Nasionalisme en die orde van klein eenhede

deur Carel Boshoff

Yoram Hazoni se opspraakwekkende The Virtue of Nationalism (2018, Basic Books) het die afgelope tyd ‘n belangrike verwysingspunt vir die Vryheidstigting se besinning oor ons situasie geword. Gegewe die rol wat republikeinse nasionalisme in die tweede Afrikaner, die moderne Afrikaner van die twintigste eeu, se vestiging en handhawing gespeel het, is dit sekerlik nie vreemd nie. Sedert sy ondergang in die demokratiese eenheidstaat wat Suid-Afrika aan die einde van die eeu probeer word het, het nasionalisme egter onder die taboe-woorde getel wat hoogstens nog in afwysende sin gebruik is, verwysend na een van die foute van ons verlede.

Afrikaners in die “nuwe Suid-Afrika” se koel afstand van die ideologie wat hulle mettertyd gefaal het, is sekerlik te verstane. Aan die een kant het die sosiale nasionalisme van die 1930’s sy doel gedien, naamlik om verstedelikende Afrikaners uit die kloue van vernietigende armoede te red. Aan die ander kant het die verweefdheid van Afrikanernasionalisme met die Suid-Afrikaanse staat tot Afrikaners se politieke ondergang gelei. Die rede was eenvoudig dat die ekonomiese ontwikkeling wat Afrikaneropheffing moontlik gemaak het, in ‘n veelvolkige staat sonder gelyke politieke regte spanning en konflik tot gevolg sou hê. Minderheidsregering sou dit nie oorleef nie.

Ekonomiese integrasie op basis van “goedkoop” swart arbeid was, van die landbou- en mynbousektore tot in elke klein huishouding, part en deel van Suid-Afrika se ekonomiese sukses. Daarenteen is die gedagte van eie nasionale tuistes met ‘n eie ekonomiese onderbou waarin die swart bevolking politieke regte sou hê, sonder die sin vir dringendheid wat dit vereis het, aangepak. Beide genl Hertzog en dr Verwoerd, wat die belang daarvan begryp het, kon die kragte van ekonomiese integrasie nie teëhou nie en hulle politieke apartheidsmaatreëls het werklike integrasie in die hand gewerk in plaas daarvan om dit te bekamp.

Die gevolg was dat Afrikaners se nasionale tuiskoms, wat sy hoogtepunt in die Republiekwording van 1961 bereik het, vir swart Suid-Afrikaners eenvoudig op imperialisme onder nuwe bestuur neergekom het. Hierdie bitter ironie het Afrikaners, wat self diep anti-imperiale oortuigings gekoester het, nie ontsnap nie. Dit verklaar iemand soos NP van Wyk Louw se matige klemverskuiwing van sosiale na liberale nasionalisme, maar ook iemand soos Beyers Naudé se ommekeer weg van Afrikanernasionalisme na ‘n Suid-Afrikaanse nasionalisme waarvan die nasie nog gevind moes word.

Uiteindelik het dit die groot draer van Afrikanernasionalisme, die Nasionale Party van Hertzog, Malan en Verwoerd, só van sy selfvertroue gestroop dat hy onder FW de Klerk se leiding geen spoor van ‘n sin vir die nasionaliteite van Suid-Afrika se bevolking gelaat het nie. Dit was nie net ‘n skandalige vorm van selfverraad nie, dit was ook die antwoord op ‘n politieke idee wat nie meer by die werklikheid aansluiting kon vind nie.  En die rede was dat, anders as wat die volkstaters van die tyd gedink het, Afrikanernasionalisme nie ‘n oop houding jeens staatkundige alternatiewe gehad het nie, maar ten diepste en tegelyk Suid-Afrikanisties van aard was.

Die meeste Afrikaners kon hulle nie losdink van ‘n veelvolkige Suid-Afrika, waarin hulle verwag het om steeds die botoon te voer nie. Hulle gunstige posisie in die nuwe orde sou aan hulle besondere kundigheid en meriete (onmisbaarheid) te danke wees en deur ‘n liberale grondwet gewaarborg word – geen nodigheid vir nasionalisme meer nie! Wie nie by hierdie sonskyndenke aansluiting gevind het nie, wou hulle gunstige posisie behou deur die ou orde in beskerming te neem en met klein aanpassings aanvaarbaar te maak. Ten slotte kon diegene (en hulle was uit die staanspoor maar min) wat bereid was om ‘n nuwe begin te maak, geen energie uit die Suid-Afrikanistiese Afrikanernasionalisme put nie.

Nasionalisme en al die bronne en verwysings wat oor bykans ‘n eeu aan die hand daarvan geskep is, het uiteindelik vir Afrikaners onbruikbaar geblyk en is, soos ‘n ou paradigma, eenvoudig agtergelaat. Nuwe denkwyses moes gevind word, hoewel die ou werklikhede van kultuur-, taal- en politieke verskeidenheid hulle, soos die ekonomiese en demografiese werklikhede voorheen, nie eenvoudig sou laat weg-dink nie. En namate Afrikaners onder die nuwe omstandighede tot verhaal gekom het – die derde Afrikaner uit die as van die tweede Afrikaner se ondergang verrys het – sou die gedagte van ‘n eie nasionale identiteit en tuiskoms opnuut na vore kom. Dít is waar Hazoni se behandeling van nasionalisme in die spel kom.

Sonder om The Virtue of Nationalism in sy geheel te bespreek, kan vir die doel van hierdie artikel by enkele onderkeidings wat hy aanlê, aansluiting gevind word. Hy gaan uit van ‘n teenstelling tussen die orde van nasionale state en die orde van imperialisme, oftewel die orde van verskeidenheid teenoor die orde van eenselwigheid – wat neerkom op die orde van vrye uitlewing teenoor die orde van dwang. Hoewel dit nie die laaste woord oor die saak is nie – daar is byvoorbeeld uit die oogpunt van klein minderhede in nasionale state wat by die dominante kultuur ingelyf is, ‘n saak uit te maak ten gunste van die voorafgaande ryke wat hulle tot ‘n groot mate met rus gelaat het – bied dit ‘n nuttige denkraamwerk om die vraagstukke waarmee ons tans gekonfronteer word, te benader.

Die eerste elemente is dus nasionalisme en imperialisme, die orde van volke en die orde van die mensdom. Die tweede reeks elemente sluit aan by die vraag na die verskil tussen nasies en ryke. Om die verskil aan te toon, verwys Hazoni na die eienskap wat by uitstek die verskil tussen nasies en ryke aanwys, naamlik lojaliteit. Nasies of volke is, ten spyte van al hulle gebreke en beperkings, op onderlinge lojaliteit gebou terwyl ryke dikwels orde, veiligheid en voorspoed bring waar daar voorheen chaos was, maar min uitdrukking aan lojaliteit gee. Om hierdie sentrale, pre-rasionele begrip van lojaliteit te beskryf, wend hy hom dan tot die kleiner eenhede wat in menslike samelewings werksaam is, naamlik gesinne, families en stamme wat saam volke uitmaak – in Engels die orde van “families, clans, tribes and nations.”

Hoe kleiner die eenheid, hoe hegter die lojaliteit – maar ook dit is nie sonder risiko nie. By groter familie-eenhede (clans) en stamme kan geskilbeslegting byvoorbeeld skade ly omdat die afstandelike objektiwiteit van groter eenhede daar ontbreek. Almal is verwant en verbind en dit mag moeilik wees om teen iemand aan wie jy lojaliteit verskuldig is, op te tree, al is dit die regte ding om te doen. Aan die ander kant is dit dieselfde lojaliteit wat meebring dat mense opofferings vir mekaar en vir hulle gemeenskapsverband sal maak en hulle eie voordeel ondergeskik daaraan sal stel.

Hy voer dan aan dat daar tussen die twee uiterstes waaraan ons almal behoort, naamlik plaaslike verbande én die globale mensdom, ‘n gunstige balanspunt bestaan waar lojaliteit steeds werksaam is terwyl dit genoegsame skaal bied vir die hulpbronne en afstandelikheid wat nodig is om hierdie toestand volhoubaar te maak. Dit is die volk/nasie wat ‘n permanente weermag in stand kan hou om hom teen verowering van buite te beskerm en ‘n permanente administrasie in stand kan hou om orde en voortgang aan sy eie bestaan te gee. In die loop van die geskiedenis – en nie net die moderne geskiedenis nie, Hazoni gaan haal dit by Israel van die Ou Testament – het die orde van volke, oftewel die orde van nasionale state, verskillende vorme aangeneem, maar in elke geval was dit die bedeling wat nie net veiligheid en voorspoed gebied het nie, maar ook vryheid wat op lojaliteit gebou is.

Die punt waarop ons met hierdie argument afstuur en wat aan die hand van Hazoni se begrippe verduidelik kan word, maar nie deel van sy siening uitmaak nie, is die volgende. Die Suid-Afrikaanse staat, wat sy samehang te danke het aan die feit dat hy Afrikaners se nasionale tuiste was, was tegelyk ‘n ryk wat ‘n groot getal volke en stamme aan ‘n imperialisme van sy eie onderwerp het. Met die onderdrukte bevolking se bevryding en die Afrikaner se staatlike marginalisering het daar egter nie ‘n Suid-Afrikaanse volk of ‘n ware nasie na vore getree nie, met die gevolg dat die ou ryk toenemend besig is om te verbrokkel terwyl net die nuwe elite vir wie Suid-Afrika nog voordeel inhou, die verbrokkeling probeer voorkom.

Die toenemend disfunksionele aard van die Suid-Afrikaanse staat bied aan die orde van klein eenhede, van plaaslike gemeenskappe, taalgroepe, geloofsgroepe, kultuurgemeenskappe wat verspreid woon, ensovoorts, onvoorsiene uitlewingsruimte. Die enigste werklike beperking tans is hierdie kleiner eenhede se wil en vermoë om dié ruimte op te neem en te benut. Afrikaners, wat hulle ook van die staat losgemaak het toe hulle van die staat losgemaak is, is tans besig om dié ruimte baie doeltreffend te beset.’n Groot hoeveelheid organisasies en instellings, skole, maatskaplike sorginisiatiewe, plaaslike gemeenskappe en ‘n unieke verskynsel soos Orania, is besig om die vakuum wat die vervallende staat laat, te vul. Die klein gemeenskapseenhede floreer.

Hierdie sonderlinge omstandighede moet benut word en Afrikaners moet elke kans aangryp om hulleself as gesinne, families en stamme (grootliks by wyse van spreke) te bemagtig. Die orde van die kleiner eenhede gaan, soos in die era van die Boererepublieke, ons habitat wees en ons moet dit omhels. Ons moet egter ook nugter wees oor die moontlike bedreigings wat groot eenhede, van binne of van buite, vir klein eenhede kan inhou. Terwyl ons die orde van klein eenhede vestig en uitbou, moet ‘n soort nasionale bundeling van klein eenhede, ‘n federalisering van Afrikanergroepe, ‘n sin vir die Afrikanervolk, ook gekoester word. Ons hoef nie nou te weet hoe presies dit staatkundig of andersins gaan werk of lyk nie, om te weet dat ons in die toekoms weer die brug tussen die orde van klein eenhede en die orde van nasiestate sal moet slaan as ons nie die imperiale ambisies van plaaslike of globale ryke ten prooi wil val nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published.