Die krisis van die kerk

deur Prof Danie Goosen

Januarie 2022

Vanaf die sestigerjare van die vorige eeu word op ‘n gereelde grondslag werke oor die krisis van die kerke gepubliseer. Meestal handel dit oor kerke wat dwarsoor die Westerse wêreld leegloop; oor lidmate wat hulle rug op kerke draai; oor die dramatiese vermindering van teologie-studente; oor die privatisering van die kerk en die gepaardgaande verlies aan kerklike invloed op die openbare lewe; oor die omvattende kultuur van onverskilligheid jeens kerke dwarsoor die Weste, en oor die vervanging van die kerk met ‘sekulêre alternatiewe’. Die lys kan veel langer uitgerek word.

Ons bedoeling met die opmerkings hieronder is om slegs by een of twee wesenlike antwoorde op die krisis van die kerk stil te staan. Dat daar ‘n krisis is, kan nie meer betwyfel word nie. Die statistiese gegewe oor die agteruitgang van die kerk is verdoemend. Chantal Delsol, ‘n Christelike denker, vat die stand van die kerke onlangs in ‘n enigsins skokkende artikel onder die opskrif, ‘The End of Christianity’, saam. ‘n Donker stemming onderlê die artikel.

Alvorens ons egter by enkele antwoorde op die krisis stilstaan, moet slegs enkele (hopeloos te) kort opmerkings oor die krisis gemaak word. Wat is die aard van die krisis?

‘n Belangrike vraag wat vanaf die sestigerjare deur geleerdes gevra word, is of die krisis van die kerk met behulp van die sogenaamde ‘sekularisasie-tese’ verstaan kan word. Volgens die sekularisasie-tese ontkersten die Weste vanweë die groter proses van rasionalisering (‘n ander woord vir sekularisasie) wat reeds vanaf die sewentiende en agtiende eeue oor die Westerse kultuur spoel. Wat vandag met die kerke gebeur, lui die tese, is ‘n voltrekking van dié proses. Hoe meer die Weste rasionaliseer des te rampspoediger gaan dit met die kerke.   

Die oorspronge van die sekularisasie-tese kan na Auguste Comte uit die negentiende eeu teruggevoer word. Volgens Comte verloop die geskiedenis op ‘n reglynige wyse vanaf die mitiese en die godsdienstige fases na die rasionele of sekulêre fase.

Tydens die eerste fase, aldus Comte, glo die mens nog aan allerlei irrasionele mites, soos die Antieke Grieke wat die berg Olimpus as die woonplek van die mitiese gode voorgestel het. Tydens die tweede fase ontstaan die groot godsdienste van die mensdom, soos die Hindoeïsme, die Boeddhisme, die Judaïsme en die Christendom. In dié fase word alles op ‘n selfs proto-rasionele wyse in die hoogste waarhede van die verskillende godsdienste geanker, soos Brahman in die Hindoeïsme, die Leegte in die Boeddhisme of die God van die Bybel.

Tydens die derde fase word die ou godsdienste deur die sekulêre en die rasionele vervang. Voortaan lewe die mens slegs volgens die voorskrifte van die rasionele denke (soos wat die moderne wetenskappe dit verstaan). Die agteruitgang van die kerk moet teen die agtergrond van hierdie groot historiese gebeure verstaan word.

Een van die belangrike vrae wat vandag gevra word, is of die sekularisasie-tese vandag nog gehuldig kan word. Ons kan vandag met reg aanvoer dat daar ‘n element van waarheid in die tese opgesluit lê. Nogtans kan dit nie sonder voorbehoud aanvaar word nie.

Tydens die moderne era word die geloof in God inderdaad met pogings vervang om alles met behulp van die moderne opvatting van die rede te verstaan. In die besonder speel die sekulêre staat met sy burokratiese hantering van alles, die sekulêre wetenskap asook die moderne tegniek ‘n groot rol om ons werklikheid te sekulariseer. Met die heerskappy van die moderne rasionaliteit word die geloof ook tot die private wêreld van die individu ingeperk. So word die oeroue samehang tussen geloof en rede verbreek. In vele opsigte is die hedendaagse nihilisme in die Westerse wêreld (die opvatting dat die lewe leeg en sinloos is) ‘n gevolg van die heerskappy van die moderne sekulêre denke.

Dit bring ons by ‘n sekere voorbehoud ten opsigte van die sekularisasie-tese. Dit verteenwoordig nie die volle waarheid nie. En die rede lê opgesluit in die antropologiese insig dat die mens per definisie ‘n religieuse wese is. Om mens te wees, lui dit vanuit die antropologie, beteken om jouself te rig op en afhanklik te stel van transendente magte (God, die gode, die niks, ensovoorts). Ook tydens Comte se sogenaamde sekulêre fase! Ook in dié fase is die mens steeds ‘n religieuse wese.

Sonder om te veel daarop uit te brei: Die waarheid van genoemde antropologiese insig blyk onder meer uit die feit dat ons tyd deur selfs ‘n buitensporige groei van religieuse sektes of kultusse gekenmerk word. Te midde van die sekularisering is die ‘sin vir die religieuse’ wawyd wakker. Om die waarheid te sê, daar kan met reg aangevoer word dat die era van sekularisasie ironies genoeg self deur religieuse motiewe gekenmerk word. Die moderne mens ‘glo’ in die ‘verlossende’ betekenis van sekularisasie. Vanuit hierdie gesigspunt beoordeel vervang sekularisasie nie noodwendig die religieuse nie, dit is self ‘n uitdrukking daarvan.

Kortom, die agteruitgang van die Christelike kerke blyk nie slegs uit die feit dat ons ‘n sogenaamde sekulêre of rasionele era betree het nie. Dit blyk ook uit die feit dat die agteruitgang tegelyk gepaard gaan met wat ons as ‘n ‘plaasvervangende sin vir die religieuse’ kan beskryf. Histories gesproke word religieuse leegtes nie geduld nie. In die plek van die agteruitgang van die Christendom en die toenemend afwesige kerke tree ‘heidense’ plaasvervangers (waaronder sekularisasie self) na vore. In plaas daarvan dat ons era gekenmerk word deur die afwesigheid van die religieuse is spore daarvan orals sigbaar.

Ons staan by slegs enkele voorbeelde stil. Groepe en individue soek vandag ‘n religieuse sin in die ideologie van ‘wokeness’ en die ‘verlossing’ wat dit ten opsigte van ‘n sogenaamde bose en gewelddadige Weste belowe. Ter vervanging van die bose Weste word die saak van die goeie Res met religieuse ywer omhels. Joshua Mitchell en Mary Eberstadt het in onlangse publikasies op die religieuse aard van ‘wokeness’ en bewegings soos Black Lives Matter en Critical Race Theory gewys. Laasgenoemde bewegings word deur religieuse temas soos ‘paradyslike onskuld’ (die voor-koloniale era), ‘bekering’ (die afsterwe van die ou houdinge jeens die koloniale, ongelyke en patriargale verlede), ‘verlossing van die sonde’ (die bose Weste) en ‘n ‘hemel’ (die post-koloniale era van totale gelykheid en harmonie) aangevuur.

In die plek van die Christelike kerke soek hedendaagse groepe en individue egter ook ‘n religieuse sin in verskeie ‘kultusse van die self’ op. Asof beetgepak deur ‘n universalistiese droom poog die Weste om die ganse wêreld met die oog op die universele vestiging van die liberale demokrasie te ‘evangeliseer’. Ten grondslag van dié semi-religieuse droom lê die opvatting dat die individuele self, die draer van onaantasbare (heilige) regte, oor ‘n onbegrensde keusevryheid beskik. (‘Onbegrensdheid’ was dikwels in die verlede ‘n begrip met ‘n gewigtige religieuse ondertoon). Ons verwys weer hieronder daarna.  

Hedendaagse kultusse van die individuele self blyk ook uit verskynsels soos die sentimentele aanbidding van die natuur (omhelsing van bome, Wicca-byeenkomste, ensovoorts); uit die semi-Boeddhistiese neigings in die Weste om die werklikheid as leeg, doel- en sinloos te ervaar; uit die kultusse van sport en liggaam, maar ook van geld, vergelyking en aansien; en laastens (om die voorbeelde te beperk) ook uit wat Christian Smith as die ‘moralisties-terapeutiese deïsme’ (MTD) beskryf. Volgens die grondslae van MTD bestaan daar inderdaad so-iets soos ‘n God wat alles geskep het. Dié deïstiese God is egter onbetrokke. Hy staan op ‘n groot afstand teenoor die lotgevalle van mense. Hy wil slegs hê dat mense “good, nice and fair” teenoor mekaar sal wees. ‘Om goed te voel’ staan in die hart van dié kultus van die self.

Dit bring ons by die antwoorde wat die kerke gee. Hoe antwoord hulle op die uitdagings wat die sogenaamde sekulêre era aan ons rig? Nog meer, is hul antwoorde voldoende? Moet dit nie anders geskied nie?

‘n Opvallende tendens van verskeie kerke tydens die afgelope dekades is dat hulle in hul antwoord poog om by die sogenaamde sekulêre wêreld aan te sluit. Ter motivering voer hulle aan dat die kerk sodoende eietyds en aktueel sal bly. Heimlik word gehoop dat ‘n aansluiting-strategie die ontkerstening sal stop.

‘n Voorbeeld hiervan is die wyse waarop verskeie kerke tydens die afgelope dekades aansluiting soek by die hedendaagse ‘woke’ opvatting van die Westerse geskiedenis. Laasgenoemde word sonder meer as gewelddadig en daarom ook as illegitiem beskou. In teenstelling met die koloniale, rassistiese, hiërargiese en patriargale verlede moet kerke hulself verbind tot dinge soos die liberale demokrasie, gelykheid, menseregte en die keusevryheid van die individu, onder meer met betrekking tot sy of haar geslagtelikheid.

In ‘n merkwaardige ‘bekering’ bely verskeie kerke vanaf die sestigerjare hul eertydse sondige verbintenis tot bogenoemde bose dinge. Voortaan is hulle tot die moderne liberaal-demokratiese orde verbind. So asof dit nog vir alle eeue die aanvaarbare teologiese standpunt was. Inderwaarheid het kerke oor alle eeue ernstige vrae oor ordes gevra waarin die individu en sy belange tot hoogste maatstaf uitgeroep is. Vroeër is individue wat hul lewe rondom hul eie individuele belange definieer as sondaars beskryf.

In antwoord hierop kan met reg aangevoer word dat die Christelike kerk oor eeue inderdaad op ‘n vrugbare wyse van insigte uit hul eie tyd gebruik gemaak het. Byvoorbeeld, tydens die Middeleeue het die kerk sy grondslae verdiep deur onder meer uit die destydse nuut beskikbare filosofiese bronne vanuit die Klassieke te put.

Alhoewel dit met enorme spanninge in die destydse kerk gepaard gegaan het, is dit dus nie per definisie problematies om aansluiting by bepaalde insigte uit die eie tyd te vind nie. Nogtans moet kerke dit met die grootste mate van omsigtigheid hanteer. Voldoen die eietydse insigte aan die eise wat die Woord daaraan stel? Vandag sal waarskynlik verskil word oor die vraag of die Middeleeue inderdaad hul eie tyd grondig genoeg daaraan getoets het. Maar die vraag is of die kerke dit vandag doen. Word die strominge van die eie tyd grondig genoeg aan die Woord getoets?

Gegewe die feit dat die grondslae van ons tyd dikwels in radikale spanning met die Woord staan, is dit ‘n wesenlike vraag of die kerke nie dié grondslae veel sterker moet uitdaag nie. Behoort die kerke nie in hul luister na en gesprek met die hedendaagse wêreld ook ‘n veel meer diepgaande kritiek op die sogenaamde sekulêre wêreld te lewer nie? Behoort hulle houding nie ook deur ‘n ‘nee’ eerder as ‘n ongekwalifiseerde ‘ja’ gestempel te wees nie?

In die mate waarin die kerke dit nie doen nie misluk hulle aansluiting-strategie, ironies genoeg. Lê die ware betekenis van ‘om aktueel te wees’ nie eerder in ‘n moedige ‘nee’ as in ‘n eerlose ‘ja’ opgesluit nie? ‘n Gemotiveerde en goed begronde ‘nee’ van die kerke sal sorg dat hul gesag gerespekteer en hulle boodskap met erns bejeën word; ‘n ‘ja’ daarenteen word eerder met onverskilligheid begroet – asof dit maar net nog ‘n opinie is wat in die kakofonie van opinies die globale wêreld besoedel.

‘n Tweede antwoord op ons tyd handel oor die noodsaak van ‘n filosofiese en teologiese apologie vir die waarhede van die Christelike geloof. Tydens die afgelope dekades word die Westerse wêreld oorval deur intellektuele wat ‘n voorspraak vir die ateïsme maak. Vanaf die sogenaamde ‘nuwe ateïsme’ van figure soos Richard Dawkins, Christopher Hitchens en Sam Harris tot en met veel meer gewigtige denkers (vanaf oorlede Michel Foucault tot en met Slavoy Zizek en Peter Sloterdijk) word ons as’t ware deur hulle boodskap oorval: ‘God en die Christendom is dood’. Asof dit die mees vanselfsprekende feit is, aanvaar hulle dat die mensdom sigself nou vir ‘n lewe After God moet voorberei, soos wat die titel van Sloterdijk se jongste boek lui.

Genoemde post-Christelike verskynsels sluit aan by en word ook versterk deur die verbintenis van universiteite en verskeie wetenskappe tot die naturalisme, die materialisme en die nominalisme. Ingevolge dié dikwels modieuse strominge word die tipies menslike (die geestelike, die wêreld van idees, die rasionele denke, die verbeelding, die sielvolle, die unieke ervaring, ensovoorts) gereduseer tot die gevolg van blote natuurlike en materiële kragte.

Die kritiese vraag is hoe die kerke hierop antwoord. My indruk is dat die kerke hopeloos te stil is. In plaas daarvan om grondig op die teologiese en filosofiese uitdagings te antwoord (en so hul apologetiese verantwoordelikheid na te kom), stuur talle kerke eerder veilig by die storms verby.

Alles is egter nie verlore nie. Om na slegs een opwindende saak te verwys. ‘n Verstommende feit van ons tyd is dat ‘n groot hoeveelheid teoloë en filosowe die afgelope dekades na vore getree het wat ‘n gewigtige ‘kritiek op die kritiek’ ontwikkel. ‘n Nuwe geslag van apologete het op die toneel verskyn wat bereid is om die uitdagings van ons era te aanvaar.

Om slegs enkele te midde van talle ander name te noem: John Milbank, David Bentley Hart, Catherine Pickstock, Rémi Brague, David C. Schindler, Michael Hanby en Edward Feser. ‘n Kenmerk van dié intellektuele is dat hulle aktueel is omdat hulle (te midde van hul grondige kritiek op die bestaande) nie agteroor buig en aanpas nie, maar op ‘n ‘radikale ortodokse’ wyse na die bronne van die kerk terugkeer. In en deur dié terugkeer maak hulle tegelyk vergesigte op ‘n helder toekoms oop.

Die kritiese vraag is of die kerke genoegsaam kennis neem van die verstommende werk wat dié en talle ander denkers uit die Christelike teologie en filosofie lewer?

Nog meer, vertaal die kerke dié werke op ‘n sinvolle en duidelike wyse aan die gewone lidmate, aan skole en universiteite, aan die media en die openbare lewe in die algemeen? ‘n Groot verantwoordelikheid rus op die kerke – ook ons Afrikaanse kerke – om dit met die grootste mate van wysheid, intellektuele dapperheid en ‘n onbevange gees te doen.

Vandag het ons genoegsame rede om te dink dat kerke wat inderdaad na die bronne terugkeer; die waarhede daarvan opnuut ontdek en dit ook vir ons eie tyd vertaal kerke is wat groei. Hulle aktualiteit is nie ‘n funksie van hul buig voor die eise van die tyd nie, maar omdat hulle die eietydse werklikhede aan die Waarheid (of soos die tradisie dit formuleer: die volledige Aktualiteit) onderwerp.

Prof Danie Goosen

Akademiese hoof, Akademia

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *