Boekbespreking: Culture Counts – Roger Scruton

[Deel 1 van 7]

deur Carel Boshoff

Roger Scruton (2007/2021): Culture Counts, Faith and Feeling in a World Besieged. London: Encounter Books

Roger Scruton (1944–2020) se Culture Counts is ‘n kort, maar kragtige pleidooi vir die Westerse kultuur wat lyk asof dit in die naam van multi-kulturalisme deur die draers daarvan in die steek gelaat word. Hoewel die boekie van net meer as 100 bladsye al in 2007 verskyn het (en ek was gelukkig om tydens ‘n besoek aan Londen destyds ‘n eerste uitgawe in hardeband te bekom!), het die argument wat Scruton aanbied nog niks aan belang of toepaslikheid ingeboet nie. Hy verset hom uit die staanspoor teen die kulturele pessimisme wat die ondergang van die Weste verwag en wys ‘n hoopgewende weg uit die oënskynlike doodloopstraat aan. Daarom is dit te meer bemoedigend dat Culture Counts intussen in 2018 en 2021 heruitgawes beleef het.

Om reg aan die diepte en omvang van die argument te laat geskied, gaan elkeen van die sewe hoofstukke waaruit die werk bestaan, in opvolgende aflewerings van Perspektief behandel word. Die eerste hoofstuk stel die vraag:

Wat is kultuur?

Terwyl daar antropologiese, etnologiese en sosiologiese definisies van kultuur die rondte doen en hulle almal saamhang met die menslike behoefte om te behoort, slaan Scruton hier ‘n onverwagse rigting in. Hy beskryf kultuur as iets wat deur elites geskep word en wat dan weer elites skep. Daarmee skei hy dit nie waterdig af van die algemene behoefte om te behoort of om ‘n sekere lewenswyse in beskerming te neem nie, want die betekenis daarvan lê in gevoelens en strewes wat almal deel, al neem nie almal ewe veel aan die daarstelling daarvan deel nie.

Om sy beroep op hoë kultuur te verduidelik, verlaat Scruton hom op die onderskeid tussen kultuur en beskawing, met die gedagte dat ‘n beskawing ‘n sosiale entiteit is wat oor ‘n geruime tyd in ooreenstemmende godsdienstige, politieke en wetlike gebruike beslag gekry het. Sulke gebruike bied aan die lede daarvan die voordeel van opgegaarde kennis en lidmaatskap van ‘n groep wie se onderlinge omgang daardeur gereël word. Die kultuur van ‘n beskawing is dan die kuns en letterkunde waardeur die beskawing bewus word van homself en aan sy beeld van die wêreld vorm gee.

Die Westerse kultuur, die kultuur van die Westerse beskawing, beskryf Scruton as die samevloeiing van die Christendom met die wet en regering van Rome, wat gedurende die hoë Middeleeue van sigself bewus geword het, daarna deur ‘n tyd van skeptisisme en Verligting gegaan het en terselfdertyd deur handel en kolonisering oor die hele wêreld versprei het. In sy bloeityd het die Westerse beskawing ‘n kultuur voortgebring wat met vreugde elemente van ander kulture, plekke, gelowe en tye opgeneem en aangepas het. Die grondslag van sy verhale en leerstellings kom uit die Hebreeuse Bybel en die Griekse Nuwe Testament, maar sluit die Duisend en een nagte, wat ook ‘n sentrale plek in die Islamitiese kultuur beklee, in, terwyl die heidense literatuur van die Grieke en Romeine al vir eeue as bron van ons literêre tradisie bestudeer word. “Multi-kulturalisme” is vir die Weste dus niks nuuts nie.

Elke kultuur word ook deur ‘n sentrale tradisie gekenmerk, werke wat nie net die toets van die tyd deurstaan het nie, maar ook vir die eietydse deelnemers daaraan as model en inspirasie dien. Maar hoe kom dit tot stand en hoe word dit in stand gehou? Deur ‘n proses van kritiese debat en oordeel. Om die waarheid te sê, oordeel staan by die wieg van kultuur – tallose keuse oor eeue heen, tallose debatte, toespelings en vergelykings waarmee mense hulle ledige ure gevul het. Maar is oordele van hierdie soort nie onredbaar subjektief nie? Dit is ‘n beswaar wat teenswoordig baie gehoor word, maar die feit dat ons oordele oor kunswerke op persoonlike ervaring berus, beteken nie dat daar nie oor geredeneer kan word en die ervarings en gevoelens wat dit oproep nie aan die lewe getoets kan word nie. Of dit eenvoudig as goeie smaak of meer verlig as estetiese oordeel beskryf word, is van minder belang as die feit dat kultuur steeds op oordeel berus.

Op hierdie punt maak Scruton ‘n meesterskuif deur hom van, soos hy dit stel, een van die rumateriale waarvan kultuur gemaak word, te bedien. Hy verbind naamlik oordeel en lag, en neem daardie besonderse menslike instelling, naamlik die grap in behandeling. ‘n Grap is ‘n herhaalbare optrede met woorde en gebare wat bedink is met die doel om ‘n gelag te veroorsaak. Al is dit nie maklik om te sê presies wat lag is nie, weet mens dat dit gemeenskaplik van aard is, ‘n manier om isolasie te deurbreek en ons teen radeloosheid te verskans. En om te lag, is om ‘n oordeel oor die grap te fel – om dit snaaks te vind of nie, want ‘n grap kan ook platval. Maar ‘n grap kan om meer as een rede misluk, dit kan van slegte smaak getuig en aanstoot gee, ‘n belangrike element van wat ons kinders probeer leer om nie te doen nie.

Die punt is dat die oordeel van ‘n grap en die oordeel van ‘n kunswerk – die oordeel wat in die hart van kultuur lê – van dieselfde aard is en dat ons heeltyd daarmee besig is. Hierdie oordeelsvermoë maak deel van ons opvoeding uit, is van morele belang en betrek ons diepste sosiale impulse. Kort gestel kan ons sê dat kultuur oordeel is, en dat oordeel saak maak. Die feit dat beide ‘n grap en ‘n kunswerk kan misluk of aanstoot gee, beteken nie dat dit willekeurig is of dat daar geen verskil tussen goeie en slegte kuns is nie, nog minder dat dit onmoontlik is om met behulp van kunskritiek en -opvoeding ‘n sierliker en meer menslike begrip van skoonheid na te streef.

Ons begrip van skoonheid is volgens Scruton in ‘n sameval van ervaring en denke geleë, ‘n sameval wat verbeelding vereis en wat betekenis openbaar maak wat vir die wetenskap ontoeganklik sou wees. Om hier en nou met verafgelëe dele van my lewe gemoeid te raak, om morele ruimtes waarin ons nog nie teenwoordig is nie, by keuses wat nou gemaak word te betrek, benodig ons insig in die betekenis van dinge. Om verbeeldingryk met blote moontlikehede om te gaan, om doelwitte buite ons voorhande werklikheid te stel, is een van die geskenke van kultuur – solank ons kultuur op hoër dinge gerig is en nie die laagste gedeelde verwysings, die bloot sensasionele, opsoek nie.

In antwoord op die vraag Wat is kultuur? antwoord Scruton dan soos volg: ‘n Kultuur bestaan nie net uit kunswerke nie en is nie net op estetiese belangstelling afgestem nie. Dit is die sfeer van intrinsiek interessante artefakte wat deur die vermoë om te oordeel aan ons strewes en ideale verbind is. Ons heg waarde aan grappe, kunswerke, geskiedkundige en letterkundige geskrifte, maniere, drag en gedrag. En al hierdie dinge word deur oordeel gevorm. … ‘n Kultuur bestaan uit al daardie aktiwiteite en artefakte wat deur ‘n “gedeelde strewe na ware oordeel,” soos TS Elliot dit gestel het, saamgevat word. En ware oordeel gaan oor die soeke na betekenis in nadenkende omgang met goed wat met die oog daarop gemaak, gekomponeer en geskryf word.

Kultuur is van, soos Scruton dit noem, artistieke en duskursiewe aard. Beide verken die betekenis van die wêreld en die lewe van die gemeenskap, en beide se doel is om die oordele met behulp waarvan ons mekaar en onsself verstaan, te stimuleer. Sonder die wil en die vermoë om te oordeel, sou kultuur ondenkbaar wees.

Leave a Reply

Your email address will not be published.