deur Janika Maritz
Malcolm Muggeridge het gesê, “elke gebeurtenis, groot en klein, is ‘n gelykenis waardeur God met ons praat, en die kuns van die lewe is om die boodskap te kry.”
In letterkundige terme verwys ‘n gelykenis na ‘n verhaal waar die analogie beklemtoon word met ‘n algemene stelling wat die verteller probeer maak. Dit word gebruik om die projeksie van een verhaal op ‘n ander aan te dui. ‘n Gelykenis bestaan dus uit twee vlakke: ‘n letterlike en figuurlike vlak. As daar verder gekyk word na die kognitiewe aspek van letterkunde, is ‘n gelykenis ‘n basiese kognitiewe beginsel wat ter sprake kom by die interpretasie van elke vlak van ons ervaring, hetsy letterlik of figuurlik. Met Malcolm Muggeridge se aanhaling in gedagte kan daar gesê word dat elke gebeurtenis op twee verskillende wyses geïnterpreteer kan word. Eerstens op ‘n letterlike wyse en tweedens op ‘n figuurlike wyse. Net so kan die verhaal, oftewel gelykenis, van die tuiskoms van ‘n volk ook op hierdie twee wyses geïnterpreteer word.
Op ‘n letterlike vlak word daar verwys na een van die aangrypendste geskiedkundige gebeurtenisse in die Afrikanervolk se geskiedenis: die terugkeer van die krygsgevangenes asook die van die vroue en kinders wat die konsentrasiekampe oorleef het na die Anglo-Boereoorlog (1899-1902). Tydens die oorlog was tussen 27 000 en 32 000 Boere na krygsgevangenekampe amper regoor die wêreld geneem. Terwyl die Boeremagte drasties gekrimp het, het die volk selfs ‘n groter uitdaging in die gesig gestaar, naamlik die stryd om die volk se voortbestaan. Die sterftesyfer in die konsentrasiekampe was so hoog dat indien Emily Hobhouse se bewusmaking oor die walglike toestande in die kampe nie geslaag het nie, die kinders en dus die toekoms van die volk, binne ses maande sou uitsterf. Na die vredesverdrag op 31 Mei 1902 moes ‘n verpletterde volk terugkeer na totale verwoesting en sonder hul vryheid.
“Oral het ek ontevredenheid en onbeskryflike neerslagtigheid gevind,” het generaal De Wet geskryf. Sarah Raal, ‘n Boervrou wat self vir ‘n tyd lank op kommando was, het beskryf hoe die vroue geween het en hoe ander weer hul Bybels stukkend geskeur het. So is verskeie gebeurtenisse van die Anglo-Boereoorlog ook in die Afrikanervolk se digkuns vasgevang deur groot digters soos Totius, Jan F.E. Celliers en A.G. Visser. In Jan F.E. Celliers se bekende gedig “Dis Al” word veral die ellende in strofe twee beklemtoon: “Dis ‘n balling gekom oor die oseaan, dis ‘n graf in die gras, dis ‘n vallende traan – dis al.” Dit is ‘n volk, hetsy ons voorouers of volksgenote, wat met die verwoestende gevolge van die oorlog moes saamleef en weer van voor af hul tuistes moes herbou. Dit laat mens soms wonder, het hulle dan tevergeefs vir hul vryheidsideaal geveg? Nee, want dit is inderdaad hierdie mismoedige tuiskoms van ‘n volk wat ‘n blywende impak op die res van die Afrikanervolk se geskiedenis sou hê.
Na afloop van die Anglo-Boereoorlog sou dit later met tyd bewys word dat ten spyte van die omstandighede, die vryheidsideaal en heldemoed in die volk se harte nie gedemp kon word nie. Dit is hierdie dryfkrag wat aanleiding tot die Rebellie van 1914 gegee het. Op 9 Oktober 1914 het Manie Maritz op Vanrooisvlei onder die kameeldoringboom, wat bekend geword het as die Rebellieboom, in opstand gekom deur te sê, “ek wil niks meer wees as ‘n gewone burger nie om te veg vir die vryheid van my land”. Alhoewel die rebelle verslaan is, weerklink N.P. van Wyk Louw se woorde wat op die monument by die Allemanskraaldam aangebring is: Opstand is net so noodsaaklik in ‘n volk soos getrouheid. Dit is nie eens gevaarlik dat ‘n rebellie misluk nie, maar wat gevaarlik is, is dat ‘n hele geslag sonder protes sal verbygaan. Dieselfde dryfkrag van die rebelle het sy verskyning gemaak toe Suid-Afrika uiteindelik in 1961 ‘n Republiek geword het. Dus, deur die voortbestaan van die vryheidsideaal was die letterlike tuiskoms van ‘n volk nie tevergeefs nie asook nie die bloed wat vir die Afrikanervolk se vryheid gevloei het nie. Daar moet egter erken word dat die Afrikanervolk opnuut in ‘n vryheidstryd gewikkel is, wat lei tot die verhaal se tweede vlak van interpretasie.
Op ‘n figuurlike vlak word daar verwys na die Afrikanervolk se terugkeer na hul kulturele identiteit. Dit hou verband met selfkonsepsie en selfpersepsie wat die belangrike vraag beantwoord van wie mens is. Hierdie kennis dui aan tot watter sosiale groep mens behoort en voorkom verwarring rakende etnisiteit en nasionaliteit. Om hierdie tipe verwarring te voorkom moet daar twee stappe gevolg word. Eerstens moet daar leefruimte geskep word vir ‘n volk se kultuur, stelsels en waardes wat onder andere godsdiens, taal en politiek insluit. Tweedens moet hierdie leefruimte soveel en so ver as moontlik van ander sosiale groepe onderskei word. Dan sal daar vasgehou word aan die waarde van waar ‘n volk vandaan kom en waarheen hulle op pad is. Die geskiedkundige Niall Ferguson sê in sy boek Civilization: The West and the Rest (2011) dat alhoewel die verlede verby is, dit onontbeerlik is vir “ons begrip van wat ons vandag ervaar en wat môre en daarna vir ons voorlê.” Daarom is geskiedkundige onkunde en gevolglik verlies aan kultuur ‘n bedreiging vir die toekoms van ‘n volk. Dit kan egter reggestel word deur die wyse woorde van Paul Kruger te volg, naamlik om in die verlede al die goeie en die skone te soek en daarvolgens ‘n ideaal vir die toekoms te verwesenlik. Bewusmaking van kulturele identiteit en nuwe idees vir die toekoms sal die figuurlike tuiskoms van die Afrikanervolk verseker.
In die lig van bogenoemde letterlike en figuurlike interpretasies oor die verhaal van die tuiskoms van ‘n volk, kan die gevolgtrekking gemaak word dat die tuiskoms slegs die moeite werd was en sal wees indien die vryheidsideaal voortbestaan. Slegs dan kan mens sê dat die stryd wat ons voorouers of volksgenote gevoer het nie tevergeefs was nie. Dit hang egter van ons af hoe ons op daardie ideaal gaan voortbou. Hiermee word daar afgesluit met die woorde van M.T. Steyn wat hy by ‘n kongres in 1908 gesê het: “Watter gebruik gaan ons van die voorreg maak? Gaan ons dit gebruik tot bestendiging van ons volk, tot seën van ons land en tot Sy eer? Of sal die geskiedskrywer van hierdie periode moet neerskrywe: ‘geweeg, geweeg en te lig bevind’”.