Twee denkwyses

Wendell Berry se opstel “Two Minds” het in 2003 in Citizen Papers verskyn en is in Essays 1993–2007 (The Library of America, 2019) verskyn. Hierdie is die eerste van drie dele waarin dit vertaal word voordat dit uiteindelik weer saamgevoeg word. Die betrekking wat hierdie opstel op die vraag na ons erfenis het, is met eens duidelik, hoewel dit op verskillende ander punte afgestem is as waaraan ons dikwels aandag gee. Berry se denke verruim ons perspektief (en Perspektief) op vryheid buitengewoon.

Carel Boshoff (Vertaler)

Menslike ordes – wetenskaplike, artistieke, sosiale, ekonomiese en politieke ordes – is fiksies. Hulle is onwaar, nie omdat hulle noodswendig vals is nie, maar omdat hulle noodwendig onvolledig is. Al ons menslike ordes, hoe insluitend ons hulle ookal probeer maak, blyk uiteindelik tot een of ander mate uitsluitend te wees. En so word ons altyd deur iets verras wat ons, te laat, vind dat ons dit uitgesluit het. Dink aan omtrent enige politieke rewolusie of vryheidsbeweging of gat in die osoonlaag of malkoeisiekte of die gebeure van 11 September 2001.

            Van die huidige orde, wat so verras is, word dan verwag om nuwe kennis in te neem en daardeur herorden te word. Thomas Kuhn beskryf hierdie proses in The Structure of Scientific Revolutions.

            Maar hierdie verrassings en veranderings het kennelik hulle uitwerking ook op individuele lewens en op hele kulture. Al ons fiksies gaan gebuk onder die ewig mislukkende noodsaak om waar te wees. En dit bring mee dat hulle onder ‘n verpligting staan om voortdurend hersien te word.

            Of, om dit anders te stel, ons mense maak noodwendig prentjies in ons gemoed van ons plekke en ons wêreld. Maar dit kan ons net doen by wyse van seleksie, deur sekere goed in die prentjie te plaas en die res uit te laat. En so lewe ons in twee landskappe, die een aan die ander opgesê.

            Die eerste is die kulturele landskap wat bestaan uit ons eie kennis van waar ons is, landmerke en herinnerings, patrone van gebruik en beweging, herinnerings en betekenis. Die kulturele landskap is, onder andere, ‘n wisselwerking van werk, goedere en troos tussen bure. Dit is die land wat ons in gedagte het.

            Dan is daar die werklike landskap wat ons nooit volledig kan ken nie, wat vir altyd tot een of ander mate ‘n misterie gaan bly en wat ons van tyd tot tyd gaan verras. Hierdie twee landskappe is noodwendig en onherstelbaar verskillend van mekaar. Maar daar skuil ‘n gevaar in die verskil; hulle kan te verskillend raak. As die kulturele landskap te veel van die werklike landskap verskil, maak ons praktiese foute wat vir die werklike landskap, of vir ons, of vir beide vernietigend kan wees.

            Dit kan jy te wete kom deur enige landskap wat deur mense bewoon word, te bestudeer, of van geleerdes soos Barry Lopez en Gary Nabhan, wat oor die tradisionele ekonomieë van die Arktiese gebiede en die Amerikaanse Noord-Weste geskryf het. Dalk is dit makliker om te verstaan as mens oor landskappe van uiterstes dink. As die kulturele landskap te verskillend van die werklike landskap van die poolgebied of die woestyn word, gaan die straf daarvoor bes moontlik vinnig volg en dodelik wees. In sagter landskappe gaan dit (dalk) stadiger volg, maar uiteindelik ewe gevaarlik wees.

            In sommige matige en waterryke gebiede het ons mense uiterste vorme van industriële landskapvernietiging toegepas. Deur die kulturele landskap en al die waardes en beskerming wat daaruit voortgespruit het, te verontagsaam, vernietig oopgroefmyners die werklike landskap. Die erosie van landsbougrond, wat deur ‘n ernsige teenstrydigheid tussen die kulturele en werklike landskappe veroorsaak word, is ‘n stadiger vorm van vernietiging as oopgroefmynbou, maar as dit lank genoeg aanhou, kan dit ook heeltemaal vernietigend wees.

            In die Verenigde State, maar ook in ‘n groot deel van die res van die wêreld, is die meeste kulturele landskappe wat tans nog bestaan, ‘n mengelmoes van vervagende plaaslike herinnerings, geldmaakskema’s, oningeligte planne, pastorale fantasieë, misinformasie en die willekeurige feite wat ons deesdae “inligting” noem. Dit word vererger deur die openlike verwoesting van ontelbare begraafplase en ander heilige plekke, van natuurlike en geskiedkundige landmerke, en van volledige werklike landskappe. Meer nog, ons het enorme en groeiende getalle mense wat geen tuislandskap het nie, hoewel elkeen van hulle ekonomiese handelinge ‘n uitwerking op die werklike landskappe van die wêreld het, meestal ten kwade. Hierdie toestand is ongeëwenaard wanordelik en gevaarlik.

            Om van enige werklike landskap ontkoppel te wees, is om in praktiese of ekonomiese sin, sonder ‘n tuiste te wees. Om jou geen land noukeurig en prakties voor die gees te kan roep nie, is om sonder ‘n kultuur te wees. Onder sulke omstandighede word kultuur doelloos en willekeurig, verdeel dit tussen “populêre kultuur” wat deur handel, advertensie en mode bepaal word, en “hoë kultuur” wat neerkom op óf sosiale aandoening, óf verplaasde kulturele geheue, óf die bloot estetiese strewes van kunstenaars en kunsliefhebbers.

            Ons word dus deel van ‘n soort verlorenheid wat die meeste mense naastenby onbewustelik betrek by die vernietiging van die natuurlike wêreld, wat beteken van die bronne van hulle eie lewens. Hulle doen dit onbewustelik, want hulle sien of doen self baie min van die werklike vernietiging, en hulle weet nie, want hulle het geen manier om uit te vind nie, hoe hulle daarby betrokke is nie. Tegelyk vrees en betreur daardie selfde mense die vernietiging, wat hulle nie kan stop nie omdat hulle geen praktiese begrip van die oorsake daarvan het nie.

Bewaringskundiges, wetenskaplikes, filosowe en ander vertel ons elke dag en elke uur dat ons spesie nou met kollosale irrasionaliteit optree en dat ons meer rasioneel moet word. Ek stem saam met die omvang en gevaar van ons irrasionaliteit. Maar oor die vooruitsig om dit met rasionaliteit te herstel, altans met die rasionaliteit van die rasionaliste, het ek my twyfel.

            Die probleem lê nie net in die manier waarop ons dink nie; dit lê ook in die manier waarop ons, in elk geval in die welvarende dele van die wêreld, lewe. En dit sal moeilik wees om enigeen se lewe as ‘n reeks van eenvoudige keuses tussen rasionaliteit en irrasionaliteit te beskou. Wat meer is, hierdie is veronderstel om ‘n era van redelikheid te wees; ons word wysgemaak dat die regerings en korporasies van die welvarende dele van die wêreld deur redelike mense bestuur word, wat redelike metodes gebruik om redelike besluite te neem. Die oorheersende geloof van ons tyd is in rasionaliteit. Dat in ‘n era van redelikheid die menslike ras, of die welvarendste en magtigste dele daarvan, met kollosale irrasionaliteit optree, moet ons laat wonder of rede alleen ons kan lei na wat reg is.

            Daar word deesdae dikwels aangevoer dat, as ons net kan ontslae raak van geloof en ander oorblyfsels van ons primitiewe verlede, en deur die wetenskaplike rede verlig word, ons die nuwe waardes en etiek wat nodig is om die natuurlike wêreld te bewaar, sal ontdek. Hierdie voorstel is volkome redelik, en volkome twyfelagtig. Dit veronderstel dat ons alles wat ter sprake is, empiries kan ken en redelik kan verstaan, wat presies die veronderstelling is wat ons vergrype teen die natuurlike wêreld in die eerste plek veroorsaak het.

*

Natuurlik moet ons ons verstand gebruik. Maar hoeveel verstand het ons? En watse soort verstand is dit wat ons het? En hoe, op sy beste, werk die menslike verstand? In ‘n poging om hierdie vrae te beantwoord, gaan ek voorlopig veronderstel dat daar twee soorte menslike verstand of denkwyse is: die Redelike Denkwyse en, wat ek by gebrek aan ‘n beter woord gaan noem, die Meelewende Denkwyse. Ek stel dit hier, en gaan myself daaraan probeer herinner, dat hierdie terme gaan lyk asof dit simbolies is, té netjies en té apart – alhoewel ek moet bysê dat ek nie die onderskeid uitgedink het nie.

             Die Redelike Denkwyse, sonder om êrens tot volkome uitdrukking te kom, is die denkwyse wat ons almal veronderstel is om te hê. Dit is die denkwyse wat die magtigste en invloedrykste mense dink hulle het. Ons skole bestaan hoofsaaklik met die doel om Redelike Denke te vorm, te propageer en met gesag te beklee. Redelike denke is objektief, analities en empities ongestel; dit kom net tot ‘n beslissing deur feite te oorweeg; dit strewe na waarheid deur eksperimentering; dit is onbedorwe deur vooroordeel, oorgelewerde gesag of godsdienstige geloof, of gevoel. Sy ideale produk is die bewese feit, die akkurate voorspelling en die “ingeligte besluit.” Dit is, kan mens sê, die amptelike denkwyse van wetenskap, idustrie en regering.

            Die Meelewende Denkwyse verskil van die Redelike Denkwyse, nie deur onredelik te wees nie, maar deur te weier om kennis of die werklikheid te beperk tot die uitsig wat rede of feitelikheid of eksperimentering bied, en deur die rede in diens te stel van dinge waaraan dit voorrang gee en wat dit as hoër beskou.

            Die Redelike Denke word gedryf deur die vrees om mislei te word, om verkeerd te wees. Sy doel is om alles uit te sluit wat nie empiries en by wyse van eksperiment as feit bewys kan word nie.

            Die Meelewende Denkwyse word gedryf deur die vrees vir ‘n fout van ‘n heeltemaal ander aard: die fout van onverskilligheid, van liefdeloosheid. Sy doel is om alles wat betrokke is in ag te neem, om niks buite rekening te laat nie.

            Die Redelike Denkwyse is uitsluitend; die Meelewende Denkwyse probeer om, hoe gebrekkig ookal, insluitend te wees.

            Hierdie twee tipes omvat sekerlik nie die taksonomie van denkwyses nie. Hulle is eenvoudig die twee wat deur die intellektuele modes van ons tyd die opsetlikste van mekaar geskei en teenoor mekaar opgestel is.

            My doel is hier om die Meelewende Denkwyse te verdedig. Maar my beswaar is nie teen die gebruik van die rede of teen redelikheid nie. Ek maak beswaar teen die uitsluitende benadering wat eie is aan die Redelike Denkwyse, wat sigself beperk het tot ‘n versameling van werkswyses soos empiriese metodologieë van analise en eksperimentering en die houdings van objektiwiteit en realisme. Met die oog daarop om op sy eie werksaam te wees, het dit in effek onttrek van alles in die menslike lewe wat gevoel, toegeneëntheid, gemeensaamheid, ontsag, geloof en lojaliteit behels. Hierdie afskeibaarheid of onttrekking van die Redelike Denkwyse is nie net die oorheersende fiksie nie, maar ook die hoofbygeloof van die moderne era.

            Die Meelewende Denkwyse is onder die invloed van sekere aangebore, of ten minste grondliggende voor- en afkeure. Sy stukrag is in die rigting van heelheid. Dit word beweeg deur toegeneëntheid tot sy tuiste, die plaaslike plekbeskrywing, die plaaslike herinnerings, die plaaslike dinge. Dit haat vervreemding, verbrokkeling en verminking. Die Redelike Denkwyse verdra dit alles “in die strewe na waarheid” of die strewe na geld – wat volgens moderne werkswyses naastenby dieselfde strewe geword het.

            Ek verset my teen die mislukking van die rasionalistiese poging van “objektiewe wetenskap” of “suiwer wetenskap” of “belangelose strewe na waarheid” om massiewe skade aan beide die natuur en die menslike ekonomie te voorkom. Die Redelike Denkwyse bely nie sy aandadigheid aan die volgende vergelyking nie: kennis = mag = geld = skade. En tog is die bondgenootskap tussen van akademiese wetenskap, regering en korporatiewe ekonomie, en hulle samehangende patroon van straf en beloning, voor die hand-liggend genoeg. Ons het, tot dusver, ‘n staatsgodsdiens vermy, maar ons loop die gevaar van beide ‘n korporatiewe staat en ‘n staatswetenskap, wat party mense in beide die wetenskap en toepassing graag as ‘n staatsgodsdiens sou wou vestig. Die Redelike Denkwyse is die grootste gemene deler van die regering-korporasie-universiteit spilverbond. Dit is die fiksie wat van hoë intellektuele vermoë die onkritiese handlanger van slegte werk en slegte wetgewing maak.

            Onder die heerskappy van die Redelike Denkwyse is daar geen behoorlike skeiding tussen hedendaagse wetenskap en hedendaagse industrie of ekonomiese ontwikkeling nie. Mens kan jou byvoorbeeld heeltemaal voorstel dat ‘n jongmens, op sterkte van ‘n liefde vir plante en diere, biologie as rigting kan kies. So ‘n jongmens moet egter versigtig wees, want daar is niks wat verhoed dat kennis wat uit liefde vir dié dinge verwerf word, gebruik word om hulle uit ‘n liefde vir geld te vernietig nie.

Nou is daar bioloë wat hulle lewens lank daarna gestreef het om aan die Redelike Denkwyse uitdrukking te gee, wat bekommerd, selfs hartstogtelik bekommerd, begin raak het oor die verlies aan “biologiese diversiteit”, en hulle is vasbeslote om iets daaraan te doen. Dit word gewoonlik aangebied as ‘n eenvoudige ontwikkeling van onkunde na bewuswording na aksie. Maar tot dusver is dit ‘n grap. Die Redelike Denkwyse, wat eer die biologiese verskeidenheid ondermyn het deur “dinge uit te werk”, bied nou aan om te red wat daar nog te redde is deur nog meer “dinge uit te werk.” Dit wil doen wat dit tot dusver altyd gedoen het: omlyn die probleem as ‘n groot probleem wat ‘n groot oplossing vereis; roep wêreldklas kundiges in; betrek wetenskap, tegnologie en groot geldelike toekennings; propageer en organiseer en “kom in beweging met ‘n reusepoging”. Die komieklike hiervan is hoe hierdie rasionaliste nie kan insien dat, sodra hulle hartstogtelik besorg raak, hulle die droë, objektiewe, geometriese terrein wat die Redelike Denkwyse opgeëis het, verlaat het nie, en die Meelewende Denkwys se steeds raaiselagtige tuisland betree het, ‘n plek wat deur onvoorspelbare reëns en deur egte sweet en trane benat word.

            Die Meelewende Denkwyse vergeet egter nie dat die sogenaamde omgewingsprobleme oorsake het wat deels polities van aard is en daarom oplossings wat deels polities van aard is, nodig het nie. Maar dit sal nie probeer om hierdie probleme bloot met grootskaalse politieke beskermingsmaatreëls van “die omgewing” op te los nie. Dit weet dat dié probleme uiteindelik opgelos moet word deur die maniere waarop mense hulle tuistelike plekke en plaaslike landskappe benut, te herstel.  Polities gesproke, maar ook deur plaaslike ekonomiese verbeterings, sal dit kolonialisme in al sy vorme beëindig, binne- sowel as buitelands, deur korporasies sowels as regerings. Die Meelewende Denkwyse se eerste politieke beginsel is dat landskappe nie benut moet word deur mense wat nie daar woon en in die lot wat dit te beurt val, deel nie. As dié beginsel streng toegepas word, sou ons baie minder nut vir die beginsel van “omgewingsbewaring” gehad het.

            Die Meelewende Denkwyse verstaan die lewensbelangrike rol van die kulturele landskap. Die Redelike Denkwyse daarenteen, respekteer geen kulturele landskap nie en het daarom geen beskermende lojaliteit of toegeneëntheid jeens die werklike landskap nie.

            Die duidelike en praktiese oogmerk van die Meelewende Denkwyse is om plaaslike ekonomieë by plaaslike landskappe aan te pas. Dit is noodwendigerwys die werk van plaaslike kulture. Dit kan nie as ‘n wêreldwye prestasie van wetenskap, industrie en regering bereik word nie. Dit mag vir die optimistiese aanhangers van wetenskaplike rasionalisme, wat grense met minagting bejeën en trots is op sy verowerings, na ‘n bitter aanval lyk, maar die wetenskap van die Meelewende Denkwyse hou homself juis met die ondersoek van grense, beide natuurlik en menslik, besig.

Die Redelike Denkwyse gaan nie uit van enige sin vir geografiese plaaslikheid of sosiale verbintenis, of van enige grondslag in kulturele tradisie of beginsel of geaardheid nie. Dit sien sigself nie as werksaam binne ‘n bepaalde konteks nie. Die Redelike Denkwyse dink nie daar is ‘n konteks voordat dit daar kom nie. Die beginsel is om “objektief” te wees, dus sonder herinnering en lojaliteit. Dit werk binne smal denkgrense wat dit vir sigself trek, soos aangewys deur die behoeftes van sy professie of akademiese spesialiteit of sy ambisie of sy begeerte na mag of wins, met die gevolglike aanvaarding van “newe-effekte” en die “eksternalisering” van koste en gevolge. Selfs al word die werk in die buitelug gedoen, is dit ‘n binneshuise denkwyse.

            Die Meelewende Denksyse is, selfs as dit binneshuis werk, van buitenshuise aard. Dit lewe binne ‘n oorvloedige en onbeperkte werklikheid, altyd deels geheimsinnig, waarin alles saak maak, waarin ons as mense dus teruggewys word op ons antieke behoefte aan dankbetuiging, gebed en versoening, waarin ons weer en weer voor die antieke vraag gestel word: Hoe word ‘n mens die gebruik van wat jy nodig het, waardig?

            Waar die Redelike Denkwyse die denkwyse van analise, verduideliking en manipulasie is, is die Deelnemende Denkwyse die denkwyse van ons geskapenheid.

            Geskapenheid dui op wat Wallace Stevens genoem het “die onwillekeurige vervolmakings wat die redes vir die lewe is.” In ons geskapenheid vergeet ons die bietjie of baie wat ons weet van die optiese senuwee en die ligsensitiewe sel, en ons sien; ons vergeet wat ons ookal weet van die fisiologie van die brein, en ons dink; ons vergeet wat ons weet van anatomie, die senuweestelsel, die spysverteringskanaal, en ons werk, eet en slaap. Ons vergeet die teorieë en terapieë van “menseverhoudings,” en ons het eenvoudig die mense lief wat ons lief het, en probeer selfs om die ander ook lief te hê. As ons enige gesonde verstand het, vergeet ons die modieuse determinismes en leer ons kinders: Wees soet. Wees versigtig. Gebruik jou maniere. Wees vriendelik.

            Die Meelewende Denkwyse laat die wêreld heel, of probeer om dit te doen. Dit sien mense en ander skepsels as heel wesens aan. Dit deel hulle nie op in funksies en gebruike nie.

            Die Redelike Denkwyse daarenteen, het sy werk vir ‘n lang tyd laat berus op die voorstelling dat alle skepsels masjiene is. Dit werk as ‘n soort filtreerder om onsuiwerhede soos toegeneëntheid, gemeensaamheid en lojaliteit uit die strewe na kennis, mag en wins te weer. Die masjien-stelsel verseker die objektiwiteit van die Redelike Denkwyse, wat self as ‘n masjien verstaan word, maar dit slaag nie daarin om ‘n aantal ander goed te verduidelik nie, insluitend die Redelike Denkwyse se eie sorge en vreugdes. Waarom sou ‘n masjien hom steur aan die ondergang van ander masjiene?  Sou selfs ‘n “intelligente” rekanaar treur oor die uitsterf van die Carolina Parkiet?

            Die Redelike Denkwyse is vooropgestel vir ‘n soeke na ‘n seker weg om risiko, verlies en lyding te vermy. Vir die Redelike Denkwyse sal ervaring waarskynlik uit ‘n reeks slegte verrassings bestaan, en daarom as ‘n “verlies” aangeteken word. Dit is waarom die verlede en die hede vir die rasionalis so maklik opsy geskuif kan word of tot niet gemaak kan word ten gunste van die toekoms, die era sonder verliese.

            Maar die Meelewende Denkwyse aanvaar verlies en lyding as die prys wat gewilliglik betaal word vir sy simpatie en toegeneëntheid – vir sy heelheid.

            Die Redelike Denkwyse probeer onophoudelik om hom teen sy ondergang te verweer deur hom met feite, eksperimente, vooruitskouings, verkenning van “alternatiewe,” verskansings teen die onbekende toe te rus.

            Die Meelewende Denkwyse rus hom toe met tradisie, met verhale van die ervarings van andere wat deur die tradisie gedra word, deur gemeensaamheid, deur deernis, deur verbintenis, deur geloof.

            Die Meelewende Denkwyse is by uitstek ‘n getroue denkwyse, wat willens en wetens die risiko wat deur geloof vereis word, opneem. Die Redelike Denkwyse, wat altyd sekerheid wil hê, verkeer altyd in twyfel, is altyd op soek na ‘n beter manier, besig om vrae te stel, om toetse aan te lê, ongelowig in alles behalwe sy eie vermoë om aan sy eie behoeftes te voldoen, wat sy eie ervaring en sy eie metodes gedurig loonstraf. Dit is ‘n skeptiese, angstige wantrouige denkwyse, en altyd ‘n teleurgestelde een, in afwagting van die finale waarheid of ontdekking wat dit van homself verwag, maar wat dit nie uit eie krag kan vermag nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published.