“Tuiskoms” as politieke belewenis bedink

deur prof Willem Boshoff

Die nuutste bundel opstelle uit die pen van Carel Boshoff, gepubliseer onder die titel: Tuiskoms: Waar ons vandaan kom en waar ons heengaan, is besonder lesenswaardig. Miskien is dit te meer nodig om daarvan kennis te neem in die lig van die spanning wat opbou in die ooste van Europa en die tekens van hernude konflik in state wat vir dekades verdwyn het in die groot Unie van Sowjet Republieke. Die gebeure in die Oekraïne, Belarus en Rusland (met die senuweeagtige blik op gebeure vanuit Estland, Letland en Litoue), beduie op oorvloedige wyse dat ‘n “nuwe politieke bedeling” – hoeveel dit ookal verwelkom mag word, geen waarborg vir toekomstige politieke gebeure is nie. Hierdie state was in onlangse tye maar vir `n korte periode deel van die vrye wêreld van soewereine state.

Die Vryheidstigting het `n bundel opstelle uitgegee wat getuig van twee dinge: eerstens `n helder historiese bewussyn, dikwels geklee in persoonlike ervaring en tweedens `n filosofiese kyk op die wêreld waar die waarnemer altyd tegelyk `n doener en `n belewer is. Uit die titel blyk dit reeds dat `n individu hier verantwoording doen oor denke en gebeure as deel van `n kollektief. Dit is nie bloot `n outobiografiese “ek” wat vertel van “my” ervaringe nie. Inteendeel. Carel Boshoff skryf oor waar “ons vandaan kom en waar ons heen gaan”, ooglopend deel van en betrokke by die dinge waaroor hy nadink. Hy is nie bloot historikus wat die verlede beskryf, of politieke wetenskaplike wat gebeure, asof van buite, analiseer nie. In sy nadenke en verantwoording is hy deelgenoot aan historiese gebeure en vormgewer aan politieke idees.

Op treffende wyse plaas hy die konsep van die “Derde Afrikaner”, wat hy reeds in twee publikasies uitgewerk het, in `n klein geskiedenis van persoonlike ervaringe, maar tegelyk in die groter Suid-Afrikaanse geskiedenis van die 1980’s tot nou. Hy kyk indringend na temas soos eie geskiedenis, selfvertroue, die erwe van ons vadere en demografie. Selfbeskikking op `n volhoubare en selfgedrewe basis kom aan die orde, sowel as die feit dat `n klein volk, soos `n klein taal, die reg op erkenning geniet, maar geen waarborg vir bestaan het nie. Oorlewing hang saam met sake soos bewustelike lewe, diepe nadenke, leierskap, gemeenskap en eie arbeid. Hy plaas die temas in `n wyer verband en neem kennis van denkers van buite die plaaslike debat, maar kyk ook na historiese konflikte soos die Verwoerd-Van Wyk Louw alterkasie rondom Die pluimsaad waai ver in 1966 en die Voëlvry/Vrye Weekblad werklikhede van die tagtigerjare.

Terloops, dit is baie interessant om vandag weer sekere van daardie selfversekerde debatte te herbesoek in die lig van 28 jaar van toenemend rampspoedige regering deur `n alliansie wat met soveel internasionale verwagting en bewondering aan bewind gekom het. Die onafwendbaarhede wat die PW Botha-bewind in die gesig moes staar, die blinde vertroue  van liberales in die beter toekoms wat, asof vanselfsprekend, uit `n oorgang sou spruit, maar ook die kliniese analise van demografie en tendense was SABRA se denkers verwoord het, kom almal aan die bod. Met die voordeel van drie onlangse dekades se gebeure waarop `n mens kan terugkyk en die voorafgaande 30 jaar se worsteling met werklikhede, begryp `n mens die neiging tot isolering, individualisering en emigrasie, maar ook die bewuste keuse om gestalte te gee aan werklik nuwe praktyke wat nie probeer om koloniale nalatenskappe te onderhou of selfs te idealiseer nie. Daarvan is die tot standbring van Orania – beide as plek en as idee – `n waardige monument van denke en leierskap én van verantwoordelikheid neem vir ons eie tyd.

Die sewe hoofstukke in die boek is netjies gestruktureer rondom ‘n sentrale hoofstuk oor denkende leierskap. Die struktuur kan soos volg uitgebeeld word:

Aanloop – ‘n sterfte en afskeid van gevestigde denke

                Demografie as die wortel van die probleem

                                Kultuuroorlog en (ongehoorde) denke

                                                WENDING – oor denkende leierskap en aspekte van politiek

                                Kultuurvrede en nadenke oor gemeenskap

                Demografie as katalisator vir die oplossing van `n onontkombare probleem

Afloop – ‘n tuiskoms en in werkingstelling van nuwe idees

Die boek het nodig om gelees te word en dit sal die leser baat om by die opneem daarvan ontslae te raak van geykte idees en opvattings. Alhoewel die opstelle almal tevore iewers verskyn het, is die bymekaarbring, strukturering en saamlees daarvan `n ryk ervaring – deels nostalgies as jy oud genoeg is – maar beslis stimulerend.

In `n era waar denkdrywers (“influencers”) op sosiale media gekenmerk word deur vlakheid van denke tot die mate van verleentheid toe, vind `n mens in Tuiskoms verantwoording, nadenke en realisme wat getemper is deur die werklikhede om ‘n idee én `n dorp uit te bou in die moeilikste en mees onvriendelike denk- en politieke omgewing wat jy jou kan voorstel.

In die mymering oor die situasie in Oos-Europa in die eerste paragraaf het ek gedink aan die onafgehandeldheid van die geskeidenis. Baie naby aan eie vel is dit ook sigbaar in die geskiedenis van die Afrikaners. In terme van Klassieke filosofie kan ons saam sê panta rei, alles beweeg. Waarskynlik tree die dood in wanneer verandering ophou.

Op die omslag is `n skildery van Yolandi-Mari. Die boek is werklik keurig versorg en is beskikbaar by die Die Vryheidstigting.

Willem Boshoff

Leave a Reply

Your email address will not be published.