deur Paul Maritz
Op 18 Augustus 2012, twee dae na ‘n stuk geweld wat die land vir altyd sou verander, staan ‘n partylose Julius Malema in Marikana en spreek werkers toe: “Long live Oliver Tambo, long live!” begin hy, gevolg deur “Long live Peter Mokaba, long live!”
Dit is te verstane dat Malema, in daardie stadium ‘n balling uit die ANC, nie die name van Jacob Zuma of Thabo Mbeki geroep het nie, maar waarom juis hierdie twee? Waarom Tambo en Mokaba? Dit is my mening dat Malema hier kuratorskap oor die ANC se geskiedenis neem, en ‘n bepaalde narratief uit die kanon van ANC geskiedenis wil opbou wat die fondasie van sy komende party, en in ‘n groot mate die volgende dekade van politiek in Suid-Afrika sou definieer. Tambo was natuurlik die laaste ANC president in ballingskap, het die party gelei tussen 1967 en 1991 – vir Malema is Tambo ‘n gesig vir die strydende ANC, die ANC wat getrou is aan sy stryd. Maar Mokaba? Buiten daarvoor dat ‘n stadion in die noorde van die land na hom vernoem is het meeste Suid-Afrikaners nie veel kennis oor Mokaba nie. Alhoewel Mokaba in 2002 op die jong ouderdom van 43 gesterf het, was dit sy popularisering van die slagspreuk “dubulu iBhunu” en die Engelse “Kill the boer, kill the farmer” waarvoor hy in sommige kringe bekend is.
Malema maak dus reeds in 2012, toe die naam EFF nog geen oor bereik het nie, duidelik dat hy dink die “struggle” is verdraai en mislei. Strydende en radikale leiers van die verlede, wie se verhale nie so dikwels vertel word soos byvoorbeeld Nelson Mandela se heldeverering nie, is na sy sin die ware gesigte en verteenwoordigers van die stryd. In sy eie grondwet noem die EFF homself ook “radikaal” – nie dat enigiemand verbaas is nie, maar wat beteken dit? Radikalisme het sy oorsprong by die Latynse woord “radix” wat “wortel” beteken, dit verwys daarna om ‘n beskouing tot aan die wortel te dryf. Van hierdie einste “radix” het ons ook die woord “radys”, en dit is my mening dat die radikale wortels van die ANC, die radyse wat hulle skynbaar in 1994 opgekap het, nooit opgekap is nie, maar agter in ‘n kas gelos is, en dat stukkies van hierdie radysies vir die jongelinge van die ANC jeugliga gevoer is, en vir hulle spiere gegee het wat die ANC later nie meer kon beheer nie, en moes afsny. Die EFF is dan aan die hand van hierdie beskouing eintlik maar net die ANC se radikale jeugliga, ook dit behoort niemand te verbaas nie, maar die effek hiervan op die politieke diskoers in Suid-Afrika word dikwels onderskat, en verdien verdere ondersoek.
Vir Malema was daar in 2013 ‘n rits ononderhandelbare kwessies waarvoor sy party hulself sou beywer, kwessies wat volgens hom in lyn staan met die aanvanklike idee van vryheid waarvoor Tambo en Mokaba gestry het. Onder andere het hierdie kwessies die nasionalisering van myne en plase ingesluit, asook die sentralisering van beheer oor die Reserwebank. Vandag is beide hierdie sake op die agenda van die ANC, met die hersiening van die Grondwet se 25ste artikel wat reeds vroeg in President Ramaphosa se termyn ter tafel gestel is, en onderhandelings oor die Reserwebank se bestuur konstant onderweg. Die radikalisering van die ANC moet dus gesien word as ‘n reaksie op die EFF se steun en energie, en as ‘n poging om die EFF se politieke beweegruimte in te perk. Die analise tot hier is vir die gesoute leser van Suid-Afrikaanse nuus oorhoofs bekend, die unieke bydrae van hierdie artikel is eerder ‘n gepoogde antwoord op die vraag: Wat nou?
Die EFF en Julius Malema dien tans as de facto gesig van Radikalisme in Suid-Afrika, en in antwoord op ‘n afname in politieke beweegruimte kan die party verskeie rigtings inslaan, hier word drie oorweeg: Grou, klou of bande bou.
Die EFF keer dalk terug na die ANC as helde, met goeie poste vir hul huidige uitvoerende komitee, ‘n skuif wat volgens baie ontleders van die begin af op die kaarte is, dit sou die bande bou opsie wees. Die EFF kan ook klou, en probeer om maar net luidkeels genoeg aandag te kry om hul huidige leefstyle te handhaaf, en hier en daar in regering te tree of ‘n koalisie te befoeter. Die derde opsie, wat vir Suid-Afrika die grootste gevaar inhou, is die grou – as die EFF verder en dieper radikaliseer. Sodanige radikalisering mag inspirasie vind by onder andere Karl Marx en Franz Fanon, twee helde van dié party. Fanon is ‘n minder bekende figuur, maar die Afrikaner moet toenemend van hom kennis neem. Fanon se boek The Wretched of the Earth, en veral die eerste hoofstuk “On Violence” tree in die bresse vir gewelddadige en bloederige dekoloniale projekte om onderneem te word, en bied dit as enigste werklike moontlikheid vir voormalig gekoloniseerdes. As die EFF in hierdie rigting voort sou radikaliseer, mag hierdie party vir homself en vir mense wat ‘n land met hom wil deel ‘n baie gevaarlike probleem word.