deur Wynand Boshoff
Die vorm wat Eerste en Tweede Afrikaners aangeneem het, was telkens ‘n komplekse reaksie op ‘n ongunstige situasie. ‘n Toekomssiening wat inisiatief moontlik gemaak het, liewer as om slagoffer te wees, het telkens na vore getree. Dit kon ruimte maak vir elkeen se persoonlike strewes, só dat dit die gemeenskap as geheel opgebou het. Nie altyd in harmonie en samehang nie, maar darem.
Carel Boshoff het die historiese onderskeid tussen Eerste Afrikaners (die van die Boererepublieke in die negentiende eeu); Tweede Afrikaners (die van Suid-Afrika in die twintigste eeu); en Derde Afrikaners (wat tans vorm aanneem, maar wat nog nie ‘n voldonge feit is nie) bedink. Ek wil daarby die proto-Afrikaner voeg, voorlopers van die Eerste Afrikaners wat nog nie juis oor etniese identiteit nagedink het nie.
Oorlewing was vir die Afrikanervolk nog nooit vanselfsprekend nie. Trouens, vasgevang tussen die oorweldigende getalle van Afrika en kulturele oormag van die Engelssprekende wêreld, is selfs die ontstaan daarvan onverwags. Daar was ook punte waarop dit kon misloop – waarop die Afrikaner ‘n interessante paragrafie in die koloniale geskiedenis van Afrika kon word.
Die punte waarop sake kon misloop, was ook die oorgange tussen die verskillende stadia: van proto- na Eerste -; van Eerste – na Tweede -; en tans na die Derde Afrikaner. Net om dit vinnig te skets:
Die term “Africaander” is aanvanklik gebruik om dit wat inheems aan Afrika is, te onderskei van dit waarvan die tuiste in Europa is. Dit geld vir mense, skape en beeste.
Andersyds was daar die term “Boer”, wat baanbrekers ver van Kaapstad, die plaaslike skakel met die Weste, beskryf het. Dit het ook gegeld vir pampoene en koring, in teenstelling met inheemse koring en pampoene (selfs waatlemoene) waarvan die voormalige name deesdae selde gebruik word.
Proto-Afrikaners het gegroei uit onderdane van die Nederalandse VOC, wat al dieper die binneland ingetrek het en vir wie hulle lande van herkoms al minder betekenis gehad het. Hulle is deur hulle gesamentlike kompetisie om grond teenoor inheemse groepe, aan mekaar verbind. Nie as gevolg van owerheidsaksie nie, maar liewer as gevolg van die gebrek daaraan.
Die Groot Trek was ‘n reaksie op Britse koloniale beleid. Die Britte was vasbeslote om beter te regeer, maar beslis in Engels. Druk van die regering het ‘n belangrike deel van die bevolking laat besluit om oor die grense te trek en ‘n nuwe toekoms te skep.
Die twee Boererepublieke (die ZAR en Oranje Vrijstaat) is onderskeidelik in 1852 en 1854 deur Brittanje erken, maar dit het nie dadelik alle Afrikaanse verbeeldings aangegryp nie. Amper dertig jaar later het twee onverwante gebeure ‘n gevoel van lotsverbondenheid laat posvat.
In die Boland, die swaartepunt van Afrikaanse ekonomiese – en kulturele krag, het ‘n Afrikaanse taalbeweging in 1875 begin. In 1877 annekseer Brittanje die ZAR, politieke swaartepunt van die republikeinse strewe.
Dit neem drie jaar vir vryheidsgesindes om die oud-republiek se burgers te mobiliseer en om alle diplomatieke kanale uit te put, voor oorlog in 1880 uitbreek. Sukses, gesimboliseer deur die Slag van Majuba, skep ‘n lotsverbondenheid onder Afrikaners, regoor die vier gebiede wat later saam Suid-Afrika sou word.
Die moontlikheid dat Afrikaners in die Kaap almal Engels kon word, of dat dié in die Boererepublieke hulle Westerse erfenis kon verloor of selfs uitgemoor word, het nie waarheid geword nie. Wat wel gebeur het, is dat ‘n selfbewuste identiteit van Afrikanerskap oor grense heen tot stand gekom het.
Die volgend krisispunt was die gewelddadige onderwerping van die Boererepublieke. Van die voormalige republieke het so min oorgebly, dat mens nie daarna kon teruggryp nie. Boonop is die landelike voor-industriële samelewing vervang met ‘n mynbou-industriële samelewing wat nuwe vaardighede geverg het.
Die knap skut en die vreeslose perderuiter was nie meer die vanselfsprekende leier nie, maar wel die geleerde persoon – een wat behoorlik met geld kon werk was nog beter. Dit was ‘n wêreld wat mens hoofsaaklik in Engels moes betree. Met ander woorde, jou vaardighede is nie meer waardevol nie en jou taal staan in die pad daarvan om nuwes aan te leer. Jy is dus ekonomies verarm, polities verswak en kultureel gestremd.
Die enigste uitweg was om politieke krag te herwin, dit te gebruik om geleerdheid in jou eie taal te bemeester en ekonomies sterk te word. Dit is makliker gesê as gedaan, maar dit was die selfopgelegde taak van die Tweede Afrikaner – en dit het gewerk.
Die droom en die plek daarvoor was duidelik, geloofwaardig en gewild. Daarom het dit gewerk.
Hoewel profetiese denkers teen die 1980’s kon sien dat die ding nie meer kon werk nie, het die einde van die Tweede Afrikaner in 1994 vir baie onverwags gekom. Onverwags, maar in werklikheid ook ondramaties. Dit het soos ‘n blote regeringsverandering gelyk, pleks van die einde van ‘n bedeling.
Party Tweede Afrikaners het aan die moontlikheid om alles om te keer, vasgehou. Ander het weer gedink onmisbaarheid is die Goue Sleutel – net om uit te vind hoe meer onmisbaar hulle is, hoe meer onwelkom is hulle.
Die Tweede Afrikaner het geval en die vraag is of ‘n Derde Afrikaner aan die opstaan is. Die potensiaal is daar, maar nie alle potensiaal word in die lewe verwesenlik nie.
As die antwoord “Ja” is, is dit op vier vlakke besig om werklikheid te word: Uitvoerende kunste soos met kunstefeeste, Afrikaanse televisie, radio en konserte; Parallelle staatsfunksies soos Akademia, Soltech, Buurtwagte en selfs Watergebruikersverenigings; Orania en die instellings wat daar ontwikkel; en die moontlikheid van ‘n onafhanklike Kaapland.
Nie een van die vier kan alleen hierdie skoene volstaan nie, maar elkeen kan wesenlik daartoe bydra. ‘n Volgende artikel sal dieper op die wisselwerking ingaan en aandui hoe dit saam die Derde Afrikaner regop kan laat staan.