendense in hierdie rigting is, wat alle rede gee om steeds meer planmatig en strategies met bevolkingskonsentrasie en die vestiging van ‘n nuwe Afrikanerstad om te gaan. Alle Afrikaners het hulle nie in die verlede, en gaan hulle nie in die toekoms, in dieselfde staatkundige bedeling of stedelike omgewing bevind nie. In die toekoms sal ons dalk nog meer verspreid wees as in die verlede, maar dit kan die fokus op ‘n samehangende strategie waar bevolkingsdele mekaar in hulle onderskeie pogings ondersteun, verskerp. Inteendeel, ons Afrikaners se krag lê nog altyd in ons verskeidenheid, solank ons ‘n sin vir samehang behou.

Die noodsaaklike stedelike ontwikkeling wat vir moderne Afrikaners – en dit is alle Afrikaners – ‘n bestaaansvoorwaarde geword het, staan ook nie teenoor die staatkundige strewe na selfbeskikking, waarop elke volwaardige volk ‘n aanspraak het, nie. Dit kan eerder in diens daarvan staan, gegewe dat ons staatkundige denke gedissiplineerd en werklikheidsgetrou beoefen word. ‘n Stad word nie oornag gebou nie en staatkundige ordes word ook nie oornag gevestig nie, daarom moet die stad en staat van ons toekoms aan die hand van die verhouding tussen kleiner en groter ordes, en aan die hand van ‘n nuwe gemeenskapsinrigting en arbeidsetiek bedink word. Dit sal besonderse strategiese oorleg vereis.

Verbande en verbonde, asook vriend- en vyandskappe

Namate Afrikanergroeprings onder die nuwe omstandighede weer groter samehang en strategiese fokus verwerf, sal dit nie net die verbande na binne wees wat belangrik is nie, maar ook die verbande na buite. Na binne moet aanvaar word dat die soort lojaliteitsverhouding wat aan ‘n volk sy krag gee, reeds by gesinne begin, na groter familiegroepe oorgaan en binne “stamme” floreer voordat dit in volksverband gefedereer word – die orde van “families, clans, tribes and nations.” Al lyk dit by ‘n moderne en stedelike bevolking, waar jou sportspan dalk jou stam is, heel anders as by ‘n tradisionele en landelike bevolking, bly die lojaliteitsaard van die onderlinge verbintenisse steeds van krag en word dit steeds in groter eenhede gefedereer of saamgebundel sonder dat die kleiner eenhede hulleself hoef prys te gee om daarin op te gaan.

Volke is egter ook nie eilande nie en gaan onderling en aan die hand van gedeelde belange, bedreigings en omgewing ook verbintenisse aan. Dit kan ‘n verskeidenheid van vorme aanneem afhangend van die middele en vermoëns tot sulke volke se beskikking, en kan staatkundige beslag kry. In Afrikaners se geval, waar ons redelik onlangs ‘n nuwe, maar onbevredigende staatkundige bedeling betree het waarin daar oor kleiner volke geheers word, is ‘n teenbeweging vanselfsprekend. Ons streef na groter vryheid en meer leefruimte, en ons soek na bondgenote met dieselfde behoeftes. Dit stel die ‘verbande en verbonde” wat ons wil vestig, na binne en na buite, in perspektief.

Intussen is dit ook duidelik dat enige volk met ‘n uitgeklaarde strewe en ‘n uitgesproke poging om dit te bereik, ook teenkanting sal kry. Daar sal diegene wees wat ideologies of prakties teen groter selfstandigheid en selfbeskikking gekant is omdat dit strydig met hulle wêreldbeeld of nadelig vir hulle belange mag wees. ‘n Betreklik welvarende bevolking kan veral sulke teenstand verwag van diegene wat byvoorbeeld deur welvaartverdeledende belastings bevoordeel word.

‘n Volk oppad na groter selfstandigheid moet dus nie net vriendskap en ondersteuning verwag nie, maar ook vyandskap. Die vraag is hoe om met vyande om te gaan. Die antwoord hang natuurlik van spesifieke omstandighede en gebeure af, maar die belangrikste punt is een van definisie. In ‘n gesonde politieke kultuur is my vyand nie iemand wat glad nie behoort te bestaan nie – Is die wêreld dan vir jóú gemaak? kan gevra word – maar iemand met wie ek oor belangrike sake nie ooreenstemming kan kry nie. Ons staan dus teenoor mekaar, ons verskil en ons is nie een van plan om van standpunt te verander nie; ons meet kragte op ‘n minder of meer drastiese wyse, maar ons gee nie een bes nie. Ons kan mekaar probeer uitroei, maar nie sonder skade vir albei nie, … of ons kan ons verskil handhaaf en ‘n modus vivendi vind, ‘n vergelyk ingevolge waarvan die verskil gehandhaaf en dalk ‘n bietjie uitgestel word terwyl daar nog water in die see loop.

Vir iemand wat sulke verskille met die totale regsinnigheid van geloof of moraliteit tegemoet gaan, klink hierdie benadering vreemd, maar as mens aan die politiek ‘n eie bestaansruimte en bestaanswyse gun, is die handhawing van vyandskap part en deel daarvan. Die twintigste eeu het Afrikaners, wat veral in die tweede helfte so ‘n dominante politieke posisie beklee het, nie vanself vir so ‘n benadering toegerus nie en die politieke liberalisme met sy totalitêre aansprake en voorliefde vir moralisering, waarmee Afrikanernasionalisme meestal vervang is, nog minder. Ons huidige omstandighede maak dit egter noodsaaklik om hieroor te herbesin. Vreemd soos dit klink, sal Afrikaners in die toekoms ‘n gesonde sin vir vyandskap aan die dag moet lê.

Politieke teologie

Ten slotte moet erken en verreken word dat politieke denkbeelde op teologiese fondamente gebou word, selfs wanneer dit versteek en verswyg word. By Afrikaners is dit tot betreklik onlangs nie versteek of verswyg nie, soos uit ‘n publikasie van SABRA in 1984 (Die nuwe onderwysbedeling van die RSA: enkele gevolge vir selfbeskikking) blyk. In die slotparagraaf staan onder andere die volgende:

“Die Afrikaner heg groot waarde aan sy volkskap. Volgens sy geloof het volke binne God se raadsplan ontstaan, moet elke volk sy roeping op aarde aanvaar en die vervulling daarvan nastrewe. In die nastrewing van die volk se roeping ontstaan eiendomlike kultuur en lewensverbande waarbinne elke lid homself kan uitlewe en sekerheid en geestelike krag vir sy taak vandaan haal.

“Die voortbestaan van sy volk is dus vir die Afrikaner van grondliggende belang en geleenthede vir ander volke om hulle voortbestaan te verseker, word ewe belangrik geag. Teen hierdie agtergrond is die naasbestaan van volke wat in hulle onderskeie state woon en onderling saamwerk, die voor-die-hand-liggende ideaal.

“‘n Ideaal wat so in die geloof geanker is, verg doelbewuste strewe en optrede om dit te verwesenlik. Die feit dat dit nou onbereikbaar lyk, bied geen verskoning vir ‘n gelowige volkslid om die nastrewing daarvan te laat vaar nie …”

Terugskouend kan dit mens met spyt vervul dat hierdie hoë ideaal te moeilik geblyk het om gestand te doen en dat ons inderdaad oor die struikelblokke van die tyd geval het. Die Afrikaner benader uiteraard sy bestaansuitdagings vandag vanuit ‘n heel ander posisie. Magsverhoudings het verskuif en staatsinstrumente wat voorheen tot sy beskikking was, het hom intussen ontval. Daarom dat ‘n omvattende heroriëntering die afgelope jare nodig was en plaasgevind het. Dit is die heroriëntering aan die hand waarvan ons nuwe normaal nou vasgestel moet word. ‘n Sterk sin vir die politieke teologie waarop ons strewe gebou word, en wat aansluit by die fondamente waarop dit voorheen gebou is, al was die bouwerk voorheen nie altyd edel of suksesvol nie, is nou noodsaaklik. Dit moet in die jaar wat voorlê – en daarna – nog behoorlik onder oë geneem, ontwikkel en gevestig word.

Met hierdie siening van sake en strategiese fokusareas vir die jaar wens die Vryheidstigting elke Afrikanerleier, besluitnemer, meningsvormer en deelnemer aan sy en haar eie toekoms, alle sterkte en sukses vir 2022 toe!

Met beste wense

Carel Boshoff

Hoof van die Vryheidstigting

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *