Wendell Berry se opstel “Two Minds” het in 2003 in Citizen Papers verskyn en is in Essays 1993–2007 (The Library of America, 2019) vervat. Hierdie is die laaste van drie dele waarin dit vertaal word voordat dit uiteindelik weer saamgevoeg word. Die betrekking wat hierdie opstel op die vraag na ‘n oorgangsera het, is eweneens duidelik. Berry se denke verruim ons perspektief (en Perspektief) op vryheid buitengewoon.
Carel Boshoff (Vertaler)
[Derde aflewering. Lees deel I hier en deel II hier]
Noudat terrorisme sigself as ‘n onvermydelike oorweging onder ons gevestig het, het selfs die groot besluitnemers begin insien dat ons omgewe word deur die gevolge van groot besluite wat nie op grond van voldoende inligting geneem is nie. Ons het baie kernkragsentrales gebou, elkeen ‘n moontlike katastrofe, wat nie net teen hulle eie inherente risiko’s en gevare beskerm moet word nie, maar ook teen terroriste aanvalle. En ons het in effek van ons voedselvoorsieningstelsel één ding gemaak, en dit moet (indien moontlik) teen bioterrorisme beskerm word. Hierdie is by verre nie die enigste voorbeelde van die manier waarop ons onsself aan katastrofiese skade en groot koste blootgestel het deur ons ingeligte, rasionele aanvaarding dat grootheid en sentralisering normaal is nie.
Na 11 September kan niemand meer glo dat wetenskap, tegnologie en industrie nét goed is of in diens van net een “kant” is nie. Dit was inderdaad nooit meer as ‘n progressiwistiese en kommersiële bygeloof nie. Enige mag wat een kant behoort, behoort, ten goede of ten kwade, aan alle kante, so onpartydig soos die son wat skyn “op die kwade en op die goeie.” Slegs in die beperkste sin van die geskiedenis kan van die wetenskaplikes wat aan die atoombom gewerk het, gesê word dat hulle vir demokrasie en vryheid gewerk het. Hulle het onvermydelik ook vir die vyande van demokrasie en vryheid gewerk. As terroriste in besit van ‘n kernbom kom en dit gebruik, dan sal die wetenskaplikes van die bom gesien word as ook in diens van terrorisme. Daar is (sover ek nou kan sien) hoegenaamd niks wat die Rasionele Denkwyse terugwerkend kan doen om hierdie waarheid minder waar of minder skrikwekkend te maak nie. Hierdie penarie noodsaak ‘n ander denkwyse, vooruitskouens én terugskouend: ‘n geloofwaardige en meelewende denkwyse wat nie die “goeie gebruik” van afbrekende krag regverdig nie, maar enige gebruik daarvan afwys.
Vryheid is natuurlik ook neutraal en dien die kwade sowel as die goeie. Maar vryheid rus op die krag van die goeie – deur byvoorbeeld vrye spraak – om die kwade reg te stel. Maar ‘n groot afbrekende krag oordonder hierdie klein ordentlikheid van vryheid. Daar is geen manier om ‘n kernontploffing reg te stel nie.
Te midde van die gevare van die Redelike Denkwyse se verwerwing van skaal en sentralisering is die Meelewende Denkwyse onder groot druk as pasifis te midde van oorlog. Daar is nie ‘n groter geweld om geweld mee te stop nie, en daar is nie groter skaal om grootskaligheid mee aan bande te lê nie. Al wat die Meelewende Denkwyse kan doen, is om sy eie verskil te handhaaf, om sy eie integriteit te bewaar en om die moontlikheid van iets beter te probeer sien.
Die Meelewende Denkwyse, as die denkwyse van ons geskapenheid, aanvaar die lewe in hierdie wêreld vir wat dit is: sterflik, beperk, feilbaar, ingewikkeld afhanklik, en dat dit baie verantwoordelikhede teenoor onsself, ons plekke en ons bestaansgenote inhou. Bowenal verstaan dié denkwyse sigself as beperk. Dit ken en erken sonder skaamte sy eie onverminderbare onkunde, veral van die toekoms. Dit handel met die kwessie van die toekoms, nie deur te weet wat gaan gebeur nie, maar deur – binne perke – te weet wat om te verwag en wat vereis moet word van homself, van sy bure en van sy plek. Sy besluite word gelei deur sy kultuur, sy ervaring, sy insig in die natuur. Omdat hy van sy eie perke en onkunde bewus is, is hy bedag op kwessies van skaal. Die Meelewende Denkwyse weet uit ervaring – nie met die verstand nie, maar met die liggaam – dat gevaar vermeerder saam met hoogte, temperatuur, spoed en krag. Sy gesonde verstand weet instinktief dat mens ‘n gebou teen ‘n vliegtuigbotsing beskerm deur hom laer te maak; dat die manier om te voorkom dat ‘n kernkragsentrale ‘n wapen word, is om hom nie te bou nie; dat die manier om nasionale voedselvoorsiening te beveilig, is om die landboukundoge selfvoorsiening van state, streke en plaaslike gemeenskappe te verhoog.
Omdat dit die denkwyse van ons heelheid, ons betrokkenheid by alle dinge buite onsself is, is die Meelewende Denkwyse ook bedag op die kwessies van fatsoenlikheid, van die paslikheid van ons maaksels vir hulle plekke en vir ons eie omstandighede, behoeftes en wense. Dit is, om dit so te stel, behep daarmee dat die kulturele landskap waarheidsgetrou aan die werklike landskap is.
Ek weet ek is nie die enigste een wat deur die Wêreldhandelsentrum aan die Toring van Babel herinner is nie: “Kom ons bou vir ons … ‘n toring met sy bopunt in die hemel sodat ons vir onsself naam maak, anders versprei ons oor die hele aarde.” Alle buitengewoon hoë geboue het my aan die Toring van Babel laat dink, en dit het lank voor 11 September 2001 begin, om redes wat vir my baie duideliker geword het nou dat “daardie twee Toonbeelde van Vooruitgang” weer hulle “ware verwantskap” ten toon gestel het.
Soos alle reusagtige geboue sedert Babel is die Wêreldhandelsentrum gebou sonder enige verwysing na sy eie lanskap, of na enige ander. En die rede is in hierdie geval nie moeilik om te vind nie. Die Wêreldhandelsentrum het geen verwysing na die landskap nie omdat wêreldhandel, soos dit nou beoefen word, geen sodanige verwysing het nie. Wêreldhandel bestaan tans met die doel om die landskappe van die wêreld sonder onderskeid uit te buit, en om die winste na sentrums te kanaliseer van waar dit onder die wêreld se rykste mense verdeel kan word. Wêreldhandel het sentrums nodig presies om te voorkom dat die wêreld se welvaart “oor die hele aarde se aangesig vertrooi word.” Sulke sentrums, soos die “globale vrye mark” en die “global village” is utopias, “nie-plekke.” Hulle móét nie-plekke wees, want hulle laat aan geen plek reg geskied nie en is aan geen plek lojaal nie.
En sover dit die probleem van bouwerk op Manhattan Eiland aangaan, het die Redelike Denkwyse dit ook tot ‘n eenvoudige ekonomiese beginsel herlei: Grond is duur, maar lug is goedkoop; bou dus in die lug. In die vroeë 1960’s het ek en my gesin aan die Lower West Side gewoon, nie ver stad-op van waar die Wêreldhandelsentrum se bouperseel sou wees nie. Die gebied was verinneweer en klaar veroordeel tot “ontwikkeling.” Maar eens op ‘n tyd was dit kennelik ‘n lewendige plaaslike buurt met behuisingseenhede en woonstelle met klein winkels en pakhuise, waar handelaars en klante mekaar geken het en bure aan mekaar bekend was. Om van ons gebou na die Battery te stap, was ‘n aangename ding om te doen omdat mens die gevoel gehad het dat jy jou in ‘n egte plek bevind wat die tekens van beide sy ou menslike geskiedenis en ‘n herinnering aan sy geografiese identiteit behou het. Die laaste keer wat ek daar was, is die plek geheel en al deur die Wêreldhandelsentrum verplaas.
Presies dieselfde kordaatstuk van verplasing is eie aan die lugvervoerbedryf, wat bestaan met die doel om reis van alle inagneming van plek te bevry. Lugreis reduseer plek tot ruimte met die doel om soveel as moontlik daarvan in die kortste moontlike tyd te deurkruis. En soos reusagige geboue moet reusagtige lughawens hulle plekke vernietig en nie-plekke word om te kan bestaan.
Mense van die moderne wêreld wat die oorheersing van die Redelike Denkwyse se waardestelsel aanvaar het, het skynbaar nie beswaar teen hierdie verplasing nie, of teen die gevolglike ontkoppeling tussen hulle en die buurtes en landskappe wat hulle ondersteun nie, of teen hulle anonimiteit in skares vreemdelinge nie. Hierdie dinge bevry mens, volgens die cliché, van die verstikkende intimiteit van die plattelandse en kleindorpse lewe. En tog is ons nou verplig om daarvan kennis te neem dat plekloosheid, sentralisering, reusagtige skaal, opeenhoping en anonimiteit toestande is wat as ‘t ware op bestelling vir terroriste geskep word.
Dit is verkeerd om te sê, soos party mense altyd doen, dat katastrofes “acts of God” is, of goddelike straf. Maar dit is nie verkeerd om te vra of hulle nie die gevolg van ons misverstaan van die werklikheid of van ons eie aard is nie, en of een of ander regstelling nie nodig is nie. My eie oortuiging is dat die Redelike Denkwyse indrukwekkend presteer het binne die beperkte grense van wat dit bewysbaar weet nie, maar dat dit swak gevaar het met die hantering van dinge waaroor dit onkundig is: die toekoms, die misterieuse heelheid en veelvuldigheid van die natuurlike wêreld, die behoeftes van die menslike siel, en selfs die ware grondslag van die menslike ekonomie in die natuur, vaardigheid, sorgsaamheid en vertroue. Dit poog toenemend om sigself met intellektuele bygeloof, openbare valshede, geheimhouding en misplaasde hoop te regverdig, terwyl dit op sy mislukkings en slegte verrassings reageer (soos die terroriste graag wil hê) met vrees en altyd groter en growwer kraginspanning.
Maar die Redelike Denkwyse is in ‘n teenstrydigheid, wat al moeiliker word om te ignoreer, vasgevang. Dit is heel waarskynlik dat daar ‘n bestuurder van ‘n lugbesoedelende onderneming is wat ‘n geliefde kind het wat aan asma ly wat deur lugbesoedeling veroorsaak is. Onder sulke omstandighede roep die Meelewende Rede uit: “Stop! Verander jou lewe! Bedank jou werk! Probeer ten minste die oorsaak van die skade bepaal en doen iets daaraan!” En hier moet die Redelike Denkwyse óf toegee aan die Meelewende Denkwyse, óf dit moet die gevestigde verskoning, wat ‘n erkenning van sy mislukking is, herhaal: “Daar is niks aan te doen nie. Dit is hoe dit dit is. Dit is onafwendbaar.”
Dieselfde soort teenspraak bestaan ook nou tussen nasionale veiligheid en die globale ekonomie. Ons regering, wat lankal enige gedagte aan ekonomiese selfvoorsiening prysgegee het, wat ‘n wesenlike deel van sy nasionale soewereiniteit aan die Wêreld Handelsorganisasie afgestaan het en wat nou deur terrorisme geterroriseer is, is nou verplig om die globale ekonomie te polisiëer teen die vervoer van verbode wapens, wat opgespoor kan word as die waarnemingsnet fyn genoeg is, maar ook teen die vervoer van siektes wat nie opgespoor kan word nie. Ook dit sal, ten minste vir tyd en wyl, verskoon word met ‘n pleidooi van onafwendbaarheid, al was dit die gevolg van teenstrydige beleide en van “ingeligte besluite.” Intussen is daar waarskynlik geen landskap in die wêreld wat nie met misbruik of vernietigingbedreig word as gevolg van iemand se beeld van handel of van veiligheid nie.
Wanneer die Redelike Denkwyse iets op ‘n groot skaal onderneem, werk dit lomp. Dit doen onafwendbaar skade en dit kan nie homself of dit wat aan hom behoort van die skade wat dit aanrig, vrystel nie. Jy kan nie help om die aarde se enigste atmosfeer te besoedel, maar jou asmatiese kind daarvan vrystel nie. Jy kan nie van dieselfde mense op dieselfde tyd vriende en vyande maak nie. Uiteindelik faal die idee van teenprestasies. Wanneer die voorgestelde teenprestasie op die skaal van die hele wêreld is – die natuurlike wêreld vir wêreldhandel, wêreldvrede vir nasionale veiligheid – dan kan dit net op die skaal van ‘n globale ramp misluk.
Die Redelike Denkwyse, wat nouwel met sekere goed skouspelagtig slaag, misluk klaaglik wanneer dit in materiële terme met die deel van die werklikheid wat geestelik is, probeer handel. Godsdiens en die taal van geloof handel voorlopig en ongemaklik genoeg met hierdie geestelike werklikheid, maar die Rasionele Denkwyse, wat skynbaar die versoeking om te probeer nie kan weerstaan nie, kan glad nie daarmee tot grepe kom nie.
Maar die meeste van die belangrikste menslike gedragsreëls is waarskynlik van godsdienstige oorsprong – wette soos die volgende: Wees genadig, wees vergewingsgesind, jy moet jou naaste liefhê, wees gasvry teenoor vreemdelinge, wees sorgsaam met ander skepsels, versorg die hulpeloses, wees lief vir jou vyand. Ons moet, in kort, lief wees en sorg vir mekaar en vir die skepping. Ons word geen uitsondering toegelaat nie. Elke mens se verpligting teenoor die Skepping word opgesom in twee woorde van Genesis 2:15: “Bewaar dit.”
Dit is onmoontlik, glo ek, om ‘n eenvoudige samehang aan hierdie stel opdragte te gee. Dit is onmoontlik om hierdie verweefde verpligtinge te ontrafel en ‘n lys van aparte items te maak. Selfsugtigheid, of selfs “verligte eiebelang,” kan nie ‘n plek kry om sy els in te steek nie. Mens se verpligting teenoor jouself kan nie van jou verpligting teenoor almal anders losgemaak word nie. Die hele ding word op die werkwoord liefhê gebalanseer. Liefde vir jouself vind uitdrukking in liefde vir alles anders. Selfs om jou vyand lief te hê, het ‘n strategie van selfliefde geword namate die tegnologie van dood groter geword het. En dit het die terroriste ontdek en aanvaar: Jou vyand se dood is jou eie dood. Die hele netwerk van interafhanklikheid en verpligting is ‘n fyngestelde strik. Liefde laat ons nie daarvan ontsnap nie; dit maak van die strik self die middel tot en werklikheid van ons enigste vryheid.
Hierdie toestand van wettigheid en hierdie stel wette het nie hulle oorsprong in die Redelike Denkwyse nie, en kon dit nie daar gehad het nie. Die Redelike Denkwyse verskraal ons ingewikkelde verpligting om vir mekaar te sorg tot ‘n kwessie van geregtigheid, terwyl hy vergeet hoe geredelik ons en ons regerings geregtigheid, op sy beurt, in wraak omskep; en terwyl hy vergeet dat selfs geregtigheid ondraaglik is sonder genade, vergifnis en liefde.
Geregtigheid is ‘n rasionele prosedure. Genade is nie ‘n prosedure nie en is ook nie rasioneel nie. Dit is ‘n soort vryheid wat van meelewing kom, wat beteken dit kom van verbeelding – die gevoelde wete van wat dit is om iemand of iets anders te wees. Dit is vry omdat dit nie regverdig hoef te wees nie. Geregtigheid is natuurlik wenslik, maar dit is naastenby die teenoorgestelde van genade. “Ontferming,” sê die Brief van Jakobus, “triomfeer oor die oordeel.”
En as dit by die wet kom wat vereis dat ons die gegewe of natuurlike wêreld bewaar (om die verlore skaap te gaan soek, om alle voelende wesens te beskerm), haal die Redelike Denkwyse ook nie die paal nie, ten spyte van goeie argumente deur sommige ekoloë en bioloë. In antwoord op die stelling dat ons verantwoordelik is vir die gesondheid van die wêreld, begin die Redelike Denkwyse gou om op uitsonderings en teenprestasies aan te dring. Dit begin deur die winsgewende dele van die wêreld, wat “met veiligheid” vernietig kan word, aan te wys, en die onwinsgewende dele as “natuurgebiede” of “wildernisse” te bewaar. Dit verdeel die huishoudelike van die wilde, die menslike van die natuurlike. Dit beskou ‘n natuurlike plek as ‘n plek waar daar geen mense woon nie. Plekke waar mense woon, is nie natuurlik nie en die aard van sulke plekke moet vereenvoudig word tot verstaanbaarheid, wat beteken hoe hulle van nature is, moet vernietig word. Die Redelike Denkwyse, oortuig van die noodsaak om “biologiese diversiteit” te bewaar, wil dit in “natuurbewaringsgebiede” bewaar. Dit kan die moontlikheid om biologiese diversiteit in die hele wêreld te bewaar, nie begryp of verdra nie, net so min as wat dit ‘n ekonomiese harmonie tussen mense en ‘n wêreld wat menslike begrip van nature te bowe gaan, kan begryp of verdra.
Dit is as gevolg van die wêreld se uiteindelik onontsyferbare webwerk van lewensbelangrike skakels, afhanklikhede en verpligtings, en omdat ons uiteindelike antwoord daarop liefde bo kennis moet wees, dat die werk van die Redelike Denkwyse uiteindelik teleurstellend is, selfs vir sommige rasionaliste.
As die Redelike Denkwyse misluk tot die mate dat dit nie net verbystering nie, maar irassionaliteit en katastrofe meebring, soos herhaaldelik gebeur, dan is dit omdat dié denkwyse sigself so uitsluitend geïsoleer het dat dit buite sy perke beweeg sonder om dit te besef.
Uiteindelik moet die Menslike Denkwyse die perke van meelewing aanvaar, wat dit, teenstrydig genoeg, tot anderkant die grense van rasionalisteit sal voer, maar wat dit nietemin sal beperk. Dit moet sy vryheid en sy bevrediging vind deur binne sy perke te werk, op ‘n skaal veel kleiner as wat die Redelike Denkwyse maklik sal aanvaar omdat die Redelike Denkwyse voortdurend poog om sy grense met behulp van tegnologie te vergroot. Maar die veilige vermoë van menslike werk strek nooit verder as ons vermoë om terselfdertyd te dink én lief te hê nie.
Ons kan kennelik op ‘n reusagtige skaal werk, maar ons kan ewe kennelik nie die reusagtige katastrofes waarvoor ons reusagtige werke vatbaar is, voorsien nie, niks beter as wat ons die natuurlike en menslike gevolge van sulke werk kan voorsien nie. Ons kan ‘n globale ekonomie ontwikkel, maar slegs op die voorwaarde dat dit nie liefdevol in sy uitwerking op die menslike en natuurlike hulpbronne sal wees nie, en dat die risiko globale ekonomiese ineenstorting sal wees. Ons kan ook reusagtige geboue oprig, maar slegs met die waarskynlikheid dat die insameling van die ekonomiese hulpbronne wat dit moontlik maak, êrens anders die wil om af te breek wat ons opgebou het, tot gevolg sal hê.
Die doeltreffendheid van ‘n wet lê opgesluit in mense se vermoë om dit te gehoorsaam. Hoe groter die skaal van werk, hoe kleiner sal die getal mense wees wat die wet dat ons in liefde teenoor die wêreld moet optree, selfs daardie plekke en skepsels wat ons moet gebruik, gehoorsaam. Jy sal die probleem insien as jy jou verbeel dat jy een van die vele is, of dalk een van die vele is wat geen ander werk kan kry as in ‘n afbrekende bedryf nie. Ongeag of dit ekonomiese slawerny is of nie, om geen keuse ten aansien van ‘n werk te hê nie, is dit verseker morele slawerny om geen ander keuse te hê as om te doen wat verkeerd is nie.
Daarom het bewaringsgesindes nie genoeg gedoen as hulle wildernisgebiede en biologiese diversiteit bewaar het nie. Hulle moet ook die moontlikheid van vrede en goeie werk bewaar en om dit te doen, moet hulle help om ‘n goeie ekonomie te vestig. Om te slaag, moet hulle aan meer en meer mense oral in die wêreld die geleentheid gee tot werk wat aan die eise van beide lewe én liefde voldoen. Dít dink ek nie kan deur die Redelike Denkwyse bereik word nie. Dit sal die volle gebruik van die Meelewende Denkwyse vereis – al die bietjie intelligensie wat ons het.