deur prof Amanda du Preez
“Ek voel nie skuldig nie”, giggel Anna Sorokin na haar vrylating uit die Rikers tronk in ’n onderhoud met 60 Minutes. Asof die hele drama rondom haar valse persona van haar gevoelens afhang. Miskien voel Anna nie vandag skuldig nie, maar dalk mag sy môre anders voel? Dis tog immers die aard van gevoelens, hulle kom en gaan, eb en verdwyn.
Die verklaring van Anna Sorokin, of liewer Anna Delvey, spreek tog boekdele oor die kultuur van post-waarheid en pro-fiktiwiteit waarin ons gedompel is. In die Netflix reeks Inventing Anna geskep deur Shonda Rhimes word elke episode speels ingelei met die woorde: “This whole story is completely true. Except for all the parts that are totally made up”. Die reeks maak dus geensins aanspraak op die waarheid nie want soos kykers agterkom – die waarheid is ‘n ontwykende en versluierde domein wat liewers vermy moet word. Amper soos ‘n gifpil wat die spel van illusies en voorkoms sal vernietig. Nee dit is veel beter om nog ‘n glasie sjampanje te sluk en agter die skerms en van sosiale media te skuil met nog ‘n goed gefilterde selfie vol son en kleur geneem in Ibiza of is dit Marrakesj?
Daarom word Anna se beeld ook in die begin van elke episode gevorm deur ‘n collage van sosiale media beelde van haar self en vriende om nimmereindigende chimeras te vorm. Daar is nie een Anna nie, of daar is nie ‘n ware Anna nie en daarom vra die joernalis Vivian Kent moedeloos: “How many Annas is she? Who the hell is Anna Delvey?” Soveel geleenthede soveel Annas wat verskyn.
Dit is betekenisvol dat Anna haar self ook aangetrokke tot die kunswêreld voel. Sy wil ‘n eksklusiewe kunstuiste vir millenniums met smaak skep, die Anna Delvey Foundation of soos sy dit beskryf “a step beyond the VIP room”. Anna word deur haar volgelinge as ‘n kunskenner beskryf – iemand wat goeie kuns van die ooraanbod van namaaksels kan onderskei. ‘n Bitter ironie te midde van haar eie versinsels. In hierdie opsig het Anna by die beste verkleurmannetjies in die kunste geleer. Sy staan vasgenael voor die Cindy Sherman en voed intuïtief skynbaar op die gelaagde betekenisse en voorkoms van Sherman. En Sherman het weer op haar beurt by die aards verkleurmannetjie geleer, naamlik Andy Warhol.
Indien ons die skepper van die kontemporêre selfie wil identifiseer, meen ek dat Warhol met reg as die uitvinder genomineer kan word. Sy eksperimentele reeks “selfies” in “photo booths” lei ‘n nuwe fase van self-ontdekking in. Anna se glansryke lewe word ook deurgaanse deur selfies gedokumenteer terwyl mens saggies in die agtergrond Warhol se fluistering hoor: “I am a deeply superficial person”. Die werklikheid is vervorm tot ‘n oppervlakte in sy kuns en daarom het Warhol graag verkondig dat “”If you want to know all about Andy Warhol, just look at the surface of my paintings and films and me, and there I am. There’s nothing behind it”. Die debat oor re-presentasie en presentasie, waar eersgenoemde nog ‘n vorm van weergewing of mediëring veronderstel en die ander aanvaar dat beeld en persoon ineenvou, word in Warhol se kuns tot ‘n spits gedryf. Oorgedra na Anna se geval word waarheid en werklikheid vermeng met skerm en beeld. Die gevolge van hierdie vervaging van die onderskeid tussen mens en beeld, vel en skerm, het egter ontnugterende en brute gevolge vir diegene wat in haar web verstrengel word. Durf ek dit noem: Anna se gedrag het selfs ware en tasbare gevolge.
Die kultuur kritikus Paul Virilio waarsku in The Administration of Fear (2012) dat die kontemporêre skermkultuur dreig om ons reaksies en dade te vervlak tot wat hy ‘n “kommunisme van affekte” of ‘n gemeenskap van emosies noem. Sodoende voorspel hy iemand soos Anna se efemeries bestaan. In sy tipiese hiperbolies formulering skryf Virilio dat deur die kommunisme van affekte word kommunisme nie net geprivatiseer nie maar ook vernietig. Ons lewe dus in ‘n kultuur van massa individue met gesinchroniseerde emosies wat op ‘n globale skaal uitspeel. Die blote feit dat Anna haar bestaan regverdig deur te verklaar dat sy nie skuldig voel nie, staan nie los van die skerms en beelde wat haar bestaan skynbaar regverdig nie. In ‘n post-waarheid kultuur kan mens aanspraak maak daarop dat jy nie skuldig voel nie, of dat jy ryk voel, of beledig voel. Of miskien meer ingewikkeld dat jy soos ‘n vrou voel vandag. Gevoelens dra gewig en moontlik tans meer as ooit. Gevoelens kan nie en mag nie beheer word nie, maar hulle is wel gesinchroniseer. Dit is moontlik waarom Anna Sorokin se avonture ons verbeelding aangryp – beide met afgryse en medepligtigheid.