deur Marcel Bas
Waarom het die Russiese president Wladimir Poetin ‘n oorlog in die Oekraïne begin? En hoekom ondersteun die Russies-Ortodokse Kerk hom? Die antwoorde op hierdie vrae kan in ‘n groot mate gevind word in die gedeelde godsdienstig-etniese geskiedenis van Rusland en die Oekraïne.
‘n Konserwatiewe kerk
Volgens oorlewering bestaan die Ortodokse Kerk sedert die dag dat Jesus Christus saam met die dissipels in Caesarea Filippi gegaan het, waar Petrus, in antwoord op Christus se vraag, namens al die apostels bely het dat Hy die Seun van God is. Die belydenis van geloof in Christus as die Seun van God, uitgespreek deur die apostel Petrus, was die fondamentsteen van die kerk (Matt. 16:17-18).
Later het die Kerk – die Liggaam van Christus – biskoppe, aartsbiskoppe (metropoliete) en patriarge oor die gemeentes aangestel. Hulle gaan voort met die onderrig en pastorale funksies van die twaalf apostels wat deur Christus gekies is. Hierdie voortgang word die apostoliese opvolging genoem. Die enigste hoof van die Kerk is Christus self, nie die Pous in Rome nie. In 1054 het onder meer teologiese meningsverskille tussen Oos en Wes en die Westerse leerstellings wat sê dat die Biskop van Rome die “plaasbekleër” van Christus is, daartoe gelei dat die Oosters-Ortodokse Kerk nie meer gemeenskap met die Wes-Katolieke Kerk kon hê nie.
Die plaaslike, niesentrale organisasie van die Oosters-Ortodokse Kerk, met sy plaaslike patriarge, het aan die kerke ‘n sterk plaaslike karakter gegee en verhoed dat – soos in die Weste – baie leerstellige of kerklike innovasies geïmplementeer word. Gevolglik het die Oosters-Ortodokse Kerk merkwaardig onveranderd gebly. Daar is geen ruimte in die ortodoksie vir groot innovasies of baanbrekende insigte nie. Vir Bybeleksegese, teorie en (lewens)praktyk maak Ortodokse Christene dan ook hoofsaaklik staat op die geskrewe tradisie van die Kerkvaders en asketiese heiliges.
Plaaslike, etniese basis
Veral in tye van oorheersing en bedreiging – soos in die Balkan tydens die Islamitiese Ottomaanse Ryk, die Westelike Kruistogte, die Rooms-Katolieke Habsburgse Ryk en in Rusland die Poolse (Rooms-Katolieke) oorheersing – het die plaaslike kerke en kloosters hul standvastigheid en verbintenis met die plaaslike mense bewys. Omdat die Ottomaanse Ryk die kerke volgens etnisiteit georganiseer het, het kerke en kloosters as ware toevlugsoorde vir die behoud van Christelike en etniese lewenswyses en waardes opgetree. Ten spyte van hul sterk nasionale karakters het die kerke ‘n hegte ortodokse, ekumeniese netwerk onder mekaar gevorm, met Konstantinopel en Alexandrië as die belangrike intellektuele spilpunte.
Na die ontstaan van die onafhanklike nasiestate in die twintigste eeu, het die Ortodokse nasionale kerke dikwels met die politiek verweef geraak. In 2022 blyk dit dat die 60 jaar van kommunisme nie veel daaraan verander het nie. Dit geld ook vir Rusland, waar die Kerk en die President gesamentlik na die welsyn van die mense omsien.
Vandag is daar 14 Ortodokse, meestal nasionale, kerke. Patriarg Bartolomeus van die huidige Turkse Konstantinopel word as die ere-patriarg beskou. Hy het geen formele, maar morele gesag nie.
Oekraïne in die Russies-Ortodokse wêreld
Die bakermat van Russiese identiteit en godsdiens is nie in Moskou nie, maar in Kiëf. Die oorspronklike Russiese staat, Kief-Roes, is rondom Kiëf gevorm. Sedert die Russiese heerser Wladimir die Grote en die Russiese volk in 988 in Kiëf Christelik gedoop is, het die Russies-Ortodokse Kerk ‘n onafskeidbare eenheid met mense en grond gevorm. Selfs toe hierdie Russiese staat gedurende die Middeleeue uitgebrei het na Moskou en wat nou Rusland en Wit-Rusland is (later het hy, en die Kerk, na Siberië en verder oostelik en suidelik uitgebrei).
In 1589 het Konstantinopel die Moskouse Patriargaat as ‘n onafhanklike kerk erken, wat daartoe gelei het dat baie mense glo dat Moskou die Derde Rome was, noudat Konstantinopel en Rome verlore was. Die Russiese goddelik aangestelde tsare het oor Kiëf, Minsk en Moskou en verder noord, suid en oos geheers. Die inwoners van hierdie lande het hulself tot in die twintigste eeu as Russies beskou: ook die Oekraïners. Selfs toe Rusland en die Oekraïne vir eeue geskei was deur dinastieë en buitelandse oorheersing, het Oekraïeners en Russe hulself as Russies geïdentifiseer. Boonop praat Russe en Oekraïeners twee onderling verstaanbare tale, waarvan die woordeskat tans 62% eenders is.
Hierdie antieke etno-godsdienstige eenheid tussen Kiëf en Moskou verklaar Wladimir Poetin se huidige onwilligheid om die Oekraïne te laat gaan. Hy sien die Oekraïne as Russies, terwyl Oekraïense regerings onder die invloed van die Weste al hoe meer staatsnasionalisties (en dus anti-Russies) geword het.
Poetin, en die Moskouse Patriarg Kirill, het dus beide ‘n geostrategiese en godsdienstig-etniese rede om die Oekraïne Russies te hou. Indien die Weste daarin sou slaag om die Oekraïne van die Russiese invloedsfeer te skei, sou Rusland ’n deel van sy identiteit verloor: kerklik sowel as etnies en polities.
Onafhanklike Oekraïne
Die spanning wat tot die huidige Russies-Oekraïnse oorlog in Februarie 2022 gelei het, het eintlik in 1991 begin, toe die Oekraïne onafhanklik geword het en van die Sowjetunie afgestig het. Rusland, as die reusagtige hartland van die Sowjetunie, het oorgebly. In 1920 en 1992 het sekere kerke van die Russies-Ortodokse Patriargaat van Moskou afgestig en hulself in 2018 uiteindelik die ‘Oekraïens-Ortodokse Kerk van Kiëf’ herdoop. Dit het tot 2019 steeds bekend gestaan as ‘n nie-erkende skeurkerk, totdat patriarg Bartolomeus van Konstantinopel die kerk daardie jaar selfbeskikking toegeken het. Die Patriarg van Alexandrië het ook die Kerk erken. Tot die woede van die Moskouse Patriargaat, maar tot groot instemming van die Amerikaanse ambassadeur in Oekraïne.
Die meeste Ortodokse Kerke erken nie die Kerk van Kiëf nie, maar die meerderheid Ortodokse Oekraïners voel tuis by dié Kerk. Dus bestaan daar nou twee Oekraïens-Ortodokse Kerke. Die voormalige skeurkerk fokus nadruklik op die Weste en wil Oosterse tradisies hersien wat hulle gemeen het met die Russe. Kerke en kloosters word deur hierdie nuwe Kerk gekonfiskeer en baie priesters en monnike kry die keuse: óf jy gaan saam met die nuwe Kerk, óf jy soek ‘n ander heenkome. Dit is ‘n groot dilemma vir baie priesters en biskoppe, want die Tiende en Elfde Apostoliese Reëls verbied gebede met skeuringe en ketters.
Die ‘Euromaidan’-staatsgreep en sy nasleep
In 2014 het die Verenigde State ‘n staatsgreep in Kiëf befonds, wat die pro-Russiese president met ‘n pro-Amerikaanse, anti-Russiese president vervang het. Die Amerikaners probeer immers jarelank om die Oekraïne in ‘n pro-Westerse staat te verander. Die pro-Amerikaanse presidente, Porosjenko en Zelenski, het minderheidsregte vir etniese Russe stelselmatig afgeskaf. Nou is die Russiese taal op allerlei plekke en in skole afgeskaf. Soldate en verregse milisies het boonop vanaf 2014 pro-Russiese administrasies en individue begin intimideer en sommige doodgemaak, soos in Odessa in 2014.
In reaksie op die staatsgreep en aanvalle op Russe, en om te keer dat NAVO te na aan Rusland kom, het Rusland die hoofsaaklik Russies-bewoonde skiereiland Krim geannekseer. Daarna, in reaksie op die anti-Russiese onderdrukking, het die hoofsaaklik etniese Russiese inwoners van die oostelike Donbas-streek probeer om by Rusland aan te sluit. Gevolglik het die Oekraïense weermag en aangeslote verregse milisies in die Donbas 3000 burgerlikes, hoofsaaklik etniese Russe, die afgelope agt jaar doodgemaak. Altesaam is ongeveer 14.000 mense dood in hierdie onderbeligte stryd.
Om die verlore kudde terug te bring
Alhoewel die Russies-Oekraïnse konflik sedert 2014 vanuit geopolitieke terme geïnterpreteer is, het president Poetin ook die behoud van die Russies-Ortodokse kudde in gedagte. Sy erkenning in Februarie van die moeilike Donbas-streek kan onder meer gesien word as ‘n manier om ‘n verlore deel van daardie kudde terug te bring. Die daaropvolgende oorlog teen die Oekraïne moet egter primêr verstaan word as Poetin se poging om die Oekraïne onbruikbaar vir NAVO te maak. Hy wil die land op sy knieë bring sodat Oekraïne neutrale status sal aanvaar en homself sal demilitariseer. Om nasionale veiligheidsredes het Poetin reeds vanaf 2008 enige Oekraïense NAVO-toetreding kategories uitgesluit.
Die patriarg Kirill, van Moskou, ondersteun Poetin in sy pogings om Oekraïners terug te bring in die Russiese invloedsfeer. Hy sal derhalwe nie die inval en die ‘spesiale operasie’ in die Oekraïne veroordeel nie. Tot almal se verbasing het die patriarg van die pro-Russiese Oekraïens-Ortodokse Kerk (van die Kerk van die Moskou-patriargaat) egter wel die inval verwerp, asook die patriarg van die voormalige skeurkerk. Meer Oekraïense priesters wat onder die Moskou-patriargaat val, verwerp die inval.
Die skeuring het ook gevolge in Afrika. Meer as 100 priesters in Afrika wil nie aandadig wees aan die oortreding van die kanons en bogenoemde twee Apostoliese Reëls nie. Priesters van agt Afrika-lande het sedertdien tot die Russies-Ortodokse Kerk bekeer en sodoende die ou Kerk van Alexandrië verlaat. Die Russies-Ortodokse Kerk help graag hiermee en is tans besig om Ortodokse Afrika-kerke te annekseer. Met hierdie bekerings sal die aantal Russies-Ortodokse Christene groei, indien die Oekraïne vir Rusland verlore sal gaan.
Religieuse en etniese agtergrond
Die Russies-Oekraïnse konflik is kompleks van aard, maar dit het diep, godsdienstige wortels. Hierdie godsdienstige aspek word dikwels misgekyk in besprekings in die Weste. Die Oekraïne is ‘n jong nasiestaat met vele betwiste staatsgrense. Selfs die Oekraïense identiteit, wat kragdadig deur die Oekraïense regering bevorder word, word nog lank nie deur alle Oekraïense burgers onderskryf nie. Alhoewel die meeste mense daar Oosters-Ortodoks is, bestaan die land hoofsaaklik uit twee dele: ’n Russiese deel en ’n Oekraïense deel – ’n pro-Russiese deel en ’n pro-Westerse deel. ‘n Mens moet hierdie identiteitskwessies herken ten einde die stryd te verstaan wat tans soveel dood en vernietiging in Oos-Europa veroorsaak.