deur Carel Boshoff, hoof van die Vryheidstigting
Die Vryheidstigting het hom nie, en kan hom nie gesaghebbend oor die oorlog in die Oekraïne uitspreek nie. Die rede is eenvoudig dat ons nie daarop ingegrawe is nie en ons nie met die blote herhaling van wat reeds gesê word, tevrede kan stel nie. Oor ‘n onderwerp waar daar soveel propaganda en partydige, soms halwe waarhede versprei word, moet mens jou woorde tel. En tog is daar ‘n bepaalde perspektief op die gebeure wat, voorbehoud ten spyt, uitgelig behoort te word. Maar laat ons die voorbehoud eers verder uitspel.
Afrikaners is instinktief geneig om ‘n kleiner volk wat deur die konflik tussen grootmagte bedreig of oorrompel word, te wil ondersteun. As mens boonop besef hoeveel persoonlike bande daar tussen individuele Afrikaners en Oekraïniërs is, is die meelewing wat ons mense vir die Oekraïne het, geen verrassing nie. Maar mens moet bysê dat die aard van verhoudings binne daardie streek geen maklike oordeel moontlik maak nie. Die politieke en staatkundige ontwrigting van meer as ‘n eeu onder rewolusionêre en totalitêre bewind, die taalkundige en kulturele verwantskappe en verskille tussen strydende partye, die vorming en afbakening van state en sub-state in die gebied en die strategiese oorwegings op beide militêre en ekonomiese vlakke moet in aanmerking geneem word. Wat presies besig is om te gebeur, is ook nie sonder meer duidelik nie en NAVO se oorswaartse uitbreiding die afgelope twee tot drie dekades word meestal deur Westerse media verswyg.
Desnieteenstaande is dit nie moeilik om vir vryheid en vrede te pleit en vir die Oekraïne se integriteit te wil intree nie. Dit doen ons ook, selfs sonder om te weet presies hoe dit tot uitvoer gebring kan word, want daarvoor staan ons te ver. Wat ons wel weet, is dat die effek van wat dalk ‘n plaaslike konflik kon wees, wêreldwyd uitgekring het – en dit is juis een van daardie uitkringeffekte waaroor ons in besonder bekommerd is.
Na dekades van vervreemding tussen Afrikaners en Russen as gevolg van kommunisme, apartheid en die Koue Oorlog, was dit vir ons ‘n wonderlike vonds om weer die bande wat byvoorbeeld tydens die Tweede Vryheidsoorlog tussen ons volke gesmee is, te herontdek en te versterk. Selfs tóé was daar groot kulturele, politieke en godsdienstige verskille tussen ons, en tog was daar op ‘n menslike vlak meestal toenadering en wedersydse waardering. Russe was deel van die Tsaristiese ryk, maar tog het hulle die Republikeinse Boere in hul vryheidstryd bygestaan. Die Russiese taal en alfabet was (en is) vir ons onbekend en ontoegaklik, maar op persoonlike vlak was mense in staat om die gaping te oorbrug. Die ortdokse kerk was (en is) vir ons protestante vreemd, maar tegelyk deel ons ‘n dieper geloofsband en verteenwoordig die ortodoksie ‘n konserewatiewe vorm van Christenskap. Ons is oorwegend van Noord-Wes Europese afkoms en het by uitsondering Slawiese voorouers gehad, maar dit was nooit uitgesliuit nie en sulke huwelikke is (en word steeds) gesluit.
Dit kan saamgevat word deur te sê dat ons betreklik onlangs weer ‘n susterbeskawing herontdek en herwaardeer het, ‘n volk wat deur sy eie donker nag gegaan het en tog behoue anderkant uitgekom het, ‘n kerk waarin die Christendom in vele opsigte beter as in die Weste behoue gebly het, ‘n kultuur wat nie deur liberale individualisme op sleeptou geneem is nie en waar individuele regte en aansprake die alfa en omega is nie. Ons is dus nie net vir mekaar interessant nie, ons het onlangs weer gevind dat ons ook dieper waardes deel wat ons graag die toekoms sal wil indra. Daarom is ons diep bekommerd dat die huidige konflik daardie brose verhouding wat net weer begin vorm aanneem het, op die spel kan plaas.
Ons is eerlik as ons sê dat ons vir die spoedige herstel van vrede hoop en bid, en vir wysheid om die verhoudings tussen daardie twee volke wat eintlik bure en familie is, weer op ‘n goeie voet te plaas. Ons glo dat vryheid die belangrikste voorwaarde vir volhoubare vrede is, al is dit nie vir ons om te sê hoe dit onder spesifieke omstandighede en vir ander mense tereg moet kom nie. Dit klink dalk na te min gesê, maar dit mag tog ‘n flikkering van hoop verteenwoordig as daar, ten spyte van al die geraas wat die ruimtes tussen ons vul, van Afrikaners ‘n stille wens van wysheid, vrede en vryheid na hierdie verlore vriende van ons vaders wat ons weer gevind het, uitgaan. En as ons in die vertroue van vriendskap kan sê: Mag erkenning, en die wederkerigheid wat dit onderlê, in hierdie dae vir julle ‘n rigsnoer wees.