Die verlies vir die universiteit (I)

Oorspronklik: Wendell Berry, The Loss of the University uit Home Economics (1987) [Deel I]
Vertaal deur Carel Boshoff.

Die haglike toestand van letterkunde binne die universiteit is nie wesenlik anders as die toestand van enige ander dissipline nie, wat weer nie wesenlik anders is as die haglike toestand van taal nie. Dit kom daarop neer dat die verskillende dissiplines opgehou het om met mekaar te praat; hulle het te gespesialiseerd geraak, en hierdie oorspesialisering en gevolglike skeiding van die dissiplines is moontlik gemaak en afgedwing deur die spesialisering van hulle tale. Die gevolg is dat moderne universiteite gegroei het, nie aan die hand van enige verenigende beginsel, soos ‘n uitbreidende heelal nie, maar aan die hand van aanwins, soos ‘n besigheid wat stoorruimtes vir meubels verhuur.

            Ek veronderstel dat ‘n mate van spesialisering onvermydelik is omdat konsentrasie op ‘n versmalling van aandag neerkom; ons kan immers net een ding op ‘n slag doen. Ek veronderstel voorts dat ‘n sekere mate van spesialisering wenslik is, want goeie werk vereis die volgehoue beoefening daarvan. As ons die beste werk in die onderwys of skrywery of klipmesselary of boerdery gedoen wil hê, dan moet ons toesien dat die werk deur bewese meesters gedoen word, deur mense wat deur ‘n lang en uitnemende beoefening daarvan voorberei is.

            Maar om te veronderstel dat ‘n sekere vlak van spesialisering behoorlik is, is tegelyk om te veronderstel dat ‘n sekere vlak van spesialisering onbehoorlik is. Die onbehoorlikheid, dink ek, kom ter sprake wanneer die verskillende soorte werkers onderling verdeel word en ophou om met mekaar te praat. Ingevolge dié verdeling maak hulle dele van dinge. Dit is die onbehoorlikheid van industriële organisasie waarvan Eric Gill geskryf het (vry vertaal): “Vernuf in vervaardiging verval tot blote handigheid, dit is vernuftige handeling, wanneer die werksman ophou om begaan te wees oor die ding wat gemaak word of nie meer verantwoordelikheid dra vir die ding wat gemaak word nie en daarom nie meer weet wat dit ding is wat hy maak nie. So ‘n handlanger weet eintlik net wat hy doen, wat gemaak word gaan hom nie aan nie.” ‘n Deel van die probleem aan universiteite tans (of ‘n deel van die oorsaak van die probleem) is hierdie verlies aan belang by die ding wat gemaak word, en onderliggend daaraan, ‘n verlies aan ooreenkoms oor wat die ding is wat gemaak word.

            Die ding wat aan ‘n universiteit gemaak word, is menslikheid. Gegewe die huidige invloed van universiteite is dit eenvoudig onafwendbaar. Maar wat universiteite, ten minste die wat openbare fondse ontvang, die mandaat het om te maak of te help maak, is, in die volste sin van die woord: mense – nie bloot opgeleide werkers of ingeligte burgers nie, maar erfgename en draers van menslike kultuur. As die eintlike taak van universiteite net sou wees om mense toe te rus om hulle private ambisies te vervul, hoe regverdig mens dan die openbare befondsing daarvan? As dit net sou wees om burgers voor te berei om hulle openbare verantwoordelikhede te dra, hoe regverdig mens dan die aanbieding van kuns en wetenskap? Die gemene grond moet groter wees as óf loopbaanvoorbereiding, óf voorbereiding vir burgerskap. Onderliggend aan die idee van ‘n universiteit – die samevoeging binne een verband van al die dissiplines – is die idee dat goeie werk en goeie burgerskap die noodwendige bygevolg van die maak van ‘n goeie – dus ‘n goed ontwikkelde – mens sal wees. Dit, soos ek dit verstaan, is die definisie van die naam universiteit.

            Om besorg te wees oor die ding wat gemaak word, om hoegenaamd te weet wat gemaak word, moet die universiteit in sy geheel dieselfde taal as al sy studente en al sy gegradueerdes praat. Daar moet, met ander woorde, ‘n gedeelte taal wees. Sonder ‘n gedeelde taal verloor die universiteit nie net sy belang by die ding wat gemaak word nie, dit verloor sy eie eenheid. Voorts, as die departemente van ‘n universiteit so gespesialiseerd raak dat hulle nóg met mekaar, nóg met die studente en graduandi van ander departemente kan praat, dan is daardie universiteit ‘n misplaasde instelling. As ‘n instelling weet hy dan nie meer waar hy is nie, en kan hy nie meer weet wat sy verantwoordelikhede jeens sy plek is of wat die uitwerking van sy onverantwoordelikheid is nie. Té dikwels is dít die praktiese betekenis van “akademiese vryheid”: die leeraar voel vry om te leer, in albei betekenisse van die woord, om te maak en dink sonder om besorg te wees oor wát gemaak word.

            Byvoorbeeld: dit is aan universiteite wat vir landbou gestig is, steeds heeltemaal aanvaarbaar dat landbounavorsers hulle op die ontwikkeling van meer produktiewe melkkoeie toelê sonder om hoegenaamd die feit te oorweeg dat hierdie verwikkeling die noodwendig die ondergang van duisende melkerye en melkboere tot gevolg het – dat dit alreeds gebeur het en dat dit onvermydelik sal voortgaan om te gebeur. Die navorser voel vry om sulke werk eenvoudig op die grondslag van die verhouding tussen “produksie-eenheid” en die volume van produksie te regverdig. En sulke werk word toegelaat om voort te gaan, vermoed ek, omdat dit in taal wat onleesbaar en heel moontlik onverstaanbaar is vir omtrent almal in die universiteit, omtrent almal wat koeie melk en omtrent almal wat melk drink. Dat ‘n moderne universiteit ‘n forum kan bied waar daar van sulke navorsers verwag kan word om hulle werk voor kollega’s in, sê maar filosofie of geskiedenis of letterkunde, is tans onwaarskynlik, net soos dit tans onwaarskynlik is dat die departemente van filosofie, geskiedenis of letterkunde veel kollega’s sal oplewer wat in staat of gewillig is om hulle in die etiek van landbounavorsing te interesseer.

In die hart van die probleem lê taal. Om jouself te betuig (profess) is tog “om te bely voor” (“to confess before”) – om te belei, veronderstel ek, voor almal in die buurt of almal binne die beleier se bereik. Maar om voor mens se bure en kliënte te belei in ‘n taal wat min van hulle kan verstaan, is om nie te belei nie. Die gespesialiseerde professionele taal is dus nie net ‘n teenstrydigheid van terme nie; dit is ‘n verneukery en ‘n wegkruipplek; dit kan inderdaad ‘n hinderlaag wees. Aan die diepste wortel van die idee van proffesionaliteit en professorskap is die noodsaak om reguit te praat in die omgangstaal.

            Dat die omgangstaal die eksklusiewe spesialiteit van ‘n departement aan ‘n universiteit sou word, is daarom ‘n tragedie, en nie net vir die universtiteit en sy plek in die wêreld nie; dit is ‘n tragedie vir die omgangstaal. Dit beteken dat die omgangstaal, sover dit die universiteit aangaan, ophou om die omganstaal te wees; dit word eenvoudig een taal binne ‘n taalverwarring. Ons taal en literatuur hou op om in die wêreld te verskyn en gesien te word, en word voortaan gesien te verskyn binne hulle universiteitsdepartement en binne hulleself. Letterkunde hou op om die ontmoetingsplek van al die lesers van die omgangstaal te wees en bied net nog die geleentheid vir ‘n oorverdowende geklater oor die letterkunde. Dosente en studente lees die groot liedere en verhale om oor hulle te leer, nie om van hulle te leer nie. Die tekste word nagespoor soos deur ‘n miernes in beweging, maar van die krag van die liedere en verhale om die lewe te verander, word nog min gemaak, seker omdat daar so min van ervaar word.

            Die gespesialiseerde benadering is natuurlik gedeeltelik geregverdig; in beide spraak en letterkunde verskyn taal aan sigself. Dit eggo na binne en weergalm

eindeloos soos ‘n stem in ‘n grot, en antwoord weer die eggo, en die antwoord eggo voort. Dit moet so wees, die aard van taal is deels om so te wees.

            Maar sy aard is ook om na buite, na die wêreld te keer en sy wêreldse doel skoon te tref, om op te hou eggo – om in sigself ‘n soort rus en stilte te verwerf. Die professionalisering van taal en van taalstudie maak die grot onontkombaar; jy stry sonder rus in die binneste lawaai.

            Die stilte waarin woorde terugkeer na hulle dinge, hulle aanraak en tot rus kom, is nie die stilte van ‘n toegestopte oor nie. Dit is die wêreld se stilte soos wat verskyn na die eerste harde ryp van die herfs wanneer die wekelange gesing van die krieke skielik stop, en wanneer, danksy ‘n geseënde herhalende toeval, ook alle masjiengeluide vir ‘n oomblik gestop het. Dit is ‘n stilte waarvoor mens moet voorberei en wag; dit vereis ‘n stilte van jou eie.

            Die weerklank van taal in sigself is uiteindelik blote geraas, niks beter of slegter nie as die geraas van opgehoopte feite wat doelloos teen mekaar skuur in denktenks en ander hol plekke. Feite, soos woorde, is nie dinge nie, maar verbale simbole of tekens van dinge wat uiteindelik teruggevoer moet word na die dinge waarvoor hulle staan om nagegaan te word. Hierdie terugvoer is nie spesialiste se werk nie, maar ‘n algemeen menslike handeling hoewel slegs mense wat behoorlik nederig en stil gemaak is, dit kan doen. Dit is ‘n handeling wat ons meteens verruim en vorm, bevry en beperk.

            Dit is byvoorbeeld nodig dat die woord boom herinneringe oproep wat beide persoonlik en kultureel van aard is. Om goed te verstaan wat ‘n boom is, moet ons baie onthou van wat ons ervaring van bome is en van wat ons al van hulle gehoor en gelees het. Ons vernietig daardie herinneringe deur bome tot feite te versmal, deur aan boom as ‘n blote woord te dink of deur ons herinnering aan bome as “kultuurgeskiedenis” te hanteer. Wanneer ons ‘n boom ‘n boom noem, staan ons nie alleen tussen woorde en feite nie, maar is alreeds in die geselskap van die boom self en omgewe van voorouerlike stemme wat na ons roep met alles wat bome was en beteken het. Dit is eenvoudig wat dit beteken om ‘n mens in die wêreld te wees, en daar is niks wat wetenskap en kuns daaraan kan doen, buiten om daaraan gewoond te raak nie. Maar dit is natuurlik net gespesialiseerde “professionele” wetenskap en kuns wat voorstel of wens om iets daaraan te doen.

            Die noodsaaklikheid van woorde en feite om terug te keer na hulle dinge in die wêreld, beskryf een van die grense van ‘n universiteit, een van die grense van boekgeleerdheid waar ookal, en dit beskryf die noodsaak vir nederigheid, selfbeheersing, veeleisende dissipline en hoë standaarde binne daardie grens.

Naas elke poging om te maak, wat noodwendigerwys smal gefokus is, moet daar gepoog word om te oordeel, te kritiseer, en dit moet so breed as moontlik wees. Dit beteken dat elke gemaakte ding aan die volgende vrae onderwerp moet word: Wat is die gehalte van hierdie ding as menslike maaksel, as toevoeging tot die wêreld van gemaakte en geskape dinge? Hoe gepas is dit vir die behoeftes van menslike en natuurlike buurtes en omgewings?

            Dit moet natuurlik ook vroeër of later onderwerp word aan die spesiale vraag: Hoe goed is hierdie gedig of hierdie plaas of hierdei hospitaal as sodanig? Want om ‘n menslike waarde te hê, moet dit kennelik goed gemaak wees; dit moet aan die gespesialiseerde tegniese maatstawwe voldoen, dit moet in sigself goed wees. Maar die vraag na die gehalte as sodanig is nie interessant – op die duur is dit nie eers moontlik om dit te vra nie – buiten as ons dit binne die orde van die meer algemene vrae stel nie. As ons in ‘n posisie beland waar ons verwyderd van die groter vrae moet oordeel, as ons as spesialiste oordeel en vervaardig, dan sal ‘n goeie vervalser ‘n geldige aanspraak kan maak op ons respek vir ‘n goeie kunstenaar.

            Hierdie twee vrae, hoe om te vervaardig en hoe om te oordeel, is waaroor opvoeding gaan. Maar opvoeding is toenemend geneig om die dubbele aard van sy opdrag te ignoreer. Dit het hom meer en meer uitsluitlik bemoei met die vraag na die maak van dinge, terwyl die beoordeling daarvan al meer beperk word tot die maatstawwe eie aan die ding self. Maar die ding wat nou deur opvoeding gemaak word, is nie meer ‘n ontwikkelde menslike wese nie; dit is ‘n spesialis, ‘n loopbaansoeker, ‘n gegradueerde. In industriële opvoeding is die ding wat uiteindelik gemaak word, van geen belang vir die makers nie.

            In sommige gevalle is dit omdat die spesialisvelde in sigself so ingewikkeld geraak het dat die leerplan eenvoudig geen tyd laat vir die breë en basiese studies wat oordeel sou verg nie. In ander gevalle dink mens dat daar ‘n potensieel beskamende konflik tussen breed gevormde oordeel en die gespesialiseerde loopbaan waarvoor die student voorberei word, is; dosente van byvoorbeeld advertensietegnieke kan kwalik bekostig dat hulle studente besef dat hulle die kuns van leuens en verleiding leer. In alle gevalle word hierdie versmalling onderlê deur die onwaarskynlike aanname dat jong studente, voordat hulle enigiets anders weet, weet wat hulle moet leer.

            As die disintegrasie van die universiteit met die ideologie van spesialisering begin, dan word dit deur die kommersiële dwang om die kliënt te bevredig, deurgedryf. En siende dat die student nou ‘n vrye agent in die vasstelling van sy of haar opvoeding is, het departementele administrateurs en akademiese personeel geen ander keuse nie as om hulle te bemoei met die vraag hoe om inskrywings te werf. Iets moet tog gedoen word om die klasse vol te hou; anders dwaal studente af na aantrekliker kursusse of na kursusse wat meer regstreeks nuttig vir hulle beplande loopbane sal wees. Onder sulke omstandighede is dit te verwagte dat voorvereistes verlig sal word, standaarde verlaag word, punte opgeblaas word en onderrig beperk word tot die veronderstelde vereistes van een of ander veronderstelde werksgeleentheid.

            Dr Johnson het aan mev Thrale vertel dat sy neef, Cornelius Ford, “hom aanbeveel het om die beginsels van alles te bestudeer, dat ‘n algemene blootstelling aan die lewe die gevolg van sy ondersoeke mag wees – leer, het hy gesê, die belangrikste voorkennis van alle dinge … kry die boomstam deeglik beet en jy sal al die takke skud.” Die betroubaarheid van hierdie advies lyk onbetwisbaar, en die metafoor besonder toepaslik. Van die stam af sprei die takke uit. Mens kan met ‘n stam begin en een tak of enige hoeveelheid takke ontwikkel; en hoewel dit moontlik mag wees om met ‘n tak te begin en ‘n stam te ontwikkel, is dit nóg waarskynlik, nóg belowend. Die moderne universiteit lyk in elk geval al meer soos ‘n losse versameling afgekapte takke wat willekeurig in die wind waai. “Moderne kennis is gedepartementaliseer,”  het H.J. Massingham in 1943 geskryf, “terwyl die kern van kultuur die inlywing in heelheid is, sodat al die verdelings van kennis beskou word as die takke van een boom, die Boom van die Lewe, met sy wortels diep in die aarde en sy top in die hemel.”

            Hierdie boom het vir honderde jare skynbaar vanself by ons opgekom as ons die vorm van kennis probeer beskryf het. In die Westerse tradisie is dit minstens so oud soos Genesis en die vorm wat dit aan alles wat ons weet, gee, is organies, verenigd, omvattend, verbandhoudend – en moreel. Aan die begin was die boom twee bome: die boom van die lewe en die boom van kennis van goed en kwaad. In ons latere verstaan daarvan, lyk dit of die twee bome een geword het, of elkeen ook vir die ander staan – want in die wêreld na die sondeval, hoe kan die twee geskei word? Om die lewe te ken, is om goed en kwaad te ken; om jong mense vir die lewe voor te berei, is om aan hulle toe te rus om die verskil tussen goed en kwaad te ken. Deur kennis as ‘n boom te beskou, weet ons dat dinge wat verdeeld lyk, tog onderling verbind is. Ons weet dat, om die verdelings te erken, maar die verbintenisse te ignoreer, is om die boom te vernietig. Die geskiedenis van moderne opvoeding kan die geskiedenis van die verlies van hierdie beeld wees, en die vervanging daarvan deur die patroon van die industriële masjien, wat aan die lewe bly danksy verdeling – en deur die industriële ekonomie (“publish or perish”), wat sonder verdeling betekenisloos is.

[Word vervolg]

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *