Die verlies van die universiteit (III)

Oorspronklik: Wendell Berry, The Loss of the University uit Home Economics (1987) [Deel 3]

Lees [Deel I] en [Deel II]

Vertaal deur Carel Boshoff

As die fakulteite aan universieite nie daarin geslaag het om die vraag na die onderlinge verhouding tussen die kennis van die kunste en die kennis van die wetenskappe, met betrekking tot mekaar en tot die universiteit as geheel, te beantwoord nie, dan het hulle na my mening, ook nie daarin geslaag om die vraag na buite, na die verhouding van hierdie soorte kennis met die waarheid en die wêreld te stel nie. Dit is natuurlik ‘n gevaarlike vraag en ek opper dit met toepaslike voorbehoud. Die gevaar is dat sulke vrae deur enige instelling hoegenaamd bygelê word; hierdie vrae is die verantwoordelikheid van die mense in die instellings, nie van die instellings as sodanig nie. Waarteen ek dit hier het, is die spesialistige opgaan in loopbaan en prosedure wat op die vernietiging uitloop van wat ek as die onontbeerlike belangstelling in die vraag na die waarheid van wat gedoseer en gestudeer word, sowel as die onontbeerlike belangstelling in die lot en nut van kennis in die wêreld, beskou.

                Dit sal my bang maak om te hoor dat een of ander universiteit skielik ‘n lewendige belangstelling in die vraag na wat waar is, ontwikkel het en besig is om dit te beantwoord, dalk by wyse van ‘n stemming deur fakulteitslede. Maar ek is ewe bang vir die modegierige gebrek aan belangstelling in die vraag onder individuele universiteitsdosente. En ek is nog banger as hierdie gebrek aan belangstelling onder die skuilnaam van “objektiwiteit” die status van ‘n openbare deug verwerf.

                Objektiwiteit beteken in praktyk dat mens jou vakgebied as sodanig bestudeer en doseer, sonder om jou aan die verhouding daarvan met ander vakgebiede of met die wêreld te steur – wat beteken sonder om jou oor die waarheid daarvan te bekommer. As mens omgee vir, as jy  begaan is oor die waarheid of valsheid van enigiets, kan jy nie objektief wees nie: jy is bly as dit waar is jammer as dit vals is; as die oordeel dit waar bevind, glo jy dit, as dit vals bevind word, kan jy dit nie glo nie. Bygesê dat daar dinge is waarvan die waarheid of valsheid nie objektief aangetoon kan word nie, maar deur gevoel en voorkoms, intuïese en ervaring vasgestel moet word. En hierdie oordeelstaak kan hoegenaamd nie met betrekking tot een vakgebied alleen onderneem word nie. Die kwessie van waarheid kom na vore by die vergelyking van een ding met ‘n ander, deur die verhoudings en invloede van een ding op ‘n ander en van een ding op baie ander, te bestudeer.

                As dosente dus na die akademiese deug van objektiwiteit streef, dan moet hulle doseer asof hulle vakgebied met niks buiten sigself te doen het nie. Die letterkundedosent moet byvoorbeeld die studie van gedigte aanbied asof dit oorblyfsels is van mense wat, anders as ons hoogs begunstigde moderne self, geglo het aan dinge wat nie aan meetbare bewyslewering onderworpe is nie; godsdienstige poësie, om presies te wees, het te doen met goed wat eens op ‘n tyd geglo is, maar nie meer geglo kan word nie. Die poësie is iets waarvan mens leer; om iets daaruit te leer, sou ‘n verleentheidswekkende verraad van objektiwiteit wees.

                Dat dit oor meer as klaskamertegniek gaan, blyk duidelik genoeg uit die huidige moles oor Bybelonderrig aan openbare skole. Regter Jackson Kiser van die Federale Distrikshof in Bristol, Virginia, het onlangs gereël dat dit grondwetlik sou wees om Bybelonderrig aan kinders in openbare skole te gee indien dit ‘n keusevak is en “aangebied word op ‘n objektiewe manier sonder enige poging om die kinders te indoktrineer met betrekking tot die waarheid of valsheid van die bybelse inhoude.” James J Kilpatrick, wat die uitspraak goedkeurend in een van sy rubrieke bespreek het, het voorgestel dat die Bybel aangebied kan word “soos Shakespeare aangebied word” en dat dit goed sal wees omdat “die Bybel ‘n ryk bron van verwysings, voorbeelde en aanhalings is”. Hy waarsku dat “die lyn wat propaganda van onderrig skei, is ‘n aarselende lyn wat op beweeglike sand getrek word,” en hy sluit af deur aan te voer dat “wat ook al anders die Bybel mag wees, die Bybel is in werklikheid letterkunde. Die kuns is om dit dienooreenkomstig aan te bied.”

                Die interessante vraag hier is nie of jong Engelssprekendes die Bybel behoort te ken nie – natuurlik moet hulle – maar of ‘n boek wat sigself so duidelik vir geloof of ongeloof aanbied “as letterkunde” gedoseer kan word. Dit kan duidelik nie as sodanig gedoseer word sonder om “wat ookal anders dit mag wees” – wat ‘n wesenlike deel daarvan uitmaak – te ignoreer nie. Die vraag is dan of dit voldoende of nuttig gedoseer kan word as iets minder as wat dit is. Die feit is dat die skrywers van die Bybel nie gedink het hulle skryf wat regter Kiser en mnr Kilpatrick “letterkunde” noem nie. Hulle het gedink dat hulle die waarheid skryf en verwag dat dit deur sommige geglo en deur ander met ongeloof bejeën sou word. Dit is denkbaar dat die Bybel goed gedoseer kan word deur ‘n onderwyser wat glo dat dit waar is, deur ‘n onderwyser wat glo dat dit nie waar is nie of deur ‘n onderwyser wat glo dat dit deels waar is. Dat dit goed gedoseer kan word deur ‘n onderwyser wat nie omgee of dit waar is nie, is ondenkbaar. Dat ‘n lewendige belangstelling in die Bybel oor verskeie geslagte van onderwysers wat ongeïnteresseerd is in die waarheidsvraag, behou kan word, is ook nie denkbaar nie.

                Dit is duidelik dat die kwessie van die Bybel in openbare skole nie bygelê kan word deur federale hofbeslissings wat onderwysmetodes voorskryf nie. Dit kan net bygelê word aan die hand van onderwysers se vryheid om volgens hulle oortuiging onderwys te gee, en aan die hand van die verhouding tussen onderwysers en skole en hulle plaaslike gemeenskappe. Dit kan wees dat ons in hierdie omstredenheid die ondergang van die openbare skoolstelsel aanskou, as ‘n onafwendbare gevolg van die ondergang van plaaslike gemeenskappe. Dit is moeilik om te glo dat dit deur ‘n geregshof reggestel kan word.

                My punt is in elk geval dat ons nie kan oorweeg om die Bybel “as letterkunde” te doseer as ons nie reeds letterkunde “as letterkunde” doseer nie – asof ons nie omgee, asof dit nie saak maak of dit waar of onwaar is nie. Daar is ongetwyfeld talle redes hiervoor, maar ‘n opvallende een is onder andere ‘n soort skaamte onder dosente in letterkunde en ander “geesteswetenskappe” dat hulle waarhede nie objektief bewysbaar is, soos die waarhede van die wetenskap nie. Daar is nou ‘n verleëntheid oor enige stelling wat vir bevestiging afhang van ervaring of verbeelding of gevoel of geloof, en die verleëntheid het ‘n oorweldigende impuls veroorsaak om sulke stellings bloot as artefakte, kulturele relikwieë, stukkies historiese bewysmateriaal of as dinge met “estetiese waarde” te behandel. Ons sal bestudeer, op rekord plaas, ontleed, kritiseer en waardeer. Maar ons sal nie glo nie; ons sal nie, in die volle sin van die woord, weet nie.

                Die gevolg hiervan is ‘n “krities objektiewe” standpunt wat veroorsaak dat baie onderwysers, geskiedkundiges en letterkundiges klink – nie soos wiskundiges of skeikundiges nie: hulle metodologie laat dit nog nie toe nie – maar soos gedragskundiges, studente van die gedrag van ‘n spesie waartoe hulleself nie behoort nie, aan wie se geskiedenis en lot hulle geen deel het nie, omdat hulle doel nie is om enigiets vir hulleself te weet nie, maar om “kennis te bevorder.” Dit kan werk as ‘n soort teksmeganika, maar dit is geen benadering om enige groot letterkundige werk mee te leer ken nie. Daardie weg is eenvoudig gesluit vir mense wat geïnteresseerd is in wat “hulle” “toe” gedink het; dit is gesluit vir mense wat dink dat “die wêreld van Dante” of “die wêreld van Shakespeare” ver verwyderd, eintlik vreemd van “ons wêreld” is; en dit is gesluit vir die toeskouers van poëtiese instrumente, emosionele effekte en estetiese waardes.

                Die groot verwarring agter die moderne lot van die letterkunde word, dink ek, uitgedruk in Coleridge se stelling dat sy poging in Lyrical Ballads was “om vanuit ons innerlike aard … ‘n skyn van waarheid oor te dra, genoegsaam om vir daardie skaduwees van die verbeelding die oomblik se willende tersydestelling van die ongeloof te verwerf, wat poëtiese geloof daarstel.” Dít is nou ‘n sin vol skuddings en trillings. Is ons innerlike aard net waar by wyse van skyn? Wat is die verskil, in ‘n kunswerk, tussen waarheid en “skyn van waarheid”? Wat moet die gevolg wees van die skeiding tussen “poëtiese geloof” en enige ander soort geloof, en dan daarvan om “poëtiese geloof” van die wil afhanklik te maak?

                Die kern van die probleem lê in die bywoord willende, wat die meerderwaardigheid van die gelowige in verhouding tot wat geglo word, impliseer. Hierdie implikasie is na my oortuiging eenvoudig onwaar. Geloof gaan wil vooraf. Óf mens glo, óf jy glo nie, en as mens glo, glo jy gewilliglik. As mens nie glo nie, selfs onwillig nie glo nie, kan al die wil in die wêreld mens nie láát glo nie. Geloof is onwillekeurig, soos die Antieke Seeman se herkenning van die skoonheid en heiligheid van die waterslang:

‘n fontein van liefde het in my hart ontspring

en ek het hulle onwetend geseën …

                Hierdie onwillekeurige geloof is die enigste toepaslike benadering tot groot geskrifte. Mens kan vir seker ook nié glo nie, en ons moet vanselfsprekend aan diegene wat nie glo nie die reg gun om as sodanig te lees en kommentaar te lewer, want ongeloof is ‘n regmatige respons omdat dit ‘n moontlike respons is. Ons moet die moontlikheid in gedagte hou dat geloof vals kan wees, en dat dit nodig kan wees om uit vals geloof wakker geskud te word; “mens hoef geloof nie soos ‘n afgrond te betree nie.” Maar ons moet ook weet dat, om nie te glo nie meebring dat jy in ‘n belangrike opsig buite die werk bly. Wanneer ons in die werk is, is ons ver verby die moontlikheid om enige debat met onsself te voer oor of ons wil of nie wil glo nie. As ons in die werk is, dan weet ons eenvoudig dat die groot Odusseus tuisgekom het, dat Dante in die teenwoordigheid van die hemelse roos verkeer, dat Cordelia, hoewel haar vader haar in sy arms dra, dood is. As ons hierdie dinge weet, is ons geneig om ook te weet dat Maria Magdalena die opgestane Christus vir die tuinier aangesien het en daarom in aanmerking kom om deur objektiewe vakkundiges ligtelik opgeneem te word, en deur ‘n federale regter tereggewys te word.

                Ons en hierdie werke ontmoet mekaar in verbeelding; deur verbeelding ken ons hulle waarheid. In die verbeelding is daar geen besonderse of uitsluitlike “poëtiese geloof” nie, net soos daar geen geloof is wat besonders of uitsluitlik godsdienstig is nie. Geloof is dieselfde waar dit ookal gebeur, en dit word sonder uitsondering deur die verbeelding bepaal. Mens glo omdat mens sien, nie omdat mens ingelig is nie. Dit is waarom ons nog, vierhonderd jaar ná Copernicus, steeds sê “die son kom op”.

                Wanneer ons die ballade van Sir Patrick Spens lees, weet ons dat die ridder en sy manne verdrink het, want “Thair hats they swam aboone,” nie omdat ons die gebeure deur die bestudering van historiese dokumente bevestig het nie. En as ons ook deur die ballade van Thomas Rhymer, wat veel vreemder as Sir Patrick s’n is, tot instemming gedwing word, wat sal ons sê? Moet ons gelowig die gedig ingaan, en dan in ongeloof daarvan terugkeer omdat ons die storie in geen amptelike rekords aantref nie, nie in die koerante daarvan gelees het nie, en uit eie ervaring van niks soortgelyk weet nie? Of moet ons met die gedig lewe, bewus van sy mag oor ons, as ‘n bewysstuk dat die werklikheid groter is as wat ons gedink het?

                “Beteken dit,” word ek gevra, “dat dit nie vir ons moontlik is om Homeros behoorlik te lees nie omdat ons nie aan die Griekse gode glo nie?” Ek kan net antwoord dat ek vermoed dat ‘n behoorlike lees van Homeros sal uitloop op een of ander vorm van geloof in sy gode. Hoe anders verduidelik mens hulle oorlewing in die werke van Christelike skrywers tot in ons eie tyd? Hierdie oorlewing het sy verheerliking, lyk dit vir my, in CS Lewis se novelle That Hideous Strength, aan die einde waarvan die Griekse planetêre gode weer op die aarde verskyn as engele. Lewis skryf as ‘n Christen wat Homeros gelees het, maar hy het dit kennelik gelees as iemand wie se verbeelding nie belas is met enige sulke kliniese hulpmiddels soos die willende tersydestelling van ongeloof nie. As verbeeldingryke leser het sy lesing aan hom getoon, al was hy ‘n Christen, dat die heidense gode ‘n sekere gesag behou het en ‘n sekere erkenning oproep. Soos baie van sy voorgangers in die Engelse letterkundige tradisie, het hy na hulle gesmag. Hulle triomfantelike terugkeer aan die einde van That Hideous Strength, as lede van die hemelse hierargie van die Christendom, is nie ‘n groot verrassing nie. Dit is ‘n grondige oplossing, nie net in die novelle self nie, maar in die geskiedenis van die Engelse letterkunde. Mens hoor die geeste van Spenser en Milton ‘n sug van verligting slaak.

Vrae na die geldigheid van verbeeldingsvlugte verlang antwoorde, en tog kan hulle onbeantwoord bly. Die rede is dat die verbeelding nie altyd onderwerp kan word aan onmiddelike bewys of demonstrasie nie. Dit is dikwels slegs aan die stadige en gedeeltelike stawing van ervaring onderworpe. Dit word dus onderwerp aan ‘n praktiese, hoewel nie presiese, geldigheidsverklaring en dit kan gekorrigeer word. Vir ‘n verbeeldingswerk om die toets van tyd te deurstaan, moet dit geldig wees en moet dit regstelling oorleef. Dit kan deur ervaring, deur kritiese oordeel en deur verdere verbeeldingswerk verbeter word.

                Om te sê dat ‘n verbeeldingswerk aan regstelling blootgestel word, beteken natuurlik dat daar geen “Verbeeldingswêreld” is wat apart van of teenoor die “werklike wêreld” te staan kom nie. Die verbeelding is in die wêreld, is werksaam daarbinne, is nodig daarvoor en kan daardeur verbeter word. Hierdie verbetering van die verbeelding deur ervaring is onvermydelik, noodsaaklik en eindeloos, soos die verbetering van die ervaring deur die verbeelding immers ook. Dit is die groot algemene werk van kritiek waartoe ons almal opgeroep word. Dit is nie letterkundige kritiek méér as wat dit historiese of landboukundige of biologiese kritiek is nie, maar dit moet nietemin ‘n grondliggende deel van werk van literêre kritiek wees, soos dit van alle ander vorme van kritiek moet wees. Een van die grondliggendste menslike behoeftes is dat die waarheid van die verbeelding sigself in elke lewe en plek in die wêreld bewys, en vir die waarheid van die wêreld se lewens en plekke om deur die verbeelding bewys te word.

                Hierdie behoefte neem ons so ver as moontlik weg van die argument dat verbeeldingswerke, wat menslike maaksels is, as spesiale gevalle op een of ander manier die voorreg het om hulleself op hulle eie voorwaardes vir die wêreld aan te bied. Dit is hierdie argument en die gevolglike prysgawe van algemene kritiek wat universiteite toegelaat het om hulleself op industriële patroon in te rig, asof fakultiete en studente en alles wat hulle mag doseer en studeer niks meer as dele van ‘n masjien is nie, waarvan hulle nie die moeite gedoen het om die doel te omskryf nie, wat staan nog te bevraagteken. En grootliks deur die optrede van die universiteite oorheers hierdie beginsel en hierdie metafoor nou ons verhouding tot die natuur en tot mekaar.

Indien, ter wille van sy eie gesondheid, ‘n universiteit in die vraag na die waarheid van wat hy aanbied geïnteresseerd moet wees, dan moet hy, ter wille van die wêreld se gesondheid, geïnteresseerd wees in die lot van daardie waarheid en die gebruik wat in die wêreld daarvan gemaak word. Hy moet wil weet waar sy graduandi woon, waar hulle werk en wat hulle doen. Keer hulle terug huis toe met hulle kennis om die lewe van hulle buurte te verbeter en beskerm? Sluit hulle aan by die “opwaarts mobiele” professionele mag wat nou plaaslike gemeenskappe oor die hele land, beide menslik en natuurlik, uitbuit en vernietig? Het die universiteit se werk oor die laaste geslag geletterdheid en kennis van die klassieke verhoog of verlaag? Het dit die algemene begrip van die wetenskappe vermeerder of verminder? Het dit besoedeling en gronderosie vermeerder of verminder? Het dit staatsamptenare se vermoë en geneigdheid om die waarheid te praat, vermeerder of verminder? Sulke vrae kan natuurlik nie presies beantwoord word nie. Vrae na invloed kan nooit. Maar dit kan gevra word en die vra daarvan, as ons besluit om dit te doen, sal ‘n verenigende en vormgewende krag wees.

Leave a Reply

Your email address will not be published.