Onderhoud met die outeur na aanleiding van ‘Tuiskoms’

deur Annemarie Pretorius

AP:    Hoekom ag die Vryheidstigting dit noodsaaklik dat Tuiskoms gepubliseer word?

VS:    Die inhoud van Tuiskoms en die doel en rol van die Vryheidstigting is ten diepste met mekaar verweef in die sin dat dit vir albei gaan oor “waar ons vandaan kom en waar ons heen gaan.” Die Vryheidstigting, wat sy wortels in die geskiedenis van SABRA en die destydse beleid van afsonderlike ontwikkeling het en wat hom deurgaans op alternatiewe oplossings eerder as reaksionêre retoriek toegelê het, is nogal teenwoordig in talle van die rigtingewende herinnerings van die outeur. Dit is asof die Vryheidstigting soms self aan die woord kom en dit sy eie herkoms is wat hier beskrywe word. Ons praat van ‘n unieke tradisie wat nie behoue sou bly as iemand nie die moeite gedoen het om dit op te teken nie.

          Die besondere tradisie is ook gevolgryk in soverre Orania as regstreekse uitvloeisel daarvan beskou moet word. Die beteken nie dat óf die boek, óf die Vryheidstigting tot Orania beperk is nie, maar beide gaan van Orania uit en veronderstel dat die soort konsentrasie van belange reeds deel van die groter Afrikanerdiskoers geword het. En dit bring ons by die “waar ons heen gaan”, wat natuurlik die belangrikste is. Ook daarin vind die Vryheidstigting die konsep van ‘n “politiek van tuiskoms,”  wat met een voet in ‘n tuistelike gebied en die ander in die  verstrooiing staan, ‘n gedagte wat ons graag wil uitdra. Dit is die samehang en medewerking binne die oënskynlik uiteenlopende verbande wat ons toekomstige sukses mag bepaal.

AP:    Afrikaners openbaar soms ’n nostalgiese verlange na die 1950’s en 1960’s in Suid-Afrika. Dit was ’n tyd van groot vooruitgang, welvaart en sekuriteit vir die Afrikaner. Is hierdie terug hunkering na ’n tyd toe Suid-Afrika die Afrikaner se tuiste was, regverdigbaar? Waarna verlang die Derde Afrikaner?

VS:    Die Afrikaner het nie veel van ‘n goue era om na te verlang nie, maar die era van nasionale oplewing, republiekwording en suksesvolle armoedeverligting was iets besonders. Dat dit vandag so volledig in diskrediet gebring is, dra dalk selfs by tot ‘n soort subversiewe verlange en herdenking, maar realisties gesproke is daar natuurlik geen terugkeer of verlange na ‘n era wat aan sulke diepgaande strukturele spannings onderhewig was nie.

          Die Vryheidstigting vir een, verlang nie terug na Apartheid en die verstaatliking van ons kultuurlewe en menseverhoudings nie. Goed en wel dat ons belange goed beskerm is en dat stelsels in die algemeen goed gewerk het, maar dit was te ooglopend onvolhoubaar – en ons voorgangers het dit juis destyds al gesê. Om te sê ons verlange is na vryheid, is dalk te min en dalk te veel gesê, want wat beteken dit? In aansluiting by hierdie boek kan ons sê dit beteken om ‘n tuiste te hê, om te kan uitgaan en te kan tuiskom, om ons eie besluite te kan neem en hulle te kan uitvoer.

AP:    Hoofstuk 7 neem die toekoms van die Afrikaner in behandeling. Talle Afrikaners wonder vandag oor ons volk se voortbestaan maar ander vra of ons behoort voort te bestaan. Waarin lê die kruks van die Afrikaner se voortbestaan?

VS:    Mens kan amper sê die kruks lê daarin dat die vraag na ons volksbestaan hoegenaamd gevra word. Die skugterheid waarmee ons mense soms geneig is om nie meer aan onsself as ‘n volk te dink nie, kan ons van die energie en skaal wat in die groter samebinding en eenheid van Afrikaners oor ‘n baie breë front opgesluit lê, vervreem, en daarin lê ‘n baie groot risiko.

          Daarenteen het die Afrikaner al sulke ingrypende teenspoed te bowe gekom en sulke drasitese uitdagings aanvaar, dat die nuwe getalle- en magsverhoudings wat oor die afgelope dekades voelbaar geword het, nie ons ondergang hoef te voorspel nie. Inteendeel, mens kry oral die indruk van nuwe inisiatiewe en van selfbevestiging. Met genoeg realisme en gesonde verstand beskik ons mense oor wat nodig is om uitvoerbare planne te maak en in werking te stel.

          Maar ons sal realisties moet wees, as ons op ‘n volhoubare grondslag aan ons vryheid uitdrukking wil gee. Om ons vermoë te oorspan, meer te onderneem as wat ons met eie krag en arbeid kan verrig en in die proses van ander afhanklik te raak tot die mate dat ons nie meer ons eie besluite kan neem nie, het ons duur te staan gekom. Om sulke sukses te wil herhaal, is om mislukking by die voordeur in te nooi. Selfwerksaamheid gaan ‘n voorwaarde vir blywende sukses wees, ons moet die uitdaging én die bevryding daarvan aanvaar.

AP:    Tot hoe ’n mate lê daar ’n tuiskoms in ’n ryk en vol bestaan?

VS:    Aan die een kant sal geen tuiskoms wat nie ‘n ryk en vol bestaan bied, ‘n ware tuiskoms wees nie. Of positief gestel: ‘n goeie tuiste, ‘n plek waar ons die geleentheid ten baat neem om aan ons beste potesiaal uitdrukking te gee, sal ‘n ryk en vol bestaan bied, doen dit reeds. Maar dan is dit nie ‘n oppervlakkige “lewensstyl-keuse” waarvan ons praat nie, dis iets dieper en meer betekenisvol. Tuiskoms neem die kwessie nogal onder oë, ek dink dit is een van die bates van die boek en ‘n rede hoekom die Vryheidstigting dit met goeie verwagting aan sy leserspubliek aanbied.

Leave a Reply

Your email address will not be published.