’n Politieke toekomsplan
Deur Wynand Boshoff
Deel 2 van 3. Lees deel 1 HIER.
Hoe kom ’n mens van waar jy is na waar jy wil wees? Anders gestel, hoe beweeg jy van die bekende na die gewenste? Die antwoord daarop is jou politieke toekomsplan.
’n Politieke toekomsplan is meer as alledaagse politiekery, wat soms maar net rigtinglose planne is om punte teen opponente aan te teken. Tog moet dit die kwessies van die alledaagse politiekery in ag neem, om die hindernisse tussen die bekende en die gewenste raak te sien.
Dit is ook iets anders as ’n persoonlike plan wat mens dalk met ’n finansiële adviseur bespreek. Politiek gaan oor die gemeenskap. ’n Persoonlike plan kan sy rigting van ’n politieke plan kry, maar as dit iets is wat ek alleen doen, is dit nie meer politiek nie.
Vorige politieke toekomsplanne kan nogal insig gee in hoe mens oor volgendes moet dink. Ons fokus kortliks op planne waarmee Afrikaners na die Tweede Wêreldoorlog vorendag gekom het. In beginsel is dit drie verskillende planne, maar in uitvoering was dit in gespanne en wisselende kombinasie.
Die vertroude werklikheid dat Westerse volke die reg het om oor groot koloniale bevolkings die septer te swaai, het blanke oorheersing van Suid-Afrika onderlê. Na die oorlog was dit egter duidelik dat die verskynsel van swart politieke strewe nie as ’n verspottigheid van die tafel gevee kon word nie.
Die drie oorheersende planne was doelgerigte onderdrukking van swart politieke strewes; verwesenliking daarvan op “ons” voorwaardes; en verwesenliking daarvan op “ons” tydsberekening. Sleutelwoorde was apartheid; afsonderlike ontwikkeling; en partnership.
Die eerste het daarop neergekom dat verwesenliking van swart politieke strewes onafwendbaar die einde van Afrikaners se vryheid sou beteken. Daarom moes dit in die kiem gesmoor word.
Die tweede het aanvaar dat swart bevryding binne afsienbare tyd moes plaasvind. Daarvoor moes nuwe ekonomieë ontwikkel word, want die bestaande moderne ekonomie was “blank Suid-Afrika”.
Die derde het aanvaar dat daar ruim tyd was om “kwalifiserende” swart mense geleidelik by die politieke proses in te sluit. So is ’n Westerse samelewing met meer en meer swart gesigte voorsien, op pad na ’n nie-rassige samelewing met ’n Westerse aard.
Op sosiale vlak het plan 2 en 3 meer met plan 1 in gemeen gehad as wat mens sou dink. Dit word deur die volgende twee tipiese sinne omlyn:
· “Op sy plek gun ek hom alles wat ek het, maar nie hier nie, hier is ek baas.”
· “As hy dit kan bekostig om hier te bly, is hy welkom.”
Dit is ook nie moeilik om te sien hoekom swart mense al drie planne maar net as verskillende weergawes van plan 1 beskou het nie. Verder het al drie op die een uiteinde afgestuur het wat al drie probeer voorkom het: ’n Afrika-samelewing, wat Westerlinge wat hulle plek ken, aanvaar.
Wat die drie planne nog in gemeen gehad het, was ’n vaste geloof in die meerderwaardigheid van die Westerse kultuur. Verder het nie een gevoel dat die heersersklas ook die meerderheid van die bevolking hoef uit te maak nie; dit was eintlik verkillende maniere om meerderheidsregering te fnuik.
En dit is die hele punt: Geen politieke toekomsplan kan werk, as dit van die vertrekpunt uitgaan dat iemand anders as die meerderheid sal regeer nie.
In ’n volgende aflewering sal ’n politieke plan voorgestel word, wat in ag neem waar ons is, wat dit is wat vorige planne laat platval het en wat die struikelblokke sowel as geleenthede wat nuut is, in ag probeer neem.
—