Joodse Pasga en Paasfees

deur Aneli de Villiers

Die oorsprong van die Joodse Pasga is welbekend: Voordat God die 10de plaag oor Egipte sou bring, moes die Israeliete die deurposte met die bloed van ‘n jaaroue ram besprinkel. Dit sou verseker dat die eersgeborene in hulle huise nie sterf nie. Die volk Israel is hierna uit slawerny verlos en na die land Kanaän gelei, waar die paasfees jaarliks, met die slag van ‘n offerlam herdenk is.

Die Pasga word vandag nog steeds deur ortodokse Jode gevier, dit het egter heelwat veranderinge ondergaan. Die hedendaagse maaltyd staan bekend as die “Seder” en die volgorde of stappe vir die ritueel tydens die maaltyd is die “Haggadah”.

Die volgende interessante aanhaling kom uit ‘n artikel, “‘Let Us Recite Before Him A New Song: The Passover Haggadah and The Gospels,”. Dit is in 2017 deur Prof. Israel Jacob Yuval van die Hebreeuse Universiteit in Jerusalem geskryf.

“Die Pasga Haggadah is vol beloftes, maar dit lewer min op. Die Haggadah is gebore uit die opdrag om die verlossing en uittog uit Egipte te vertel, ‘n opdrag wat gepaard gaan met die belofte dat “wie die verhaal van die uittog oorvertel lofwaardig is.” Maar hoe groter die verwagting en belofte, hoe groter die teleurstelling. Die Pasga Haggadah is ‘n versameling van brokstukke wat nie saamsmelt in ‘n behoorlike verhaal nie. Terwyl die verhaal van die uittog bedoel is om die fokuspunt van die Seder-nag te wees, blyk dit dat die outeurs van die Haggadah alles probeer het om dit te vermy….”

“Die onderliggende argument is dat die Pasga Haggadah ontwerp is, nie net vir die doel om die verhaal van die uittog te vertel nie, maar ook om te verseker dat die verhaal sy oppergesag behou te midde van ‘n moeilike, dreigende, godsdienstige uitdaging: Christendom.” (vrye vertaling)

Na die vernietiging van die tempel in 70 n.C. is die Jode met ‘n probleem gelaat: wat moet met die  offerrituele gemaak word sonder ‘n tempel? Prof. Yuval beweer dat die Rabbynse Seder ontwikkel het as ‘n reaksie téén die instelling van die paasmaaltyd deur Jesus, wat deur sy dissipels voortgesit is.

TRADISIONELE JOODSE PAASFEES

Dit is nie bekend presies hoe die Jode die ritueel tydens die Eerste Tempelperiode uitgevoer het nie. Die Mishna, een van die geskrewe versamelings van die Joodse mondelinge tradisies, gee egter ‘n uitgebreide weergawe van hoe dit in die tyd van die Tweede Tempelperiode beoefen is.

Joodse gesinne het van regoor Israel na Jerusalem gekom en by hulle aankoms is ‘n offerdier by een van die bok- of skaapverkopers gekoop. Op Pasga-aand het ‘n verteenwoordiger van elke familie hulle offerdier na die tempel geneem en voor een van die priesters in ‘n tou gaan staan. Sodra die binnehof vol was, is die hekke gesluit en het die slagting begin.

Die bok of skaap is aan ‘n priester oorhandig wat die dier doodgemaak het, en sy bloed versigtig in ‘n bak versamel het. Die bak met bloed is dan van die een priester na die volgende aangegee, totdat dit soos ‘n vervoerband die priester bereik het, wat dit oor die altaar moes uitgiet. Leviete het die vel en binnegoed verwyder en na die altaar geneem waar dit verbrand is. Hierna kon die verteenwoordigers elkeen hulle offerdier neem, die tempelterrein verlaat en by hulle families aansluit. Die vleis is op ‘n vuur, gemaak van granaatboomstompies, gebraai en in ‘n feestelike nagmaal geëet.

Hierdie antieke ritueel het skielik in 70 n.C. tot ‘n einde gekom, toe die Romeine die “Groot Joodse Opstand” onderdruk het en die tempel vernietig is. Die taak om Judaïsme by die nuwe “tempellose” omstandighede aan te pas, het op Rabbi Gamaliël II, hoof van die Joodse vergadering, die Sanhedrin, se skouers gerus. Gamaliël het bepaal dat die Pasga-offer by families se huise moes voortgaan, met elke gesin wat sy eie bok of skaap offer. Sommige rabbi’s het in hierdie tyd egter geglo dat die Pasga-offer, soos al die ander offers, slegs deur die priesters in die tempel gebring kon word. Die bring van brandoffers kon dus eers voortgaan wanneer die Messias gekom en die tempel herbou is.

WAT BETEKEN PAASFEES VIR DIE JODE

Die Jode beskou nie die Paasfees as vergifnis van sonde nie, dit is bloot ‘n herinneringsfees aan die uittog uit Egipte en dus vryheid. In die Haggadah word byvoorbeeld glad nie na Moses verwys nie. Volgens prof. Yuval is dit om seker te maak dat Moses nie as ‘n heenwysing na Christus geïnterpreteer kan word nie.

In die Ou Testament (Jesaja 40 – 55) word egter ‘n direkte verbinding tussen toekomstige verlossing van die Messias en die uittog gemaak. Bybelkenners verwys ook soms na hierdie gedeelte as Jesaja se “nuwe uittog”. Die hooffiguur in Jesaja se nuwe uittog is die Dienskneg van die Here en daar word presies beskryf hoe en hoekom hierdie Dienskneg sou sterf: “Soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word en soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders.” (Jes. 53: 7)

Vir Christene is dit amper onmoontlik om te verstaan hoekom Jode nie die verwysings na Jesus van Nasaret, as die Messias, in die Ou Testament kan raaksien nie.

RITUELE IN DIE JOODSE SEDER WAT HERKEN KAN WORD AS KOMENDE UIT DIE NUWE TESTAMENT

Daar bestaan geen rekord van ‘n Joodse Seder in antieke geskrifte nie. Die beskrywing van Jesus en sy dissipels se paasmaaltyd is die oudste verwysing na so ‘n geleentheid.

In die “Haggadah” word vyftien stappe beskryf wat tydens die viering van die “Seder” gevolg moet word, o.a. die was van hande, uitspreek van verskillende seëninge, eet van ‘n voorgereg en die hoofmaaltyd, vertellings en lofprysing.

Uit die rituele, wat kortliks hieronder beskryf word, kan die afleiding gemaak word dat die Haggadah beïnvloed is deur die manier waarop Jesus se maaltyd saam met sy dissipels verloop het. Die volgende ooreenkomste kan raakgesien word:

  • Tydens die seremonie word daar vier keer wyn gedrink. Volgens Lukas 22 lyk dit of Jesus twee keer die beker neem, voor en na die maaltyd. Die Joodse Pasga volg dan ‘n soortgelyke orde, met verskillende glase wyn voor, tydens en na die maaltyd.
  • ‘n Deel van die voorbereidings is om ongesuurde broodjies (matzo’s) te bak. Drie van hierdie broodjies word in ‘n spesiale sak met drie afdelings geplaas. Die middelste matzo word tydens die seremonie uitgehaal en in twee gebreek. Een helfte word in die sak teruggeplaas en die ander helfte word in ‘n ander sakkie geplaas en weggesteek. Na die hoofmaaltyd verby is, moet die kinders na hierdie sakkie met die halwe matzo soek. Die kind wat die sakkie vind kry ‘n beloning en die matzo word in kleiner stukkies gebreek en aan almal in die gesin uitgedeel om te eet. Die naam vir die seremonie is die Griekse woord Afikoman. Hoekom sou ‘n Griekse woord in ‘n eg Joodse fees gebruik word?Die enigste verklaring hiervoor is dat sekere aspekte van die Seder tydens die tweede tempelperiode, toe Grieks algemeen in Israel gebruik is, ontwikkel het.
  • Die laaste stap van die seremonie is Nirtzah – aanvaarding. Die hoop dat die offer vir God aanvaarbaar was word uitgespreek. Die gedagte dat die offer finaal aanvaar is, is eintlik ‘n beeld van die Messias.

NASKRIF

Die dood en opstanding van Christus is seker die belangrikste fees in die kerklike jaar. Volwassenes verstaan gewoonlik die betekenis daarvan.

In die Joodse tradisie is die vertelling van die gebeure tydens die uittog uit Egipte een van die belangrike doelwitte van die Seder. Daar word moeite gedoen om die belangstelling en nuuskierigheid van die kinders te behou. Vrae en antwoorde is deel van die seremonie en die kinders word aangemoedig om deel te neem.

In Afrikaner geledere word ‘n groot ophef van Kersfees gemaak, maar die vier van Paasfees gaan dikwels by kinders verby. Dit kan verrykend wees om, ook in hierdie tyd ‘n spesiale ete voor te berei, sodat die gebeure aan kinders verduidelik kan word en hulle dan betrek by aktiwiteite, soos tydens Kersfees.

Bronne:

  1. Gesprek tussen Dr. Golan Broshi, skrywer en professor aan die One for Israel Bible Kollege, Dr Seth Pastall, Akademiese Dekaan van die One for Israel Bible Kollege en Dr. Erez Soref President van One for Israel. https://www.youtube.com/watch?v=dnopIIdqnzY&t=580s
  2. https://www.haaretz.com/jewish/.premium-why-jews-stopped-sacrificing-lambs-for-passover-1.5440120
  3. http://www.bybelkennis.co.za/tag/joodse-feeste/?print=print-search
https://www.sacred-texts.com/jud/uh/img/lamb.jpg

https://th-thumbnailer.cdn-si-edu.com/ypP2Nzz-IxPNHbRTX-8dHGLBJMs=/1000×750/filters: no_upscale()/https://tf-cmsv2-smithsonianmag-media.s3.amazonaws.com/filer/31/70/3170c099-2c6a-4832-9ddb-d50191baef81/gettyimages-607352076.jpg

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *