Wendell Berry se opstel “Two Minds” het in 2003 in Citizen Papers verskyn en is in Essays 1993–2007 (The Library of America, 2019) vervat. Hierdie is die tweede van drie dele waarin dit vertaal word voordat dit uiteindelik weer saamgevoeg word. Die betrekking wat hierdie opstel op die vraag na ‘n oorgangsera het, is eweneens duidelik. Berry se denke verruim ons perspektief (en Perspektief) op vryheid buitengewoon.
Carel Boshoff (Vertaler)
[Tweede aflewering. Lees deel I hier]
Om aan te toon hoe die twee denkwyses werk, kom ons plaas dit binne die dilemma van ‘n bekende verhaal. Hier is die gelykenis van die verlore skaap uit die evangelie van Matteus: “As iemand honderd skape het en een van hulle raak weg, sal hy nie die nege-en-negentig in die berge los, en die een wat weggeraak het, gaan soek nie? En as hy hom wel kry, Ek sê vir julle, dan is hy baie blyer oor hom as oor die nege-en-negentig wat nie weggeraak het nie.”
Hierdie gelykenis is die vrug van ‘n besonderlik meelewende denkwyse, maar ons kan dit vir die oomblik buite rekening laat. Die dilemma is prakties genoeg en ons kan dadelik sien hoe die twee denkwyses daarmee sou handel.
Die rasionalis, kan ons seker wees, het ‘n honderd skape omdat hy ‘n plan vir daardie hoeveelheid het. Die een wat weggeraak het, het nie net van die trop ontsnap nie, maar ook van die plan. Dat hierdie bepaalde skaap op hierdie bepaalde plek en op hierdie bepaalde tyd sou afdwaal, is, al is dit heeltemaal in ooreenstemming met die aard van ‘n skaap en die aard van die wêreld, nie in ooreenstemming met ‘n rasionele plan nie. Wat moet gedoen word? Wel, dit sou sekerlik nie redelik wees om die nege-en-negentig agter te laat, uitgelewer soos hulle dan sou wees aan verdere nukke van die natuur, om na die een te gaan soek nie. Sou dit nie die beste wees om die verlore skaap as die prys wat jy vir die nege-en-negentig se veiligheid betaal, te beskou nie? As hy sy verlies dan so aanvaar het, sou die dogmatiese rasionalis vervolgens deur ‘n reeks redelike vrae begin werk het. Wat sou ‘n “aanvaarbare risiko” wees? Wat sou ‘n “redelike verlies” wees? Sou dit nie goed wees om ‘n paar proefnemings te maak en vas te stel hoe dikwels mens kan verwag dat ‘n skaap verlore raak nie? As daar na verwagting elke so lank ‘n skaap verlore gaan raak, sou dit dan nie beter wees om 110 skape aan te hou nie? Of kan mens die trop teen sulke verwagte verliese verseker? Die markwaarde van hoeveel skape sou die jaarlikse versekeringspremie beloop? Wat sou na raming die arbeidskoste wees om na-ure een verlore skaap te soek? Hoeveel soektyd sou die markwaarde van een verlore skaap beloop? Moet mens nie daaraan dink om ‘n paar vuurvlieggene in mens se skape in te plant sodat ‘n verlore skaap in die donker gloei nie? En so aan.
Maar (die teologiese belang van die gelykenis buite rekening gelaat) die herder is ‘n herder omdat hy die Meelewende Denkwyse beliggaam. Omdat hy ‘n simpatieke mens is, iemand wat die aard van skape en van die wêreld ken, is die herder van die gelykenis nie deur die probleem verras of oorbluf nie. Hy hou nie terug om oor risiko’s, teenprestasies, aktuariële data of markwaarde te redeneer nie. Hy kibbel nie oor breuke nie. Hy gaan sonder huiwering op soek na die verlore skaap omdat hy hom tot die versorging van die hele honderd verbind het, omdat hy sy werk as die vervulling van die vertroue in geheel beskou, omdat hy lief is vir die skape, en omdat hy weet of dink hy weet wat dit is om verlore te wees. Hy doen wat hy doen ten behoewe van die hele trop omdat hy homself as ‘n hele herder wil handhaaf.
Hy doen ook wat hy doen omdat hy ‘n besonderse toegeneëndheid jeens die bepaalde skaap het. Vir die Rasionele Denkwyse is alle skape dieselfde; enige een is dieselfde as enige ander een. Hulle is uitruilbaar soos munte of klone of masjienonderdele of lede van die “werksmag.” Vir die Meelewende Denkwyse is elkeen anders as elke ander een. Elkeen is ‘n individu wie se waarde nooit heeltemaal tot markwaarde beperk kan word nie.
Die Rasionele Denkwyse kan en sal enige ruilkoste rasionaliseer. Die Meelewende Denkwyse wil niks daarvan weet nie. Ons het boonop nie net die gelykenis van die nege-en-negentig nie, maar ook die Boedistiese gelofte om alle wesens met gevoel, te red. Die gelykenis en die gelofte is heeltemaal vreemd aan die rasionalisme van moderne wetenskap, politiek en industrie. Vir die Rasionele Denkwyse “maak dit nie sin nie” omdat hulle met teëspoed en risiko handel deur eenvoudig daarvan kennis te neem en dit te aanvaar. Die Meelewende Denkwyse se hele punt is om ‘n mens se lyding by die lyding van ander skepsels te betrek, insluitend die van ander mense.
Die Rasionele Denkwyse verstaan sigself as by uitstek prakties en spog graag oor sy bevoegdheid om met “die werklikheid” om te gaan. Maar as jy iemand wil aanstel om na jou honderd skape om te sien, dink ek jy moet verby die “dierewetenslaplike” kyk en die herder van die gelykenis soek, as jy hom nog êrens kan kry. Dit sal naamlik altyd meer redelik wees om, uit die oogpunt van die Rasionele Denkwyse, die verlore skaap op te offer vir die skape wat jy het – totdat daar net een oor is.
As u dink dat ek my deur my argument op sleeptou laat neem het tot by fantasie en ontoepaslikheid, laat ek ‘n eietydse storie wat die buitelyne van Jesus se gelykenis nogal naby volg, aanhaal. Dit kom uit ‘n artikel van Bernard E Rollin in Christian Century, December 19-26, 2001, p.26:
‘n Jong man het vir ‘n maatskappy gewerk wat ‘n groot, heeltemaal afgeslote varkplaas bedryf het. Eendag het hy simptome van ‘n siekte onder sommige van die voedende varke opgemerk. As ‘n tiener het hy self varke grootgemaak … sodat hy geweet het hoe om die diere te behandel. Maar die maatskappy se beleid was om enige siek diere dood te maak met ‘n hou op die kop – die winsgrens is as te laag beskou om vir die behandeling van individuele diere voorsiening te maak. Die werknemer besluit toe om op sy eie tyd in te kom en die diere met sy eie medisyne te genees. Die maatskappy se antwoord was om hom op die plek af te dank vir oortreding van die maatskappy se reëls.
Die jong man in die varkfabriek is ‘n direkte kulturele afstammeling van die herder in die gelykenis, net mooi teenoorgesteld en miskien onverstaanbaar vir die “praktiese” rasionalis. Maar die praktiese implikasies is nog steeds dieselfde. Sou jy eerder jou varke laat versorg deur ‘n jongman wat medelye hulle het, of deur een wat hulle ongeërg oor die kop doodslaan? Wie van die twee sou waarskynlik die siekte in die eerste plek voorkom het? Medelye is natuurlik die kern van die saak. Want “maatskappy beleid” moet medelye uitsluit; as medelye toegelaat moes word om ‘n oorweging te wees, sou so ‘n “plaas” nie kon bestaan nie. En tog stel mens jou voor dat selfs die hardkoppige realis in “bestuur” soms die maatskappy se beleid moet oortree deur in die nag te wonder wat hulle aanvang as al die varke siek word. (Ek veronderstel hulle sou almal doodmaak, die versekeringsgeld ontvang en aanbeweeg. Miskien is dit alles vooruitgesien en in die sakeplan ingewerk, dus is daar na alles nie rede om snags daaroor wakker te lê en bekommerd te wees nie.)
Maar wat van die medelydende jong man? Die volgende sin van mnr Rollin se weergawe sê: “Nie lank later nie het die jong man landbou vir goed verlaat … ” En hier moet ons ‘n oomblik stilstaan om die belang van sy vertrek te begryp.
Soos ‘n oopgroefmyn bestaan ‘n varkfabriek geheel en al afsydig van die landskap. Sy doel, as ‘n dierefabriek is om beide die aard van die plek waar dit is as die die aard van die varke van oorweging uit te sluit. Dat dit ‘n fabriek is, beteken dat dit op enige plek kan wees en dat ‘n vark “produksie-eenheid” is. Maar die jong man het kennelik op ‘n plaas groot geword. Hy het in sy gedagtes kennelik minstens die herinnering aan werklike plek en minstens die oorblyfsels van die kulturele landskap daarvan gehad. In daardie landskap is dinge volgens hulle aard gerespekteer, wat medelye moontlik gemaak het as hulle aard geskend is. Dat hierdie jong man afgedank is omdat hy medelye getoon het, is streg gesproke logies omdat dit die uitdruklike doel van die varkfabriek is om die natuur te skend. En dan, logies genoeg, het die jong man “landbou vir goed verlaat.” Maar as jy medelye uit landbou verwyder het, wat het jy gedoen? Het jy nie iets wat uiteindelik van die grootste praktiese waarde is, verwyder nie? Ek glo so. Maar dit is een van die Rasionele Denkwyse se wêreldskaal eksperimente wat nog nie voltooi is nie.
Die Meelewende Denkwyse is ‘n vryheidsliewende denkwyse omdat dit weet dat, gegewe die onvermydelike verskille tussen die kulturele en die werklike landskappe, almal betrokke vry moet wees om te verander. Die gedagte dat wetenskap en industrie en regering vir die res van ons die uiteindelike waarhede van die natuur en van die menslike aard kan ontdek, wat dan onfeilbaar gebruik kan word om ons lewens te reël, is verkeerd. Die ware taak van die wetenskappe en vaardighede is om ons almal aan die beweeg te hou, in ons eie lewens en ons eie plekke, tussen die kulturele en die werklike landskappe, om die altyd weer nodige en onvoltooibare regstellings te maak.
Wanneer die Rasionele Denkwyse ‘n “plaas” oprig, is die gevolg slegte boerdery. Daar is ‘n merkwaardige verskil tussen ‘n varkfabriek, wat uitsluitlik met die oog op sy ekonomiese produksie bestaan, en ‘n goeie plaas wat om baie redes bestaan, wat insluit die genoegdoening van die boeregesin, hulle liefde vir hulle huis, die bevrediging wat hulle goeie werk inhou – in kort, hulle patriotisme. So ‘n plaas lewer sy opbrengs as ‘n soort bygevolg van die gesondheid van ‘n florerende plek waar dinge volgens hulle aard lewe. Die varkfabriek poog om ‘n geheel en al redelike, wat beteken geheel en al ekonomiese onderneming te wees. Dit stroop die dierelewe en menslike werk van elke doel, asook elke voordeel, wat nie ekonomies is nie. Dit word bewerkstellig deur ‘n langdurige poging van die kant van “wetenskaplike landbou” om die Meelewende Denkwyse van alle landboukundige landskappe te verwyder en met die Rasionele Denkwyse te vervang. En so groet ons die herder van die gelykenis en die medelydende jong man wat landbou vir goed verlaat. Totsiens aan die kulturele landskap. Totsiens aan die werklike landskap. Daar is van hulle ontslae geraak deur die Rasionele Denkwyse, om vervang te word deur ‘n totalitêre ekonomie met sy netjiese, logiese denkbeelde van die wêreld-as-fabriek en die lewe-as-kommoditeit. Dit is ‘n ekonomie wat alle besluite uitsluit, buiten “ingeligte besluite” wat voorgee om die moontlikheid van verlies te verminder.
Niks boei en belas die Rasionele Denkwyse soveel as sy noodsaak en selfopgelegde verantwoordelikheid om “ingeligte besluite” te neem nie. Dit is vir seker moontlik om ingelig te wees – en boonop op verskillende wyses. En dit is vir seker moontlik om ingeligte besluite te neem op grond van alles wat daartoe bygedra het. Maar dat sulke besluite “ingeligte besluite” sal wees – in die sin dat hulle voorspelbaar reg sal wees, of selfs dat hulle betroubaar beter as oningeligte besluite sal wees – kan betwyfel word.
Die ideaal van die “ingeligte besluit” dwing die “besluitnemers” in ‘n ruigte van feite, syfers, studies, toetse en “projeksies” in. Dit vereis lang en ongemaklike getob oor “koste-voordeel verhoudings” – dikwels die koste en voordele van gruwels. Die probleem is dat alle besluite met die toekoms te doene het en dat al die werklike kennis wat ons het, van die verlede is. Dit is onmoontlik om ‘n besluit te neem wat, hoe goed ingelig ookal, vir seker reg is omdat dit onmoontlik is om te weet wat gaan gebeur. Dit is slegs moontlik om te weet of te raai dat sekere goed kan gebeur, en baie goed wat al gebeur het, was heeltemaal onvoorsiens.
Maar verder, as mens ‘n “ingeligte besluit” geneem het, selfs een wat goed uitwerk, is daar nog geen manier om bo alle twyfel te bepaal of dit ‘n beter besluit as ‘n ander moontlike besluit wat mens in plaas daarvan kon geneem het, was nie. Dit is onmoontlik om ‘n besluit wat mens geneem het met ‘n besluit wat mens nie geneem het nie, te vergelyk. Daar is geen “kontroles,” geen “herhalingspunt” in ervaring nie.
Die Rasionele Denkwyse is onder meedoënlose druk om regerings- en korporatiewe handelinge op ‘n altyd groter skaal van mag, omvang en uitwerking te regverdig. Gegewe die druk is dit dalk nie so verrassend dat die Rasionale Denkwyse ‘n merkwaardige neiging tot bygeloof toon nie. Wanneer die rasionaliste hulle verstandelike perke bereik, wat hulle as mense gou genoeg doen, begin hulle baie gou om hulle denke op beginsels te baseer wat verstommend onjuis is: “Skepsels is masjiene” of “Kennis is goed” of “Groei is goed” of “Wetenskap sal die antwoord vind” of “‘n Gety was styg lig al die bote”. Of hulle benader die toekoms met ‘n verstommende reeks rekenaars, modelle, statistieke, projeksies, berekenings, koste-voordeel ontledings, kundiges en selfs beter rekenaars – wat natuurlik nie die uitkoms van ‘n perdewedren beter kan voorspel as Bertie Wooster nie.
En so is die groot swakheid van die Rasionele Denkwyse, in weerwil van hulle besware, ‘n soort argeloosheid of oorgawe wat die vorm aanneem van grootskaalse dobbelary – soos wanneer, met optimisme en trompetgeskal, sonder voorkennis of selftwyfel of versigtigheid, kernfisici of chemiese wetenskaplikes of genetiese ingenieurs hulle produkte in die hele wêreld vrylaat, en daarmee van die hele wêreld hulle laboratorium maak.
Of die groot uitvinders en besluitnemers bou enorme vliegtuie, waarvan hulle geweldige brandstofladings in werklikheid van hulle vlieënde bomme maak. En hulle bou die World Trade Center en vergeet skynbaar van die B-25 bomwerper wat in 1945 in die nege-en-sewetigste verdieping van die Empire State-gebou vasgevlieg het. En dan op 11 September 2001 neem sekere vyande – wat ons wel geweet het dat ons het, maar verkies het om te ignoreer – besit van twee yslike vliegtuie en gebruik hulle as bomme om in die World Trade Center mee vas te vlieg. Terugskouend kan ons daaraan twyfel of die besluite wat dit moontlik gemaak het, behoorlik ingelig was net soos ons daaraan kan twyfel of die duur “intelligensie” wat veronderstel is om sulke rampe te voorsien en te voorkom, intelligent genoeg is.
Die besluite, as die groot uitvinders en besluitnemers nou poësie sou gelees het, kon ingelig gewees het deur James Laughlin se gedig “Bo die stad” wat kort na die B-25 in die Empire State-gebou vasgevlieg het, geskryf is:
Jy weet jou kantoor op die 18de
vloer van die Salmontoring kyk
reg uit op die
Empire State & dit het net so gebeur
dat ons besig was om laat fakture
te voltooi op
‘n nuwe boek daardie Saterdagoggend
toe ‘n bomwerper deur die mis
brul en bots
vlamme borrel by die vensters uit
en in die hangende wolke & sirenes
skreeu daar in
die strate daar onder dit was onwerklik
maar jy weet die vreemdste ding
ons besef dat
nie een van ons besonder verras was nie
want ons het altyd geweet dat daardie
twee Toonbeelde van
Vooruitgang vroeër of later
voor ons oë hierdie vertoning
sou lewer van hulle
ware verwantskap
Mens is nou in die versoeking om hierdie gedig “profeties” te noem. Maar dit is nou net profeties in soverre dit insiggewend is; dit neem dit onderliggende spanning tussen hoë geboue en vliegtuie waar. Hierdie spanning was sonder meer duidelik vir die terroriste van 11 September, maar kennelik onsigbaar in die mis van tegnologiese euforia wat die groot uitvinders en besliutnemers omring het.
Op verskeie vlakke van afgryslikheid oorskrei die vernietiging van die World Trade Center die verbeelding, en dit sê vir ons iets. Maar as ‘n fisiese gebeurtenis is dit so verstaanbaar soos 1+1, en dit sê vir ons iets anders.