Afrikaners en die staat van ons toekoms
Deur Johann Rossouw
1. VAN WYK LOUW SE DRIE BEDREIGINGS
Driehonderd jaar na Jan van Riebeeck onbedoeld die lang, dubbelsinnige eksperiment van Europese vestiging in Suid-Afrika begin het, en vier jaar nadat Afrikaners vir die eerste keer in hulle geskiedenis die beheer oor ’n moderne staat oorgeneem het, eien NP van Wyk Louw in 1952 drie gevare vir die voortbestaan van Afrikaners.
Die eerste is ’n bereiging van buite in die vorme van “militêre oorrompeling” of “toeploeg deur massa-immigrasie”. Hy lig laasgenoemde toe: “Met hierdie bedoel ek nie alleen die berugte toeploeg deur massa-immigrasie nie, maar elke poging om die Afrikaner tot ’n hulpelose minderheid in sy eie land te maak; dit is alleen ’n subtieler en stadiger poging om die ‘Afrikaner-probleem’ op te los as [militêre oorrompeling], maar nie minder drasties nie.” (1)
Die tweede en derde bedreigings kom van binne die gemeenskap self: “Wanneer ’n groot deel van ons mense self daaraan sou begin twyfel of ons as volk moet voortbestaan.” (2)
En: “Wanneer ’n groot deel van ons volk in die gevaar sou kom om te meen dat ons nie in geregtigheid met ons mede-volke in Suid-Afrika hoef saam te leef nie: sou kon meen dat blote voortbestaan die hoofsaak is, nie regverdige bestaan nie.” (3)
Louw se toeligting oor die tweede bedreiging is verhelderend: “… [D]ie individue elkeen sou kon voortgaan – miskien selfs welvarend voortbestaan – maar hulle sou nie mee ’n onderskeie volk vorm nie; so sou ons, Afrikaners, elkeen los kon voortbestaan, maar opgeneem in ’n Angel-Saksiese of Bantoe-volk.” (4)
Met die nodige toegewing dat Louw ander woorde as ons vandag vir dieselfde werklikheid gebruik, is Louw se taksering van die bedreigings vir Afrikaners se voortbestaan vandag meer aktueel as toe hy dit geskryf het.
Louw se konteks
Voor ons die aktualiteit van Louw se taksering verder ontgin, is dit verhelderend om sy tydsgewrig te onthou. In die vroeë 1950’s het Afrikaners pas selfvertroue in hulle nuwe staatkundige posisie begin kry: vir die eerste keer in ons geskiedenis was ons in beheer van ’n moderne staat (5). Terwyl daar meer as 2.3 miljoen witmense in SA was, was daar meer as 7.8 miljoen swartmense, met destydse demografiese vooruitskattings van 5.7 miljoen witmense teenoor 18.9 miljoen swartmense teen die jaar 2000 (6). In daardie stadium is die reuse verskil tussen swart en wit bevolkingsgetalle aan die einde van die twintigste eeu deur feitlik niemand voorsien nie. Swartmense het oor baie min instellings, politieke of ekonomiese mag beskik. Afrikaners het hulleself as deel van die Weste beskou, en omgekeerd was dit ook so. Net soos die ANC na 1994, kon Afrikaners in 1952 ook op internasionale simpatie en ’n moreel aantreklike posisie as voormalige verdrukte groep in hulle eie land aanspraak maak.
Teen hierdie agtergrond is dit denkbaar dat Louw se drie bedreigings vir die meeste Afrikaners effens absurd sou voorkom. Afrikaners sou destyds kon redeneer dat hulle onder geen militêre bedreiging van ander gemeenskappe of state was nie.
In 1952 sou Afrikaners met die nasionalistiese beklemtoning van die lyding en verliese van die Anglo-Boereoorlog, asook van die lang stryd om Afrikaans teenoor Engels te vestig, miskien nog vrese oor die langtermyn bedreiging van verdwyning in ’n “Angel-Saksiese volk” kon koester, ofskoon die selfvertroue van hulle staatkundige posisie ook hierdie moontlikheid gering moes laat lyk het.
Gegewe die destydse demografie en magsverhouding tussen Afrikaners en ander SA gemeenskappe moes verdwyning in ’n “Bantoe-volk” nog meer onwaarskynlik gelyk het. Die moontlikheid dat ’n swart meerderheidsregering wat sy sake in Engels doen eendag ’n werklikheid sou wees, moes heeltemal belaglik voorgekom het. Per slot van rekening was 1952 nog ’n dekade of twee voor die post-koloniale Afrika-patroon van ’n inheemse regering in die voormalige koloniale taal gemanifesteer het.
Teen die agtergrond van die bruisende Afrikaner-nasionalisme van die vroeë 1950’s moes ook die moontlikheid dat genoeg Afrikaners die wil verloor om as gemeenskap voort te bestaan, en grootliks as individue “miskien selfs welvarend voortbestaan” heeltemal vergesog gelyk het.
Maar die mees boeiende waarskuwing wat Louw by nabetragting gerig het, was die bedreiging dat ons nie in geregtigheid met die ander gemeenskappe in Suid-Afrika sou wou saamleef nie, maar “bloot voortbestaan”. Ongeag wat ’n mens se taksering van die regverdigheid of onregverdigheid van apartheid in sy verskillende fases is, is dit onteenseglik vandag so dat hoe hierdie kwessie aan verskillende kante van die SA politieke spektrum getakseer word, die mees bepalende faktor in die hededaagse SA politiek is.
Huidige betekenis van apartheid
Wat die ANC en sy alliansievennote tans betref, was apartheid grootliks onregverdig, en is die assosiasie tussen Afrikaners en apartheid so nou, dat sake wat vir Afrikaners hoog op die agenda is eenvoudig selde as legitiem beskou word. Hierdie sake sluit in die posisie van Afrikaans, regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging, grondhervorming, plekname, onderwys en selfs veiligheid. Wanneer hierdie sake so deur Afrikaners opgehaal word, bly die vermeende klad van apartheid op hierdie sake so gewigtig dat daar min sprake van ’n behandeling van die kwessies op basis van wedersydse erkenning is.
Wat Afrikaners se taksering van apartheid betref, wil dit voorkom asof dié kwessie ook bepalend vir Afrikaners en hulle voortbestaan as gemeenskap is. Die versigtigheid waarmee die lys sake in die vorige paragraaf tot baie onlangs, indien nie nog steeds nie, deur Afrikaner-sakeleiers, Afrikaner-kerkleiers en Afrikaners in die rektorate van histories Afrikaanse universiteite benader is, getuig van die geïnternaliseerde aanname van die verdoemende assosiasie tussen Afrikaners se politieke sakelys vandag en apartheid of die heimlike verlange daarna.
Bepalende Afrikanergeslag
Daar is egter ook ’n ander bepalende groepering wat die assosiasie tussen Afrikaners, apartheid en politieke ongeregtigheid oënskynlik toegeëien het: die geslag professionele Afrikaners wat volwassenheid tussen, rofweg, 1975 en 1995 betree het. Gebore tussen 1955 en 1975 het hulle die fase waarin die assosiasie tussen apartheid en ongeregtigheid die sterkste was, meegemaak. Vir hulle was patriargale onderdrukking op skool, in die kerk en in die weermag of beroepslewe dikwels
’n werklikheid. Die militarisering en geweldpleging in SA, en die algemene gebrek aan ’n begeesterende politieke visie onder John Vorster en PW Botha vorm alles deel van hulle verwysingsraamwerk.
In sy toeligting van die bedreiging van te veel Afrikaners wat die wil verloor om as gemeenskap voort te bestaan, beskryf Van Wyk Louw die profiel van so ’n groepering. Sy beskrywing toon verbasende ooreenkomste met bogenoemde geslag Afrikaners: “Die mense wat ’n oog het vir die tweede soort krisis van ’n volk, is … baie kleiner in getal as die tipes wat ek reeds genoem het; maar juis daarom onontbeerlik… [H]ulle is … die mense wat sorg dat die volk ’n waardevolle besit het wat die moeite werd is om te behou. En nie alleen die makers of skeppers van so ’n besit – denkers, wetenskaplikes, kunstenaars nie –; maar ook die wat die besit waardeer, hoed, versprei – lesers, kritici, onderwysers, die beste soort joernaliste, knap tegnici, ekonomiese leiers en baie ander; ‘propagandiste’ in die oorspronklike en hoogste sin van die woord.” (7)
Dit is belangrik om in gedagte te hou dat Louw hierdie beskrywing nog voor die koms van TV gee: by verre die meeste “propagandiste” (‘meningsvormers’ in die hedendaagse taal) oefen hulle invloed onder Afrikaners vandag deur TV, radio en die internet uit. Dit sluit in sogenaamde bekendes, en is mense afkomstig uit die ligte musiek, sport, sepies, en so meer. Die etos wat hulle oorwegend aanhang, is cool, apolities en een van individualistiese verbruik. Waarskynlik is die aanname oor die ongeregtigheid van die verlede ook by hulle so sterk geïnternaliseer dat die welvarende individualiteit waaroor Louw hierbo aangehaal is, en die implisiete afskeid van die wil om as gemeenskap voort te bestaan, by hulle voorkom.
In die lig van Louw se beskrywing van die profiel van die mense wat die wil verloor om as gemeenskap voort te bestaan, asook die historiese ervaring van die groep Afrikaners gebore tussen 1955 en 1975, wil dit voorkom asof die assosiasie tussen apartheid en ongeregtigheid by hierdie groepering so sterk is dat die meeste van hulle tans die wil verloor het om as gemeenskap voort te bestaan.
Daar is verskillende vorme waarin hierdie wilsverlies voorkom. Dit sluit in:
– groot getalle Afrikaners uit hierdie groepering wat hulle in ander voormalige Engelse kolonies soos die VSA, Kanada, Australië en Nieu-Seeland gaan vestig, waar Louw se waarskuwing van verdwyning in ’n “Angel-Saksiese volk” op ironiese wyse waar mag word;
– bogenoemde apolitiese, individualistiese etos wat deur Afrikaanse meningsvormers op TV en radio bevorder word;
– bogenoemde versigtigheid oor Afrikanersake by Afrikaanse sake-, kerk- en universiteitsleiers;
– die enorme kollektiewe uitsigloosheid en swartgalligheid van Afrikaners wat vandag Afrikaanse brieweblaaie, gespreksprogramme, internetfora, en dies meer, oorheers.
Louw se bedreigings verwesenlik
Dit is teen bogenoemde agtergrond duidelik dat aldrie die bedreigings vir Afrikaners se voortbestaan as gemeenskap waarteen Van Wyk Louw in 1952 gewaarsku het, nou verwesenlik is. Om dit saam te vat:
– Die talige (en nie “rasgebaseerde”) assimilasie in ’n “Angel-Saksiese” of ’n “Bantoe-volk” is ’n wesenlike moontlikheid, eersgenoemde buitelands in voormalige Engelse kolonies, laasgenoemde binnelands onder ’n Engelsgesinde, Afrika-rasnasionalistiese
meerderheidsregering. Selfs lewensverlies onder Afrikaners in plaas- en huisaanvalle kan as ’n vorm van “militêre oorrompeling” beskou word, en soos alombekend speel die vrees vir sodanige aanvalle ’n groot rol in Afrikaner-landsverlating;
– Die verlies aan ’n wil by ’n kritiese massa Afrikaners in die professies en die sakewêreld om as gemeenskap voort te bestaan, is onmiskenbaar;
– Die historiese persepsie van voortbestaan sonder geregtigheid deur Afrikaners veral in die 1970’s en 1980’s is vandag sterk geïnternaliseer by sowel die geslag Afrikaners van wie die voortbestaan van ons gemeenskap afhang, sowel as by die swart politieke eweknieë.
2. DIE SA STAAT 1910 TOT 2010
Ten einde die vraag na die voortbestaan van Afrikaners as ’n gemeenskap te probeer beantwoord, is dit nodig om ’n beoordeling oor die Suid-Afrikaanse staat vanaf 1910 tot 2010 te maak. Ewe belangrik is om ’n beeld te probeer kry op hoe, onderskeidelik, swart Suid-Afrikaners en Afrikaners in hierdie honderd jaar dié staat beleef het.
Ofskoon die geografiese gebied wat vandag as Suid-Afrika bekend staan in 1910 vir die eerste keer staatkundig in die vorm van die Unie van Suid-Afrika beslag gekry het, is dié gebeurtenis voorafgegaan deur ’n aantal aanleidende ekonomiese, tegniese en politieke gebeure.
Dit is onnodig om in hierdie opstel uitvoerig op hierdie aanleidende gebeure in te gaan, maar dit is wel nodig om kortliks daarvan kennis te neem ten einde die durende, bepalende eienskappe van die Suid-Afrikaanse staat te verstaan.
Aanleidende gebeure van SA staat
Die lang Europese negentiende eeu vanaf die Franse Rewolusie in 1789 tot die uitbreek van die Eeerste Wêreldoorlog in 1914 was bepalend vir die SA staat. Tewens, daar kan gepraat word van ’n lang Suid-Afrikaanse negentiende eeu, wat amper presies met die Europese een saamval. Dit begin in 1795, met die eerste Britse kolonisasie van die Kaap, en eindig in 1910, met die Uniewording.
Wanneer die ervaringe van Afrikaners en swart gemeenskappe van Britse teenwoordigheid in SA gedurende dié eeu ontleed word, val dit op dat die politieke instellings van die inheemse gemeenskappe (insluitend Afrikaners) op die duur nie standgehou het voor die ekonomiese en staatstrukture wat Brittanje destyds na SA uitgevoer het nie.
Teen die einde van die lang Suid-Afrikaanse negentiende eeu in 1910 het al die inheemse gemeenskappe van die land hulle politieke en ekonomiese selfstandigheid gedeeltelik (Afrikaners) of geheel en al (swart gemeenskappe) verloor. Hierdie belangrike graadverskil in politiek-ekonomiese verliese deur inheemse gemeenskappe sou teen die einde van die twintigste eeu bepalend vir die verhouding van Afrikaners en swartmense wees. Hieronder sal na hierdie belangrike graadverskil teruggekeer word, maar vir eers kan ’n belangrike aspek hiervan vermeld word: deels weens die kleiner kultuurverskil tussen die Britte en die Afrikaners as tussen eersgenoemde en swartmense (met inbegrepe rassistiese vooroordele van albei wit groepe jeens swartmense), en deels weens Brittanje se besluit om die Afrikaners staatkundig en ekonomies tot ’n mate met Uniewording te akkommodeer op grond van die berekening dat dit vir die Britse ryk ekonomies voordelig sou wees, is
swartmense se uitsluiting uit ekonomiese en kulturele produksie teen 1910 tot groot mate vasgelê.
Dit is welbekend dat Afrikaners deur ’n massiewe gemeenskapsbelegging in onderwys en moedertaal tussen 1875 en 1950 nie net hulle kulturele produksie dramaties verhoog het nie, maar teen 1948 polities gemobiliseerd genoeg was dat hulle die moderne SA staat kon oorneem. Hulle kon hulself meet aan en handhaaf teenoor Suid-Afrikaners van Britse afkoms, en die basis lê vir skouspelagtige ekonomiese produksie vanaf ongeveer 1960.
Staatsbeheer deur Afrikaners het nie die einde van die Britse mag in SA beteken nie. Die wit, Engelse ekonomiese elite, wat in daardie stadium sigself kon handhaaf met ’n kragtige kombinasie van Engelse universiteite, privaatskole, kapitaal en die rugsteuning van Brittanje (en later die VSA), het ingesien dat die groter ekonomiese akkommodasie van Afrikaners in die SA privaatsektor ook in hulle belang was, soos onder meer versinnebeeld deur dei stigting van Gencor.
Vervoer en die sentralistiese SA staat
In ’n uitgestrekte land soos SA is ’n vervoernetwerk wat al die plekke in die land verbind van groot belang vir die sirkulasie van mense en goedere. Die volgende faktore het ’n unieke karakter aan die SA vervoernetwerk gegee, wat op die duur bepalend vir die aard van die staat was:
– die prominensie van Kaapstad en Durban in die negentiende eeu as hawens wat die SA binneland met die buiteland verbind het, en die twee stede strategiese punte vir die ekonomie en verdediging gemaak het;
– die ontdekking van goud en diamante in Kimberley en aan die Witwatersrand, wat massas mense na hierdie areas getrek het, en hulle (eintlik Johannesburg en omliggend) blywende belang in die ekonomie, asook hulle toeganklikheid vir die treinnetwerk verseker het;
– Pretoria en Bloemfontein as nuwe politieke stede gestig deur die Afrikaners, en dus van strategiese belang in die Anglo-Boereoorlog en die latere simboliese waarde van hierdie stede vir regering en regspleging vanaf Uniewording.
Wat al die faktore in die vorige paragraaf meegebring het, is dat:
– die vermelde stede as punte van wit nedersetting in SA na vore getree het;
– die treinnetwerk nie ontwikkel is om alle plekke in die hedendaagse SA te verbind nie, maar wel die vermelde stede met die implikasie dat wit toegang tot vervoer tot aan die einde van die twintigste eeu onvergelykbaar beter as die van swartmense was;
– die SA staat se teenwoordigheid en gesag veral in hierdie stede gevestig is.
Gegewe die strategiese belang van hierdie stede was dit enersyds makliker om ’n
sentralistiese staat te begunstig: ’n staat wat sy gesag vir die meeste van sy burgers op hoofsaaklik vyf of ses eerder as op vyftig of sestig plekke moet laat geld, kan baie makliker sentralisties optree.
Andersyds het hierdie stede toenemend in die loop van die twintigste eeu die hoofsentra van die ekonomie en die breë Suid-Afrikaanse bevolking geword. Tans woon amper 70% van Suid-Afrikaners in hierdie stede sodat hulle ook die plekke is waar die politieke en ekonomiese lot van SA beslis word.
Uitsluitende SA staat
Wat die aard van die SA staat en ekonomie internasionaal betref, is dit belangrik om in gedagte te hou dat Brittanje se vernaamste oogmerk gedurende die lang negentiende eeu
met SA se staatkundige en ekonomiese ontwikkeling was om vir Brittanje die maksimum ekonomiese voordeel te verseker. Met ander woorde, die staatkundig-ekonomiese struktuur wat grootliks onder Britse aanvoering in die negentiende eeu ontwikkel is, was as ’t ware van “bo na onder” op die inheemse gemeenskappe neergelê. In plaas daarvan dat die staat, soos in Europa na die Franse Rewolusie, die voertuig van ekonomiese en politieke welvaart van die bevolking moes wees, was die SA staat so ontwikkel dat dit Britse ekonomiese en politieke welvaart in die eerste plek bevorder en die inheemse bevolking uitsluit.
Die implikasie hiervan vir SA se inheemse gemeenskappe, was dat slegs in soverre hul belange nie met dié van Brittanje gebots het nie, hulle voordeel uit die SA staat en ekonomie sou trek. Dié toedrag van sake het onder meer twee bepalende gevolge gehad.
In die eerste plek is al die inheemse gemeenskappe verdeel tussen diegene wat daarna gestreef het om hulle lot by die Britse Ryk in te werp, en diegene wat hulle teen die Britse Ryk wou verset ter wille van hulle eie gemeenskap. Eersgenoemde is natuurlik deur Brittanje verwelkom, en elke inheemse gemeenskap in SA kan voorbeelde toon van hoe van hulle lede as ’t ware verrykte verteenwoordigers en verlengings van Brittanje in SA geword het. Laasgenoemde het die leidende elites in die verskillende inheemse nasionalistiese bewegings geword, wat uiteindelik in die tweede helfte van die twintigste eeu sou uitmond in die groot stryd tussen Afrikaner- en Afrika-nasionalisme oor beheer van die staat.
SA staat, binnelandse elites en die buiteland
In die tweede helfte van die twintigste eeu het daar natuurlik belangrike veranderinge plaasgevind, wat verdere implikasies sou meebring vir die verskillende inheemse gemeenskappe.
In die eerste plek het die VSA Brittanje na die Tweede Wêreldoorlog as leidende Westerse land vervang. Gevolglik is die strategiese goeie verhouding van die SA staat en ekonomie met Brittenje uitgebrei na die Weste. Aangesien hierdie verskuiwing saamgeval het met Afrikaners se oorname van die staat, het Afrikaners hulle hierby aangepas, en was die verhouding met die Weste tot en met 1994 van sleutelbelang vir Afrikaners se posisie in SA.
Terugskouend kan gesê word dat daar drie lotsbepalende gebeure in Afrikaners se verhouding met die Weste na 1948 was: Verwoerd se onttrekking aan die Statebond in 1960; die Westerse kultuurboikot van SA vanaf die vroeë 1970’s; en Westerse disinvestering uit SA in die laat 1980’s.
Die belang van hierdie gebeure vir Afrikaners was dat Afrikaners eers polities en later ekonomies die steun van die Weste verloor het; dat hulle kulturele bestuiwing van die stamlande tot die Anglo-Amerikaanse wêreld verskraal is; en dat hulle teen die einde van apartheid internasionaal volledig geïsoleer was.
In die geval van swartmense het die leiers van die Afrika-nasionalisme natuurlik vanaf die vroeë 1950’s begin met ’n strategie om die guns van die Weste te wen, ’n oogmerk wat teen die laat 1970’s verwesenlik was. By nabetragting, soos veral geblyk het in ’n reeks anti-Westerse standpunte vanaf die bewindsoorname van die ANC, wil dit voorkom asof hierdie oogmerk van die Afrika-nasionaliste suiwer strategies was, en dit is ’n ope vraag of die Weste uiteindelik sy steun ook aan die huidige SA regering sal onttrek en, indien wel, wat die gevolge vir SA sou wees. In soverre die res van Afrika in dié verband ons iets kan leer, was sodanige onttrekking van Westerse steun selde bevorderlik vir interne politieke stabiliteit of binnelandse regeringsverandering.
Einde van Westerse hegemonie
’n Tweede belangrike verskuiwing gedurende die tweede helfte van die twintigste eeu, wat eintlik eers vanaf die Val van die Berlynse Muur in 1989 duidelik geword het, is dat die einde van Westerse wêreldhegemonie op hande is. Daarmee word nie gesuggereer dat die Weste, wat steeds SA se belangrikste handelsvennote insluit, op die duur nie bepalende invloed op SA sal hê nie, maar dit wel uiteenlopende implikasies vir die verskillende inheemse gemeenskappe van SA.
Wit Suid-Afrikaners in die algemeen, en Afrikaners in die besonder, kan aanvaar dat Westerse steun vir hulle posisie – in soverre dit hoegenaamd bestaan, of ooit weer sal bestaan – allermins die gewig op die wêreldverhoog sal dra wat dit, sê, tot en met 1989 gedra het. Swart Suid-Afrikaners kan, aan die anderkant, minder in ’n westerse rigting oor hulle skouer loer, en met groter vrymoedigheid ooswaarts kyk. Die ekstreme geval van Robert Mugabe se magshandhawing met Chinese steun is ’n voorbeeld hiervan, terwyl dit in SA duidelik is dat die verhouding met China, Indië en Brasilië onder meer vir die huidige regering in die toekoms nog belangriker gaan word. ’n Mens kan jou kwalik voorstel dat China die eerste sal wees om ’n onafhanklike Afrikaner-staat te erken, net soos jy jou kwalik kan voorstel dat China of Indië sal dreig om in SA te disinversteer as die ANC nie bepaalde aspekte van sy binnelandse politieke huishouding agtermekaar kry nie.
Verswakkende, verdeelde staat
’n Derde belangrike verskuiwing rakende die SA staat en ekonomie die afgelope twee tot drie dekades is dat terwyl die kompetisie vir deelname aan hulle strukture verskerp het teen die agtergrond van ’n groeiende bevolking en kruipende armoede, die uitvoerende vermoë van veral die SA staat dramaties verswak het. Afgesien van die groeiende stroom berigte oor die agteruitgang van die infrastruktuur, onderwys en gesondheid in SA, demonstreer niks die verswakking van die SA staat so grafies soos sy vermoë om sy burgers se veiligheid te verseker nie.
Hierbo is verwys na die feite dat teen die Uniewording swartmense finaal en vir alle praktiese doeleindes uit ekonomiese en kultuurproduksie gesluit is, terwyl Afrikaners tussen 1975 en 1950 deur onderwys en moedertaalontwikkeling hulleself in staat gestel het om beslissend aan die staat en die ekonomie deel te neem. Daar is ook reeds verwys na die feit dat die mobiele, stedelike individualisme van wit Suid-Afrikaners die nastrewenswaardige vorm in die SA staat en ekonomie geword het.
Die implikasies van hierdie historiese gegewens vir SA na 1994 was dat ’n diepgesetelde gebrek aan ekonomiese en kulturele selfvertroue by die leiers van Afrika-nasionalisme daartoe gelei het dat beleidsmaatreëls ingestel is wat van meet af aanvaar het dat swart selfstandigheid slegs kultureel en ekonomies bereik kan word deur die omarming van Engels en deur die herverdeling van hoofsaaklik wit ekonomiese produksie onder swartmense, tot voordeel van ’n betreklik klein proporsie van die breë swart bevolking.
Dit het die mees ironiese gevolg vir die verhouding tussen wit en swart in SA gehad. Witmense in die algemeen, en Afrikaners in die besonder, het hierop gereageer deur met nog groter ywer ’n bestaan van privaat ekonomiese selfstandigheid na te jaag, en die individualisme onder Afrikaners is dramaties verstewig – so is Van Wyk Louw se vrees vir genoeg Afrikaners wat nie meer as gemeenskap wil voortbestaan nie waarskynlik gedeeltelik bewaarheid.
Swartmense wat wel in die staat en die ekonomie opgeneem is, het nie dié geleentheid gebruik om inheemse tale en onderwys te bevorder nie – waarmee hulle mettertyd hulle deelname aan ekonomiese en kulturele produksie kon herwin nie – maar om hulle kompetisie met wit Suid-Afrikaners grootliks in terme van verbruik voort te sit. Dit was voorspelbaar dat hierdie toedrag van sake oor en weer rassistiese beskuldigings tussen die verskillende inheemse gemeenskappe aangehelp het, en dit ly min twyfel dat die dramatiese toename van geweldsmisdaad teen onder meer Afrikaners ook hiermee verband hou – wat geensins wil sê dat die enigste of selfs vernaamste oorsaak van geweldsmisdaad teen Afrikaners is nie. Wat egter wel onteenseglik so is, is dat die terreureffek van sodanige geweldsmisdaad op Afrikaners verreikend is, soos onder vele meer gedemonstreer deur die rol wat dit in Afrikaner-landsverdeling speel.
Alvorens die staat van Afrikaners se toekoms in die laaste gedeelte van hierdie opstel in die lig van voorgaande aan die orde gestel word, moet ’n laaste aspek van die huidige SA bedeling uitgelig word. Dit is die feit dat die SA staat, wat sedert Britse kolonisasie ’n logika van verdeel en heers volg (waarvan die NP se beleid van swart “nasionale state” ’n variant was), weens die verswakking van die staat die afgelope twee tot drie dekades nou waarskynlik ’n kritiese punt bereik het: dit het nou so swak geword, dat die langtermynvermoë daarvan om inheemse gemeenskappe met ’n geskiedenis van kompetisie en vyandigheid uitmekaar te hou, nie sonder meer aanvaar kan word nie.
Hiervan is die groeiende etnosentrisme van verskillende swart gemeenskappe binne die ANC die vernaamste aanduiding, maar beslis nie die enigste nie. Daarmee word nie voorspel dat SA op ’n burgeroorlog afstuur nie, maar word wel aangedui dat te midde van ’n burgery wat ekonomies en kultureel al meer verdeeld is, stabiliteit en veiligheid in SA op die korttermyn eerder sal afneem as toeneem.
Wat is teen hierdie agtergrond die staat van Afrikaners se toekoms?
3. DIE STAAT VAN AFRIKANERS SE TOEKOMS
Om na die staat van Afrikaners se toekoms te verwys, is natuurlik om na twee sake te verwys: die toestand waarin Afrikaners se toekomsverwagting om as gemeenskap voort te bestaan verkeer; en óf en in watter vorm ’n staat in Afrikaners se toekoms as voortgaande gemeenskap figureer.
Hedendaagse Afrikaner-trekke
Alvorens in groter detail by Afrikaners se toekomsverwagting en ’n toekomstige staat stilgestaan word, kan reeds iets daarvan duidelik word as gepoog word om te kyk na die verskillende soorte trekke wat reeds vandag onder Afrikaners voorkom. Hierdie trekke is: na ’n gedeelde staatkundige toekoms met ander Suid-Afrikaners binne SA; na die privaat sfeer; na die buiteland; en an ’n eie staat. Hierdie vier trekke manifesteer sowel by wyse van fisieke beweging as by wyse van simboliese verskuiwings.
Die trek na ’n gedeelde staatkundige toekoms binne SA is hoofsaaklik deur twee groeperinge onderneem, naamlik Afrikaners wat eerder hulle individualiteit as hulle gemeenskap beklemtoon, en wat binne die Grondwet en die instellings van die parlementêre demokrasie en die burgerlike samelewing hoop vir die toekoms soek. Hiernaas is daar die Afrikaners wat eerder hulle gemeenskap as hulle individualiteit beklemtoon, en naas die instellings van die liberale demokrasie sterk klem op kulturele en ekonomiese selfstandigheid plaas. Eersgenoemde groepering word veral verteenwoordig deur ’n aantal
joernaliste en intellektuele wat ’n historiese verbintenis met die anti-apartheidsbeweging en/of die hoofstroom Afrikaanse media het. Laasgenoemde groepering bestaan hoofsaaklik uit die Vryheidsfront+, Solidariteit en die meeste Afrikaanse kultuurorganisasies en kerke.
Die trek na die privaat sfeer is hoofsaaklik onderneem deur Afrikaners in die professies en die sakewêreld wat nie noodwendig afsydig jeens hulle gemeenskap staan nie, maar wat hoofsaaklik as individue in die professies, die akademie en die ekonomie optree. Dit is ook hulle wat in veiligheidsdorpies woon, en van privaat onderwys, gesondheid en sekuriteit gebruik maak.
Die trek na die buiteland is onderneem deur Afrikaners wat die land die afgelope dekade of wat in groot getalle vir voormalige Britse kolonies verlaat. Ook hierdie groepering staan nie noodwendig afsydig jeens hulle gemeenskap nie, maar redeneer dikwels ter wille van ’n ekonomiese en opvoedkundige toekoms vir hulle kinders dat landsverlating die ongewenste, dog noodwendige trek is om te onderneem. Die hoë mate van emosionele betrokkenheid wat hierdie groepering steeds by wyse van “tuisbesoeke”, deelname aan openbare Afrikaanse gesprekke en betrokkenheid by mekaar in hulle gekose land handhaaf, is waarskynlik ’n teken dat hulle kulturele gevoelens tans nog sterk is, maar nog nie werklik so gekanaliseer word om hulle voortbestaan as Afrikaners in die buiteland te verseker nie.
Die trek na ’n eie staat is onderneem deur diegene wat in Orania woon, of wat hulle toenemend in die openbaar ten gunste van ’n eie gebied vir Afrikaners uitspreek. Ofskoon daar nog ’n baie klein persentasie van Afrikaners na Orania getrek het, en daar te te oordeel aan openbare Afrikaanse gesprekke nog groot skepsis oor Orania as die gewenste vorm van ’n eie gebied bestaan, is die tekens daar dat baie meer mense hierdie trek sal onderneem as hulle net geweet het waarheen.
Wat kan uit hierdie vier trekke afgelei word oor Afrikaners se toekomsverwagting om as gemeenskap voort te gaan? Dat slegs diegene wat die trek na ’n eie staat fisiek of simbolies onderneem het, oënskynlik ondubbelsinnig verbind is tot so ’n toekomsverwagting. Hierby moet onmiddellik gevoeg word dat waarskynlik baie van diegene wat nog verbind is tot kulturele en ekonomiese selfstandigheid as gemeenskap binne die huidige SA staat ook hulle gewig kan ingooi agter hierdie vierde trek indien die SA staat verder verswak, en die ANC-regering steeds bly misluk om Afrikaners na behore te erken (onder dié regering se lang lys ander dwingende prioriteite).
Diegene wat na die privaat sfeer of die buiteland vertrek het, het oënskynlik nie ’n baie sterk toekomsverwagting dat Afrikaners as gemeenskap sal voortgaan nie, ofskoon dit nie wil sê nie dat met die nodige visie hulle hul nie wel daartoe mag verbind nie.
Daardie Afrikaners wat eerder hulle individualiteit beklemtoon, het klaarblyklik ongekwalifiseerd afskeid geneem van die toekomsverwagting om as gemeenskap voort te bestaan. Dit het natuurlik verreikende gevolge vir Afrikaners se toekomsverwagting binne die huidige SA staat, aangesien hierdie individualistiese groepering steeds oor omvattende uitvoerende mag binne die ekonomie, die media en die universiteitswese beskik. In dermate hierdie groepering binne die instellings onder hulle beheer ’n individualistiese, Engelse agenda nastreef, sal die institusionele ruimte vir Afrikaners en gevolglik hulle lewenskragtigheid verder afneem.
Maar waar staan Afrikaners jeens die huidige staat? Die merkwaardige antwoord is, geoordeel aan die vier trekke wat pas bespreek is, dat met die uitsondering van diegene wat nog as individue tot ’n grondwetlike bedeling verbind is, die oorgrote meerderheid Afrikaners waarskynlik reeds van die huidige SA staat afskeid geneem het. Indien dit waar is, mag dit ook verklaar waarom die kombinasie van vervreemding jeens dié staat met ’n gevoel van
tuisteloosheid en politieke onmag tot so ’n kollektiewe somberheid en nostalgie (letterlik “die verlange om na jou geboorteland terug te keer”) aanleiding gegee het.
Dit bring ons by die tweede verwysing na die staat van Afrikaners se toekoms: Is ’n (eie) staat deel van Afrikaners se toekoms? En indien wel, hoe mag dit lyk?
As ons dié vrae met verwysing na die vier trekke onder Afrikaners probeer beantwoord, kan ons die volgende voorstel. Sowel die Afrikaners wat binne die huidige SA bedeling of die privaat sfeer ’n bestaan as gemeenskap of as individue probeer maak, sal waarskynlik toenemend stuig op die voortgaande verval van die huidige staat. Aangesien die verval baie moeiliker sal omgekeer word as wat dit intree, kan bespiegel word dat die trekke na ’n ander staat (die buiteland) of na ’n eie staat sal toeneem. Dit is natuurlik bloot ’n projeksie, wat te midde van die toenemend vloeibaarheid van die SA politiek van nul en gener waarde mag blyk te wees, maar gegewe die brose posisie waarin Afrikaners hulle vandag jeens die toekoms bevind, sal in die laaste paragrawe hieronder gepoog word om die voorgang van Afrikaners in voormalige Engelse kolonies of in ’n eie staat binne Suider-Afrika korliks te bespreek.
Afrikaners binne Engelse state
Die verskynsel van ’n Afrikaner-diaspora is skaars tien tot vyftien jaar oud. Gevolglik moet dit beskou word as ’n maatskaplike verskynsel wat nog aan die ontwikkel is en verskillende vorme kan aanneem.
In besinnings oor dié diaspora word dikwels verwys na die mate waartoe ander diasporas van Europese herkoms hulleself in Engelse, Westerse state handhaaf. Uit die ervaring van Grieke, Italiaaners en Jode blyk dit dat moedertaaloordrag en godsdiens wesenlik is. Hiervoor is ten minste skoolonderrig in die moedertaal en eie geloofsinstellings nodig.
Afrikaners wat hulle vandag in Engelse, Westerse state bevind kan, gegewe die redelike mate van multikulturele erkenning binne hierdie state, waarskynlik met ’n kombinasie van staatsondersteuning en privaat inisiatief skoolonderrig in Afrikaans in ’n tweetalige skoolopset verseker. Dit het tot dusver nog in baie geringe mate gebeur, met besliste nadelige gevolge vir die mate waartoe die Afrikaner-diaspora hul identiteit aan ’n volgende geslag oordra.
Die ander twee belangrike aspekte van Afrikaner-identiteit wat as minimum voorwaarde van oordrag staan, is natuurlik Afrikaans en die Christelike tradisie. Wat die godsdiens betref, val dit opdat daar wel heelwat meer Afrikaanse kerke as skole gevestig is in die Engelse state waarin die Afrikaner-diaspora vandag leef. Dit is egter nie die volle verhaal nie, aangesien die groot getalle Afrikaners wat die laaste twee dekades ’n skuif na die charismatiese kerke – dikwels in Engels – gemaak het, eweneens die oordrag van die kultuuridentiteit verskraal.
Samehangend hiermee is die ruim anekdotiese getuienis van die mate waartoe sowel binnelandse as buitelandse Afrikaners wat tans kinders grootmaak, se basiese Afrikaanse taalgebruik verengels. Indien hierdie neiging nie omgekeer word deur hernude kulturele selfvertroue en die volgehoue institusionalisering van Afrikaans nie, val dit te betwyfel of nog ’n volwasse geslag Afrikaners hulle moedertaal in al die registers vanaf die kombuis tot die kerk, vanaf tuingereedskap tot die fisika sal kan gebruik.
Kortom, die Afrikaner-diaspora se kans om as gemeenskap voort te bestaan sal afhang van hulle wil daartoe, en van die instellings (skole, kerke, verenigings) wat hulle uit eie inisiatief tot sta
met die verkrummelende, diskriminerende staat te kampe nie, wat hulle kans om as gemeenskap te oorleef versterk. Maar ook anders as die Afrikaners binne SA, is hulle materiële oorlewing nie so sterk verbind aan hulle simboliese oorlewing as gemeenskap nie. Hulle is sterk blootgestel aan die versoeking, waarna Van Wyk Louw in 1952 verwys het, om as blote individue voort te gaan. As in ag geneem word watter verlies en pyn net soveel deel vorm van hulle kultuurididentiteit as wat dit aan hulle ’n geheue en oriëntasiepunte bied, moet die oënskynlike verligting wat die illusie van die afskeidname van hulle kultuuridentiteit bied, nie onderskat word nie.
Afrikaners binne SA
Wat van ’n staat vir binnelandse Afrikaners? Ofskoon binnelandse Afrikaners reeds weens landsverlating groot kundigheid en kapitaal afgestaan het, beskik hulle steeds oor aansienlike bronne wat in ’n nuwe staat belê kan word. Die ander voordeel waaroor hulle natuurlik beskik, is hulle getalle. Anders as diaspora-Afrikaners, wat tipies plek-plek in betreklike klein getalle oor die aarde versprei is, is die sowat twee miljoen binnelandse Afrikaners se getalle ’n voordeel. Maar waar die verspreiding van die diaspora-Afrikaners ’n gegewe is, kan dit nie as gegewe binne SA aanvaar word indien ’n standhoudende gebied gevestig moet word nie.
Daar is minstens die volgende hindernisse onderweg na die stigting van ’n volwaardige onafhanklike Afrikaner-staat binne SA:
– dit sal, gegewe die blywende assosiasie van Afrikaners met apartheid, tans waarskynlik moeilik deur ander state wêreldwyd erken word;
– dit sal met groot teenstand deur die huidige SA regering begroet word, deels weens die voorspelbare beskuldiging van neo-apartheid, maar veral weens die verlies aan staatsinkomste wat verreikende gevolge vir die huidige regering se maatskaplike herverspreidingsprogram en sy eie politieke mag sal inhou;
– dit sal waarskynlik ook groot vyandigheid van ander state in die streek ontlok, gegewe die vars herinnering aan apartheid en die militêre rol wat SA onder die Afrikaners in die 1970’s en 1980’s in die streek gespeel het;
– teen die agtergrond van vyandigheid in die Suider-Afrikaanse streek, en die gebrek aan openlike Westerse steun waaroor reeds hierbo bespiegel is, sal so ’n staat moontlik die ontsettende oorlewingsdruk wat Afrikaners vandag ervaar eenvoudig in ’n ander vorm voortsit, met die reële risiko dat ’n reaksionêre belegmentaliteit mettertyd so ’n staat sal kenmerk, soos die geval vandag met Israel is;
– die algemene ongeloof in die politiek, wat Afrikaners oënskynlik steeds na apartheid en tans te midde van die teleurstelling met die nuwe bedeling van groter betrokkenheid en kollektiewe aksie weerhou.
In die lig van hierdie hindernisse wil dit voorkom asof die opsie van ’n staat in allesbehalwe naam in die Wes- en Noord-Kaap inderdaad die beste kans op oorlewing het. Die voordele hiervan is:
– Afrikaans is die vernaamste streekstaal in hierdie areas;
– groot getalle Afrikaners, veral kundige sake- en professionele lui, het die afgelope vyftien jaar soontoe getrek;
– die moontlikheid van groter samewerking met ander Afrikaanse kultuurgroepe in hierdie areas word lewend gehou, met die belofte van ’n groter Afrikaanse geestelike en kulturele ruimte as slegs een deur Afrikaners onderhou;
– aangesien Afrikaanse skole en kerke in die areas nog taamlik sterk is, kan hulle as institusionele basis benut word;
– indien die verengelsing van Stellenbosch-universiteit nie gestuit kan word nie, kan demografie en Afrikaanse kapitaal in die areas ’n reële kans op ’n nuwe Afrikaanse privaat universiteit lewensvatbaar maak;
– op dieselfde wyse wat ander Europese diasporas (Grieke, Italianers, Jode, Portugese) hulself reeds meer as ’n eeu in SA handhaaf sonder om noemenswaardige spanning met die staat te hê, kan Afrikaners dié resep dalk in die Wes- en Noord-Kaap herhaal;
– Orania se ligging in die Noord-Kaap beteken dat dié pioniersdorp binne ’n groter Afrikanergeheel ontmoet kan word, met vrugbare wisselwerking tussen dorp en streek.
Afsluiting
Daar is vandag baie onsekerheid oor en min waarborge vir die voortbestaan van Afrikaners as ’n gemeenskap. Die huidige geslag Afrikaners van wie hierdie saak afhang, is nie die eerste een wat al in dié posisie was nie. As vorige geslagte rondom, sê, die Groot Trek, die Anglo-Boereoorlog of die Groot Depressie opgegee het, was die huidige geslag nie hier nie. Baie dinge wat in weerwil van die pyn en verlies van ons kultuuridentiteit nogtans kosbaar en goed is, sou ons ook nie vandag nog begelei het nie. Dit sal uiteindelik in elk geval voortleef, miskien in ander vorme as wat ons vandag kan dink. Maar dit is nog geen rede om nie met sorg te handel met dit wat ons ontvang het en wat ons toegang tot die kosmos en die wêreld in haar volheid skenk nie.
Eindnotas
(1) N.P. Van Wyk Louw. 1988 (1952). “Krisis vir die Afrikanervolk het drie fronte” in Gedagtes vir ons tyd uit die prosa van N.P. Van Wyk Louw. Kaapstad: Tafelberg, p.55.
(2) Op. Cit., p.52.
(3) Ibid.
(4) Op.cit., p.54.
(5) Die twee Boere-republieke van die negentiende eeu was nie volwaardig modern nie: hulle was nie geïndustrialiseerd nie; die ekonomie was tot ’n groot mate nog landelik, soos ook die etos van die burgers; en van die intense nasionalisme wat die Afrikaners vanaf die jare na Uniewording omhels het, was daar nog betreklik min tekens. Hiermee word nie geïmpliseer dat die voormoderne Boere-republieke ‘agterlik’ in vergelyking met die moderne Suid-Afrikaanse staat tussen 1950 en 2000 was nie.
(6) Hermann Giliomee. 2003. The Afrikaners. Biography of a People. Kaapstad: Tafelberg, p.515.
(7) Louw, pp.55 – 56.
Terwyl Gods Woord steeds en ook vooruitskouend van “volke” tot in ewigheid praat, gebruik die skrywer die polities korrekte maar swak toepaslike AfriSoli-kodewoord “gemeenskappe”.